ELIA EN ELISA (5)

Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA

OP DIE BERG KARMEL

Dr JP Botha

Die derde en moeilikste jaar van die groot droogte het moeisaam verbygesleep onderwyl ek in Sarfat op die woord van die Here gewag het.

Agab soek weiveld

Al die fonteine en waterspruite het opgedroog en selfs die Jordaan het 'n ou dun stroompie geword wat traag uit die Galilese See gevoed is en ver in die suide deur die Dooie See opgeslurp is.  Die drie somers se versengende hitte het die laaste weiveld van die vee wat nog geleef het, vernietig.

Koning Agab se grootste bekommernis het oor sy duisende trek- en rydiere gegaan wat hy skaars meer aan die lewe kon hou.  Hy het sy troue paleiswag, Obadja, laat roep en hom beveel om saam met hom 'n inspeksiereis deur die hele land te onderneem en vas te stel of daar nie nog êrens bruikbare weiveld of 'n lopende fontein te vinde is nie.  Agab en Obadja het elkeen met sy gevolg  verskillende koerse ingeslaan om die land beter te kon dek.  Hulle soektogte het niks opgelewer nie.

Die Here stuur my na Agab

Op 'n goeie dag het die Here daar in Sarfat weer met my gepraat en gesê:  "Gaan na Agab toe. Moenie langer vir hom wegkruip nie.  Ek wil dit weer in die land laat reën."

Ek het van die goedhartige ou vroutjie in Sarfat afskeid geneem en die lang pad terug na Israel aangepak en in die rigting van Samaria gestap.  Toe ek die tweede dag al in die verte die stad op die hoë rant kon sien lê, gewaar ek meteens 'n klompie ruiters wat deur die verdroogde bome in my rigting ry.  Dit was Obadja en sy gevolg wat op my afkom.  Hy was stomverbaas toe hy my herken.  Hy klim van sy perd af en val voor my neer en sê:  "My heer Elia, is dit werklik u?"

Ek sê:  "Ja, en gaan sê vir jou heer, Elia is hier en ek wil met hom praat."

Obadja se gesig het meteens angsvol vertrek toe hy met my begin praat en sê:  "Meneer Elia, wat het ek dan nou gesondig dat u my na my dood toe wil stuur?  Ek het die Here nog my hele lewe lank gedien en toe Isébel  ons profete vervolg en laat vermoor het, het ek 100 van hulle in twee grotte in die rantjies naby Samaria laat wegkruip en hulle daar versorg.  Isébel se spioene kon hulle nie ontdek nie.  Intussen het Agab se soldate die hele Israel en die omliggende lande deurgesoek na u om u om die lewe te bring.  As ek nou na Agab gaan en sê u is hier en hy kom hiernatoe en ons vind dat die Gees van die Here u weer weggeneem het na 'n ander plek toe en hy kry u nie hier nie, sal hy my beslis doodmaak!"

Maar ek het hom gerusgestel en verseker dat ek nie sal weggaan nie en dat ek op daardie plek met Agab moet praat.  Obadja het gegaan en hom met sy gevolg daarheen gebring.  Toe Agab my sien, skree hy woedend vir my:  "Is dit jy, jou beroerder van Israel?  Ja, dis jy wat die dood oor die hele land bring!"

Ek het voor hom gaan staan en vir hom gesê:  "Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie.  Jy weet goed dis jy en jou familie.  Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en julle dien die Baäls.  Roep vir my die hele Israel bymekaar op Karmelberg.  Die 450 profete van Baäl en die 400 van Asjera, wat van Isébel se tafel af eet, moet ook daar wees."

Israel trek op na Karmel

Agab het sonder 'n woord verder met sy gevolg daar weggery.  Ek het geweet hy sal uitvoering gee aan my opdrag, met die hoop dat wat ook al gaan gebeur, die droogte tog net gebreek moet word.

'n Paar dae later het hulle begin aankom.  Die hele volk was besig om na Karmel op te trek.  Hulle het te voet en op karretjies en maer rydiere opgedaag.  Baie van hulle het tentjies en ander skuiling saamgebring om die nagte te kon trotseer, want die winter was aan die kom, maar die groot massa het verkies om sommer onder die blote droë hemel te slaap, want daar is tog geen reën in die lug nie.

Die Karmelberg strek noordwes van Israel af tot in die see en toring oor die plein van Jisreël.  Net onder die berg se suidelike kruin, lê daar 'n natuurlike platform teen die hang.  Die volk het na hierdie ruim bymekaarkomplek aangeswerm gekom.  'n Endjie laer af het die spruit Kison nog water gehad uit 'n standhoudende fontein.  Aan die voet van die helling het daar 'n aantal groot klippe rondgelê, van 'n afgebreekte altaar van die Here wat deur die Baäl-aanbidders verwoes is.

Uiteindelik het Agab self met sy koninklike gevolg opgedaag, asook die 450 Baäl-profete en die 400 Asjera-priesters van Isébel.  Sy self het in die nabygeleë Jisreël-paleis agtergebly, om haar veragting vir die geleentheid wat gaan plaasvind, aan te toon.

Die uitdaging

Ek het 'n atmosfeer van nuuskierige verwagting by die byeengekome skare opgemerk.  Toe gaan staan ek aan die voet van die helling en begin met hulle praat.  Die Here het gesorg dat selfs die heel verstes teen die hang my duidelik kon hoor.  Ek het gesê:  "Hoe lank gaan julle nog aanhou om op twee gedagtes te hink?  As die Here God is, volg Hom, maar as dit Baäl is, volg hom!"

Ek het net 'n gemompel gehoor.  Toe sê ek:  "Ek het alleen oorgebly as profeet van die Here, maar hier sit vanmôre nie minder nie as 450 Baäl-profete.  Ons gaan vandag vasstel wie die ware God is, die Here, of Baäl.  Bring nou vir ons twee bulle.  Hulle kan vir hulle een uitkies en hom opsny en op die hout van hulle altaar uitlê, maar dit nie aan die brand steek nie.  Ek sal dan met die ander bul ook so maak en hom nie aan die brand steek nie.  Dan moet julle tot julle god bid.  Ek sal tot die Here bid.  Hy wat met vuur antwoord, Hy is God!"

Daar kom toe die geruis van duisende stemme teen die heuwel afgewaai, wat teen die rantjies weerklink:  "Dis goed so!  Maak dan so!"

Ek het my na die Baäl-profete gedraai en gesê:  "Kies vir julle 'n bul en maak hom eerste gereed, want julle is die meeste.  Bid dan tot julle god, maar moenie die vuur aansteek nie."

Toe hulle uiteindelik die offerdier gereed het op die altaar wat hulle daar gebou het, het hulle met hul manewales begin.  Hulle het eers taamlik sober na hulle afgod geroep en hom gesmeek om tog die offer aan die brand te steek.  Toe daar niks gebeur nie, het hulle al om die altaar begin dans en geskree:  "Baäl, antwoord ons!"

Ek het met hulle begin spot en gesê:  "Roep harder!  Hy is mos 'n god.  Miskien is hy diep in gedagte of gou 'n bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!"

Toe roep hulle nog harder.  Hulle het amper beserk geraak soos hulle om die altaar rondgespring het en hulself volgens gewoonte met spiese en swaarde verwond het totdat die bloed loop.  Hulle het so te kere gegaan tot die laat namiddag.  Toe het ek hulle maar stopgesit, want hulle het self erken dat hulle misluk het, want hulle afgod Baäl het hulle nie geantwoord nie.

Die Here is God!

Ek het nou weer met die volk gepraat:  "Kom nader en staan hier by my."  Dit het 'n hele ruk geneem voordat die massa so ver kon naderskuif dat hulle in staat was om te sien wat gebeur.

Ek het 'n paar jongmanne nadergeroep wat skielik baie fluks was om my te help om die vernielde altaar van die Here te herstel.  Ons het twaalf mooi groot klippe daarvoor uitgesoek, om die twaalf stamme van Israel daarmee te simboliseer.  Daarna het ek 'n groot sloot rondom die altaar laat grawe en die hout op die klippe gepak.  Ek het die bul se vleis in stukke gesny en dit op die hout uitgelê.

Ek wou nie hê dat daar agterna by die volk enige twyfel of ongeloof sou wees oor wat hier voor hulle oë gaan gebeur nie en het die manne beveel om met groot kruike water uit die spruit aan te dra..  Ons het die hout en die vleis natgegooi en ook die sloot rondom die altaar vol water gemaak.  Alles op die altaar was sopnat en deurweek en die sloot het oorgeloop.

Dit was al laat en reeds tyd vir die aandoffer toe ons klaar was.  Die oomblik van beslissing het aangebreek.  Ek het vorentoe gestap en begin bid:

"Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog           vandag bekend word dat U die almagtige God van           Israel is, dat ek u dienaar is en dat U my beveel het om           al hierdie dinge te doen.  Antwoord my, Here,           antwoord my tog, sodat hierdie volk kan besef dat U,           Here, God is en dat dit U is wat hulle harte weer tot U                     sal laat bekeer."

Ek het, so lank as wat ek op die aarde was, nooit weer so 'n aangrypende skouspel aanskou nie.  Daar was 'n paar oomblikke stilte, en toe deurklief 'n helder weerligstraal die lug en verblindende vuurvlamme stort op die altaar neer.  Alles daarop slaan oombliklik aan die brand en die volk staan verstom en kyk hoe die hout en die vleis verbrand en selfs die klippe van die altaar verteer word.  Die water in die sloot het in 'n stoomwolk die lug in verdwyn en selfs die grond rondom het tot as verbrand.  Skielik was alles oor en na 'n rukkie was daar nog net 'n flou smeuling sigbaar in die swart as.

Ek het my oë so oor die volk laat gaan en 'n heerlike vreugde het in my binneste opgeskiet toe ek sien hoe hulle massa na massa op hul knieë neersak en in ekstase aanhoudend uitroep:  "Die Here is God!  Die Here is God!"

Die Baäls word gestraf

Die afgodsdienaars van Baäl, wat my volk so lank verlei het om teen God te sondig, het verwese daar eenkant gestaan.  Die Here het beveel dat hulle gestraf moes word en dat nie een van hulle moes vrykom nie.  Toe ek die teken gee, het die volk hulle gegryp en by die spruit Kison met swaarde om die lewe gebring.  Al 450 profete van Baäl en Isébel se 400 Asjera-priesters is deur die woedende volk uitgewis, toe hulle besef hoe hierdie verleiers hulle jarelank teen die Here laat sondig het.

Nou gaan dit reën!

Daardie aand het daar 'n rustige gelatenheid oor Karmel gesak en die mooi skouspel van duisende vuurtjies by die tente teen die berghang, het in my hart die wete kom fluister dat my geliefde volk Israel weer die Here gevind het.  Ek het gebid dat hulle nooit weer in sulke gruwelike afgodediens moes verval nie.

Sommige van hulle wat naby gewoon het, het nog sommer dieselfde aand al huiswaarts gekeer, maar die volgende môre was die berghang spoedig leeg.  Ek het opgemerk dat Agab met sy koninklike gevolg hom gerieflik laat inrig het onder 'n klompie bome en gladnie haastig lyk om na sy winterpaleis in Jisreël terug te keer nie.  Daarna het ek met my slaaf teen die berg uitgeklim en naby die kruin gaan sit.  Ek het my voor die Here verootmoedig, met my kop laag tussen my knieë gebuig.  Nadat ek gebid het, het ek my slaaf gevra om 'n endjie hoër op te klim, sodat hy oor die see kon sien.  Hy moes dan vir my kom sê of hy nie wolkies daar gewaar nie.  Maar daar was niks.  Ek het dan maar weer gebid en hom weer gestuur.  Toe hy die sewende keer terugkom, sê hy vir my dat hy 'n klein wolkie, wat so groot is soos 'n man se hand, oor die see sien opkom het.  Daarop het ek hom dadelik na Agab toe gestuur om te gaan sê hy moet sy wa inspan en ry, want die reën kom!

Die lug was spoedig donker van al die onweerswolke.  Die wind het hulle aangedryf en 'n groot reën het in vlae oor die dorre aarde uitgesak.  Ek het haastig van die berg afgeklim om te kyk waar Agab was.  Toe ek hom deur die Jisreëlvallei sien ry, het ek daarheen gehardloop en al voor sy perde uit gedraf tot naby die paleis en toe teruggedraai.  Ek was oorstelp van blydskap en geluk, want die Here het hierdie groot reën gestuur, net op my woord.

Wat 'n wonderlike God van die hemel en die aarde en die ganse heelal is Hy nie!

 

______________