ELIA EN ELISA (2)

Lees reeks by Boek: ELIA EN ELISA

DIE SKEURING

Dr JP Botha

Ek is Elia. My naam beteken "Die Here is God".  Gedurende my aardse lewe het Hy my bo alle ander mense bevoorreg deur my te roep om sy woord aan die afgedwaalde volk van Israel te bring.  Die Here het my na die ongehoorsame koningshuis van Agab en Isébel gestuur om hulle te waarsku en sy straf oor hulle gruwelike afgodediens aan te kondig.  Die Here het geweet hoe my hart gebloei het vir die welsyn van ons volk en met hoeveel leed ek en ander profete moes aanskou hoe goddelose konings die volk verlei om God nie meer te dien nie en vreemde afgode te aanbid.

My herkoms

Hulle het my Elia die Tisbiet genoem, want ek is gebore in die klein dorpie Tisbe, ongeveer in die jaar 900 v.C.  Tisbe was in die administratiewe provinsie van Gilead geleë, oos van die Jordaan, in noordelike Israel  Dit is 'n ongelyke, bergagtige streek, met vrugbare grond in die valleie.  In die somer word dit daar egter baie warm.  Ons inwoners se landerye is besproei met die water van baie stroompies wat weswaarts na die Jordaan gevloei het.

Naastenby almal in hierdie landelike streek was boere.  Naby die huise was mooi groentetuine en verderaf het vrugteboorde met granate, appelkose, olywe en wingerde gepryk.  Hierdie mooi gebied se roem is ook verder gevestig deur die kweek van 'n welriekende kruie, waaruit die bekende "Balsem van Gilead" vervaardig is.

In hierdie natuurlike omgewing van Tisbe het verskeie manne gewoon wat die Nasireërgelofte afgelê het en hul lewens in diens van die Here gewy het. Ek self het ook nie my hare afgeskeer of enige sterk drank gedrink nie.  Ek het my elke dag voor die Here verootmoedig en Hom gesmeek om Hom oor ons afgedwaalde volk te ontferm.

Afgodediens by Salomo

Dit is nodig dat ek in Israel se geskiedenis so 'n bietjie terugblaai, sodat jy kan sien waar sy wegdwaling van die Here af en sy staatkundige probleme begin het.  Daar was reeds tekens daarvan by die koningskap en die pragtige regering van Salomo, wat aan die einde van sy bewind oor Israel, deur sy groot aantal uitlandse vroue tot afgodediens verlei is.

Staatkundige probleme

Hierdie slim en ryk seun van Dawid het die volk swaar belas, om hom in staat te stel om die bou van die tempel te finansier en sy swierige paleis op te rig.  Die stamme van Israel wat in die noorde van die land gewoon het, het hulle al hoe minder met die suidelikes vereenselwig, deels weens die natuurlike geografiese skeiding wat bestaan het.  Selfs in koning Dawid se tyd al, is die noordelike stamme deur Efraim gelei en die suidelikes deur Juda.  Die feit dat koning Salomo uit die suide was, het die groeiende verwydering tussen noord en suid vergroot.

Die skeuring

Toe Salomo se seun, Rehabeam, koning word oor die hele Israel, was die suidelike stamme van Juda en Benjamin daarmee doodtevrede, want hulle het daarin die verwesenliking gesien van die Here se belofte aan Dawid, naamlik dat uit sy geslag daar altyd 'n troonopvolger vir Israel sou wees.  Maar toe die verteenwoordigers van die noordelike tien stamme vir Rehabeam vra om die swaar laste wat sy pa Salomo op hulle gelê het ligter te maak, het hy geweier en gedreig om hulle met gésels te slaan.  Dit het tot die permanente skeuring in Israel gelei, want die noorde het gesê hulle wil niks meer met  die huis van Dawid te doen hê nie en het toe vir Jerobeam koning oor die tien stamme gemaak.

Die Here het voordat die skeuring plaasgevind het vir Jerobeam laat weet dat hy oor die tien stamme koning sou word en hom gewaarsku om as koning gehoorsaam te wees aan sy voorskrifte en gebooie, maar Jerobeam het dit nie gedoen nie.

Hierdie noordelike koninkryk van Israel het twee eeue lank standgehou, voordat hy deur die Assiriërs verower en weggevoer is.  Hulle het oor groter terrein as die suide beskik, was ryker en meer welvarend en in 'n mate meer beskaafd.  Hulle was by tye selfs meer godsdienstig as die suide, maar o wee, dit was afgodediens waartoe hulle konings hulle verlei het.

Agteruitgang

Koning Dawid en sy seun Salomo se internasionaal-erkende wêreldryk het met die skeuring só verswak dat heidennasies wat vroeër deur hulle beheer is, spoedig dele van die land beset het, soos die provinsie van Aram, waar die Siriërs 'n nasie in eie reg geword het, met Damaskus as hoofkwartier.  Die Arameërs was daarna jare lank vir die noordelike koninkryk 'n lastige bedreiging.

Aan die weskus, langs die Middellandse See, het die Filistynse stad-state op een na, hul onafhanklikheid van die koninkryk van Juda verkry, maar het daarna darem nie meer 'n militêre bedreiging gevorm nie.  Die Ammoniete en die Moabiete het ook Israel se juk afgegooi.

Die wêreldmag van Dawid en Salomo se koninkryk het dus verkrummel met die skeuring in Israel, sodat die twee koninkryke naderhand skaars meer was as pionne op die skaakbord van twee ander opkomende wêreldmagte, naamlik Egipte onder koning Sisak en die Assiriërs en Galdeërs van Mesopotamië.

Die twee Israelitiese koninkryke is gedurende die eerste 50 jaar van hulle bestaan verder intern verswak deur onderlinge struweling en selfs deur oorlog teen mekaar te voer.  Koning Baesa van Israel (die tien stamme) het probeer om sy grondgebied suidwaarts uit te brei en desnoods Jerusalem te verower.  Toe hy reeds tot 8 kilometer van Jerusalem af gevorder het, het koning Asa van Juda (die twee stamme) hulp gesoek en gekry by Benhadad, die koning van die Arameërs (die Siriërs).

Baäl kry vastrapplek in Israel

Nadat  Jerobeam die koningskap oor Israel (die 10 stamme) aanvaar het, het die volk van die noorde nog steeds gereeld suidwaarts na Jerusalem gereis om by spesiale geleenthede die Here in die tempel te gaan aanbid. Jerobeam het besef dat indien dit voortduur, daar 'n moontlikheid bestaan dat die volk aan hom ontrou kon word en weer vir Rehabeam as koning aanvaar.  Hy rig toe twee nuwe aanbiddingsplekke op by Bet-El en Dan, waar hulle die Here sogenaamd kon aanbid en nie nodig het om na Jerusalem te gaan nie.  Maar om sy Kanaänitiese onderdane ook ter wille te wees, plaas hy by elkeen van die twee plekke die beeld van 'n goue kalf!  Die Kanaänitiese heidene het die goue kalwers met lus aanbid, want hulle het die beelde geasosieer met hulle sogenaamde vrugbare afgod Baäl, wat dikwels as 'n bul voorgestel is.  Maar toe het Jerobeam sy eie volk wysgemaak dat hierdie twee afgodsbeelde die Here voorstel wat hulle uit Egipteland gelei het.  Die volk het spoedig hierdie afgode lustig begin aanbid en al hoe verder van die weë van die Here afgedwaal.

Verdere onrus in Israel

Die Here het hierdie Jerobeam, wat sy volk laat sondig het, 22 jaar lank as koning oor die tienstammeryk van Israel verdra.  Intussen het dit in die koninkryk van Juda gladnie beter gegaan nie, want Rehabeam, Salomo se seun, het sy volk net so lustig aan afgodediens laat meedoen en sy seun Abia wat hom opgevolg het, het daarmee voortgegaan.  Abia se seun Asa, wat hóm weer opgevolg het, het later 'n einde daaraan gemaak.

Die algemene toestand in albei koninkryke is gedurende die beginjare van hulle bestaan deur oorloë teen mekaar verswak.  Dit het albei van hulle later feitlik weerloos gelaat teen vyandelike aanslae van buite af.

Na Jerobeam se dood het sy seun Nadab die tweede koning van die tienstammeryk geword.  Sy goddelose regering het skaars twee jaar lank geduur.  Baesa, een van sy leëroffisiere, het hom vermoor en hom as die derde koning van Israel opgevolg.

Hierdie Baesa het onmiddellik begin om elke ander lid van Jerobeam se familie om die lewe te bring, ten einde sy eie koningskap te bestendig.  Daarmee het hy die straf wat die Here oor die huis van Jerobeam aangekondig het, uitgevoer.  Die Here het Baesa se goddelose regering oor sy volk 24 jaar lank verdra, voordat hy dood is en sy seun Ela hom opgevolg het.  Dit is hom net twee jaar lank vergun om koning te wees, want een van sy stalknegte wat op daardie stadium sy strydwaens aangevoer het, het hom oorval en vermoor by 'n geleentheid waar Ela te dronk was om hom te verdedig.  Dit was Simri, wat homself toe koning gemaak het.  Simri het ook dadelik begin  om al die bloedverwante van Baesa en sy seun Ela om die lewe te bring.  Hy was skaars sewe dae lank daarmee besig, toe hy in die paleis by Tirsa deur Omri, die hoof van die leërmag omsingel is.  Hy het die paleis toe self aan die brand gesteek en binne-in doodgebrand.

Ag, in watter ellende het my volk Israel deur hul ongehoorsaamheid aan God nie beland nie!  Hoe ver het hulle nie van sy regverdige verordeninge en gebooie afgedwaal nie!  Hoe luid skree die sonde van hul gruwelike afgodediens nie ten hemel nie!  Here, hoe lank gaan U dit alles nog verdra?  Moet tog nie u volk geheel en al verlaat nie!

Goddeloos maar bekwaam

Die koningskap in Israel is daarna voortgesit deur Omri.  Hoewel hy totaal goddeloos was, was hy 'n bekwame regeerder wat die koningskap in Israel weer opgebou het tot 'n mag om mee rekening te hou.  Die oorlog teen Juda is gestaak en met vriendskapsbande vervang.  Toe het Omri begin om vir hom 'n hoofstad te bou wat met Jerusalem sou kon wedywer en in sekere opsigte ook doeltreffender sou wees as die heilige stad.

Die wonderlike Samaria

Omri se nuwe hoofstad was 'n pronkstuk.  Hy het self die terrein daarvoor uitgesoek.  Dit was op 'n berg geleë, ongeveer 12 kilometer vanaf Sigem.  'n Mens het daarvandaan 'n mooi uitsig gehad oor die vrugbare Jisreëlvallei.  Ook kon jy ooswaarts die Middellandse See, as 'n silwer streep op 'n helder dag, meer as dertig kilometer ver, sien glinster.

Hier het 'n paar belangrike handelspaaie mekaar gekruis, sodat die stad  nie ekonomies geïsoleer sou wees nie.  Omri het die hele terrein op die berg en die omliggende grond van 'n sekere Semer vir twee talente silwer gekoop en later die stad na hierdie man vernoem en dit die naam Samaria gegee.  Dit was geleë op 'n geïsoleerde heuwel met 'n plat kruin, bo-op die berg, wat groot genoeg is om al die geboue wat opgerig moes word, te bevat.  Omri het onder andere ook vir

hom 'n baie swierige paleis daar gebou.  Hy het 'n sterk muur om die stad gebou en 'n doeltreffende uitkyktoring aan die suidwestekant opgerig.  Noord van die paleis was daar 'n opgaardam, 10 x 5 meter groot, wat gedeeltelik uit rots gekap is en bekend was as "Die dam van Samaria".  Binne die ommuring van die stad was daar 10 hektaar grond, wat vir nog meer bouwerk beskikbaar was.

Hierdie heuwel, met die stad daarop, kon doeltreffend verdedig word ingeval van 'n vyandelike beleg, want dit was aan drie kante baie styl. Aan die laer, suidelike kant van die heuwel, is die stad later deur Agab, Omri se opvolger, verder uitgebou en ook met 'n sterk muur beveilig.

Omri se paleis en ander deftige geboue in die stad is deur Fenisiese vakmanne opgerig.  Omri en Israel het al hoe meer onder die invloed gekom van hierdie seevarende, handeldrywende volkie by Sidon,  wat noordoos van Israel geleë was.  Dit het tot hegte vriendskapsbande tussen die twee lande ontwikkel..

Die ander heidennasies, hoofsaaklik die Moabiete, die Siriërs of Arameërs en later die Assiriërs, het die noordelike ryk telkemale aangeval en Samaria beleër, aanvanklik sonder enige sukses.  Dit was te danke aan die doeltreffendheid van Omri se militêre strategie, waarmee hy die vyand uit Samaria uitgehou het.

Hierdie mooi stad van die noordryk is egter vanaf die begin van sy oprigting blootgestel aan die aanslae van 'n afgodediens, wat nie net die godsdienstige lewe in Samaria besoedel het nie, maar die hele volk verlei het om die Here te vergeet en vreemde gode te vereer.  Dit het tot hier in Gilead se wêreld, in Tisbe waar ek gewoon het, deurgedring.  Ek het gewonder hoe lank die almagtige God hierdie volk van ons, wat besig was om Hom te verlaat, nog sal verdra.  Ek het vuriglik begin bid dat Hy Israel nie moet verwerp nie, maar moet terugbring tot aanbidding in Hom alleen, die een ware God van die ganse heelal.

 

_______________