APOKRIEWE BOEKE (3)

Jeanette Koekemoer

Lees reeks by Apokriewe Boeke

1 MAKKABEËRS HOOFSTUK TWEE

DIE JODE BEGIN VASSKOP TEEN DIE HEIDENE

Mattatias was 'n priester wat uit die familie van Joarib gekom het. Hulle was tradisioneel Jode wat so onberispelik by die Joodse gebruike gehou het dat hulle steeds onthou word vir hul toewyding in die godsdiensstryd tydens die Hanukkahfees.

Mattatias se pa was Johannes, die seun van Simeon, eers van Jerusalem en later Modeïn, 'n dorpie ongeveer 30 km noord-wes van Jerusalem –  daar is nou niks meer oor van hierdie dorpie wat deur die Makkabeërfamilie opgerig is nie.

Mattatias het vyf seuns gehad: Johannes Gaddi, Simon Tassi, Judas Makkabeus, Eleasar Awaran en Jonatan Apfus.

Mattatias het al die onheilighede gesien wat in Juda en Jerusalem aangegaan het; heiligdomme het in die hande van vreemdelinge geval, die tempel is verneder en die ornamente is weggedra, babas en jongmense is in die strate doodgemaak, die dogters is verkrag en vermoor, en dit alles nadat die volk nie meer die Wet van God onderhou het nie en met die vreemdelinge deurmekaar geraak het en hulle saam hulle afgode begin dien het. Dit is soos ons God volkere mos maar altyd straf wanneer hulle Hom verlaat en ontrou word: deur vreemdelinge toe te laat om oor te neem, te plunder, te verwoes wat heilig was, en dat die vreemdelinge dan die volk uitmoor – net soos tans in Suid-Afrika aan die gebeur is.

Uit pure hartseer het Mattatias en sy seuns hulle klere geskeur en sakke aangetrek.

Intussen het die koning se offisiere wat al die afvalligheid en boosheid moes organiseer, in Modeïn aangekom. Hulle wou die mense dwing om te kom offer. Baie van die Israeliete het om hulle saamgedrom. Mattatias en sy seuns het egter eenkant bly staan. Toe sê die offisiere vir hom: "Jy is 'n leier. Jy is belangrik en mense in die stad respekteer jou. Jou seuns en familie ondersteun jou. Kom, wees jy die eerste een om te doen wat die koning vra. In alle geval, al die heidene, die mans van Juda en die mense wat Jerusalem agterbly het, het dit al gedoen. Op hierdie manier sal jy en jou seuns ook onder  vriende van die koning getel kan word. Die koning sal julle ryklik beloon met goud en silwer en ander geskenke.

Mattatias het geantwoord: "Dit maak nie saak dat al die volke wat die koning verower het, doen wat hy vra nie. Dit maak nie saak dat hulle die godsdiens van hulle voorgeslagte verraai en swig onder die eise van die koning nie. Ek en my seuns en my familie sal bly leef soos ons voorvadersgeleef het. Mag die Here gee dat ons nooit ongehoorsaam sal word aan sy Wet en eise nie! Nee, ons sal nie doen wat die koning vra nie en nog minder een tree van ons godsdiens afwyk."

DIE WEERSTAND BEGIN

Mattatias het skaars klaar gepraat toe 'n Jood openlik op die altaar in Modeïn wou offer, soos die koning beveel het. Toe Mattatias dit sien het sy toewyding vir die Here hom oorweldig en het hy sy humeur heeltemal verloor. Hy kon homself nie meer inhou nie en het die man net daar op die altaar doodgemaak. Dieselfde lot het die boodskapper van die koning getref wat hulle wou forseer om te offer.  Toe het hy die afgodsaltaar afgebreek. So het hy sy toewyding aan die Here onbetwisbaar bewys. Immers, wat hy gedoen het, kan vergelyk word met die keer toe Pineas vir Simri, die seun van Salu, doodgemaak het.

Toe stap Mattatias deur die stad en skreeu hard: "Kom saam met my, ekeen wat ernstig is oor God se Wet en ons ooreenkoms met God wil nakom!" Hy los toe al sy besittings in die stad en vlug saam met sy seuns die berge in. Baie wat graag reg en goed wou leef, is saam met hulle die wildernis is. Daar het hulle met hulle kinders en vrouens en beeste gaan bly. Dit was vir hulle beter as al die swaarkry wat hulle vroeëer begin tref het.

DIE GRIEKE MAAK DIE JOODSE VLUGTELING DOOD

Mense het toe vir die koning se offisiere en soldate in Jerusalem gaan vertel dat die groep wat nie na die koning wou luister nie in die wildernis gaan wegkruip het. Hierdie 'wildernis' was die gebied suid van Jerusalem en wes van die Dooie See. Dit is 'n semi-woestyngebied wat baie aan die droër dele van ons Karoo herinner. Dit was 'n onherbergsame gebied met grotte in die berge waarin mense relatief veilig kon wegkruip.

'n Klomp soldate haal toe die agterste groep van die vlugtelinge in en slaan reg oorkant die vlugtelinge kamp op. Hulle was van plan om die groep op die Sabbat aan te val. Die soldate stuur toe vir hulle die volgende boodskap: "Genoeg is genoeg. Kom uit en doen wat die koning vra. Dan sal ons julle lewens spaar."

Die vlugtelinge antwoord toe: "Ons sal nie uitkom nie. Nog minder sal ons na die koning luister en die Sabbat ontheilig." Die vyand het hulle dadelik aangeval en die vlugtelinge het nie hulself nie eers probeer verdedig nie maar gesê: "Laat ons liewer sonder skuld sterf. Die hemel en die aarde sal ons getuie wees dat ons onskuldig doodgemaak is." Die vyand het hulle saam met die vroue en kinders en beeste doodgemaak; die mense altesaam was 1 000.

NOU IS DIT VEG TOT DIE DOOD TOE

Mattatias en sy vriende wat nie in hierdie geveg was nie, was baie hartseer toe hulle dit hoor en sê toe vir mekaar: "As ons almal gaan doen wat daardie groep gedoen het en nie vir ons lewens en tradisies teen die heidene gaan veg nie, is ons almal netnou ook dood." Op daardie dag het hulle toe 'n vaste besluit geneem om teen enigiemand te veg selfs al word hulle op die Sabbat aangeval. "So sal ons ten minste nie almal sterf soos ons broers wat in hulle skuilplekke vermoor is nie."

DIE JODE ORGANISEER 'N WEERSTANDSBEWEGING

Juis toe kom sluit 'n groep Hasidiërs by Mattatias aan. Hulle was dapper Israeliete wat getrou gedoen het wat die Wet vra. Ook baie ander mense het by Mattatias aangesluit en hulle kon naderhand 'n weermag vorm. Hulle was woedend vir die Jode wat teen die Here gedraai en die wet gebreek het, en het hulle begin vervolg. Diegene wat toe ontkom het, het by die heidene gaan wegkruip maar Mattatias-hulle het oral rondgegaan en al die heidense altare afgebreek. As hulle 'n jong seun binne Israel gekry het wat nie besny is nie, het hulle sommer ook daar en dan besny.

MATTATIAS STERF... MAAR SY IDEALE LEEF IN SY SEUNS VOORT

Mattatias se einde het begin naderkom. Hy sê toe vir sy seuns: "Mense dink hulle kan sonder God klaarkom en het geen respek meer nie. Dit kan nie so aangaan nie; nou is die tyd om te wys hoe kwaad ons daaroor is. Ons moet wraak neem en van hierdie mense ontslae raak. Daarom, my seuns, gehoorsaam die wet van die Here met alles wat julle het. Wees gereed om julle lewens te gee vir die ooreenkoms wat ons voorvaders met God gemaak het. Dink altyd aan die voorbeeld wat ons voorvaders gestel het. Dan sal mense julle ook vir altyd as helde onthou.

"Dink net: Abraham is versoek, maar hy het aan God getrou gebly. Daarom onthou mense hom as 'n goeie en regverdige man.

"Josef het swaargekry maar tog bly doen wat God wou hê; hy het later 'n heerser van Egipte geword.

"Pineas, ons eie voorvader, het God gedien so goed hy kon. God het met hom ooreengekom dat hy vir altyd 'n priester sal wees.

"Josua het gehoorsaam gedoen wat God gevra het – gevolglik het hy die een geword wat in Israel tussen reg en verkeerd moes beslis.

"Omdat Kaleb voor die mense getuig het, het hy 'n stuk land geërf.

"Dawid se vergifnis van mense het gemaak dat hy koning kon bly.

"Elia is in die hemel opgeneem omdat hy so ernstig was oor die Wet van die Here.

"Die drie vriende van Daniël het op God bly vertrou en is toe uit die vlamme gered. Daniël self is uit die kake van die leeus gered omdat hy niks verkeerd gedoen het nie.

"Onthou dit: geslagte lank is nie een persoon wat sy hoop op die Here gevestig het teleurgestel nie. Moet julle dus nie deur die goddelose mense laat bangpraat nie. Hou die Wet – so sal julle in die oë van God helde wees.

"Ek ken julle broer Simon (Judas Makkabeus). Hy weet altyd wat die regte ding is om te doen. Luister na hom en hy sal vir julle soos 'n pa wees. Laat hy die soldate lei as julle teen die vyand veg. Kry al die mense bymekaar wat doen wat die Wet sê. Betaal die mense terug vir elke slegte daad wat hulle aan julle doen. Moenie die heidene toelaat om julle sleg te behandel nie – betaal hulle in eie munt terug en doen altyd wat God van julle in sy Wet vra."

Daarna het hy gevra dat God altyd baie goed vir hulle sal wees. Toe is hy dood. Hy het in 146 (166 vC) gesterf. Sy seuns het hom gaan begrawe in die familiegraf by Modeïn. Die hele Israel het bitterlik oor hom getreur.

In die volgende aflewering: Die Vryheidsoorlog teen die Grieke onder Judas Makkabeus.