Jeanette Koekemoer
1 MAKKABEËRS HOOFSTUK DRIE
Lees reeks by Apokriewe Boeke
DIE VRYHEIDSOORLOG TEEN DIE GRIEKE ONDER JUDAS MAKKABEUS
JUDAS NEEM LEIERSKAP MET MENING OOR
Juda Makkabeus het toe in sy pa, Mattatias, se plek leier geword. Sy broers en al sy pa se volgelinge het by hom gestaan en Israel met vreugde verdedig.
Ander volke het weer begin om Israel te respekteer want Judas was werklik 'n indrukwekkende soldaat en 'n onbevreesde leier. Almal wat nie wou doen wat in God se wet staan nie het hy uitgesnuffel, gestraf of verbrand. So het hy sy volk uiteindelik weer vrygemaak van die onderdrukkers.
Judas was so gevrees dat menige koning vir hom bang was maar Jakob was baie bly oor Judas se sterk optrede. In die stede van Juda het hy uitgeroei wie nie in God geglo het nie en Israel het hy beskerm as hulle uit weerwraak aangeval is.
So maak Apollonius, 'n heidense bevelvoerder, toe 'n groot klomp heidene bymekaar om teen Israel te veg. Hy kry veral soldate uit Samaria bymekaar, maar Judas het betyds hiervan gehoor en met sy eie soldate vir Apollonius aangeval en doodgemaak tydens die geveg. Judas het Apollonius se uitstekende swaard vir homself geneem en die res van sy lewe daarmee geveg.
SERON, LEIER VAN DIE SIRIESE WEERMAG VEG TEEN JUDAS
Judas was nou so bekend en gevrees dat ook Seron, die leier van die Siriese weermag van hom gehoor het. Toe dink Seron dat hy nou die geleentheid het om vir homself 'n groot naam te maak indien hy Judas kan verslaan. Daar was natuurlik ook groot getalle mense wat saam met hom wou wraakneem teen Juda en 'n baie groot klomp sodate het by die pas tussen die kusvlakte en heuwels van Juda, naamlik Bet-Horon, opgetrek waar hulle vir Judas met net 'n paar man aangetref het.
Natuurlik was die min manne van Judas baie bang vir die oormag van Seron en wou sommer gou die hasepad kies maar Judas het hulle moed ingepraat en hulle herinner dat God 'n oorlog met net 'n paar dapper soldate maklik kan wen as hulle teen 'n groot leër wat sonder God daar aankom veg. Daarop val hulle Seron se magte aan en verwoes hulle baie gou, waarna Judas self die vlugtende Seron agtervolg tot onder in die vlakte by Bet-Horon. Daar het hy omtrent nog 800 mans doodgemaak voordat die res na die Filistynse gebied gevlug het. Hierna het die heidene met nog groter vrees van Judas gepraat.
LISIAS, 'N EDELMAN, WORD GESTUUR OM DIE JODE 'N LES TE GAAN LEER
Koning Antiogus was so kwaad toe hy alles van Judas gehoor het dat hy dadelik 'n groot weermag van sy koningkryk opkommandeer het met 'n hele jaar se salaris vir elkeen vooruit, maar toe die ontevrede burgers in sy gebied nie meer die hoëbelastings wou betaal nie het die koning se geld opgeraak en hy het Persië toe gegaan en daardie provinsies se belastings gaan verhoog – so sou hy dan kon aanhou om die soldate te betaal.
Antiogus stel toe 'n edelman met koninklike bloed oor sy gebied aan met die idee dat hierdie jongman dit moet oppas terwyl hy weg is – hierdie gebied het gestrek van die Eufraatrivier in die ooste tot by die grense van Egipte. Lisias moes ook die koning se seun oppas tot hy terug is. Hy het ook vir hom die helfte van sy soldate gegee asook die helfte van die olifante want hulle moes Israel se mag gaan vernietig asook die groepie Jode wat nog in Jerusalem agtergebly het, gaan uitwis. Toe het die koning uit sy hoofstad Antiogië vertrek – dit was in 147 (165 vC).
Lisia het invloedryke vriende van die koning soos Ptolemeus, seun van Dorimenes, en Nikanor en Gorgias genader om met die 40 000 voetsoldate en 7 000 ruiters Juda te gaan inval en vernietig soos die koning wou hê.
By Emmaus het die klomp kamp opgeslaan – ongeveer 40 km wes van Jerusalem. Hier het handelaars met sakke goud en silwer gou-gou opgedaag wat beplan het om die Israeliete wat in die geveg gevang sou word, as slawe te koop. Ook het nog soldate uit Sirië en die Filistynse gebied hulle by hierdie reeds groot mag kom aansluit.
JUDAS EN SY SOLDATE BESEF HULLE SAL MOET VEG
Judas het besef hier kom nou 'n baie groot gevaar nadat hulle gehoor het die koning het opdrag gegee dat alles uitgewis moes word. Hy het sy mense bymekaar gemaak en saam het hulle gebid en God gevra om nog meer as ooit met hulle te wees en hulle te help. Nadat hulle bymekaar gekom het is hulle na Mispa oorkant Jerusalem toe. Daar het hulle sakke aangetrek en die hele dag lank gevas om hulle aan die Here te wy. Met as op hulle koppe en geskeurde klere rol hulle toe die wetsrolle oop waarin die heidene probeer het om beelde van hulle gode te soek. Ook het hulle die priesters se klere saamgebring asook die eerste dele van hulle oes en hulle tiendes.
Judas stel toe offisiere oor sy soldate aan: oor 1000, 100, 50 en tien. Hy het ook 'n klomp mans huistoe gestuur, soos die wet bepaal het, naamlik diegene wat besig was om huis op te sit, en dié wat pas getroud is, die wat wat besig was om nuwe wingerde aan te plant en ook diegene wat te bang was. Hierna het hulle tot net suid van Emmaus getrek en daar kamp opgeslaan waar Judas almal ingelig het om die volgende oggend vroeg gereed te wees.
1 MAKKABEËRS HOOFSTUK VIER
JUDAS UITOORLÊ WEER DIE VYAND
Gorgias, een van die aanvoerders van die heidense soldate, kry toe 5 000 voetsoldate en 1 000 perderuiters gereed. Hulle wou in die nag 'n verrassingaanval op Judas-hulle uitvoer maar Judas hoor betyds daarvan en neem sy soldate om die heidense soldate by Emmaus te gaan aanval. Toe Gorgias in Judas se kamp aankom en niemand daar aantref nie dink hy dat hulle gevlug het en toe begin hulle in die berge na Judas-hulle soek.
Intussen, toe die son opkom, was Judas en 3 000 manne reeds in die vlakte, wel nie met die wapens wat hulle graag sou wou hê nie want voor hulle was 'n uitstekend toegeruste weermag van die vyand. Judas het sy manne egter moed bly inpraat en hulle weer herinner hoe God hulle voorvaders by die Rooisee gered het toe Farao hulle agternagesit het. "Laat ons tot God bid en hoop dat Hy ons sal hoor en ons genadig wees; dat Hy sy ooreenkoms met ons voorvaders sal onthou en ons vyand vandag voor ons oë sal vernietig. Dan sal al die heidene deeglik besef dat daar Een is wat Israel in moeilike tye help en red."
Toe die groot geveg begin was dit nie lank nie of die heidense soldate vlug die vlakte in. Die stadigstes is eerste doodgemaak. Judas het hulle tot by Gasara, die vlaktes van Idumea in tot by Asdod en Jamnia agternagesit. Ongeveer 3 000 heidense soldate is gedood. Daarna het Judas-hulle teruggetrek. Hy het sy manskappe beveel om nie veel van die buit te neem nie aangesien hulle nog met Gorgias en sy leër in die berge moes afreken.
Net toe kom 'n afdeling heidense soldate daar aan wat die rook gesien het van die kamp af optrek, en toe hulle besef wat gebeur het, het hulle van vrees gebewe en begin vlug tot in die gebied van die Filistyne met Judas-hulle agterna.Toe draai Judas-hulle om en gaan vat alles in die kamp wat hulle wou hê – daar was baie goud en silwer, koninklike materiaal, en ander waardevolle dinge.
Op hulle terugreis het hulle vir God baie dankie gesê vir sy genade en beskerming.
LISIAS WIL NOU SELF VIR JUDAS-HULLE VERSLAAN
Natuurlik het van die vlugtelinge vir Lisias alles gaan vertel wat gebeur het. Hy het so moedeloos geword dat hy eers die volgende jaar begin aksie neem het met 60 000 voetsoldate en 50 000 perderuiters waarmee hy hierdie keer die Israeliete wou gaan vernietig. Hy en sy weermag het toe by Bet-Sur, 'n stad ongeveer 30 km suid van Jerusalem, kamp opgeslaan nadat hulle in Idumea aangekom het vir die geveg.
Judas was daar met 10 000 man maar toe hy hierdie sterk weermag sien bid hy: "Geseënd is U, o Redder van Israel. Deur u dienskneg Dawid het U die aanval van die magtige een gestuit. U het al die Filistyne aan Jonatan, seun van Saul, en sy wapendraer uitgelewer. Gee asseblief net so ook hierdie weermag aan u mense, die Israeliete, oor. Laat die soldate en perderuiters mekaar in die skande steek. Verander die vyand in 'n klomp lafaards en laat hulle krag soos botter wegsmelt. Laat hulle van angs bewe as hulle vernietiging soos 'n skaduwee oor hulle val. Laat die swaarde van die mense wat U liefhet hulle neervel. Dan sal almal wat U ken U met liedere loof en prys."
Toe die geveg begin is daar sommer gou 5 000 van Lisias se manne dood. Judas se manne het al dapperder geveg en dit was duidelik dat hulle vreesloos tot die dood toe sou aanhou. Toe val Lisias terug en is weer Antiogië toe. Daar wou hy nog meer soldate in die hande kry om sy weermag nog sterker te maak want hy wou Judea weer 'n keer inval.
DIE TEMPEL KON NOU WEER GEREINIG WORD
Judas en sy broers sê toe: "Ons het nou ons vyande verjaag. Laat ons die heiligdom gaan reinig en dit weer aan die Here toewy."
Al die soldate is toe saam die berg Sion op maar wat hulle daar gekry het was verskriklik: die heiligdom was heeltemal verlate, die altaar was onteer en die hekke van die stad was verbrand. Bossies het in die hofsaal gestaan soos buite in die veld of op die berge. Die priesters se kamers was platgeslaan. Toe skeur hulle hul klere en gooi as op hulle koppe waarna hulle vooroor op die grond gaan lê het te midde van trompetgeblaas terwyl hulle God hardop aanroep.
Judas het hierna 'n groepie soldate gestuur om die mense te beskerm terwyl hulle die tempel weer skoon en heilig maak. Hy het ook die priesters wat rein gebly het laat kom en hulle het die heiligdom weer gereinig deur die onrein klippe ver weg te gaan gooi. Toe besluit hulle om die altaar waarop baie onrein offers gebring is liewer af te breek en die klippe op 'n spesiale plek op die berg Sion te gaan bêre. Daar moes dit bly tot 'n profeet sou kom om vir hulle te sê wat om daarmee te doen.
Hierna het hulle 'n nuwe altaar gebou met klippe wat nie gekap is nie net soos die wet dit vereis het. Dit het net soos die vorige altaar gelyk. Die heiligdom is weer opgebou en die binnekant van die tempel mooi reggemaak, ook met nuwe houers en potte saam met die kandelaar, die altaar vir die wierook en die spesiale tafel. Die hekke van die stad is ook reggemaak.
Toe brand hulle wierook op die wierookaltaar en steek die kandelaar se lampe aan wat die tempel mooi verlig het. Daar is spesiale brood op die tafel gesit en gordyne opgehang. Nou was hulle taak afgehandel en die tempel het weer gelyk soos dit moet wees.
DIE JODE VIER FEES OOR DIE REIN TEMPEL
In die negende maand op 25 Kislev 148 (14 Desember 164 vC) het hulle vroeg opgestaan en gaan offer op die nuwe altaar, net soos die wet voorgeskryf het. Op presies dieselfde datum dat die heidene die tempel ontheilig het, het die Jode dit weer aan God gewy met liedere en harpmusiek, met fluite en simbale. Die mense het God geloof en geprys omdat Hy hulle gehelp het om die oorlog te wen. Die Fees vir Toewyding van die altaar het agt dae lank aangehou. Judas-hulle het eenparig besluit om die dag waarop die altaar weer geheilig is, vir altyd met blydskap en vreugde te herdenk. Die fees moes van toe af gereeld op 25 Kislev begin en 'n volle agt dae lank aanhou.
Verder het hulle hoë mure en sterk torings rondom die berg Sion gebou om te keer dat die heidene weer 'n keer die tempel kom vertrap. Judas het permanent soldate daar laat waghou om die tempel en die muur rondom te beskerm. Hy het die stad Bet-Sur ook so versterk dat hulle 'n stewige vesting kon hê as die vyand hulle uit die rigting van Idumea sou wou aanval.
Volgende aflewering: Die oorloë hou nie op nie...