APOKRIEWE BOEKE (5)

Jeanette Koekemoer

1 MAKKABEËRS HOOFSTUK VYF

Lees reeks by Apokriewe Boeke

DIE OORLOË HOU NIE OP NIE

Daar was nog baie heidene wat bitter ongelukkig was dat die Here se huis weer aan Hom toegewy is, en wat geen vrede met Judas en sy mense wou hê nie maar moord en doodslag bewerkstellig het om hulle ontevredenheid te wys. Daarom het Judas die afstammelinge van Esau gaan aanval. Hulle was bekend as die Edomiete en die Idumeërs wat suid van Hebron gewoon het.  Hulle het die Israeliete se bewegings in die wiele probeer ry met hulle aanvalle en misdade en daarom het Judas hulle gaan aanval, goed verslaan en alles van hulle gevat.

Hierna was dit die misdadige seuns van Baean se beurt en Judas moes met hulle afreken. Hy verbrand hulle vesting saam met al die mense.

Die volgende was die Ammoniete, die semitiese volke wat oos van die Jordaan gewoon het. Timoteus was hulle leier. Hulle was baie en het 'n sterk weermag gehad. Die gevegte was verwoed maar Judas het hulle ook uiteindelik platgevee.

Nadat hy Jaser in dieselfde omgewing ook uitgewis het is hy terug na Juda.

Hierna het die heidene in Gilead besluit om almal bymekaar te staan en finaal van die Israeliete in hulle omgewing ontslae te raak maar die Israeliete was flinker, het in die vesting Datema gaan wegkruip en vir Judas-hulle geskryf oor wat die heidene beoog en om hulp gevra. Maar Judas was nog besig om hierdie brief te lees toe 'n boodskapper van Galilea met die slegte nuus kom dat daar reeds duisende van hulle volksgenote in Galilea doodgemaak is.  Hierop het Judas in 'n vergadering vir Simon, sy broer, gevra om vir hom manne uit te kies en die mense in Galilea te gaan help terwyl hyself en sy broer Jonatan, na Gilead vertrek. Die wat agter moes bly om tuis beskerming te bied was Josef, seun van Sagaria, asook Asarja, met die res van die soldate. Drieduisend man is saam met Simon na Galilea toe en agtduisend is saam met Judas na Gilead toe.

Simon het in Galilea na baie gevegte uiteindelik die oorhand gekry, omtrent 3000 van die vyand doodgemaak en al hulle goed gevat. Toe het hy al die Jode uit Galilea en Arbatta saam met hulle vrouens, kinders en besittings teruggebring Judea toe.

Judas Makkabeus en sy broer Jonatan is die Jordaan oor en het drie dae lank deur die wildernis getrek voordat hulle die Nabateërs raakgeloop het. Húlle was Arabiere wat ryk geword het uit handel en het met kamele goedere deur die woestyn vervoer.  Nadat hulle vriendelik gegroet het, het die Nabateërs hulle vertel dat baie van Judas-hulle se broers opgesluit is in sterk stede soos Bosra, Bosor, Alema, Kaspo, Maked en Karnajim, en dat die vyand beplan het om die volgende dag hierdie vestings aan te val, in te neem en al die mense in een dag dood te maak.

Natuurlik het Juda dadelik met sy leër teruggedraai en is met die ruigtes langs na Bosra waar hy die stad ingeneem en al die vyandelike mans met die swaard doodgemaak het. Toe die son opkom sien hulle 'n massa soldate met Iere en allerhande oorlogstuie van ver aankom wat die stad wou inneem. Judas beveel toe sy manne om in drie groepe die vyand van agter aan te val. Timotius se manne besef gou dit is Makkabeus wat aanval en hulle begin vlug. Daardie dag het Makkabeus 'n groot oorwinning behaal en 8000 manne doodgemaak.

Alema was volgende aan die beurt. Judas het die stad ingeneem, al die mans doodgemaak en die stad afgebrand nadat hy gevat het wat hy wou hê. Dieselfde het met Kaspo, Maked, Bosor en die ander stede in Galilea gebeur.

Hierna het Timoteus weer 'n komp soldate bymekaargemaak en by Rafon oorkant die stroompie kamp opgeslaan. Judas se spioene het verslag kom lewer van die baie heidene in die omgewing wat selfs gehuurde Arabiere ingesluit het.  Al was die Arabiere normaalweg nie vyandig teenoor die Jode nie was hulle altyd bereid om as huursoldat teen die Jode te veg omdat hulle goed betaal is daarvoor.

Judas en sy manne trek toe die vyand tegemoet. Timotius het gesien dat Judas en sy manne in die stroompie se rigting kom en sê sy offisiere aan om te voorkom dat Judas-hulle oor die stroom kom want dan sal hulle nie meer gekeer kan word nie.  Die hoop was dat Judas-hulle bang word en kamp opslaan aan die ander kant van die stroom waar Timoteus vir Judas kon gaan aanval.  Judas is egter eerste oor die stroompie en sy manne is agterna. Die vyand het hulle wapens neergegooi en in die tempel van Karnajim gaan wegkruip waarna Judas en sy manne die stad ingeneem en die tempel met al die mense daarin verbrand het. Karnajim het oorgegee want hulle kon nou niks meer teen Juda doen nie.

JUDAS NEEM DIE JODE TERUG NA JERUSALEM

Al die vrouens, kinders en al hulle besittings is bymekaargemaak en saam met die Israeliete van Gilead oppad terug na Juda, toe hulle by Efron kom, 'n groot en sterk stad op 'n heuwel sowat 8 km oos van die Jordaan. Daar was nie 'n manier om links of regs by die stad verby te gaan nie en hulle moes regdeur die stad voort. Maar die mense van die stad wou hulle nie deur die stad laat gaan nie en ook nie in die stad laat inkom nie. Judas-hulle pak toe die stadspoorte met groot rotsblokke toe en Judas stuur vir hulle 'n vriendelike boodskap dat hulle net deur die stad wil trek om by die huis te kom met die belofte om hulle geen kwaad aan te doen nie. Maar die mense in Efron het geweier om oop te maak. Judas en sy manne slaan toe tente op en begin die stad nag en dag aan te val totdat die stad ingee. Judas en sy soldat het al die mans doodgemaak, alles in die stad gevat wat hulle wou gehad het en die stad met die grond gelykgemaak.

Toe trek hulle verder, steek die Jordaan oor en trek tot in die groot vlakte net oorkant Bet-San waar al die mense wat agtergeraak het eers weer bymekaar gemaak is sodat hulle saam op die pad kon trek tot by Juda.  Daar is hulle teen die berg Sion op met groot blydskap en vreugde en het daar offers vir God gebring omdat almal veilig teruggekom het.

JOSEF SE JALOESIE OP JUDAS VEROORSAAK 'N GROOT TRAGEDIE

Josef, die seun van Sagaria, saam met Asarja wat in Judea agtergebly het, het intussen die nuus gekry van die dapper dade van Judas-hulle. Daarom wou hulle ook bietjie naam maak en besluit om teen die heidene in die omgewing te gaan veg. Die klomp soldate is almal na Jamnia toe waar Gorgias met sy soldate uit sy stad gekom het om hulle te ontmoet vir die geveg. Josef en Asarja met hulle manne het verloor en moes vlug vir hulle lewens, en die vyand sit hulle agterna tot by die grense van Judea. Tweeduisend Israeliete is in hierdie geveg dood, wat 'n bittere slag vir Israel was. Plaas dat hulle na Judas geluister het en die stad opgepas het wou hulle self wys hoe dapper hulle is. (Hulle was nie deel van die familie deur wie God Israel sou red nie.)

Judas en sy broers het baie bekendheid verwerf. Nie net is hulle in Israel met groot respek behandel nie, selfs die heidene het baie groot agting vir hulle gehad.

Hierna is Judas en sy broers weer suidwaarts om Esau se nageslag te gaan aanval waar Judas-hulle Hebron ingeneem het, al die vestings afgebreek en afgebrand het. Daarna is hulle na die Filistyne en het deur Marisa getrek. Hier het 'n komp priesters gedink hulle wil wys hoe dapper hulle is maar het almal met die dood daarvoor betaal. In die Filistyne se gebied is Judas na Asdod waar hy al hulle altare afgebreek en die beelde van hulle gode verbrand het. Hierna is hy terug na Juda.

Vervolg... Antiogus 1V Epifanes se einde