APOKRIEWE BOEKE (6)

Jeanette Koekemoer

Lees reeks by Apokriewe Boeke

1 MAKKABEËRS HOOFSTUK SES

KONING ANTIOGUS IV EPIFANES SE EINDE EN SY SEUN SE BEGIN AS KONING

Koning Antiogus was op reis deur die binnelandse provinsies van Persië en Mesopotamië toe hy die eerste keer van die stad Elumais in Persië hoor. Sy belangstelling was dadelik geprikkel want die stad was glo bekend vir sy silwer, goud en baie ander soorte rykdom. Die tempel het glo ook baie skatte gehad, soos goue kledingstukke wat die eerste koning van die Grieke, daar gelos het.

Hy het toe die stad probeer inval en beroof maar kon dit nie regkry nie. Die mense in die stad het voor die tyd van sy planne gehoor en kon hom uitoorlê. Hy moes sy soldate terugroep en is baie omgekrap terug Babilon toe.

Terwyl hy nog in Persië is kom  'n boodskapper vertel dat sy weermag in Juda ook uitmekaargejaag is. Lisias se sterk weermag is deur die Israeliete teruggedryf.

Hy moes hoor dat die Israeliete al hoe sterker geword het namate hulle voorrade en wapens by sy soldate afgevat het. Verder het die boodskapper vertel dat die Israeliete die veragtelike beeld van die afgod wat die koning op die altaar in Jerusalem laat bou het, afgebreek het. Hulle het hoë mure om die heiligdom gebou soos dit voorheen was, en ook om sy stad Bet-Sur.

Toe die koning dit hoor was hy in groot skok en het in 'n ernstige siekbed beland. Sy depressie het al erger geword en sy einde was in sig. Hy roep toe sy vriende en vertel vir hulle dat hy nie meer kan slaap nie as gevolg van die groot hartseer en pyn wat hom oorval het. Hy vertel ook dat die slegte dinge wat hy in Jerusalem gedoen het van voor af in sy kop maal – die silwer en goue bakke wat hy uit die tempel gevat het, en die mense van Juda wat hy so sonder rede laat doodmaak het. Hy het erken dat dit die rede is waarom dit nou so sleg met hom gaan en dat hy daar in 'n vreemde land van hartseer besig is om te sterf.

Hy roep toe vir Filip, een van sy vriende, en stel hom oor sy hele koninkryk aan. Hy gee vir hom sy kroon, sy mantel en sy seëlring en vra hom om sy seun, Antiogus, goed groot te maak sodat hy eendag as koning kan oorneem. Toe is koning Antiogus in Persië dood.

Toe Lisias hoor dat die koning dood is maak hy Antiogus IV Epifanes se seun, die jong Antiogus, koning en noem hom Eupator. Hy het hom van kleins af opgepas en grootgemaak.

Die inwoners van die stadsvesting in Jerusalem het die Israeliete daar rondom die heiligdom bly terroriseer. Hulle het ook die heidene bevoordeel. Judas hou toe vergadering met sy eie mense en stel voor dat hulle daardie slegte mense uit die pad moet kry. In 150 (163/162 vC) val hulle die stadsvesting aan met allerhande spesiale oorlogstuie wat hulle intussen gebou het.

'n Groepie van die vyand kon uit die stad ontsnap en 'n klomp goddelose Israeliete het by hulle aangesluit. Hulle is toe na die koning toe en sê: "Hoe lank gaan u nog sit en niks doen nie? Neem tog asseblief wraak op ons broers. Ons het u vader getrou gedien en alles gedoen wat hy gevra het en sy wette nagekom. Dit is die rede waarom mense van ons eie volk teen ons gedraai en ons vesting aangeval het. Hulle het almal doodgemaak wat hulle in die hande kon kry en alles gevat wat ons besit het. Nie net ons het deurgeloop nie maar hulle het ook almal wat aan hulle grens, aangeval. Kyk mooi, hulle hat vandag die stadsvesting by Jerusalem aangeval om dit in te neem; boonop het hulle beide die heiligdom en Bet-Sur versterk. As u nie vinnig speel en hulle kom keer nie sal dinge net vererger en u hulle glad nie meer kan keer nie.

Toe het die nuwe koning baie kwaad geword en sy offisiere en vriende bymekaar geroep.

Die nuwe koning wil sy stempel gaan afdruk – vervolg...