APOKRIEWE BOEKE (7)

Jeanette Koekemoer

1 MAKKABEËRS HOOFSTUK SES VERVOLG:

Lees reeks by Apokriewe Boeke

DIE NUWE KONING WIL SY STEMPEL GAAN AFDRUK

Die koning was genoodsaak om sy offisiere en perderuiters asook klomp huursoldate bymekaar te kry sodat dit 'n indrukwekkende weermag uitgemaak het – ongeveer 100 000 soldate, 20 000 perderuiters en 32 olifante wat vir oorlog opgelei was.

Die weermag het toe deur Idumea tot by Bet-Sur getrek waar hulle eers oorgebly het terwyl hulle die stad aanhoudend aangeval het met spesiale oorlogstoerusting wat hulle vir hierdie doel gebou het. Die Jode in Bet-Sur het egter uit die stad geglip, die oorlogstoerusting verbrand en dapper teruggeveg.

Judas beweeg toe in Jerusalem af weg van die stad en gaan slaan kamp op in Bet-Segaria, reg oorkant die kamp van die koning. Vroeg die volgende oggend is die koning aan die gang en trek vinnig met sy weermag in die rigting van Bet-Segaria, reg vir die geveg. Die olifante is eweredig tussen die afdelings soldate versprei en saam met elke olifant was daar 1 000 man met yster-en-brons-oorlogsklere aan, asook 500 goeie ruiters wat naby die olifante moes bly. Bo-op elke olifant was 'n houttoring wat met 'n harnas op die olifant vasgebind is met die doel om hom te beskerm, asook 'n olifant-'bestuurder' en vier gewapende soldate.

Die res van die ruiters het aan die kante van die soldate stelling ingeneem van waar hulle die vyand maklik kon aanval terwyl hulle beskermd en redelik buite groot gevaar was. Met die opkom van die eerste sonstrale het die koning van sy soldate teen die hoër heuwels laat stelling inneem en die res in die vallei daaronder. Die gedruis van hierdie groot leër was vreesaanjaend maar Judas en sy manne het hulle trompop geloop en 600 van die koning se soldate doodgemaak. In hierdie geveg sien Eleasar Awaran, die broer van Judas, dat een van die olifante 'n baie groter harnas aan het as die ander en hy neem toe aan dat die koning daarop is. Daarop hardloop hy deur die vegtende manne terwyl hy links en regs keer om nie doodgemaak te word nie, kom tot onder die olifant en kloof sy maag oop waarna die olifant bo-op hom inmekaarsak en hom doodval. Die ander Jode het intussen besef dat hierdie weermag van die koning te sterk was en daarom teruggeval.

Van hier af is die koning se groot weermag na Jerusalem om daar teen die Jode te gaan veg. Die koning slaan toe kamp op by die berg Sion, suid van die tempel in Judea.

Bet-Sur het gevra vir vrede en uit hulle stad padgegee want hulle kos was gedaan. Daarom sou hulle nie in 'n oorlog betrokke kon raak nie – dit was die jaar van rus vir die land waarin hulle volgens die Joodse wet niks kon saai nie en daarom was kos maar skaars.

Die koning het soldate in Bet-Sur gelos om dit op te pas. Sy weermag het hy egter in 'n sirkel rondom die heiligdom opgestel sodat niemand kon in- of uitgaan nie. Hy het hoë torings gebou om oor die mure te kon kom, masjiene gebou om vuur en klippe in die vesting van die heiligdom in te gooi, asook masjiene om pyle te skiet.

Intussen het die Jode weer hulle eie masjiene gebou en vir 'n lang tyd is daar geveg. Later was daar geen kos meer oor nie. Uiteindelik is die meeste terug huistoe.

Lisias hoor toe dat Filip uit Persië en Mede terug is (koning Antiogus het hom mos aangestel om sy seun, Antiogus, groot te maak sodat hy koning kon word.) Die weermag wat die koning Persiëtoe gevat het was saam met hom. Hy het nou die regering probeer oorneem. Lisias beveel die troepe toe dadelik om terug te trek en sê vir die koning: "Dag vir dag word ons swakker, ons kos word minder, hierdie tempelvesting is baie sterk, ons moet darem nog tyd oorhê om aandag te gee aan alles wat in die koninkryk gebeur. Laat ons 'n vredesooreenkoms met hierdie mense en hulle hele volk maak. Kom ons gee hulle die vryheid om volgens hulle eie wette te leef soos voorheen. Hulle het mos juis kwaad geword toe ons hulle verbied het om hulle wette na te kom en dit is toe al die moeilikheid begin het."

Die koning en die offisiere het gedink dit is 'n goeie plan en stuur toe aan die Jode 'n vredesaanbod wat hulle aanvaar het. Op grond van die beloftes van die koning en sy offisiere het die Israeliete uit die vesting uitgegaan. Diekoning het in die tempelvesting op die berg Sion ingegaan maar toe hy sien hoe goed dit versterk is het hy sy woord gebreek en die muur daar rondom laat afbreek.

Hierna is hy weg na Antiogië waar hy vir Filip in beheer van die stad geplaas het, en na nog 'n geveg wen hy toe weer die stad terug.

Hoofstuk 7: Die koning is dood, lank leef die koning! – Vervolg...