APOKRIEWE BOEKE (1)

Jeanette Koekemoer

Lees reeks by Apokriewe Boeke

WAT IS APOKRIEWE BOEKE EN WAAROM HET DIT ONSTAAN?

Op hierdie webblad het ons al gepraat oor die apokriewe boeke van die Bybel. Nou gaan ons in 'n reeks meer breedvoerig daaroor gesels omdat talle mense nie weet wat dit is, waar dit vandaan kom en hoe om hierdie geskrifte te plaas nie. Daarby is dit 'n baie interessante onderwerp wat veral Christene sal verryk as hulle die boeke self lees.

Die betekenis van die woord 'apokrief' wat natuurlik 'n Griekse woord is, is 'om iets weg te steek." Dit beteken nie noodwendig om iets fisies te verberg nie maar eerder dat hierdie boeke nie bedoel was vir almal om te lees nie, moontlik net vir 'n klein groepie gelowiges wat die amper verborge waarhede daarin sou raaksien en verstaan. Heel moontlik is dit ook fisies weggehou van diegene wat tot verkeerde gevolgtrekkinge hieruit sou raak – veral die Nuwe-Testamentiese apokriewe blyk in hierdie kategorie te val.

Maar laat ons eers kyk na wat apokriewe eintlik is en waar dit vandaan kom.
Die heel eerste Christene het net soos ons vandag, ook lus gehad om te skryf en daar is talle verhale geskryf met 'n Christelike boodskap, briewe van bemoediging aan mekaar, en dokumentasie ter uitruil van inligting. Tesame met die Bybel het ons dus 'n redelike oorsig oor boeke wat in daardie tyd geskryf is alhoewel die apokriewe skrywers nie op dieselfde vlak as die Bybelskrywers  gestel kan word nie.

  Martin Luther het gesê: "Die Skrif alleen!", menende slegs die Bybel is die Boek van God wat as gesaghebbend beskou en volkome geglo moet word, maar dit beteken nie dat ons nie die ander boeke mag lees nie; ons kan daaruit 'n beter begrip vorm van waarmee die eerste apostels en die vroeë kerkvaders te doen gekry het en selfs die Bybel beter verstaan hieruit. Maar dit is nie deel van die Bybel nie en ons mag dit nie so beskou nie. Dit mag nie as mededinging vir die idees van die Bybelboeke verstaan word nie; ons moet dit slegs lees om die mense in die Bybelse tyd beter te verstaan, asook ons plek as Christene hier op aarde, wat hieruit vir ons duideliker word in perspektief met die Bybel.

Ons moet ook onderskeid tref tussen apokriewe van die Ou Testament, en apokriewe van die Nuwe Testament omdat dit op totaal verskillende wyses tot stand gekom het.

Hoe die Ou Testamentiese apokriewe tot stand gekom het
Sonder om in te veel besonderhede in te gaan kan ons die bestaande Ou Testament se 39 boeke wat natuurlik eers in Hebreeus geskryf is, in drie kategorieë plaas naamlik die wet, die profete, en die geskrifte.

Die Wet
Hier is vyf boeke naamlik Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuternonomium. Hierdie boeke is teen ongeveer 450 vC as gesaghebbend aanvaar.

Die Profete
Dit sluit in boeke soos Josua,Rigters, Jesaja, Jeremia, Hosea, Joël en Amos. Hierdie boeke is teen ongeveer 200 vC as gesaghebbend aanvaar.

Die Geskrifte
Dit is boeke soos Psalms, Spreuke, Job, Prediker, Daniël en Ester. Hierdie boeke is teen ongeveer 100 nC as gesaghebbend aanvaar.

Baie mense het egter ná die ballingskap van Jode buite Palestina gebly en hulle kon later nie meer Hebreeus verstaan nie. Daarom is daar in die derde eeu begin om die Hebreeuse Bybel in Grieks te vertaal, 'n boek wat genoem is die Septuagint. Natuurlik het daar ook baie verskille ontstaan tydens die vertaling, en so ook 'n hele klomp byvoegings van boeke wat nie in die Hebreeuse Bybel bestaan nie.

Latyn het later egter al belangriker in die kerk geword en Latynse vertalings het die lig gesien. Hieronimus is die man wat toe die Ou Testament vertaal het en hy het eers na 'n hele ruk besef dat hy eerder die Hebreeuse Bybel moet gebruik en nie die Septuagint nie. Nog het die Rooms-Katolieke Kerk by die Sinode van Trente beveel dat die ekstra Ou Testamentiese boeke wat nie deel van die Hebreeuse Bybel was nie ook gesagvol aanvaar word. Om hulle saak te versterk het hulle die terme gebruik:
Proto-kanoniek ("eerste aanvaar as gesagvol");
Deutero-kanoniek ("tweede aanvaar as gesagvol").

Martin Luther en die ander Hervormers het egter nie hieroor saamgestem nie en het net die 39 boeke in die Hebreeuse Bybel as gesaghebbend erken. Daarom het hulle die ekstra boeke 'apokriewe'  (verskuild) genoem.

In die Nederlandse Geloofsbelydenis verskyn hierdie lys van apokriewe boeke alhoewel hulle dus vir die Protestante slegs inligtingswaarde maar geen goddelike gesag het nie:
Esra 3 & 4
Tobit
Judit
Die Wysheid van Salomo
Die Wysheid van Ben Sirag
Barug
Toevoegings tot Ester
Toevoegings tot Daniël
Gebed van Manasse
Makkabeërs 1 & 2

Hoe die Nuwe Testamentiese apokriewe tot stand gekom het
Dit het in totaal ander omstandighede as die Ou Testamentiese apokriewe tot stand gekom. Christen-skrywers het nie sommer dadelik geweet dat net die 27 boeke wat ons nou in ons Nuwe Testament het, die gesaghebbende boeke van die Bybel sou word nie en daar is 'n hele klomp geskryf, maar uiteindelik is daar op 'n natuurlike wyse deur Christene self onderskeid getref tussen wat gesagvol is en wat nie. Baie van hierdie boeke is ook heelwat later geskryf as die Nuwe Testament soos ons dit ken, en bevat duidelike verbeeldingsvlugte van die latere skrywers, maar selfs vandag is daar sommige geleerdes wat verskil oor waarom sekere boeke as Nuwe Testamentiese apokriewe beskou word alhoewel die meeste eenstemmig hieroor is.
Baie van die Nuwe Testamentiese apokriewe is nie volledig beskikbaar nie.

'n Lys van die Nuwe Testamentiese apokriewe:
EVANGELIES
Die Evangelie van Ebioniete
Die Evangelie van die Hebreërs
Die Evangelie van Nikodemus
Die Evangelie van Petrus
Die Kindheidsevangelie van Tomas
Die Proto-Evangelie van Jakobus
Die Evangelie van Maria
Die Evangelie van Filippus
Die Evangelie van Tomas

HANDELINGE
Die Handelinge van Andreas
Die Handlinge van Johannes
Die Handelinge van Paulus
Die Handelinge van Filippus
Die Handelinge van Petrus
Die Handelinge van Tomas

BRIEWE
Die Abgarlegende
Die Briefwisseling tussen Paulus en Seneka
Pseudo-Titus
Paulus se Brief aan die Laodisense
Derde Brief aan die Korinthiërs

OPENBARINGS
Die Openbaring van Petrus
Die Openbaring van Paulus
Die Openbaring van Tomas

Behalwe die apokriewe boeke is daar ook baie ander briewe en dokumente wat deur Christene in die eerste eeue geskryf is om inligting met mekaar uit te ruil. Veral van die belangrike kerkvaders het destyds hierdie briewe geskryf en word daarom genoem die Apostoliese Vaders.  Hulle is gelys as:

Klemens 1 & 2
Ignatius
Polikarpus
Die Didagé
Barnabas
Die Pastor van Hermas
Die Martelaarskap van Polikarpus
Die Brief aan Diognetus

Ons moenie hierdie boeke as totaal geskiedkundig korrek beskou nie maar dit leer ons baie van gebeure en oor gelowiges se denkwyses in daardie tyd.

In die volgende paar aflewerings kyk ons na die inhoud van die apokriewe boeke.