HOMO- SEKSUALISME (1)

ONTBONDE OF NOG STEEDS SONDE?

Lees reeks by Homoseksualisme

Ds.André van den Berg

In Spr.14:34 sê Salomo: ”Geregtigheid verhoog ‘n volk, maar die sonde is ‘n skandvlek vir die nasies”. 

Daar is min sondes wat so ‘n skandvlek op ‘n volk plaas as homoseksualisme.  Die volksvyandige media se openlike bemarking daarvan het dit geweldig op die voorgrond gedryf.  Daarom hoor ons van tyd tot tyd van sg homoseksuele troues of die regbank wat of aan homoseksueles se eise toegegee of hulle regte in een of ander geding beskerm het.

Waar homoseksualisme eers as ‘n skandvlek op ‘n gesin en/of familie gesien is, word dit vandag as ‘n normale wisselvorm van seksualiteit bemark.  Elke samelewingssfeer van die kerk tot by die openbare media en van die onderwys tot by die regsbank word in die stryd om erkenning betrek. Dit dui net op een ding nl dat die Bybelse maatstaf met ‘n eietydse kultuurmaatstaf vervang word. Wat God sê, tel nie meer nie; alleenlik dit wat die mens wil hê!

  1. DIE NG KERK VERANDER

‘n Verwarde kerklike toneel

Hierdie eietydse kultuurmaatstaf, met die mens wat sy eie lewensnorme bepaal, is besig om ons samelewing ernstig te skaad. Interessant genoeg het al die soorte homoseksualisme wat vandag beoefen word, alreeds in die Bybelse tyd voorgekom.  Niks is nuut nie.  Homoseksualisme was ‘n heidenbedryf wat deur gelowiges as ‘n gruwel in die oë van God gesien en dienooreenkomstig veroordeel is.

Waar kom die huidige kentering om hierdie gruwel te ontsondig vandaan?

  Van ontspoorde kerke!  In verloopte kerklike kringe is daar min onderwerpe wat tans soveel verwarring as homoseksualisme veroorsaak.  Alle Afrikaanse kerke het dit tot onlangs nog as sonde verwerp. Vandag sing een van hulle, die NG Kerk, ‘n geheel ander deuntjie net omdat talle toonaangewende teoloë verklaar het dat homoseksualisme nie sonde is nie.  Die NG Kerk het selfs sover geaan om in Nov.2004 haar eertydse veroordeling daarvan by wyse van ‘n Sinodebesluit op te skort.

In hierdie opsig is die NG Kerk se handelswyse baie verdag.  Hoe kan ‘n Sinode ‘n Skrifstandpunt opskort net omdat daar meningsverskille oor bestaan?  Gestel daar sou bv meningsverskille ontstaan oor die vraag of Jesus uit ‘n maagd gebore is, sal die NG Kerk die verkondiging daarvan staak net omdat daar ‘n meningsverskil oor bestaan?  Dis mos absurd!

Die NG Kerk se blanco verskoning aan homoseksualiste binne en buite die kerk is een van die grootste mistastings in haar ganse geskiedenis.  Hierdie besluit kan nie anders vertolk word as ‘n algemene verskoning dat dié kerk homoseksualisme in die verlede as sonde veroordeel het nie.

Hoevele homoseksueles het nie al van hul sonde afgesien nadat die Woord van God hulle verander en hulle in Christus nuut geword het nie!  Nou vra ek: Is hulle dan al die jare verkeerd gelei?  Is die NG Kerk werklik bereid om te erken dat sy al die jare gedwaal het?  Hoe durf sy verskoning vra vir dit wat die Bybel baie duidelik as sonde veroordeel!  Dis duidelik dat die NG Kerk se omstrede Sinodebesluit nie deur die Woord van God gemotifeer was nie, maar eerder deur ‘n verdorwe eietydse kultuur wat sterk na die heidendom teruggryp.

1.2  ‘n Ou probleem.

Die NG Kerk se eertydse veroordeling van homoseksualisme was die spreekwoordelike rooi lap voor die homoseksuele drukgroepe.  Hulle kon dit nie hanteer dat die wetboek, psigiatriese gemeenskap en selfs die wetenskap homoseksualisme genormaliseer het, maar dat Afrikaanse kerke dit bly veroordeel het nie.

Met verloop van tyd het die NG Kerk haar mantel na die wind gedraai en toe die heidenwetgewer sy houding jeens homoseksualisme verander het, was sy die eerste Afrikaanse kerk wat haar dit laat geval het. Dis ongelukkig ‘n eeue oue probleem van die NG Kerk – dat sy haar nooit van die politiek van die dag kon losmaak nie.  Sy sing soos sy polities gebek word.

Toe die Britse bewind die Voortrekkerbeweging in die 1830’s veroordeel het, was die NG Kerk by om die volksvyand ter wille te wees en haar eiertjie van kritiek teen die volkspioneers te lê.  Die Voortrekkers is eers met die kerklike tug en later selfs ban gedreig omdat hulle hul nie aan die dwingelandy van die Britse landrowers wou onderwerp nie.

Toe die volksvyand jare later apartheid begin vernietig het, was die NG Kerk by om die volks-mure te help platslaan.  Sy was instrumenteel daarin dat ‘n heidenbedeling aan die suidpunt van Afrika gevestig is wat die misdaadsyfer van 1994-1999 met ‘n asemrowende 770% laat styg het!  Die Griekse filosoof Plato, het gewaarsku dat as demokrasie verkrummel, ‘n diktatorskap onafwendbaar is waarna ‘n dwase meerderheid vryheid in sedelose losbandigheid omskep.

1.3  Die 1986 besluit word herroep

Die NG Kerk se teologies-akrobatiese toertjie van Nov.2004 het die internasionale kerkegemeenskap se voete behoorlik onder hulle uitgeslaan.  Nog nooit is so ‘n beleidsbollemakiesie aanskou nie!  Die NG Kerk het skaamteloos-openlik bely dat sy al die jare homoseksualiste veronreg het en onderneem om dié onreg onmiddellik reg te stel!

Dit was egter nie die eerste keer dat hierdie kerk vir ‘n eertydse standpunt verskoning gevra het nie.  Haar houding van: Jammer, ons was al die tyd verkeerd, maar nou is ons vir die eerste keer reg! het van ‘n kruipende onderdanigheid aan die internasionale kerkegemeenskap getuig.  Die-selfde ding het in Okt.1986 gebeur toe die NG Kerk vir haar eertydse ondersteuning van apartheid verskoning gevra het.

Ironies genoeg het haar verskoning en die uiteindelike opheffing van apartheid nie die hemel op Suid-Afrika laat daal nie, maar eerder die hel aan ons voete laat oopbars!  Apartheid moes uit die weg geruim word alvorens ‘n heidenbestel aan die suidpunt van Afrika gevestig kon word.  Dat ‘n kerk haar vir ‘n heidenbestel kon beywer het, is net so absurd as Jode wat hulle vir die oprigting van ‘n standbeeld van Adolf Hitler in Jerusalem beywer!

Die NG Kerk het met die stootskrapers van haar teologiese onverskilligheid skanse vernietig wat eerder versterk moes gewees het.  Dieselfde ding gebeur het weer gebeur- die NG Kerk vra vir ‘n tweede keer vir haar verlede verskoning waarby alleenlik die heidendom baat vind.  Dis darem ‘n totale gebrek aan profetiese visie!  En ‘n kerk sonder profetiese visie, is soos ‘n horlosie sonder wysers!

Die aanloop tot hierdie omstrede Sinodebesluit het enkele jare tevore begin.  Op 27 September 2001 het die S.A Homoseksuele en Lesbiese Alliansie die NG Kerk, APKerk en AGS as sektes gebrandmerk omdat hulle homoseksualisme veroordeel het. Die AP Kerk en AGS het hulle nie daardeur van stryk laat bring nie.  Die NG Kerk het haar egter boeglam geskrik en twee vooraan-staande leraars vir samesprekings na die Reformerende Kerk, ‘n kerk vir homoseksualiste in Pretoria, gestuur.  Dis in homoseksuele kringe as ‘n positiewe stap in die rigting van die ontsondiging van homoseksualisme verwelkom.

Hoe kon die NG Kerk haar so openlik van die Bybeluitsprake oor homoseksualisme distansieer?  Haar Wes-en Suid-Kaapse streeksinodes het al in 1999 vir die kerk se veroordeling van homo-seksualisme verskoning begin vra.  Daarna het die Oos Transvaalse streeksinode besluit om die pas te makeer deur geen verdere veroordelende besluite oor homoseksualisme te neem nie.

Op daardie stadium was die NG Kerk se amptelike beleid dié van die Algemene Sinode van 1986 wat as volg gelui het: “Homoseksuele praktyke en ‘n homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos deur die Heilige Skrif geopenbaar”.Intussen het die NG Kerk hierdie besluit teruggtrek en verklaar dat sy haar eertydse siening nie verder huldig nie.  Daarmee is enige verdere veroordeling van homoseksualisme in die kiem gesmoor.

Die NG Kerk kon homoseksualiste nie gou genoeg van haar opregte pastorale bewoëndheid verseker nie.  Hulle sou voortaan in alle NG gemeentes welkom wees.  Hierdie verskoning is ook na hulle families uitgebrei wat glo deur die kerk se sg gebrekkige leiding benadeel en veronreg is.

Met hierdie gebrekkige leiding word lidmate, leraars en teoloë wat homoseksualisme as sonde veroordeel, bedoel.  Mag gelowiges dan nie sonde ontmasker en oortreders aanspreek nie?  Wat maak die NG Kerk met ‘n teks soos 2 Tim.3:16 wat lui: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid”

Die NG Kerk het met haar omstrede 2004-verslag besluit om amptelik onseker oor homoseksualisme te wees. Behalwe vir dit wat duidelik tussen die reëls gelees kan word, het die NG Kerk skynbaar geen amptelike standpunt jeens homoseksualisme nie.  Ek sê skynbaar omdat sy alreeds met haar verskoning die goddelose aap uit die vrome mou gelaat en ‘n atmosfeer ten gunste van homoseksualisme geskep het.  Dis nie altyd wat jy sê, wat gehoor word nie, maar dikwels dit wat jy verswyg.  Kerklike stilswye kan oorverdowend wees!

1.4  Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke

In haar poging om homoseksualisme te ontsondig, word die NG Kerk baie sterk deur die SARK gesteun.  Die SARK is die plaaslike stut-arm van die WRK wat myns insiens een van die magtigste wêreldorganisasies is wat die weg vir die koms van die Antichis voorberei.

In 1999 het die SARK verklaar dat hulle hul vir die uitbreiding van die begrip gesin beywer ten einde ook homoseksuele gesinne in te sluit.  Hulle het verklaar dat Bybelwaarhede nie sondermeer vasstaan nie en met verloop van tyd kan verander.  Dit kom daarop neer dat dinge wat in die verlede as sonde geag is, nie noodwendig vandag meer sonde is nie.

Hou in gedagte dat die NG Kerk in die verlede slegs waarnemerstatus by die SARK gehad het. Vandag is sy volle lid daarvan en vind die teologiese geselskap van hierdie ontspoordes skynbaar nie die  minste hinderlik nie.

1.5 ‘n Nuwe verklaring

Wanneer ‘n kerk by haar lidmate aandring om homoseksualisme nie verder as sonde te veroordeel nie, is die skrif aan die muur!   Vooraanstaande teoloë pleit onbeskaamd vir ‘n herverklaring van die Bybelse veroordeling van homoseksualisme.  Die Bybel mag nie meer sê wat dit al vir baie eeue sê nie!  Alle Bybelgedeeltes wat na homoseksualsime verwys, moet herverklaar word.

Die NG Kerk glo dat mense in die verlede verkeerd geleer is en dat dit die kerkleiding se heilige plig is om haar lidmate te help om die Bybelgedeeltes wat na homoseksualisme verwys, reg te verstaan.  Onder reg verstaan word bedoel dat mense moet insien dat homoseksualisme destyds binne die raamwerk van ‘n spesifieke kultuur ontstaan het en dat dit wat destyds vir daardie kultuur gegeld het, nie op die huidige moderne gemeenskap van toepassing gemaak kan word nie.  Lidmate moet eerder met die moderne mens se beleweniswêreld rekening hou en kan selfs van buite-Bybelse wetenskappe vir nuwe insigte gebruik maak.

1.6  ‘n Groot klemverskuiwing

In ons verloopte samelewing het dit mode geword om sonde nie meer te veroordeel nie, maar eerder te verdra.  Gevolglik word eertydse vergrype met verloop van tyd as normale lewenswyses aanvaar.  In 1973 pleit die tydskrif The Gay Christian vir versoening tussen homoseksuele en heteroseksuele gelowiges en sê dat dit alleen moontlik is indien laasgenoemdes homoseksualiteit as ‘n Godgegewe wisselvorm van seksualiteit gaan aanvaar.

Vandag daag homoseksuele drukgroepe kerke as’t ware uit om anders oor homoseksualisme te begin dink.  Sodra ‘n kerk anders oor sake begin dink, word sy aangespoor om haar lidmate diengevolge positief te beïnvloed.  En dis presies wat die NG kerk tans doen!  Sy het haar willens en wetens in die maalstroom van teologiese afvalligheid laat intrek!

Die ontsondiging van homoseksualisme is die NG Kerk se tweede baie groot flater in minder as 20 jaar.  Die eerste was haar verwerping van apartheid in Oktober 1986.  Ironies genoeg het sy van dit wat destyds geen sonde was nie, sonde gemaak en nou probeer sy van ‘n werklike sonde geen sonde te maak.  Dis tog so simptomaties van ontsporing – jy gaan verkeerd om te werk!

In Okt.1986 het prof. Johan Heyns verklaar dat soos wat die NG Kerk apartheid eens voorgestaan het, sy voortaan fel daarteen sou stry.  Wat daarna met ons land gebeur het, het hierdie professor en sy meelopers as kerklui sonder profetiese visie ontmasker.  Die chaos en verval wat Suid-Afrika na die afskaffing van apartheid te beurt geval het, is die allerbeste bewys dat ons stryd vir die behoud van apartheid geregverdig was!

Gelowiges moet nooit bang wees om standpunt teen die godvyandige wêreld in te neem nie.  Die kerk is geroepe om in die wêreld in te gaan en die lig van Christus te laat skyn.  In Suid-Afrika het net mooi die teenoorgestelde gebeur – die wêreld het in die kerk ingegaan en die heerser van die duisternis se saak bevorder.  Die Nuwe Suid-Afrika is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

1.7  Wat ontspoordes kwytraak

Ontspoordes dwarsboom altyd die waarheid. ‘n Baie bekende kalkligbehepte poppespelkarakter in sy pers kerklike gewaad het ‘n tyd gelede ook sy eier in die ontwrigte kerklike nes gelê toe hy mense wat homoseksualisme veroordeel het lasteraars genoem het. ‘n Ander kerklike het weer na laasgenoemdes as moderne Fariseërs verwys wat oor ander mense God probeer speel!

‘n Vroueteoloog reken weer dat die Bybel meer gebruikersvriendelik gemaak moet word omdat dit deur feilbare mense geskryf is wat foute gemaak het.  Nodeloos om te sê, bots haar siening met die heilsfeit dat die Bybelskrywers deur die Heilige Gees geïnspireer was.  Sy behoort onder leertug geplaas te word.

‘n Ander ontspoorde teoloog reken weer dat die kerk moet wegkom van die idee dat sy die groot bepaler van reëls en regulasies vir dinge soos seks is.  Hy reken dat daar eerder meer aandag aan die moderne wetenskaplike gesigspunte oor homoseksualiteit gegee moet word.  Hoe tragies dat teoloë die vermoë om God se stem te laat hoor, verloor!

Daar is selfs geleerdes wat beweer dat Hoogl.7:6-9 homoseksuele liefde besing.  Dis onsin en growwe teologiese nalatigheid!  Hooglied besing dan juis die teenoorgestelde nl.die reinheid van die heteroseksuele liefde.

 

'n Verdraaiing van die waarheid ... vervolg/