Lees reeks by Homoseksualisme
Ds.André van den Berg
‘n VERDRAAIING VAN DIE WAARHEID
2.1 Anti-Evangelies
Homoseksuele teologie is in wese anti-evangelies omdat dit die Skrif se leer oor sonde asook die wese van die huwelik wil verander. Dis ‘n ander evangelie, dis ‘n geheel ander leer aangaande God se Woord, dis ‘n ander leer aangaande die skepping, dis ‘n ander teologie van die huwelik en helaas ook ‘n ander leer oor sonde!
Sonde word onder die dekmantel van sg teologiese hersiening hersien, herverklaar en ontsondig. Dit plaas ons eie eeue oue teologiese en morele standaarde onmiddellik onder verdenking. Dis uiters onverantwoordelik om teologies so te werk te gaan Ek vra my net die vraag af: Waarom het die apostels, die kerkvaders en al die Reformatore wat tog baie wetenskaplik met die Bybel omgegaan het asook meer as 300 jaar van Gereformeerde teologie nog nooit probleme met die veroordeling van homoseksualisme vanuit die Skrif gehad nie? Waarom nou?
Vandag word alles in die stryd gewerp om homoseksualisme as ‘n wisselvorm van seksualiteit erken te kry al moet die Woord van God ook verkrag word! Ontspoordes gee aan die Bybelse begrip van die huwelik en die gesin vreemde inhoude sodat die Bybel nie meer spreek nie, maar eerder buikspreek. Uit sulke Woordmanipulasie vloei ‘n eiesinnig Woordverklaring waarna die Woord van God op die agterbaan geskuif word.
2.2 Spanning
Die NG Kerk se radikale ommeswaai het spanning in eie geledere laat ontstaan; ‘n spanning wat vererger is toe die Sinode geweier het om ‘n duidelike standpunt oor homoseksualisme in te neem.
Waaksame lidmate kon nie glo dat die kerk haar willens en wetens deur homoseksuele drukgroepe laat oorrompel het nie!
As die NG Kerk sê dat die Bybel homoseksualisme nie as sonde veroordeel nie, waarom dan nie ook prostitusie nie? Beide is tog seksuele sondes! Watter morele reg het ‘n kerk om die een vergryp te ontsondig en ‘n soortgelyke een te bly veroordeel? Dis nie konsekwent nie!
Diegene wat homoseksualisme probeer ontsondig, skaad nie net die Woord van God nie, maar boet ook hulle verhouding met Christus in. En hierdie verhouding kan alleenlik deur ‘n hardgrondige berou oor sonde reggestel word.
Ek kan nie verstaan waarom die NG Kerk wat tog veronderstel is om ‘n Gereformeerde kerk te wees, die godvyandige wêreldkultuur so aanloklik vind nie. Watter behoefte kan enige Christelike kerk hê om deel van ‘n sondeverworde mensdom te word? Weet die NG Kerk dan nie wat die Bybel oor die huwelik en seksualiteit leer nie? Wat gaan agter die skerms met hierdie kerk aan?
Ek is bevrees dat die NG Kerk deur magte veel groter as syself beheer word. Haar bedenklike optrede herinner ‘n mens sterk aan dié van Pontius Pilatus wat die voor die handliggende waarheid en implikasie geminag het net om die gepeupel hulle sin te gee.
2.3 ‘n Ander agenda
Gelowiges weet dat hulle geen reg het om met hulle liggame na goeddinke te handel nie. Die Heidelbergse Kategismus sê terreg dat ons met liggaam en siel nie aan onsself maar aan God behoort; ‘n waarheid wat vandag deur talle uitgesproke godvyandige faksies en ontspoordes ondermyn word. Dis tragies dat die NG Kerk haar deur hierdie faksies en ontspoordes laat beïnvloed het.
Dit het alles begin toe sy haar by buitelandse debatte oor hierdie saak laat betrek het wat haar in die vaarwater van ‘n ontsondigingsteologie laat beland het. Die debat oor homoseksualisme is derhalwe nie uniek Suid-Afrika nie, en, soos reeds gesê, die tweede duur prys wat die NG Kerk vir haar ydele strewe na internasionale kerklike erkenning betaal. Die eerste was haar verwerping van apartheid.
Dis jammer dat die NG Kerk haar telkens die rol van regsteller van sg onreg aanmatig. Verblind deur die liberalisme het sy die saak van die Here geskaad. Let maar net op haar felle stryd teen apartheid wat op die ou einde ‘n heidenbedeling aan die suidpunt van Afrika laat verwerklik het.
Miskien het die NG Kerk gedink dat sy haar eie lewe sou spaar deur die vyand te help om die volksmure plat te slaan. Wat sy egter nie besef het nie, is dat die volksvyand met niks anders as haar vernietiging tevrede sou wees nie. Hulle sal haar nooit vir haar rol in die ondersteuning van apartheid vergewe nie. Versteende wraaksug ken geen vergifnis nie Die NG Kerk moet, soos haar eertydse bondgenoot, die NP, geheel en al van die toneel verdwyn. En daardie dag is naby. Die ontsondiging van homoseksualisme is besmoontlik een van die laaste spykers in haar spreekwoordelike doodskis.