HOMO- SEKSUALISME (4)

Lees reeks by Homoseksualisme

Ds.André van den Berg

DWAALLEER

" Soos reeds gesê, woed die stryd om die kerklike erkenning van homoseksualisme ook in die buiteland.  Dis skokkend om te hoor wat buitelandse teoloë hieroor te sê het.  Eerw.Wood van die Union Church of Christ in die VSA sê reguit dat homoseksualiteit ‘n Godgewenheid is ten einde die mensdom teen oorbevolking te beskerm!
Biskop Wheatley van die United Methodist Church ontken dat homoseksualisme sonde is, maar eerder ‘n gawe wat net sekere persone van God ontvang het. "

4.1 Weersin in die waarheid.

Dit maak vir die Here baie saak hoe sy kinders leef.  Daarom durf geen kind van God homoseksualisme as normaal aanvaar nie, nie eens stilswyend nie.  Verdraagsaamheid jeens hierdie gruwel is dwaalleer en dwaalleer is in wese ‘n weersin in die waarheid.  Uit die grootste dwaalkerk van alle eeue, die RKK, klink daar bv selfs stemme op wat sê dat ‘n homoseksuele persoon nie vir sy situasie verantwoordelik is nie.  Dis nie ‘n gekose toestand nie, maar so deur God beskik.

4.2  Belewenis eerder as Skrifwaarhede

Ontspoordes se pogings om homoseksualisme te ontsondig, is op geen Bybelgedeelte of Skrifbeginsel gebou nie, maar op homoseksualiste se ervarings en belewenisse.  Die ontspoordes laat die Bybel dus nie toe om vir die mens voor te skryf wat om te glo nie.  Die mens besluit self daaroor.  Hierdeur word alle Bybelverwysings na homoseksualiteit tot stilswye gedwing en met sonnige, subjektiewe menslike ervarings vervang.

Die NG Kerk het ‘n reuse fout gemaak toe hulle homoseksualiste gevra het om hulle belewenis met die Algemene Sinode van 2004 te kom deel.  Baie van hierdie subjektiewe belewenisse is in die verslag opgeneem wat die debat sy objektiwiteit geheel en al laat verloor het.

Wanneer Bybelse waarhede ter wille van menslike belewenisse versaak word, verwar dit mense  en skaad dit die saak van die Here.  Belewenisse wat voor die hand liggende Bybelse waarhede minag, bevoordeel alleenlik die Satan. Geen sondaarmens durf die finale sê oor sy seksuele norme hê nie!

4.3  Wetenskap of sonde?

Alle wetenskaplike ondersoeke wat gedoen is om vas te stel of homoseksuele gedrag nie dalk aan  een of ander neurologiese, biochemiese of chromosoomverskil te wyte is nie, het misluk.  Wetenskaplikes wat daarop aanspraak gemaak het dat sekere gene of chromosoomareas met gedragspatrone te make het, het al hul aansprake teruggtrek omdat dit nie bewys kon word nie.

Gevolglik lê die voorkoms en ontwikkeling van homoseksualisme op ‘n ander vlak as die wetenskap.  Die sg.homoseksuele geen, is ‘n mite. Homoseksualisme is in werklikheid ‘n opvoedingsdefek.  Dit word aangeleer. By mans is dit te sterk moederbindinge en by vrouens te sterk vaderbindinge.

5.   DIE HUWELIK

5.1 Onnatuurlik

Daar is mense wat meen dat die geslote karakter van die tradisionele huwelik te negatief is en hulle vir oop verbintenisse wat homoseksualisme insluit, beywer. Vir gelowiges is dit onaanvaarbaar omdat oop verhoudings ‘n supermark-atmosfeer skep waar elkeen vat wat hy kan, waar hy kan en so veel hy kan.  Dit rym geensins met die Christelike lewensstyl nie!

Vir homoseksualiste is seks goedkoop en maklik verkrygbaar.  Statistiek toon egter dat homoseksuele verhoudings selde die toets van die tyd deurstaan.  Die innerlike stryd wat hierdie mense vanwee die onnatuurlikheid van hulle verhoudings ervaar, laat hulle van die een verhouding na die ander swerf.  Selfmoord kom ook dikwels onder hulle voor.

Wat homoseksualiste onder die begrip huwelik verstaan, verskil hemelsbreed van die Bybelse begrip.  Siviele huwelike tussen homoseksueles is geen alternatief vir die Christelike huwelik nie. Geen kerk durf dit ondersteun nie. Wie ‘n homoseksuele huwelik uit die Bybel probeer regverdig, probeer van die Satan ‘n dissipel te maak.  Nee, ‘n huwelik is altyd tussen een man en een vrou.

‘n Gesin kan bv. slegs in terme van ‘n seksuele verbintenis tussen een man en een vrou verwerklik. Daarom ken die Bybel net een norm vir die huwelik en gesin en dis heteroseksualiteit. ‘n Kerk wat aanvaar dat ‘n huwelik slegs tussen een man en een vrou mag plaasvind, veroordeel homoseksualisme by implikasie!

Homoseksualisme is en bly walglike seksuele gedrag.  Al ontstaan dit ook in ‘n atmosfeer van sg.liefde en vertroue, hef dit nie die Bybel se oordeel daaroor op nie.  Die Bybel verwerp dit ondubbelsinnig as sonde.  Dis eintlik niks anders as gruwelike ongehoorsaamheid aan God nie. God voeg man en vrou in ‘n seksuele verbintenis saam. Homoseksueles trek ‘n streep hierdeur.  Dit bring as’t ware twee koninkryke met mekaar in botsing - dié van God en dié van die Satan. God wil komplimentêre andersheid hê, Satan wil nie-komplimentêre eendersheid sien!

5.2 ‘n Geskape andersheid

Let vervolgens op hoe skreeu homoseksualisme nie teen die skepping van die menslike liggaam nie. God het vir die man ‘n geslagsdeel geskep wat alleenlik vir penetrasie geskik is en nie vir seksuele ontvanklikheid nie.  Daarteenoor het God vir die vrou ‘n geslagsdeel geskep wat vir die ontvangs van die manlike geslagsdeel geskik is en allermins vir penetrasie.  Hierdie natuurlike, geskape pasbaarheid van die onderskeie geslagsorgane dui op God se uitsluitlike bedoeling dat seks alleenlik tussen man en vrou sal geskied.  Homoseksualisme skreeu hierteen!

5.3 Opstand teen God

‘n Homoseksuele persoon wat tot bekering kom, weet dat homoseksualisme opstand teen God is en staak die praktisering daarvan.  Dis onmoontlik om ‘n wedergeborene te wees, die gesag van die Skrif te aanvaar, maar terselfdertyd in ‘n homoseksuele verhouding te staan. Watter gemeenskap het die lig met die duisternis?

Kerke wat God in gees en waarheid dien, sal geen praktiserende homoseksuele persoon as lidmaat toelaat alvorens hy of sy nie van hierdie sonde afgesien het nie.  Rom.1:32 rig ‘n baie ernstige waarskuwing: Indien Christene hul seën oor homoseksualisme uitspreek, kondoneer hulle nie net die gruwel nie, maar sal hulle presies dieselfde straf as die oortreders ontvang.

6.  ALLES IN DIE NAAM VAN LIEFDE?

Die goddelose mens sien seksualiteit uiteraard nie soos wat God dit sien nie.  ‘n Mens wat God waarlik liefhet, leef nie soos hy wil nie.  Die Heidelbergse Kategismus sê terreg dat ons enigste troos in lewe en in sterwe die wete is dat ons na liggaam en siel nie aan onsself nie, maar aan God behoort.  Daarom moet ons lewens God behaag en dis alleen moontlik as ons sonde sien soos wat Hy dit sien en dienooreenkomstig vermy.

Christus sê in sy liefdesgebod in Matt.22 dat liefde tot God ‘n opregte liefde tot ons naaste insluit.  Hierdie liefde durf egter nooit so gedefinieer te word om alle soorte seksuele gedrag in te sluit nie.  Liefde noodsaak gelowiges meer male om sondaars te vermaan en selfs te berispe ten einde hulle vir die koninkryk van God te wen.  Liefde wat sonde bedek, is geen liefde nie en vals!

7. DIE MOEILIKE PAD VORENTOE

Die klagte dat die kerk te wetties is en moet moderniseer, hou werklik baie gevaar in.  Die kerk durf nooit van haar oproep tot heiligheid en gehoorsaamheid aan die Woord af te wyk nie.  ‘n Bekeerde leef ‘n nuwe lewe waarin die ou dinge verby is, ook op seksuele vlak.  Die Bybel roep ons op om hierdie nuwe lewe ywerig na te jaag.

Daar lê vir gelowiges wat hulle teen homoseksualisme gaan uitspreek moeilike tye voor. Die druk om hierdie gruwel te ontsondig gaan so verskerp, dat dit binnekort selfs onwettig kan word om jou in die openbaar daarteen uit te spreek. Gelowiges kan selfs regstappe in die gesig staar.

Die S.A ontwerpte Lesbiese en Homoseksuele Handves vir Godsdiens het alreeds die volgende drie eise geregistreer :
(i) Dit moet onwettig wees om in kerke en ander plekke van aanbidding teen homoseksuele persone te diskrimineer;
(ii) Homoseksueles moet die reg hê om in ‘n plek van hulle eie keuse te aanbid asook die reg om lid of selfs ‘n prediker daarvan te wees; 
(iii) Homoseksuele sake moet in kerke en ander godsdienstige inrigtings as ‘n wisselvorm van seksualiteit aanvaar word.  Mense wat ‘n afkeur in homoseksualisme aanwakker en as sonde veroordeel, moet wetlik vervolg word omdat sulke kritiek homoseksueles se menswaardigheid aantas.

Die NG Kerk het alreeds al drie hierdie eise in sy Sinodebesluite verskans. Homoseksueles binne en buite die kerk is bv alreeds om verskoning gevra.  Hulle kan trouens volkome lidmaatskap van die kerk geniet en enige amp, self diè van leraar, bedien.  Dis werklik ‘n tragiese verval!

In die NG Kerk gaan daar al hoe meer stemme op vir die aanvaarding van homoseksualisme vir sover dit betaamlik is. Daar word geredeneer dat heteroseksuele optredes ook onbetaamlik kan wees.  Sulke argumente gaan beslis nie op nie.  Die NG Kerk kan nie die klem op onbetaamlikheid  laat val as homoseksualisme in wese onbetaamlik is nie.  Net so min as wat ‘n besoeker aan ‘n bordeel kuis kan wees, kan iemand in ‘n homoseksuele verhouding betaamlik optree!

8.  BUITELANDSE KOMMENTAAR

8.1  Ontspoorde kerklui

Soos reeds gesê, woed die stryd om die kerklike erkenning van homoseksualisme ook in die buiteland.  Dis skokkend om te hoor wat buitelandse teoloë hieroor te sê het.  Eerw.Wood van die Union Church of Christ in die VSA sê reguit dat homoseksualiteit ‘n Godgewenheid is ten einde die mensdom teen oorbevolking te beskerm!

Perry, stigter van die homoseksuele kerkgroep: Universal Fellowship of Metropolitan Churches sê weer dat God ‘n permissiewe wil het.  Hy glo aan langtermyn monogame huwelike maar bely dat sy eie liefdeslewe nie so eng is nie; d.w.s dat hyself hierdie gruwel beoefen. Hy wend sy gemeentes oral as drukgroepe in die Metodiste en Presbiteriaanse kerke in die VSA aan.

Eerw.Kiely, ‘n predikant van die St.Paul United Methodist Church reken dat homoseksualisme nie ‘n sonde is wat reggestel moet word nie, maar eerder ‘n gawe van God wat verheerlik behoort te word.  Hy glo dat homoseksualiste nie hul eie seksuele oriëntasie kies nie, maar deur God so geskep is.

Dr.Nelson van die United Church of God glo weer dat wanneer die mens hom seksueel op wyses wat liefdevol, getrou en verantwoordelik is, uitdruk, God daarmee genoë neem, ongeag watter geslag die liefdesmaat is. Biskop Wheatley van die United Methodist Church ontken dat homoseksualisme sonde is, maar eerder ‘n gawe wat net sekere persone van God ontvang het.

Dr.Stayton,‘n Baptis, sê weer dat hy in sy Bybel niks vind wat homoseksualisme veroordeel nie.  Volgens hom vind God geen fout met ‘n liefdevolle, seksuele verhouding wat sonder dwang tussen volwassenes plaasvind nie. Hulle kan selfs van dieselfde geslag wees.

Homoseksualiste sal die Bybel altyd deur ‘n homoseksuele bril wil lees.  Rut en Naomi word bv. as lesbiërs gesien; Dawid en Jonathan as ‘n homoseksuele paar; so ook Paulus en Timotheus.  Die Romeinse hoofman oor honderd wat Jesus in Matt.8 smeek om sy slaaf te genees, het glo ‘n seksuele verhouding met hom gehad.

In 1972 skryf die Amerikaner T.D Perry in sy boek The Lord is my shepherd and he knows I’m gay dat Jesus en Johannes ‘n homoseksuele paar was. Bid jou aan!  Prof.Smith, ‘n Anglikaanse professor in Geskiedenis in Amerika skryf ‘n lasterlike boek waarin hy beweer dat daar ‘n homoseksuele verhouding tussen Lasarus en Jesus was!

8.2  ‘n Ontspoorde organisasie

Die Amerikaanse Psigiatriese Assosiasie het die homoseksuele agenda ‘n ongekende hupstoot gegee toe hulle in 1973 homoseksualisme as ‘n normale wisselvorm van seksualiteit begin erken het.  Dit het gebeur nadat hulle homoseksuele persone aan hulle paneelbesprekings laat deelneem het. Ag, hoe wek die Satan nie simpatie vir sonde op nie!  Dis geen geheim dat die NG Kerk agting vir die Amerikaanse Psigiatriese Assosiasie se sienings het nie.

8.3 ‘n Versaking van morele standaarde

Buitelandse gelowiges raak al hoe meer ontsteld oor hul regerings se versaking van morele standaarde. In ons land kan ‘n man wat met ‘n meisie jonger as 16 jaar seksuele verkeer, van statutêre verkragting aangekla en vervolg word, al het dit ook met haar volle toestemming geskied. In Holland is die ouderdomsperk nou onlangs na slegs 12 jaar verlaag!

Dis niks snaaks om in die buiteland in sekere homoseksueel-gerigte kerke advertensies van private stoombaddens, eksklusiewe kroeë en selfs teaters vir pornografiese films naas ‘n uitstalling van godsdienstige literatuur te vind nie!

9.  DIE TOEKOMS VIR SUID-AFRIKA

9.1 Verdraagsaamheid

Ons volk word tans onder ‘n gees van valse verdraagsaamheid toegeploeg.  Die heersende waarde-sisteem binne ons verloopte samelewing draai sedert April 1994 nie meer om die as van die waarheid nie, maar om dié van die leuen. Wie die waarheid verdedig, word dikwels aangekyk soos ‘n bord kos wat nie bestel is nie en as onverdraagsaam, liefdeloos en uit voeling met die tyd veroordeel.

Dat die homoseksuele agenda binne die NG Kerk nog nie afgehandel is nie, is seker.  Hoe jammer dat hierdie kerk die eerste Afrikaanse een was wat vir haar eertydse standpunt oor homoseksualisme om verskoning gevra het.  Dit was natuurlik water op die sondaarsmeule!

Die NG Kerk sleep al vir baie jare ‘n horde van blind-lojale lidmate met haar saam.  Hierdie mense se blindelinge vertroue in die liberale kerkleiding word as ‘n aanvaarding van haar beleid vertolk en maak van haar ‘n omstrede meningsvormer wat haar volk groot skade aandoen.

9.2 ‘n Onhoudbare situasie

Die ontsondiging van homoseksualisme sal die NG Kerk daartoe noop om haar deure vir pedofiele, homoseksuele huwelike, homoseksuele dooppare asook die ordening van homoseksuele leraars wyd op te maak.  Daarbenewens sal die NG Kerk ook die gewraakte Homoseksuele en Lesbiese Kerkmanifes moet aanvaar ten einde in die heidenregeerders se goeie boekies te bly.

Die NG Kerk het haarself baie kritiek op die hals gehaal.  Nadat sy homoseksualiste om verskoning gevra het, het eerw.Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, haar selfs oor die vingers geraps en terreg daarvan beskuldig dat sy van die Skrif afwyk.  Meshoe het haar vermaan om eerder die waarheid te verkondig sodat homoseksualiste hulle in berou oor hulle sonde tot God kon keer.  Wat ‘n skande dat ‘n hoofsaaklik swart politieke party ‘n kerk moet aanspreek!

Wat van die VIGS epidemie wat al soveel miljoene lewens in ons land geëis het?  Is die NG Kerk blind daarvoor?  Dis ‘n homoseksuele siekte van oorsprong.  Ek glo vas dat VIGS God se straf op die gruwel van homoseksualisme en seksuele losbandigheid is. In die lig van die plaaslike omvang van hierdie epidemie behoort kerke eerder teen hierdie gruwel te waarsku as om dit te probeer ontsondig!  Jy blus mos nie ‘n vuur deur olie daarop te gooi nie!

SLOTWOORD

Die NG Kerk betaal vandag ‘n bitter duur prys vir haar jarelange geheul met die liberale teologiese wêreldgemeenskap.  Die vrysinnige tydsgees wat hierdie gemeenskap adem, sleur die NG Kerk soos ‘n seestroom mee.  Dit het haar van die krag om vir sonde nee te sê, beroof.

Dit gaan ‘n mens se verstand te bowe dat hierdie eens trotse bastion van die Boerevolk haar jarelange Bybelse standpunt jeens homoseksualisme oorboord kon gooi!  Haar besluit om amptelik oor homoseksualisme onseker te wees, bluf niemand nie.  ‘n Deur kan tog nie terselfdertyd oop en toe wees nie. Dis of oop of toe.  ‘n Kerk is of vir of teen homoseksualisme.

Ek kan nie begryp hoe die NG Kerk haar, met al haar teoloë, navorsers en drie teologiese skole, in die vaarwater van amptelike onsekerheid oor homoseksualisme kan bevind nie. Dis is mos net nie moontlik nie!  Ek kan tot geen ander gevolgtrekking kom, as dat sy blatant oneerlik is nie!  Die deur is in werklikheid wawyd oop!

Die NG kerk is besig om haarself in ‘n hoek vas te verf.  Sy wat vir soveel jare die draer van die volle Godswaarheid was, is op die ou einde deur ‘n volksvyandige vernietigingsplan gekelder.  Hierdie plan het uit twee dele bestaan.  Die NG Kerk moes eers polities en daarna teologies geskaak word.

Die politieke skaking is afgehandel toe die NG Kerk apartheid in Okt.1986 veroordeel en haar lidmaatskap vir alle rasse oopgestel het.  Hierdie flater het haar van haar konserwatiewe lidmate vervreem – presies wat die volksvyand wou hê!  Die tweede en finale fase het met haar teologiese ontsporing te doen – sy moet soos die internasionale teologiese wêreldgemeenskap homoseksualisme ontsondig.  Dit sal haar van haar Skrifgetroue lidmate vervreem en haar einde verseker.

Die eerste fase is alreeds afgehandel.  Duisende konserwatiewe lidmate het sedert 1986 die NG Kerk vir ander behoudende geestelike tuistes verlaat. Al wat vandag in die NG Kerk oorgebly het, is liberale en blind-lojale lidmate.  En blind-lojales het geen beginsels nie.

Ek wonder hoeveel lidmate gaan aanbly wanneer die NG Kerk homoseksualisme gaan ontsondig?  Geen ware kind van die Here wat God en sy Woord waarlik liefhet, durf dan langer bly sit nie.  Suid-Afrika het vandag, meer as ooit, konserwatiewe kerke nodig wat die waarheid onbevrees verkondig en die saak van die Here daadwerklik verdedig.

Die groot vraag in behoudendes se gemoed is: Gaan die NG Kerk net soos die NP op die ou einde ook haar verdiende loon vir haar verraad jeens haar volk ontvang?  Haar knievalligheid aan die heidenregeerders maak dat haar volk haar nooit weer sal vertrou nie.  En daarvoor het sy net haarself te blameer!  Dit wat sy aan haar volk gedoen het, behoort haar, haar bestaansreg te kos, maar daaroor sal die Here alleen besluit.