SKOKKENDE VERRAAD VAN NG KERK

http://www.glodiebybel.co.za/skokkende-geskiedenis-van-die-ng-kerk-sedert-2000/

Daniel Louw het gister ‘n baie volledige stuk geskiedenis van die skandes en skokkende verloop van sake in die NG Kerk op die webblad waarvan die skakel hierbo is, gepubliseer. Dit kan hieronder gelees word maar lesers word aangeraai om die webblad self te besoek en daar van die talle skakels gebruik te maak vir meer volledige inligting.

Gebeure in die kerk word redelik chronologies weergegee en die artikel is ‘n uitstekende poging om die verraderlike pad wat hierdie kerk gestap het tot ondergang en oorgawe van ons volk ter skrif te stel. Dit laat mens weer onthou hoe ons volk deur volksgenote uitgelewer is, nie deur vreemdelinge nie. Die verraad in ons midde is in werklikheid so skokkend groot dat mens wonder of God nog genade sal betoon aan die handjievol behoudende volksgenote!  

Skokkende geskiedenis van die NG Kerk sedert 2000

2021-03-21 Daniel Louw

Kyk ook die volgende skakels:

Inleiding

Ons is in die jaar 2021. In die NG Kerk kan jy self besluit wat jy oor homoseksuele verhoudings (ook bekend as selfdegeslagverhoudings (SGVs)), die duiwel en seks voor die huwelik glo. Die maagdelike verwekking en Jesus se liggaamlike opstanding staan sover nog vas soos dit ook in die Bybel en belydenisskrifte bepaal word, maar daar is reeds baie predikante en teoloë wat dit, alhoewel versigtig, bevraagteken en daarmee wegkom.

Hoe het ons hier beland? Dubois du Toit beskryf in Requiem vir ’n verlore skaap dat dit soos ’n skaap is wat graspol vir graspol verdwaal het. Hierdie dokument lig daardie graspolle uit.

Waar het dit alles begin?

Die antwoord op hierdie vraag sal waarskynlik nooit presies geantwoord kan word nie. Twee name kom egter op:

  • Die eerste naam is Ferdinand Deist. Hy het Rudolf Bultmann se teologie in Duitsland aangeneem en dit in Suid-Afrika kom populariseer. Daarmee het hy ’n groot invloed op die teologie in Suid-Afrika bewerkstellig. Hy is in 1997 oorlede.
  • Die tweede naam is Ben du Toit

2000 Ben du Toit se boek

In 2000 publiseer Ben du Toit sy boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd in 2000. Daarin vra hy onder andere: “Is dit regtig nodig om in die maagdelike geboorte te glo as voorvereiste om Jesus as Verlosser te sien?” Hy maak verder ook Jesus se liggaamlike opstanding verdag en ontken die bestaan van die duiwel.

Nie net waag hy om hierdie dinge te sê nie, maar hy ontvang ook die Andrew Murrayprys vir hierdie boek.

In Herinnering aan Jan du Rand (1945-2021) skryf Hoffie Hofmeyr:

Vanuit die NG Sinode van die Suid- en Wes-Kaap, was Ben feitlik met die hand uitgesoek vir senior sinodale posisies. Vir byna twee dekades was hy in posisies waar oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie strategies belangrike besluite in die NG Kerk geneem is.

Hy was byvoorbeeld een van die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers en ook hoof van kommunikasie van die NG Kerk. Meer hieroor later.

In 2020, 20 jaar na sy eerste boek, publiseer Ben du Toit weer ’n boek met die titel God: Is daar ’n ander antwoord? Daarin verklaar hy dat hy ’n postteïs is, wat basies op ateïsme neerkom.

2002 algemene sinode oor skrifgesag

Tydens hierdie sinode word die weg gebaan vir toekomstige onskriftuurlike besluite en dwaalleringe met die goedkeuring van die besluit oor skrifgesag. Daarin kom onder andere die volgende sinsnedes voor wat die Bybel beskryf:

  • “menslike karakter van die Skrif”
  • “gewone mensewoorde”
  • “die Bybel as menslike boek”
  • “menslike “foute” in die Bybel”
  • “wetenskaplike “swakheid”
  • “geen aanspraak op historiese eksaktheid nie”

Die stigting van die Nuwe Hervorming

In ongeveer 2002 word die Nuwe Hervorming in Suid-Afrika gestig (Sakkie Spangenberg speel ’n leidende rol). Hulle is ’n sustersorganisasie van die Jesus Seminaar en ontken feitlik al die belangrike Bybelwaarhede, soos Jesus se Godheid, opstanding, maagdelike geboorte, ens. In Desember 2002 word die boek Die Nuwe Hervorming uitgereik.

’n Mens wonder watter rol die stigting van die Nuwe Hervormers het op sommige van die NG Kerk teoloë. Minder as ’n jaar later kom spreek twee Nuwe Hervormers die sinode van Noord-Transvaal toe tydens hulle streeksinode (volgende paragraaf).

Vir meer oor die Nuwe Hervorming, kyk Sarel van der Merwe se DVD, Nuwe Strominge in die Teologie.

2003 Sinode van Noord-Transvaal

Tydens hierdie streeksinode, waarvan Kobus Gerber die moderator is, word twee nuwe hervormers, proff Pieter Botha en Pieter Craffert, na die sinode genooi om die sinode toe te spreek oor Jesus se liggaamlike opstanding en maagdelike verwekking. Dit lei daartoe dat die sinode nie ’n kategoriese uitspraak wil lewer oor die geskiedkundigheid van die maagdelike geboorte of Jesus se liggaamlike opstanding nie. Daarmee verbreek die hele sinode hulle legitimasie-eed. Vir meer hieroor, kyk Sinode vir eers stil oor maagdelike geboorte.

James Kirkpatrick en Fanie Cronjé is ook aan hierdie sinode verbonde.

2004 algemene sinode

Tydens hierdie sinode word weer ’n besluit geneem oor skrifgesag. Baie van die 2002 besluit word bloot herhaal.

Die Belydenis van Belhar is ook ’n groot besprekingspunt en daar word voorbrand gemaak vir selfdegeslagverhoudings (SGVs): anders as die 1986-besluit erken die 2004-besluit nêrens dat SGVs sonde is nie. Theo Danzfuss skryf ’n gediggie (Op Hartenbos se strand) aan Kerkbode oor die sinode en sê onder andere die volgende:

Die huwelik is slegs wettig tussen ’n vrou en ’n man
maar ons sinode is baie slim, – kyk hier is ons plan:
Seks met dieselfde geslag, dit mag niemand verbied
maar onthou dit mag slegs buite die huwelik geskied.

2005 Pieter Pelser waarsku die NG Kerk met sy boek

In Augustus 2005 publiseer Pieter Pelser sy boek, NG Kerk: Reformeer of… Disintegreer? (gratis beskikbaar as eboek). Sy boek maak egter nie baie impak nie, hoogs waarskynlik omdat hy sy tyd te ver vooruit is. Lesers van sy boek voel waarskynlik dat hy spoke opjaag.

2006 Ferdie Mulder, lewenslank geskors van UP teologiese fakulteit

In 2006 word Ferdie Mulder, ’n teologiese student, lewenslank geskors uit die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria. Hy het veral drie dosente, Julian MüllerJurie le Roux en Dirk Human gekonfronteer oor hulle siening oor Jesus se liggaamlike opstanding en hy wou hulle aankla van teologiese dwaalleer. Hy het ander studente se ondersteuning gewerf, maar almal het hulle ondersteuning onttrek nadat hulle deur Flip du Toit, hulle verteenwoordiger by die kuratorium, met regstappe gedreig is. Louis Scheepers sê op 15 Maart 2012 die volgende:

“Ek … was een van die wat destyds Ferdie Mulder se verklaring onderteken het (en ONGELUKKIG daarvan onttrek het uit onkunde, nadat ons met regstappe gedreig is).”

Ferdie het egter voortgegaan asof hy die studente se ondersteuning gehad het. Daarvoor is hy lewenslank geskors. Vandag fokus kerkleiers bloot op Ferdie se oneerlikheid, maar hierdie dosente was nooit voor stok gekry nie. Inteendeel, hulle kollegas het hulle beskerm.

Vir meer hieroor, lees gerus sy boek wat gratis beskikbaar is: Opgestaan. Studente se stryd om geloof by Tukkies in die jare 2001 tot 2006

2006 Weer Ben du Toit

In Oktober 2006 vra Ben du Toit in ’n artikel in Kerkbode: Aanbid ons almal maar dieselfde God? Dit begin al hoe duideliker raak dat liberales in die kerk meer en meer selfvertroue begin kry om hulle sieninge te uiter.

Ook in 2006, moedig Ben du Toit en Kobus Gerber, die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers, die Suid-Afrikaanse parlement aan om homoseksuele huwelike te wettig (kyk  NGK vra SA parlement dat homoseksuele huwelike gewettig word). Dit is dieselfde Kobus Gerber wat die moderator van Noord-Transvaal was in 2003.

2007 Evangeliese inisiatief

In 2007 is die toestand in die teologiese fakulteit by Pretoria van so aard dat 10 emeriti ’n geloofstandpunt onderteken waarin hulle hulself distansieer van die teologiese strominge wat by Tukkies plaasvind.

Ook in ongeveer 2007 word die Evangeliese Inisiatief onder leiding van Hoffie Hofmeyr op die been gebring in teenreaksie op die teologiese strominge. Hulle rig egter niks wesenlik uit nie en dit sterf ’n stille dood, veral nadat dit bekend word dat die moderator, prof Piet Strauss, meer bekommerd is oor kerkskeuring as oor die teologiese strominge in die NG Kerk.

2007 algemene sinode

Voor die algemene sinode van 2007 pleit teoloë in ’n ope brief vir gays. Tydens die sinode maak die sinode weer ’n besluit oor homoseksualiteit en beweeg die NG Kerk nog nader aan die afgrond. Alhoewel die besluit nie SGVs goedkeur nie, word dit nêrens as sonde erken nie.

Kerkbode, Jean Oosthuizen en Kletskerk

Op ’n stadium begin Jean Oosthuizen, ’n vryskut joernalis by Kerkbode. Van vroeg af is hy baie uitgespoke teen behoudende Christene.

Vir ’n geruimte tyd word sy webwerf, Kletskerk, waarin hy Godslasterlike kommentare toelaat, op Kerkbode se webblad geadverteer totdat behoudende lidmate daarteen kapsie maak.

In ’n onderhoud met Hanlie Retief op 9 Maart 2013 kom die volgende baie duidelik na vore oor Jean:

  • Sy definisie van God is wollerig
  • Hy twyfel oor die bestaan van hemel en hel (veral die hel)
  • Hy kan nie die gedagte uitsluit dat mense van ander gelowe ook hemel toe kan gaan nie

Hoe gebeur dit dat iemand met sulke geloofsoortuigings by die Kerkbode, die prominentste kommunikasiemedium van die NG Kerk, betrokke raak?

2009 Adrio König probeer wal gooi

In Februarie 2009 wend prof Adrio König ’n moedige poging aan om die liberale stroming in die NG Kerk te keer met die publisering van sy boek Die evangelie is op die spel. Die hooftema van die boek is dat indien Jesus se opstanding ontken word, is die evangelie op die spel.

Hy kry egter baie kritiek op die boek en ‘n debat volg in die media van April tot Oktober 2009. Die dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria, prof Cas Vos, en sy kollega, prof Dirk Human sê dat hulle wil braak oor die boek.

2009 NG teoloë vra ateïs om verskoning

In 2009 dreig George Claassen, ’n ateïs en voorsitter  van Skepties Suid-Afrika, skole wat godsdiens beoefen met regsoptrede. Volgens hom is daar egter baie Christen ouers wat hom skerp aanval daaroor. Na aanleiding daarvan vra James Kirkpatrick en Chris Jones vir Claassen amptelik om verskoning. Die feit dat Kirkpatrick en Jones geen kritiek lewer oor die feit dat Claassen skole dreig met regsoptrede nie skep die indruk dat hulle Claassen se optrede goedkeur.

2010 UP teologiese fakulteit: ateïste welkom, skeppingsleerders nie

Op 2 Februarie 2010 tree die einste dr George Claassen, ’n ateïs, op as gasspreker by die openingsdag van die Universiteit van Pretoria se Teologiese Fakulteit. Dit word gedoen onder die vaandel van die Seisoen van luister. Later, in dieselfde maand, word ’n versoek gerig dat dr Mark Harwood, ’n skeppingsleerder, ook die teologiese fakulteit toespreek, maar Julian Müller wys dit van die hand. (Kyk UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit.)

2010 Die Trojaanse Perd in die NG Kerk

In November 2010 word die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk gepubliseer (gratis beskikbaar as eboek). Die volgende sewe mense het die boek geskryf:

  1. Daniel Louw (Medeskrywer)

Kort na die boek gepubliseer is skryf Mike Smuts ’n baie negatiewe resensie daaroor. Daarna hou alle kritici van die boek hierdie resensie voor as weerlegging van die boek. Dit is egter ’n totaal misplaasde resensie waarin hy die skrywers van meganiese inspirasie beskuldig.

Die boek maak wel sommige lidmate se oë oop, maar op die oog af lyk dit nie of dit ’n reuse impak maak nie. Selfs sommige mense wat later deel word van die Kairos Netwerk (2020) vind die boek vervelig op daardie stadium.

Amper vyf jaar later, op 10 Junie 2015, erken Jean Oosthuizen op Facebook dat “die NG Kerk hulle poepkoud geskrik het” toe die boek uitgegee is.

Die skrik het egter nie lank gehou nie, want tydens die volgende algemene sinode in 2011, ’n jaar ná die boek gepubliseer is, word ruimte gemaak vir die bestaan van die duiwel en saamwoon.

2011 Opgestaan, deur Ferdie Mulder

In Julie 2011 publiseer Ferdie Mulder, van wie reeds vertel is, sy boek, Opgestaan (gratis beskikbaar as eboek), waarin hy skokkende feite oor heelwat teoloë onthul. Selfs nie hierdie dokument stuit die liberale stroom nie…

2011 algemene sinode

Voor die aanvang van die sinode skryf die media dat hierdie sinode gaan praat oor “saamwoon, grootdoop, kerkeenheid en duiweluitdrywery” (kyk Ware soeke na God se wil). Dit is daarom dat Louis le Roux ’n plakkaatveldtog inisieer tydens die sinode.

Tydens die sinode verander die beplande gesprek oor die bediening van bevryding (duiweluitdrywery) na die bestaan van die duiwel. Die sinode maak ruimte daarvoor (kyk Die NG Kerk en die duiwel/bose). Verder word saamwoon, dus seks voor die huwelik, goedgekeur. Kyk 2011 NGK saamwoonbesluit.

2011 Jesus is die een!, deur Johan Janse van Rensburg

In Oktober 2011 publiseer prof Johan Janse van Rensburg sy boek Jesus is die een! – Verloor ons nie die evangelie in die Emerging Church nie?.

Teen hierdie tyd skrik boeke waarskynlik nie meer die liberales af nie.

2010-2013 Seisoen van debatte

Net voor die publikasie van Die Trojaanse Perd in die NG Kerk in November 2010, breek die “seisoen van debatte” (soos ek dit noem) aan as deel van die seisoen van luister.

In 2010 word die Diversiteitsforum geskep as ’n inisiatief van Ben du Toit, die NG Kerk se kommunikasiehoof. Charles Malan, die webbestuurder, verwyder heelwat van die behoudendes se plasings. Gelukkig word meeste daarvan gekopieer voor dit verwyder word (dit kan hier gelees word).

Toe die gesprek op die diversiteitsforum tot stilstand kom, gaan die debat voort op die NG Kerk en Kerkbode se Facebookblad.

Ben du Toit het waarskynlik nie rekening gehou daarmee dat die behoudendes, so ’n steen des aanstoots sou wees in hierdie gesprekke nie. Hoe suksesvol hierdie gesprekke was in Ben du Toit (en ander NG Kerkleiers) se oë sal ’n mens egter nie weet nie. Die behoudendes wat veral betrokke was by die debatte was Jan LouwDaniel LouwHenrietta KlaasingGideon AggenbagHennie Mouton en Wynand Louw.

Die seisoen van debatte bevestig net weereens dat daar ’n baie definitiewe vasgelooptheid bestaan tussen die behoudendes aan die een kant en die progressiewes aan die ander kant. Die debatte maak die gaping bloot groter tussen die twee partye.

2012 Wynand Louw vs Nelus Niemandt

Na die 2011-sinode blyk dit uit ’n onderhoud met Evert Buurman op 26 Okt 2011 dat Nelus Niemandt saamstem met die duiwelbesluit.

In ’n eposgesprek (3 Nov – 7 Des 2011) probeer Wynand dit met Nelus uitklaar. Nelus doen egter presies dieselfde as wat Julian Müller in 2005 gedoen het en verklaar dat hy by sy legitimasie-eed staan. (Volgens Cobus van Wyngaard is dit ‘n geldige benadering.)

Omdat hierdie benadering nie werk nie, skry Wynand op 12 Februarie 2012 ’n ope brief aan Nelus op Facebook.

Op 11 Maart 2012 reageer Nelus in ’n lang brief en beskuldig Wynand van leuens (kyk Moderator ontmasker “aanstootlike leuens” (Facebook). Dit is egter duidelik dat Nelus nie Wynand se vrae wil antwoord nie.

Op 16 Maart 2012 reageer Wynand op Nelus. Kyk Antwoord op Prof Nelus Niemandt se artikel in Kerkbode 16/03/2012.

*********

Later in die jaar, in Wie val wie aan, vertel Niemandt hoe belangrik die opstanding is vir die Christelike geloof. Toe hy egter gevra word of hy hom dan by Ferdie Mulder skaar of by Julian Müller en Jurie le Roux, toe wil hy nie kant kies nie. In ’n persoonlike e-pos sê Ferdie egter dat Nelus hom baie definitief by Müller en Le Roux geskaar het in 2005.

2012 Sinode Hoëveld luister na besware

Tydens die Sinode Hoëveld in April 2012 konfronteer Jan Louw vir Nelus Niemandt en beskuldig hom daarvan dat hy bydra tot ongelukkigheid onder lidmate oor dinge wat in die media gesê word. Kyk Dwaalleer: Aanval op moderator ‘pynlikste’.

Tydens die sinode word besluit om ’n geleentheid te skep om na bekommerdes te luister. In Oktober 2012 word so ’n luistergeleentheid gehou. Die volgende persone woon die luistergeleentheid by as verteenwoordigers van die Hoëveld Sinode: Neels du Randt (voorsitter), André Bartlett en Theo Danzfuss. Dit lyk egter nie of dit enige impak gehad het nie.

2013 Dwaalleer tug ondersoek teen Ben du Toit

In 2011 kla Wynand Louw vir Ben du Toit aan oor die feit dat hy nie in die duiwel glo nie en daarom sy legtimasie-eed verbreek. Ben du Toit word egter onskuldig verklaar omdat die sinode amptelik ruimte gemaak het vir mense wat nie aan die duiwel glo nie. Kyk Die uitkoms van die dwaalleer tug ondersoek teen Dr Ben du Toit.

2013 algemene sinode

Nie minder nie as 10 beswaarskrifte word ingehandig teen die duiwelbesluit van 2011.

Die uiteinde: die bewoording van punt 7 word slegs ’n klein bietjie verander (kyk 2013 NGK besluit oor die duiwel):

  • 2011-besluitDaar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.
  • 2013-besluitDaar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

Die homoseksuele besluit van 2007 word herbevestig en daar word besluit om opnuut ’n studie oor SGVs te doen nadat erken is dat die 2007-besluit ’n kompromisbesluit was.

Kyk Terugblik op die Algemene Sinode 2013 en Piet Strauss oor AS 2013.

2015 algemene sinode

Voor die aanvang van die 2015 Algemene Sinode word taakspanne aangestel om die kwessie van homoseksualiteit te ondersoek (soos besluit is tydens die 2013 AS). Die objektiwiteit van hierdie taakspanne word egter betwyfel. Kyk Ope byeenkoms van die NGK se Taakspan oor Homoseksualiteit in Maart 2015 te Stellenbosch.

Nelus Niemandt, die moderator van die NG Kerk op daardie stadium, pleit openlik daarvoor dat homoseksuele mense nie selibaat hoef te bly nie. Kyk Nelus Niemandt se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays’.

Ook steun die teologiese fakulteit van Stellenbosch hierdie siening. Kyk Laat NG kerkrade oor gays besluit.

In Oktober, tydens die algemene sinode, besluit die sinode om ruimte te laat vir SGVs.

Hierdie besluit word sterk deur die drie teologiese fakulteite gesteun. Kyk NG teologiese skole progay en Dit is ’n goeie besluit, sê NG dosente.

Daar is egter sprake dat daar emosionele manipulasie was tydens die sinode.

Toe die notule van die algemene sinode egter uitgereik word, word daar gesê dat ’n moratorium op die besluit geplaas is. Kyk NG Kerk: Gays sal moet wag.

2016 hofsaak teen NG Kerk

Voorstaanders van SGVs is baie ontsteld oor die bevriesing van die 2015-besluit en 11 lidmate besluit om die NG Kerk hof toe te sleep (later sluit nog ‘n persoon aan wat dit 12 maak). Die uitspraak kom eers in Maart 2019. Bietjie meer daaroor later.

2016 buitengewone algemene sinode

Die algemene sinodale moderamen (ASM) besluit om die beplande 2017 algemene sinode te vervroeg deur ’n buitengewone algemene sinode in 2016 te hou. Tydens hierdie buitengewone sinode word die besluit van 2015 omgedraai (kyk 2016 NGK Homoseksuele besluit).

Kort na die sinode, op 21 Nov 2016, praat die moderator, Nelis Janse van Rensburg, oor die besluit in ’n Youtube video. Daarin sê hy dat die sinode nie besluite op gemeentes gaan afdwing nie. Dit laat die vraag ontstaan: Nelis, wat is die doel van die Algemene Sinode?.

Intussen gaan die hofsaak teen die NG Kerk voort.

2017 Jan Louw by Vrystaatsinode

Voor die aanvang van die Vrystaatse sinode op 11-15 Junie 2017 dien Jan Louw ’n paar beskrywingspunte in vir bespreking. Hy kry geleentheid om dit aan te bied, maar die punte word nie tot stemming gebring nie. ’n Taakgroep word aangestel om navorsing te doen oor homoseksualiteit.

Op 20 Februarie 2018 kry Jan Louw ook die geleentheid om die kuratorium toe te spreek. Tydens sy toespraak gebruik hy twee teoloë as voorbeelde om sy saak te stel. Die kuratorium bied aan om ’n gesprek te reël tussen Jan Louw en die betrokke teoloë. Hy wys dit egter van die hand. Let daarop dat die toesighoudende liggaam, die kuratorium, nie die erns van die saak ingesien het nie en waarskynlik gehoop het om Jan Louw stil te maak deur die probleem syne te maak.

Niks verder word opgelewer nie.

2018 André Bartlett word moderator van die Hoëveld Sinode

In Oktober 2018 word André Bartlett die moderator van die Hoëveld Sinode. Hoekom is dit veelseggend?

André Bartlett is een van die prominentste kampvegters vir gay-regte in die NG Kerk. In die tyd wat hy moderator word, is die gaykwessie baie aktueel in die NG Kerk:

  • In September 2015 maak die NG Kerk ruimte vir SGVs wat ’n opskudding veroorsaak onder lidmate.
  • Die besluit word bevries, maar alle behoudendes in die kerk hou asem op oor wat volgende sou gebeur.
  • 11 lidmate besluit om die kerk hof toe te vat omdat hulle nie die bevriesing van die gaybesluit aanvaar nie. (Die hof lewer eers in Maart 2019 uitspraak en die voorstaanders van homoseksuele verhoudings wen.)
  • In September 2016 vra André Bartlett in ’n privaat hoedanigheid amptelik om verskoning aan die homoseksuele gemeenskap oor dit wat in die NG Kerk gebeur en hy bedank uit die ASM uit protes.
  • In 2016 word die besluit weer omgedraai maar almal weet dat daar weer oor die saak besluit sou word in die volgende sinode in 2019.

Ten spyte van al hierdie dinge word iemand soos André Bartlett moderator van die Hoëveld sinode. Hoe gebeur dit? Is behoudendes in Hoëveld sinode bloot vas aan die slaap, of is hulle in die minderheid, of was daar vuil spel?

Terwyl ons praat oor Bartlett:

Hoe gebeur dit dat iemand soos André Bartlett soveel prominente posisies vervul (soos Ben du Toit).

2019 NG Kerk verloor hofsaak

Op 8 Maart 2019 lewer die hof uitspraak en die NG Kerk verloor.

Die vraag is: Het die NG Kerk werklik die gayhofsaak behoorlik teengestaan?

Sommige bewoording in die uitspraak gee die idee dat die NG Kerk nie hulle huiswerk behoorlik gedoen het nie.

Die NG Kerk se respondente was Nelis Janse van RensburgDewyk Ungerer, Gustav Claassen en Thijs van der Merwe. Behalwe moontlik Thijs van der Merwe is almal ten gunste van SGVs, almal mense wat waarskynlik gehoop het dat die NG Kerk die hofsaak sou verloor.

Vir meer hieroor, kyk Oorsig van NGK 2019 hofsaak oor homoseksualiteit.

2019 Morelexit

Reeds voor die 2019 algemene sinode reik Moreletapark gemeente ’n verklaring in April 2019 uit waar redes gegee word waarom Moreletapark moontlik uit die NG Kerkverband wil tree. In ’n persverklaring op 7 Mei 2019 word die NG Kerk se teologiese opleiding genoem as ’n bekommernis.

Prof Fanie Snyman, uittredende dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, reageer daarop en sê dat hy moeg is verdagmakery. Dit ontketen ’n debat in die media waar ’n verdere vyf briewe/artikels oor die onderwerp geskryf word.

2019 algemene sinode

Die 2019 sinodesitting word regstreeks op Youtube uitgesaai. SGVs is weer op die agenda. Op die oog af lyk dit of die proses bo verdenking is (anders as wat moontlik die geval was tydens die 2015-sinode). Die sinode besluit weer om ruimte te maak vir SGVs en bevestig daarmee Moreletapark se bekommernisse oor die rigting waarin die NG Kerk beweeg.

Vir die volledige besluit en ’n kort bespreking oor die besluit en die proses, kyk 2019 NGK homoseksuele besluit.

********

Kyk ook Die NG Kerk en homoseksualiteit wat ’n meer gedetaileerde opsomming gee van die gebeure in die NG Kerk rondom homoseksualiteit.

2020 (Moreleta) Kairos Netwerk

Die 2019 homoseksuele besluit was die laaste strooi wat behoudendes noop om iets daadwerkliks te doen.

Kort ná die 2019 sinode begin behoudende gemeentes doleer.

Op 25-26 Februarie 2020 vind die Moreletapark beraad, onder leiding van Moreletaparkgemeente plaas waar ongeveer 500 mense by die Moreletaparkgemeente bymekaar kom.

Die Moreleta Kairos Netwerk ontstaan mettertyd hieruit. Pieter Breytenbach van NG gemeente Moreletapark dien as voorsitter. In Februarie 2021 verander die naam na “Kairos Netwerk”.

Vir meer inligting, kyk Kairos Netwerk.

Algemeen

Teologiese opleiding

Oor die NG Kerk se drie teologiese fakulteite kan rillerstories vertel word, waarvan Ferdie Mulder se Opgestaan seker die bekendste is. Baie van hierdie stories sien egter nooit die lig nie oor die volgende redes:

  1. Teologiese studente vrees dat legitimasie geweier sal word.
  2. Jong predikante vrees dat hulle gebrandmerk sal word deur ouer kollegas of hulle verval in passiwiteit wanneer hulle eers gelegitimeer is en as predikante beroep is.

Die volgende lys word aan lesers voorgehou wat voorbeelde gee van die skokkende dinge wat in die teologiese fakulteite plaasvind:

Andrew-Murrayprys

Andrew Murray was ’n baie behoudende, gerespekteerde teoloog in Suid-Afrika. Om hom te vereer het die Andrew Murraypryse in 1978 ontstaan onder leiding van Frits Gaum. Dit opsigself is ironies omdat Gaum se teologie ver van behoudend is:

Nietemin, dit is waarskynlik onder andere deur sy toedoen dat Desmond Tutu en Gerrit Brand ook by die Andrew Murraypryse gevoeg is met die Andrew Murray-Desmond Tutuprys en Desmond Tutu-Gerrit Brandprys. Beide van hierdie persone is ook baie progressief:

  • Soos reeds genoem is Desmond Tutu ’n universalis. Verder is hy ook ’n voorstaander van SGVs.
  • Gerrit Brand was ’n voorstaander van homoseksuele verhoudings en sy opinie oor die maagdelike verwekking was dat dit nie bewys kan word nie. Dit wil ook voorkom of hy ook soos andere glo dat God deur mense uitgedink is om swaarkry te verwerk.

Teoloë

Daar is nog baie wat gesê kan word oor wat verskillende teoloë in die NG Kerk sê en glo. Hier is ’n lys van ’n paar voorbeelde:

Vir ’n meer volledige lys, kyk Lys van teoloë wat liberale uitsprake gemaak het.

Artikel navigasie

← NG Kerk algemene sinodes