Ds AE vd Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
1 Kor.3:10-20
Wetgewers, owerhede en teoloë praat gereeld op nasionale en internasionale vlak met mekaar oor menseregte. Menseregte het as’t ware die taal van die internasionale gemeenskap geword, ’n taal wat almal verstaan, selfs oor godsdiens grense heen. Christen, Boeddhis en Moslem praat almal van menseregte.
Vir baie mense het dit as’t ware ’n nuwe godsdiens geword. Daar word aanvaar dat almal vandag regte het, selfs mense wat openlik gruwels soos homoseksualisme bedryf! Dit laat gelowiges ongemaklik met menseregte voel. Het mense regte?
Is dit nie selfsugtig om op regte aanspraak te maak gesien in die lig dat gelowiges hulself eerder moet verloën nie? “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mt.16:24).
Wat sê die Bybel oor menseregte? Dis uiteraard nie ’n Bybelse begrip nie, maar ’n regsbegrip. In die Bybel is daar geen woord wat regstreeks met regte vertaal kan word nie. Die woord wat die naaste daaraan kom, is regsaak. In Spreuke word koning Lemeul byvoorbeeld aangemoedig om vir die regsaak van ellendiges op te kom: “Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn” (Spr.32:8). God praat by geleentheid baie hard met Juda: ” Reg verskaf hulle nie, selfs die reg van die wees nie….ook handhaaf hulle die reg van die behoeftiges nie” (Jer.5:28).
In die Bybel word reg egter nooit as ’n hefboom gebruik om mag te verkry of ongeoorloofde beheer oor mense uit te oefen nie. Dit het altyd met goddelike opdragte te doen. Die mensdom moet voordeel uit die verpligtinge wat God se Woord hulle oplê, laat put. Anders gestel - gehoorsaamheid aan God se Woord moet vir almal wat rustig wil leef voordelig wees. Dis waarom daar owerhede moet wees. “Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy nie die mag vrees nie, doen wat goed is en jy sal lof van hom ontvang” (Rom.13:4).
Wat verstaan die Bybel onder reg? Waarom wil God dit hê? Sodat mense in gehoorsaamheid aan God se Woord rustig kan saam leef. Gevolglik verskil dit wat vandag met menseregte bedoel word, ingrypend van die Bybel se idee van regte. Vandag word die skepsel bo die Skepper gedien (Rom.1:25)!
In die Bybelse tyd was die mensdom nie so humanitêr gerig soos vandag nie. Hulle het selfs nie eens ’n primitiewe vorm van ’n Handves van Menseregte gehad nie. Al wat hulle gehad het, was die Woord van God en ook dit wat destyds beskikbaar was. Mense het in gehoorsaamheid aan die Woord van God onderlinge reg en geregtigheid laat geskied. Dit wat God gesê het, was vir hulle genoegsaam soos dit vandag ook behoort te wees.
Die Grondwet van Suid-Afrika bevat vandag ’n Handves van Menseregte, iets wat tydens die eertydse Christelike grondwet glad nie bestaan het nie. Hierdie handves omskryf sekere basiese regte waarop elke landsburger aanspraak kan maak, regte wat hom nooit ontneem mag word nie byvoorbeeld die reg op menswaardigheid, vryheid van spraak, gelykheid voor die reg en ’n klompie ander. Hierdie regte geniet ook ’n sekere rangorde. Sommige is belangriker as ander. So is die reg op lewe bv. belangriker as dié op vryheid van spraak.
Die probleem met die Handves van Menseregte is dat dit suiwer humanisties is. Nêrens word God se Woord geag of iewers aangehaal nie. Waaroor is dit opgestel en feitlik wêreldwyd aanvaar? Hieroor kan net bespiegel word. Vir nugter denkendes lyk dit na ’n verskansing teen verantwoordelikhede. Mense eis regte, maar wil nie die nodige verantwoordelikhede aanvaar nie.
Dis so sprekend van ongelowiges wat vryheid wil hê, maar geen verantwoorde-likheid wil aanvaar nie! Op ’n vasteland met te veel vryheid-standbeelde en te min verantwoordelikheid-standbeelde, het die Handves van Menseregte ’n soort Evangelie geword!
Dit beteken egter nie dat die Bybel glad nie van menseregte praat nie. Dit praat net anders as ongelowiges daaroor. Laasgenoemdes glo dat die mens met sekere onaantasbare regte gebore word. Die Bybel sê weer dat die mens slegs regte het omdat God dit aan hom toeken. Hy is dus slegs waardig omdat God waardigheid aan hom toeken. Hy durf nie regte of waardigheid aan homself toeken soos wat die Handves van Menseregte doen nie.
God gee nie eens aan die staat onbeperkte mag nie. Die staat moet sy taak in verantwoordelikheid teenoor God vervul. In die boeke van Moses sowel as dié van die profete gee God aan gelowiges telkens die opdrag om die regte van armes, weduwees, wese en vreemdelinge te beskerm. Dis een van die redes waarom die Bondsvolk in ballingskap gegaan het - hulle het dié regte vertrap!
Tweedens sê die Bybel dat die mens as beeld-draer van God menswaardigheid besit. Dis egter nie iets wat hy verwerf het nie, maar aan hom verleen word. Lees gerus Ps.8. Omdat God alle mense na sy Beeld geskape het, moet ons mekaar as God se handewerk eerbiedig.
Daarbenewens praat die Bybel nie van regte nie maar van pligte. Feitlik elkeen van die Tien gebooie begin met die woorde: “Jy mag nie….” Dis alles pligte wat regte veronderstel. “Jy mag nie doodslaan nie” sê dat ’n mens die reg op lewe het. Mense mag nie ten koste van verpligtinge klem op hul regte lê nie. Wie nie verpligtinge wil aanvaar nie, durf nie op regte aanspraak maak nie!
Regte en verpligtinge loop saam. Oral waar regte oorbeklemtoon en verplig-tinge onderbeklemtoon word, loop dinge skeef. Regte het ook perke. Geen mens het absolute regte nie. Regte mag ook nooit met God se gebooie bots soos wat die reg op aanvraag op aborsie met die sesde gebod bots nie.
Mense besit ook nie regte net omdat hulle mense is nie, maar omdat dit ’n geskenk van God is wat verantwoordelik voor God gebruik moet word. Gelowiges het geen regte van hul eie nie. Hulle behoort immers aan Jesus. “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees…..en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop….” (1 Kor.6:19,20).
Dis jammer dat die Handves van Menseregte so ’n aanklank onder volksgenote vind. Dis die gevolg van politici en kerklui wat met verandering ter wille van verandering besiel geraak en mense mislei het. Ná die prysgawe van politieke mag in April 1994 is kerk, politiek en kultuur deur ’n veranderings-manie beetgepak; kerk, politiek en kultuur moes verander ter wille van verandering.
Kort daarna is die Handves van Menseregte in 1996 in die nuwe grondwet opgeneem ten einde mense te leer om in sogenaamde vrede saam te leef. Dit was onnodig. Gelowiges het niks anders as die Bybel met die Tien Gebooie as riglyn vir ’n vreedsame samelewing nodig nie. Wie dit gehoorsaam, leef in vrede. Wie dit minag, leef in vrees, soos in die Nuwe Suid-Afrika!
Vandag word samelewings wêreldwyd volgens die beginsels van menseregte georden. Owerhede, kerke, ekonomiese instellings en sosiale instansies word volgens hul handhawing van menseregte beoordeel. Onderwysinstellings word selfs ingespan om heiden-owerhede te help om ’n menseregte-kultuur te vestig!
Suid-Afrika het sedert sy Christelike grondwet vernietig is, in ’n tipiese Grieks-heidense denkwyse verval. Volgens hierdie denkwyse is die mens selfstandig genoeg om te weet wat reg en wat verkeerd is en derhalwe bevoeg genoeg om owerheidsgesag in te stel. Daar is weggedoen met die Bybels-gemotiveerde grondslag dat God owerhede daarstel.
Humaniste glo dat die mens genoeg verstandelike vermoëns het om oplossings vir sy bestaan op aarde te verseker, dit te bestendig en selfs te verbeter. Hulle glo ook dat alle mense gelyk is en regte het. Hulle mag mekaar egter nie onbillik oorheers nie en op grond van konsensus ’n regering vorm en gesag daaraan verleen om te regeer. So gesien, verdwyn die owerheid se plig om, kragtens Art.36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Christelike godsdiens te bevorder.
Derhalwe het die Handves van Menseregte geen Skriftuurlike begronding nie. Dis in werklikheid skadelik omdat dit die staat van sy waarde en waardigheid stroop en tot ’n belangegroep met ’n skeidsregter-funksie verskraal ten einde burgerlike konflik te vermy of te ontlont.
Kyk maar net wat tans in Suid-Afrika aan die gang is - daar word nie meer op grond van die Skrif regeer nie, maar aan die hand van wetgewing wat aan die hand van die Handves van Menseregte getoets word. In die praktyk kom dit daarop neer dat daar nie deur wette nie, maar deur regte regeer word! Die Hooggeregshof het byvoorbeeld die reg om alle bestaande wetgewing aan die hand van die Handves van Menseregte te toets en selfs nietig te verklaar indien dit die regte van ’n individu skaad.
Gevolglik het gruwels soos homoseksualisme selfs vandag regte! Dink maar aan die onlangse saamtrek van meer as 20,000 homoseksuele in Knysna wat jaarliks as The Pink Day gevier word. Almal was met sg. Gay rights op loop!
Die kerk van Christus sal haar profetiese taak baie ernstiger moet uitvoer. Die meeste kerke is te geneig om die regering van die dag na die mond praat en ’n dun Bybelse sous oor die onsmaaklike politieke pasty te gooi i.p.v. die resep te verander!