Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
“…Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond”.
Ex 3:5Die verhaal van Moses is een van die aangrypendste in die ganse Skrif, veral as in gedagte gehou word dat hy alreeds 80 jaar oud was toe God hom geroep het om sy volk uit slawerny te lei. Daarbenewens was hy ’n voortvlugtige wat uit Egipte gevlug het nadat hy ’n Egiptenaar wat ’n volksgenoot mishandel het, doodgeslaan het.
Die roeping van Moses begin aan die voet van Horeb, waar hy ook later die 10 gebooie ontvang het. Op daardie stadium het Moses die vee van sy skoonvader opgepas toe God uit ’n brandende bos na hom geroep en vir hom gesê het: “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond”. Wat het dié grond heilig gemaak? Die teenwoordigheid van die heilige God! Heilig beteken opsy sit of afsonder. Moses het nie voor een van Egipte se afgode gestaan nie, maar voor die heilige Skepper-God en dit het daardie grond op daardie oomblik heilig gemaak. Voor die heilige God is alles heilig.
In Jos.5 lees ons net voor die verwoesting van Jerigo soortgelyke woorde: “Toe sê die leërowerste van die Here vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy opstaan, is heilig. En Josua het so gedoen” (Jos.5:15).
God is ’n heilige God wat deur sy heiligheid wonders doen. Na die deurtog deur die Skelfsee, sing Moses: “O Here, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid….een wat wonders doen?” (Ex.15:11).
God is heilig in al sy werke: "En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig en geen duisternis is in Hom nie” (1 Joh.1:5). Hy het ’n behae daarin dat sy kinders deeglik van sy heiligheid bewus moet wees en bly: “Want Ek is die Here julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig…” (Lev.11:44).
Omdat God heilig is, is Hy hoog bo die mens verhewe: “Die Here is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid. Wie is soos die Here onse God, wat hoog woon, wat laag neersien, in die hemel en op die aarde?” (Ps.113:4-6). Geen mens durf sy heiligheid minag en Hom neerhaal nie. Ons moet eerder in die geloof na Hom toe opklim: “Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek?” (Ps.24:3). Die orde moet reg wees – ons moet opklim na God; nie Hom aftrek na ons toe nie!
Wie Hom aftrek, ag nie sy heiligheid nie en is met afgodery besig. Dit was Israel se fout toe hulle die goue kalf gemaak het – hulle wou as sulks nie afgode begin dien nie, maar God se heiligheid neerhaal!
As God net aan een eienskap geken kon word, sou dit sy heiligheid gewees het. Toe Jesaja daardie dag in die tempel as profeet geroep is, was hy van geen eienskap meer bewus as God se heiligheid nie.
Benewens God, het Jesaja in ’n verrukking van sinne ook serafs gewaar: “Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad; met twee het hy sy aangesig bedek en met twee het hy sy voete bedek en met twee het hy gevlieg” (Jes.6:2). Hulle is engele wat in God se teenwoordigheid diens verrig – hemelse lakeie.
Elkeen het drie paar vlerke gehad. Met een paar het hulle hul gesigte bedek. God sê by geleentheid aan Moses: “…..Jy kan My aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie” (Ex.33:20). God se heiligheid is so geweldig, dat selfs die serafs nie na Hom kyk nie. Met die tweede paar vlerke bedek hulle hul voete, want selfs die grond voor God is heilig. Hoeveel te meer nie vir sondaars nie! Daarom verstaan ons die opdrag aan Moses: “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy opstaan, is heilige grond”
Met die derde paar vlerke vlieg hulle om God se opdragte uit te voer. “En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (Jes.6:3). Nêrens in die Bybel word enige ander eienskap van God drie maal herhaal nie!
God is heilig en alles wat aan Hom behoort, ook die kerk. In die 12 Artikels bely ons dat ons aan ’n heilige, algemene Christelike kerk behoort. Ons moet sorg dat die kerk ook afgesonder/opsy gesit bly. Satan wil dit graag ontheilig. Dit moet na die wêreld lyk en soos dit optree. En hy slaag meesterlik daarin!
Jare gelede vra ’n gevangene my waarom die APK nie opgewekter liedere sing en jeans en tekkies kerk toe dra nie? Ek het hom geantwoord dat God se heiligheid dit nie toelaat nie en verduidelik dat heilig afsonder beteken. God is heilig (afgesonder); geen afgod vergelyk enigsins met Hom nie.
Die Bybel is heilig (afgesonder); geen ander boek vergelyk enigsins daarmee nie. Die erediens is heilig (afgesonder). Dis nie ’n klub vir vrome mense nie maar ʼn gemeenskap van sondaars wat vergifnis van sonde ontvang het. God se saak is heilig en afgesonder soos Hy.
Hoe durf my geestelike musiek soos dié van die wêreld klink en my voete laat juk? Nee, kerkmusiek moet heilige stigtelikheid in my hart bring. “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1 Kor.14:40). Daarom hou ek niks van die moderne Gospel musiek nie. Dit laat my met vrae soos: gaan dit nie om die heiligheid van God of om geld te maak? Dis te gekommersialiseer. Daarbenewens is baie van die woorde onskriftuurlik, soetsappig en sentimenteel.
Wat van kleredrag? Moet dit wat ek kerktoe aantrek, nie ook van my eerbied vir God se heiligheid getuig nie? Tydens ’n erediens staan ek immers voor ’n heilige God. Net my beste is goed genoeg vir Hom!
Die kerk mag nooit in ’n sirkus verander en ontheilig word nie. Jesus Christus is die Rots wat vir sondaars geklief is. Die kerk is die skeur waardeur die lewende water na almal wat dors het, vloei. Daarom beteken die kerk vir die heilige God die meeste wanneer dit die minste soos die onheilige wêreld lyk.
Ongelukkig gebeur dit nie. Mense het nie meer eerbied vir God se heiligheid nie. In plaas daarvan dat die kerk in die wêreld beweeg, het die wêreld in die kerk beweeg. Hierdie oppervlakkigheid het die kerklike wêreld hol gemaak sodat baie kerke meer in hul uitstalvensters as op hulle geestelike rakke het! Ja, vernuwing skep soms die indruk van vooruitgang terwyl dit in werklikheid ontwrigting is!
Jesus sê in die Bergpredikasie dat gelowiges sout van die aarde moet wees. Hulle mag hulle nie aan die wêreld onttrek nie. Dan staan daar ook iets baie belangrik – hulle moet waak dat die sout nie laf word nie. Moenie in die wêreld verdwyn nie.
Daar is duisende kerke oor die wêreld heen. Waar is die ware kerk? Oral waar God se heiligheid eerbiedig en sy Woord suiwer verkondig word. Ek sê nie dat die AP Kerk foutloos is nie. Ek dank God net dat ons in die AP Kerk geen behoefte aan oppervlakkige vermaak nie het nie, maar aan grondige geestelike leiding.
Ons gaan kerk toe om ons hemelse Vader se stem te hoor en sy heiligheid in te drink. Ons staan ook vanoggend op heilige grond en trek in die gees soos ’n Moses van ouds ons skoene uit. Mag ons eerbied vir God se heiligheid met onsigbare klinknaels aan ons siele vas sit totdat Jesus op die wolke kom!