IMMANUEL, GOD MET ONS!

25 Desember 2012  -  Kersfees

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg 

"Niks is op hierdie Kersoggend is vir God so groot dat Hy nie mag daaroor het nie.   ...Ons hoef nie soos die ou Babiloniërs na God te probeer opklim nie, Hy het na ons toe neergedaal.   In Christus is Hy langs my, voor my, agter my, onder my en bokant my, daarom kom ek niks kort nie. ...Die Seun van God het mens geword sodat mense kinders van God kan word. "

“En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon….” Joh.1:14.                                

’n Mens praat soms met iemand oor die foon wat jy nog nooit ontmoet het nie.  In jou verbeelding plaas jy ’n gesig by die stem en wanneer jy later die persoon ontmoet is jy dikwels teleurgesteld omdat hy nie aan jou verwagting voldoen nie.   Die probleem lê egter nie by dié persoon nie, maar by die denkbeeldige voorstelling wat ons van hom het.

Hoe waar is dit nie ook van God nie.  Ons praat met Hom, maar sien Hom nie fisies nie.   Gevolglik maak ons ’n voorstelling van Hom en as Hy nie daaraan voldoen nie is ons teleurgesteld in Hom.  Die probleem lê by onsself, maar ons lê dit voor God se deur.  Voordat ons God nie leer soos Hy is nie, sal die geloofslewe ons altyd teleurstel en onvergenoeg laat.

God het 2012 jaar gelede kom wys wie Hy is.  Ons herdenk hierdie dag met ’n naam - Kersfees.   Ons dink saam met miljoene Christene daaraan hoe God in Christus Jesus sy hemelwoning verlaat en aarde toe gekom het om Hom aan die mense te toon.  By geleentheid vra Filippus vir Jesus: “….Here, toon ons die Vader en dit is vir ons genoeg” (Joh.1:14).  Jesus antwoord hom: “…Hy wat My gesien het, het die Vader gesien…” (:9).

Mense het destyds geen probleem daarmee gehad om Jesus as ’n goeie mens te sien nie.   Luister wat sê hulle van Hom toe Jesus die dissipels direk daarna vra:  “En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper en sommige Elia en ander Jeremia of een van die profete” (Mt.16:14).  Maar dat Jesus God was, was vir hulle te dik vir ’n daler.  ’n Goeie mens ja, maar God, nee!

In Jesus sien ons Wie God is.   Daarom gryp die verhaal van Jesus gelowiges deur die eeue aan.   Johannes begin sy Evangelie so anders as die res van die Evangelieskrywers.   Mattheus begin met Jesus se geslagsregister by Abraham.   Markus noem Hom “Seun van God”.  Lukas sê dat Hy uit die geslag van Dawid was.  Johannes gaan tot voor die skepping terug:  “In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was God.  Hy was in die begin by God”.

Johannes gee ’n aangrypende beskrywing van wie Jesus is deur by Gen.1:1 aansluiting te vind.  En hy doen dit met ’n goeie rede.   Die Jode was baie krities.    Kyk maar net wat gebeur in die woestyn tydens hul trek na die beloofde land - hulle het baie wonders aanskou, maar was nie daarmee tevrede nie.  Hulle wou die God sien wat dit gedoen het.  Daarom skryf die Evangelie-skrywers nie bloot ’n verhaal oor Jesus nie, maar laat lesers reg aan die begin goed verstaan wie Jesus eintlik is – God!

Johannes begin sy Jesusverhaal by die skepping.  Paulus voeg later daaraan toe: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping, want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.  En Hy is voor alle dinge en in Hom hou alle dinge stand” (Kol.1:15-17).    

Die belangrikste aspek van Jesus is dat Hy God self is – Immanuel, God met ons.  Hy was meer as net ’n goeie mens.  Sy goedheid beteken in elk geval min as ons nie weet wie Hy in werklikheid is en vanwaar Hy kom nie.   Sy hemelse oorsprong het aan sy Boodskappe krag gegee:  “...want Hy het hulle geleer soos een wat gesag gehad het en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mt.7:29).

Jesus is die beeld van God aan die mens. ’n Mens is mos gesteld op die beeld wat jy uitdra.   Alles wat ons doen, straal ’n beeld uit wat iets van jou as mens vertel.  Daarom trek ons netjies aan en hou ons, ons huise skoon sodat mense goed van ons moet dink.   Ons let ook op die negatiewe beeld wat sekere mense uitstraal en probeer dit vermy.  Nogtans flous mense mekaar gedurig met ’n kunsmatige goeie beeld.  Vra maar vir enige predikant!

Ons moet egter teen een ding waak – om ’n persoon nie aan ’n beeld wat jy van hom het vas te maak nie, met ander woorde, om hom nie aan jou oordeel te onderwerp nie.  Dit was die probleem met die Jode in die tyd van Jesus.   Hulle het ’n sekere verwagting van die Messias gehad; hoe Hy moes wees, alles onskriftuurlik!  In die Woord van God het hulle genoegsame inligting oor die Messias gehad, maar die Jode het duidelik nie daarna geluister nie en ’n eie verwagting van die Messias gehad; ’n politieke verlosser wat hulle van die Romeinse juk moes bevry.  En toe Hy dit nie doen nie, het hul almal saamgestem: “Hy is nie die Messias nie!”

God het op Kersdag Homself in Jesus openbaar deur vlees en bloed te word!     “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon….” God het sy hemelwoning gewilliglik verlaat.   Die Skepper van die heelal het aarde toe gekom om te kom dien!   Dink jou in: God op sy knieë besig om mense se voete te was en later selfs die bitterheid van menslike onreg aan ’n kruis te smaak!

Mense is blind vir Jesus se ware identiteit.  Miljoene mense, selfs kerkgangers, mense wat op hierdie oomblik in kerke sit, weet in werklikheid nie wie Hy is nie, dat Hy vir verlorenes lig in hul geestelike duisternis gebring het nie.  “Die volk wat in duisternis wandel, het ’n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn” (Jes.9:1).

Jesus het as God se Lig na die wêreld gekom, maar wou Hom nie aanvaar nie. “En Hy het na sy eiendom gekom en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh.1:11) en ’n oordeel oor hulself gebring: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig…” (Joh.3:19).   Niemand maak goeie keuses as dit donker is nie.  “Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe, is die weg van die goddelose soos duisternis; hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie” (Spr.4:18,19).  Christus is die Lig van God omdat Hy ’n hemelse oorsprong het.

Maar dis nie net Jesus wat ’n hemelse oorsprong het nie, ook ek en jy!   Salomo sê “…want die mens gaan na sy ewige huis…” (Pred.12:5).   Ons is reisigers op die aarde.  Een van die mooiste grafskrifte wat ek gelees het, is van ’n man wat baie gereis het.  Dit lui: “Ek was ’n reisiger op aarde.  Die reis is verby en ek is terug”. Ons is na die beeld van God geskape.   Jesus het ons kom herinner wie ons is – beelddraers van God.

Jesus het ons die reg kom gee om kinders van God genoem te word (Joh.1:12).  Daar is net een voorwaarde - die bekering.  Ons moet in ’n persoonlike verhouding met Hom staan.  Die Seun van God het mens geword sodat mense kinders van God kan word.

Kinders van God tree sterk op.   Moses wou nie na Egipte gaan nie omdat hy geglo het dat hy ’n swakkeling was wat nie sou kon doen wat God van hom gevra het nie.   Ja, as jy op jou swakheid fokus, verloor jy jou identiteit as kind van God uit sig.  Nadat  Moses met God se krag in aanraking gekom het, het hy van sy hemelse identiteit bewus geword en groot dinge gedoen.

Niks is op hierdie Kersoggend is vir God so groot dat Hy nie mag daaroor het nie.  Niks is vir God so klein dat dit sy vaderlike oog ontglip nie.   Hy is in Jesus met ons tot aan die voleinding - Immanuel.  Ons hoef nie soos die ou Babiloniërs na God te probeer opklim nie, Hy het na ons toe neergedaal.   In Christus is Hy langs my, voor my, agter my, onder my en bokant my, daarom kom ek niks kort nie.

Mag ons liefde vir God wat in Jesus na ons gekom het met die onsigbare klinknaels van die geloof aan ons siele vassit totdat Jesus op die wolke kom!