Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
"Ons gaan ’n hewige stryd tegemoet wat tot en met die wederkoms van Jesus al hoe hewiger gaan word."
“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” 1 Tim.4:1.
Charismatiese groepe beskou die eerste Christenkerk allerweë as ’n model waarheen alle kerke moet terugkeer om ware kerk van Christus Jesus te wees. Gevolglik gee hulle baie aandag aan die boek Handelinge. Ons moet egter verstandig met Handelinge omgaan, want indien jy die strekking nie verstaan nie, sal jy dwaal!
Handelinge is die verhaal van die oorgang van die ou verbond na die nuwe verbond en lê nie standaarde vir die kerk van alle tye neer nie.
Paulus se briewe is eerder normatief! Indien Handelinge normatief was, sou ons verplig wees om al ons besittings te verkoop en dit aan arm gelowiges te gee soos destyds in die eerste gemeente in Jerusalem gebeur het.Paulus se briewe is vir die kerk normatief en derhalwe baie kosbaar. Dit het met praktiese geloofslewe te doen en bevat ook talle waarskuwings, veral sy pastorale briewe – Timotheus, Thessalonicense en Titus.
Paulus waarsku in hierdie briewe gereeld teen misleiding. Satan doen aan die einde van die tyd presies weer dit wat hy reg aan die begin gedoen het – hy mislei. Dit gebeur wanneer mense die waarheid vir die leuen verruil. Satan is die vader van die leuen. “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (teks).
Petrus sluit hierby aan en sê dat Satan soos ’n brullende leeu rondloop en kyk wie hy kan verslind (1 Pet.5:8). Hy wil hê dat mense die waarheid moet los en die leuen aangryp. Die leuen moet die waarheid en die waarheid die leuen word.
Om mense te mislei, openbaar Satan hom eerstens as ’n engel van die lig (2 Kor.11:14) en andersyds as ’n vyand: ”die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:4). Satan se vermomming boul miljoene mense wêreldwyd pens-en-pootjies. As jy die geeste nie kan onderskei nie, water jou mond vir die verbode vrug!
In Openbaring sien Johannes dat die vermomde Satan soos twee diere uit die see en die aarde opkom. Hy is ongelooflik sterk met kerklike, ekonomiese en politieke mag oor almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie. Alhoewel hy mag oor die mensdom verkry, ding hy nie met God mee nie. Ons moenie die fout maak en dink dat God soos in ’n toutrek-wedstryd met die Satan gewikkel is nie. Dis onskriftuurlik! Die Satan beskik slegs oor die mag wat God hom toelaat en kan net binne daardie perke optree. Hy is soos ’n gevaarlike hond, maar aan ’n ketting.
Die magte wat aan hom verleen is, is egter omvattend en omvat drie terreine: Kerklik, geldelik en staatkundig.
Op kerklike gebied poog Satan om mense aan God se bestaan, skeppingsmag en beheer oor menselewens te laat twyfel. Hy sypel kerke binne waarna kerklui die inspirasie en geskiedkundige korrektheid van die Bybel betwyfel. As jy daaraan twyfel, trek alles skeef en kom jou geloof op losse skroewe te staan. En dis wat Satan wil hê; gelowiges moet van die waaragtige kennis van God losgemaak word, want dan het hulle geen anker nie!
Die tweede terrein wat Satan wil beheer, is die geldelike terrein. “sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het” (Openb.13:17). Dinge is alreeds aan die gebeur! Geldelike instansies smelt al hoe meer saam soos wat die een die ander insluk. Daar word van globalisering gepraat, ’n saamtrek van ’n bose geldmag wat die omvang wat die hele aardbol raak.
Dit gaan hier oor internasionale koophandel, olie-voorsiening, handelsbank beheer, geldsirkulasie, aandelebeurse, openbare media, TV ens. Alles saam-saam en weg van God se Woord! As jy nie sterk in die Here staan nie, word jy maklik deur die gemaksug en wêreldse genot wat aangebied word, meegesleur.
Die derde terrein waarop Satan hom toelê, is meer gewelddadig – die politiek (staatkunde). Dit bestaan uit fisieke dwang wat, soos voorspel, deur kerklike en wêreldlike owerhede toegepas gaan word. Kerklike vervolging is een van die weersinswekkende verskynsels op aarde. Jesus waarsku dat valse kerke aan die einde gelowiges gaan vervolg en doodmaak soos wat die Roomse Kerk in die Middeleeue gedoen het: “Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam” (Luk.21:12).
Toe Jesus tydens Nagmaal na sy dissipels gekyk het, het Hy geweet hoeveel van hulle en ander gelowiges van daardie tyd hul lewens om sy ontwil sou verloor. Mattheus is in Ethiopië gemartel en toe met ’n swaard doodgesteek. Markus het in Alexandrië gesterf deur hy aan perde vasgemaak en deur die strate gesleep is totdat hy sy laaste asem uitgeblaas het.
Lukas is in Griekeland in die openbaar opgehang. Johannes is in Rome in kokende olie gegooi, maar het wonderbaarlik aan die dood ontkom. Daarna is hy na Patmos verban om ’n tyd later na Efese terug te keer waar hy op rype ouderdom oorlede is. Petrus is volgens oorlewering onderstebo gekruisig en Jakobus die broer van Jesus is van die tempel se dak gegooi en daarna met knuppels doodgeslaan.
Jakobus die seun van Sebbedëus sowel as Paulus is onthoof. Bartlomeus is met gesels doodgeslaan. Thomas is tydens ’n sendingtog in Indië met ’n spies doodgesteek en Judas, die broer van Jesus, met pyle doodgeskiet. Matthias en Barnabas is beide gestenig. Ja, wie Een wil volg wat deur die wêreld gekruisig is, moet self verwag om gekruisig te word!
Dis ’n algemene tendens – die toekoms lyk vir gelowiges nooit rooskleurig nie. Ons gaan ’n hewige stryd tegemoet wat tot en met die wederkoms van Jesus al hoe hewiger gaan word. Daarom moet ek en jy ons geloof suiwer hou en oor die waarheid waak. Satan kom nie met weermagstewels op ons afmarsjeer nie, maar in sy sokkies en op die punte van sy tone. Hy is ’n misleier, veral van kerke! Kyk maar net hoe gereeld verskuif kerke hul doelpale om mense ter wille te wees!
Mag God ons krag en genade gee om hierdie drieledige aanslag van die Satan af te weer en nie van die suiwere leer afvallig te word nie!