Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
Jak.5:13-20; 1 Joh.2:18-29
"Die openbaring van die Antichris is voor die deur. Dit word baie duidelik aan die toename in dwaalleer bespeur. ’n Dwaalleraar is nie ‘n gesalfde van God nie. Daarom swig kerke die een na die ander onder dwaalleer."
Die salwing met olie was ’n simboliese gebruik in die OT en veral vir die toewyding van priesters (Lev.8:12,30) en konings (1 Sam.10:1) aan die diens van God gebruik. Olie is as ’n simbool van oorvloed, voorspoed en guns van God gesien: “U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor” (Ps.23:5).
Die OT praat egter ook van ’n geestelike salwing - dié met die Heilige Gees wat deur begenadigde persone ontvang is om hulle vir die werk van God toe te rus. Jesaja is ’n goeie voorbeeld hiervan: “Die Gees van die Here HERE is op my, omdat Hy my gesalf het om ’n blye boodskap te bring….” (Jes.61:1).
Dis een van die redes waarom die Heilige Gees op die kerk uitgestort is – om gelowiges se getuienis te versterk: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees…” (Hand.1:8).Die salwing met die Heilige Gees was onontbeerlik vir die vroeë Christelike kerk omdat Satan hierdie kerk met dwaalleer geskud en baie mense die pad van die Here byster geraak het. Die Here moes gelowiges baie sterk maak om hierdie agente van Satan teen te staan en die waarheid te laat seëvier. “...en julle het die salwing van die Heilige en weet alles” (1 Joh.1:20). Die woorde “weet alles” dui op ’n toerusting met die waarheid.
Deur die eeue salf God gelowiges om vas te staan en mense te help om die waarheid van die leuen te onderskei. “En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie…” (1 Joh.2:27).
Benewens mense wat as gesalfdes van God optree, word Jesus ook ’n Gesalfde genoem. Dis wat die woord Christus in Grieks beteken. In Aramees word dit met Messias vertaal. “…En Petrus antwoord en sê vir Hom: U is die Christus” (Mark.8:29). Elkeen wat Jesus volg, is ook ’n gesalfde: “Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God” ( 2 Kor.1:21).
In die NT tyd het die dissipels ook olie by genesings gebruik. Tydens hulle eerste sendingtog het Jesus hulle die gawe gegee om siekes gesond te maak. “En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak” (Mark.6:13).
Hierdie olie het nie geheimsinnige kragte gehad nie, maar was slegs ’n simbool van die genesing wat God aan sekere mense geskenk het. Salwing het die gebed aangevul: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het” (Jak.5:14). Die klem val egter nie op die simboliese olie nie, maar op die gebed: “Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (vers 16).
Die olie waarvan hier gepraat word, was dus ’n simboliese handeling en nie voorskriftelik en normatief nie. Indien dit wel voorskriftelik was, sou die Bybel baie duideliker daaroor gepraat het. Daar is egter niks in die Bybel wat daarop dui dat salwingolie enige geestelike basis gehad het nie. Indien dit so was, sou dit verpligtend vir die kerk van alle tye gewees het en sou die Bybel baie duideliker voorskrifte daaroor gehad het. Paulus sou beslis iets daaroor geskryf het omdat hy die meeste normatiewe waarhede van die Bybel breedvoerig in sy briewe behandel. As hy oor die salwing swyg, kan dit nie normatief wees nie.
Desondanks gaan daar toenemend stemme op vir die herinstelling van salwing in kerke, ’n aandrang wat hoofsaaklik van mense kom wat Jak.5:14 nie verstaan nie en nuwe ervaring soek. Baie mense word moeg vir die tradisionele godsdiens en soek dan iets opwindend.
Sekere olie het in die Bybelse tyd medisinale waarde vir sommige ongesteldhede gehad. In die meeste gevalle was dit egter nutteloos. Indien Jak.5:14 voorskriftelik was, sou ons vandag nog ouderlinge moes inroep as mense siek geraak het en dit terwyl daar hoogs geskoolde medici beskikbaar is.
Jak.5:14 hou met die gawe van genesing verband. Paulus skryf dat God verskillende gawes aan verskillende mense uitgedeel het (1 Kor.12). Hierdie gawes is aan die begin van die kerk gegee en nooit bedoel om voortgesit te word nie. Die kerkgeskiedenis getuig daarvan. Dit het basies saam met die apostels uitgesterf.
Ongelukkig maak baie charismatiese kerke ’n bespotting van salwing. Nêrens in die Bybel lees ons van mense wat deur God gesalf is en daarna omgeval, histeries aan die lag gegaan of in brabbeltaal gepraat het nie. Charismate sien salwing as ’n fisiese belewenis. Dit moet gevoel en intens beleef word. Jou adrenalien vlakke moet verhoog en jy moet die ene hoendervleis word. Dis egter baie gevaarlik omdat die heidene die selfde simptome tydens demoniese beswymings ervaar.
Die Roomse Kerk (RK) heg ook baie waarde aan fisiese salwing. Salwing verkry selfs sakramentele waarde soos die gebruik van die laaste oliesel (last rites) waartydens ’n priester ‘n sterwende met olie salf ten einde die persoon toegang tot die hemel te verleen. Hierdie laaste oliesel vorm een van die RK se sewe sakramente. Die Bybel skryf net twee voor – die doop en die nagmaal.
Die RK maak al eeue lank van allerlei heilige olies gebruik. Tydens ’n doop word heilige olie wat vooraf deur ’n priester geseën is in die water van die doopvont gegooi sodat dit bo-op dryf. Wanneer die priester die doop bedien, gebruik hy van die boonste water met die olie in.
Die RK gebruik dikwels heilige olie wanneer ’n priester vir siekes (fisies of sielkundig) bid. Dit staan as Geheime Heilige Salf bekend en herinner ’n mens sterk aan heiden-godsdienste wat glo dat heilige salf wonders verrig. Dis een van die redes waarom die meeste Protestantse kerke nie die gebruik het om siekes te salf nie omdat dit die aandag van die ware Geneesheer kan aftrek.
Gelowiges glo dat genesing slegs deur die wil van God en nie deur olie of enige sigbare tekens geskied nie. “…My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring…” (2 Kor.12:9). Om vir siekes met of sonder salwingsolie te bid, maak geen verskil aan die uitslag nie. God maak gesond of laat sterf.
Vir gelowiges is die salwing met die Heilige Gees die belangrikste salwing omdat dit onontbeerlik is vir elkeen wat in God se diens staan. Niemand kan sonder die salwing van die Heilige Gees ewigheidswerk doen nie. Sulke werk geskied nie deur die menslike wil en vernuf nie, maar deur die Heilige Gees wat gelowiges salf.
Die salwing met die Heilige Gees het ’n dubbele doel. Die Heilige Gees werk eerstens in en daarna deur ons. God werk deur sy Gees IN ons om sonde te versaak en heilig vir Hom te leef: Paulus skryf: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2). Petrus skryf: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word” (1 Pet.1:15) “
Tweedens werk die Gees ook DEUR ons. Hy gee ons die vermoë om God se werk te doen soos getuienis, prediking en onderwysing in die Skrif. Petrus is ’n treffende voorbeeld hiervan. Ná die kruisiging kruip hy uit vrees vir sy lewe weg, maar op Pinksterdag lewer hy vreesloos ’n preek in die tempel waarna 3000 mense tot bekering kom. Hoe was dit moontlik? Net deur die salwing van die Heilige Gees. Petrus sou reuse werk in die vroeë kerk doen.
Die Christelike kerk het baie van die Joodse kerk verskil. In die Christelike kerk is verskillende gelowiges vir verskillende take gesalf en toegerus. Paulus gebruik die voorbeeld van die menslike liggaam om dit te verduidelik: “Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie, Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik” (1 Kor.12:14, 27).
Die salwing van die Heilige Gees was vir die Christelike kerk so onontbeerlik soos olie vir ’n masjien. Elke gelowige wat gesalf is, het die kerk se geestelike masjien aan die gang gehou, iets wat vandag nog net sowaar is. Indien ’n masjien nie gereeld olie kry nie, gaan dit later staan. So ook ’n kerk. Die olie of salwing van die Heilige Gees is onontbeerlik. Dink aan die bekende Engelse lied: “Give me oil in my lamp, keep me burning, burning… "
Die openbaring van die Antichris is voor die deur. Dit word baie duidelik aan die toename in dwaalleer te bespeur. ’n Dwaalleraar is nie ‘n gesalfde van God nie. Daarom swig kerke die een na die ander onder dwaalleer. Maar hoe weet ons dat ’n prediker waarlik ’n gesalfde van God is en nie bloot ’n goeie spreker of toneelspeler nie? Twee dinge: As hy die waarheid preek en sy prediking tot stigting van sy gemeente lei. “My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid” (1 Joh.3:18).
Gelowiges word met die Heilige Gees gesalf vir elke goeie daad, om die bose te weerstaan, die Woord van God te verkondig, te bid en om met God in ’n geestelike gemeenskap te verkeer. Is jy ’n gelowige? Dan is jy ook ’n gesalfde. Gesalfdes is nie net predikante nie, maar almal wat tot bekering gekom het. Daarom sê Jesus dat ons sout van die aarde en lig van die wêreld is (Mt.5). Gesalfdes het ’n roeping!
Gelowiges word spesifiek met die Heilige Gees gesalf. Let op Jesus se doop. Nadat Hy deur Johannes die Doper gedoop is, lees ons:“….en meteens gaan die hemele vir Hom oop en Hy sien die Gees van God soos ’n duif op Hom neerdaal en op Hom kom” (Mt.3:16). Soos wat Jesus met die Heilige Gees gesalf is, is elke gelowige gesalf. “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en Ek sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:26).
Gesalfdes is vir die Christelike bediening bestem. Nie net as leraars of evangeliste nie, maar ook as doodgewone mense wie se lewens in Jesus nuut geword het. Die Heilige Gees bemagtig ons om God se taak suksesvol te verrig. Die Bybel noem minstens 40 dinge waarvoor gelowiges gesalf is. Kom ons let net op 10 daarvan:
- Gesalfdes kan die waarheid van die leuen onderskei: “ En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie…” (1 Joh.2:27).
- Gesalfdes getuig van die waarheid: “….en dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid” (1 Joh.5:6).
- Gesalfdes bid vurig: “terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid…” (Efes.6:18).
- Gesalfdes leef reg: “sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom.8:4).
- Gesalfdes ontvang innerlike krag: “….om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens” (Efes.3:16)
- Gesalfdes word deur God gelei: “…julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon” (Rom.8:9).
- Gesalfdes ervaar innerlike vreugde: “Hy wat die dag waarneem, neem dit tot eer van die Here waar…en wie eet, eet tot eer van die Here…” (Rom.14:6).
- Gesalfdes leef met hoop: “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees” (Rom.15:13).
- Gesalfdes ontvang geestelike gawes: “Daar is wel verskeidenheid van gawes, maar dit is dieselfde Gees” (1 Kor.12:4).
- Gesalfdes dra geestelike vrug: ”Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal.5:22).
Mag die Here ons elke dag van hierdie salwing met die Heilige Gees bewus maak. Laat ons met die heerlike wete leef: “Ek is ’n gesalfde van die Here”. Alles wat ek in sy Naam vra, sal Hy gee as dit sy wil is. Ook genesing as ek vir ’n geliefde bid. Ek hoef nie geen middels te gebruik nie. Ek is met die Heilige Gees gesalf en dit is genoeg.