BEDIENING VAN DIE VERSOENING

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg

“En dit alles is uit God wat ons met Hom versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.  Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan.  Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor.5:18-20)

‘n Mens leef slegs eenmaal op die aarde.  Dan sterf jy.  Daarna gaan jy vir ewig na een van twee plekke; hemel of hel.   Nie een van die twee word op ‘n mens afgedwing nie.  Elkeen kies self waarheen hy wil gaan.   Die meeste mense kies die hel.  “....want breed is die poort en wys is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan” (Mt.7:13).

Hoe kom ‘n mens egter in die hemel?   Kan jy self daar kom?

 Nee, jy het Iemand nodig om jou daarheen te neem; Jesus Christus.    Daarvoor moet jy deur die bekering in ‘n geestelike verhouding met Hom staan.   Dis al manier om die hel af te weer.

Johannes sê dat almal wat Jesus as Verlosser aanneem, kinders van God is (Joh.1:14).   En in hoofstuk 14 sê Johannes dat dat die hemel soos ‘n Vaderhuis is;  dis die plek vir God se kinders.   Dis slegs vir hulle en die bekering die toegangskaartjie.

Hoe en wanneer kom ‘n mens tot bekering?   Wanneer jy, oortuig deur die Heilige Gees, besef dat jy geestelik stukkend is.  Sonde maak mense stukkend en ‘n stukkende mens kan nie in die hemel kom nie.   Jy moet eers heel word.   Die proses van heelmaking word versoening genoem.  Jy word met God versoen.  Sonde maak ons wild en laat ons soos ‘n Adam en Eva van God af wegvlug.  Versoening maak ons mak (2 Kor.5:17).

Mens het van vroegs af besef dat hulle stukkend is.  Sommige het met God vrede gemaak en heel geword soos Henog wat met God gewandel het (Gen.5).   So ook Noag wat regverdig bevind is en wie se lewe saam met die van sy gesin tydens die sondvloed gespaar is.  Heb.11 maak van al die geloofshelde melding wat eers stukkende was en toe deur God heelgemaak is.

God het later sekere mense voltyds gebruik om mense wat stukkend was te help om heel te word.   Hulle is priesters genoem en hul werk die bediening van die versoening. Lev.16 maak van die Groot Versoendag melding en hoe die bediening van die versoening destyds plaasgevind het.   Diere is ter versoening van sonde geoffer waarna God die offer aanvaar en priesters ‘n kwytskelding van die straf aangekondig het.   Sodoende het stukkende mense heel geword om na hul dood hemel toe te kon gaan.

Nadat Christus aan die kruis vir sonde gesterf het, het die diere-offers en priesteramp in die kerk verval.   Niemand kon meer op die ou manier die hemel beërwe nie.  Christus het die perfekte offer geword.   Hy was immers die Lam van God.   Sedertdien kan mense slegs op grond van die geloof en bekering in die hemel kom.  “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe”(Rom.1:17).

Dit beteken nie dat die bediening van die versoening gestaak is nie.  Dis in werklikheid in groter erns voortgesit.   Net nie meer deur ‘n priester nie, maar deur Evangeliedienaars.   Daarom word ‘n leraar se werk bediening genoem - die bediening van die versoening.   Stukkende mense moet heel word:  “Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor.5:20). 

Die bediening van die versoening is die kerk se hooftaak.  ‘n Kerk wat dit nie bedien nie, is soos ‘n horlosie sonder wysers.   Dis vir God ‘n gruwel en vir mense ‘n struikelblok.   En daar is sulke kerke waarvan die Roomse Kerk (RK) die grootste is.

Hierdie kerk het in die viede eeu beslag gekry toe Babelse afgodery die Christelike kerk binnegesypel en gevestig geraak het.   Teenstanders is gewelddadig vervolg.   Miljoene gelowiges is in die naam van Christus gemartel en op brandstapels verbrand!    In die geskiedenis word daar na hierdie tydperk as die donker middeleeue verwys.   Die lig van Christus kon nie uit so ‘n kerk vloei nie!  Hierdie sataniese duisternis het die mensdom eeue lank geteister.

God het egter nie die werk van sy hande laat vaar nie en op 31 Oktober 1517 ‘n hervorming deur Luther, ‘n 34 jarige Duitse priester, ontketen.    Dit was die geboorte-uur van Protestantisme.  Die Christendom het Babel afgeskud om weer kerk van Christus te wees.

Wat het Luther daartoe beweeg?   Iets het hom gehinder het en waarvan die teksverse melding maak - die bediening van die versoening.   God het hierdie bediening van meet af aan aan die kerk toevertrou.   Dit was die kerk se taak om vir mense te sê hoe om met God te versoen te raak ten einde in die hemel te kon kom – die grootste denkbare taak op aarde.  As ‘n kerk hieroor lieg, kan miljoene mense in die hel beland!   En dis wat Luther gepla het - die RK het vir mense gelieg!

Luther het ‘n probleem met die Roomse bediening van die versoening gehad.   Die kerk het verkondig dat die doop, kerklidmaatskap en goeie werke mense in die hemel sal laat kom.   Dan moet daar ook tot Maria gebid word omdat sy glo meer vergewensgesind as Jesus is.   Daarbenewens word daar in stryd met die Woord met die uitgediende priester-amp volhard.  Priesters offer Jesus met elke nagmaal (mis) opnuut!

Dis ‘n evangelie van die hel!  Versoening wat nie vanuit Jesus se soenverdienste vloei nie, is van Satan!   Jesus sê self: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).    Daar word gesê dat alle paaie na Rome lei.  Die een na die hemel loop al te seker ver by Rome verby!

Ons kan die Here nie genoeg vir Protestantisme en sy suiwere bediening van die versoening dank nie.   Maar dan moet ons self geloofsekerheid hê.  Wie dit nie het nie, is in werklikheid niks beter daaraan toe as die Roomse Katoliek wat voor sy afgode neerkniel en glo dat die kerk hom die hemel sal indra nie.