MAAK NÓU REG!

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg

Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe….”

Openb.2:16

Voordat die werklike openbaring begin het, het Christus aan elkeen van die sewe gemeentes in Klein-Asië (Turkye) ’n brief geskryf wat die geloofslewe van elkeen beskryf het – pluspunte en gevaartekens.   Die derde brief word aan Pergamus, die hoofstad van Klein-Asië gerig; ’n stad wat vir sy politieke mag, verstandelike vermoëns en Satansdiens bekend was.   Die stadsbiblioteek het 200,000 boeke gehuisves, elkeen met die hand geskryf!

Pergamus het baie heidentempels gehad waarvan drie aan keiserverering gewy was.   Inwoners moes minstens een maal per jaar in een van die drie wierook op die altaar plaas en uitroep: “Die keiser is God!”   Wie geweier het is vervolg.

Gevolglik het die gelowiges baie swaar gekry en het die plaaslike gemeente ’n groot behoefte aan ’n woord van God gehad.   Jesus het vir hulle inderdaad ’n woord gehad en stel Hom as een met ’n skerp tweesnydende swaard voor – ’n bekende voorstelling vir die Woord van God.

Jesus sê vir hulle reguit dat daar dinge is wat hinder.  Pergamus se leerstellings was suiwer, maar hulle beweeg gevaarlik na aan die wêreld.  Pergamus beteken om getroud te wees.   Hulle was op die rand van egbreuk!   ’n Kerk wat met die wêreld flankeer, dwaal van die gesonde weë af.   Daarom roep Jesus hulle om hulle te bekeer d.w.s. na die regte pad toe terug te keer.

In vers 12 sê Jesus: “Ek ken jou werke”.  Hy weet alles van elke kerk, ook waar dit staan “…waar die troon van die Satan is”.  Die kerk het in die midde van ’n stad ontstaan wat Satan as sy aardse setel gekies het.   Babel was vir eeue lank sy aardse tuiste, maar nadat die Perse dit verslaan het, het die heidenpriesters na Pergamus gevlug en hul boosheid van daar verder bedryf.

Dat ’n gemeente in so ’n plek ontstaan het, is byna ondenkbaar!   Dit was alleen moontlik omdat hulle aan Jesus se Naam vasgehou en in die geloof volhard het.  Hulle het nie vir die gevare rondom hulle gevlug nie.   Wat ’n les vir gelowiges in heidense opsette – moenie vir die wêreld vlug nie!   Satan en sy handlangers probeer hul bes om die kerk te laat vlug.   Moenie!  Staan eerstens vas in die saligmakende geloof en daarna staan jy op vir geloofsbeginsels en spreek die gruwels in die gemeenskap aan!

Die gemeente in Pergamus het ’n paar dinge reg gedoen waarvoor Jesus hulle  aangeprys het.   Omdat sy Naam groot was, was hulle nie skaam daarvoor nie:  “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander  naam onder die hemel wat onder mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand.4:12).     Daar is vandag kerke waar mense nooit meer van Jesus hoor nie.   Dis vandag nodiger as ooit om openlik oor Jesus te praat, Hom te besing, te preek en aan ’n verloregaande wêreld uit te skreeu indien nodig!   Hy sê wat gebeur as ons dit doen: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek” (Joh.12:32).   Mense sal Hom as Verlosser vind.  Ons moet praat!

Pergamus word aangeprys omdat hulle die geloof nie verloën het nie.  Hulle geloofsleer was suiwer omdat hulle aan die grondliggende waarhede van die Skrif vasgehou het.   Daar is baie ruimte vir ons vryheid in Christus, maar daar is sekere ononderhandelbare waarhede.   Wie nie daaraan vashou nie, kan nie ’n gelowige wees nie – dat die Bybel deur die Heilige Gees geïnspireer is, Jesus se maagdelike geboorte, Sy oorwinnaarsdood en opstanding.   Wie nie daarby staan en val nie, dwaal!

Pergamus het baie opoffering t.w.v. hul geloof gemaak.   Jesus sê vir hulle dat Hy dit weet!   Toe die Christendom vervolg is, het hulle vasgestaan.   ’n Sekere Antipas het geweier om aan die keiser te offer en is tereggestel deur hom in 'n brons bul te plaas waaronder vuurgemaak is.  Hy het doodgebrand.   Hierdie wrede skouspel het die gemeente nie van stryk gebring nie.   Antipas was tot die dood toe aan Jesus getrou.   Al het die geskiedenis hom vergeet, onthou Jesus hom by die naam.  Ons opofferings is nooit tevergeefs nie.

Geloof in Jesus Christus is nie goedkoop nie.  Wie Hom liefhet, aan die Bybel se leer vashou en heilig leef, sal mense aanstoot gee:   “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (1 Tim.3:12).   God beloon ons egter vir ons diens in sy koninkryk.  In die Bergrede sê Jesus dat gelowiges hulself moet verheug omdat hulle loon in die hemele groot is.

Christus het egter ook verkeerde dinge in die geledere van Pergamus bemerk.  Hulle het enersyds aan die suiwer leer vasgehou, maar andersyds die wêreld omhels.  Dit was ’n ongelyke juk.

Daarbenewens het sommige lidmate die leer van Bileam voorgestaan.   Bileam was een van die vreemdste karakters in die Skrif, ’n man wat God geken en selfs met Hom gepraat het, maar het weens geldgierigheid Israel in sedeloosheid en afgodery laat verval.  Num.22-25 vertel die hele verhaal.    Die leer van Bileam gaan oor verborge booshede en ’n wêreldse gesindheid wat in die kerk geduld word.   So het die gemeente in Pergamus lidmate geduld wat voorgegee het om Christene te wees maar soos die heidenwêreld geleef het - onsedelik en deelname aan afgodsdiens.

Hierdie selfde dwaling neem ontstellende afmetinge in baie van die moderne kerke aan.   Mense glo dat as hulle siele gered is, hulle kan leef soos hulle wil.   Geen wonder dat mense nie meer eerbied vir die kerk het nie.  Dit het weens sonde wat in die midde geduld word, kragteloos geword.   Wie gered is, sal nie soos die wêreld leef nie.   Jy praat, doen en handel anders.   Jou waardestelsel is anders as dié van die wêreld.   Paulus sê dat as ons in Christus is, ons ’n nuwe skepsel is.  Die ou dinge is verby; alles het nuut geword. (2 Kor.5:17).   Ja, veranderde mense leef anderste!

Verder is Pergamus se kerkregeringstelsel deur die leer van die Nikolaïete beïnvloed.  Laasgenoemdes het ’n elite groep geestelikes (priesterlike klas) in die kerk laat ontwikkel.   Hulle was die voorlopers van die Roomse Katolieke kerkregering  - ’n lelike dwaling!

In die teksvers roep Jesus die gemeente tot bekering op - om van rigting te verander; ’n gesindheidsverandering wat op ’n rigtingverandering moes uitloop.  Indien hulle nie wou luister en die dwaalleer uitroei nie, sou Hy met oordeel terugkom.  Hy gee hulle dus tyd om reg te maak wat verkeerd is.

God is ’n God van liefde, maar ook van oordeel.  Wat ’n verskriklike ding om aan God se verkeerde kant te staan!   Van meet af aan was daar mense wat die kerk wou benadeel en twis en moeilikheid veroorsaak het.   Christus het egter sy kerk lief en duld dit net tot op ’n punt.    Hy sal nie passief toekyk hoe sy kerk aangeval of ondermyn word nie.   Die kerk is sy bruid.   Watter man sal passief toesien dat sy vrou fisies of verbaal aangeval word?  ’n Eerbare man sal haar verdedig.   So ook Jesus.   Hy verdra nie dat mense sy bruid aanval nie!

Aan die einde van die brief gee Christus spesiale beloftes aan die gemeente.   Hulle sal verborge manna ontvang, ’n beeld van God se sorg vir sy kinders deur die woestyntog van die lewe.  Ongelowiges versadig hulle aan die tafel van die wêreld.  God voed sy kinders met die brood van die lewe.

Die getroues in Pergamus ontvang ook ’n wit keursteen.  Wit keurstene was ’n  teken van burgerskap, vriendskap en oorwinning.   Hulle ontvang ook ’n nuwe naam.   Dit spreek van ’n besondere verhouding.   Huwelikspare gee mekaar graag ’n spesiale naam (troetelnaam) wat van ’n besondere verhouding getuig.  God doen dit ook met gelowiges!

Hoe lyk jou persoonlike verhouding met God vandag?    Onthou: Die kerk kan jou nie die hemel indra nie.   Jy moet ’n persoonlike verhouding met Jesus hê, anders is jy verlore!    Distansieer jy jou openlik van die wêreld   Kan mense werklik sien dat jy Jesus liefhet?   Getuig jy ooit van Hom?   Hoe suiwer is dit waarin jy glo?   Is dit werklik Skrifgetrou?

Moenie dat die Here op jou afkom soos wat toe wel met Pergamus gebeur het nie.  “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Hebr.10:31).  Wees vandag eerlik met Hom.   Ons kan tog niks vir Hom wegsteek nie: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met Wie ons te doen het” (Hebr.4:13).   Maak reg as daar fout is!