KYK, ONS LIG KOM!

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg

"Ons land het baie donker geword.  Daar is bykans geen terrein wat nie aangetas is nie.   Die kerklike terrein is die hartseerste!    Dis asof die hel se magte oor ons eens sonnige land ontketen is.  Wat ’n behoefte het ons volk nie aan die lig van Jesus as die blink môrester nie!"

“…..Ek is die wortel en geslag van Dawid, die blink môrester” Openb.22:16                             

Die môrester is die helderste ster van almal.  Dit flikker of verdof nie soos die ander sterre nie.   Dis altyd ’n soliede lig.  Daarom het die ou Grieke dit die koningin van die nag genoem.  Hulle het dit bewonder omdat dit ’n lus vir die oog was.  Die Grieks vir môrester is fosforo, die woord waarvan fosfor afgelei is.   Fosfor is ’n stof wat in die donker glim.  So skitter die môrester in die donkerte met ’n boodskap: Die son gaan binnekort sy verskyning maak.

Die teksvers sê dat Christus die blink môrester is.   Hy het dieselfde uitwerking op die mens se siel as wat die môrester op die natuur het; dit verlig donkerte.  Jesus Christus is ’n soliede Lig wat ook mense gebruik om in ander se lewens te skyn.

    Hulle is egter nie soliede ligte nie, maar skyn en verdwyn – leef en sterf.   Daar is net een soliede lig: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb.13:8).

Soos wat die môrester vreugde in die natuur bring, bring Jesus dit in siele.  “Die volk wat in duisternis wandel, het ’n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn” (Jes.9:1).   Hierdie doodskaduwee is die werklikheid van die sonde-duisternis en ’n doodvonnis tensy jy deur die bloed van Jesus vrygespreek word.    Daar is vir ’n beskuldigde geen wonderliker woord as vryspraak nie.

In die OT was dit verskriklik moeilik om vryspraak te bekom want min mense kon die wet nakom.   Gevolglik was die pad na die hemel as’t ware geslote.  Daar was baie duisternis en min hoop.   Toe kom Jesus in die volheid van die tyd en skyn soos die môrester - die son van God se geregtigheid het opgegaan!

Die pad na die hemel gaan makliker gemaak word deurdat die verlossing nie meer oor die wet gaan loop nie, maar oor ’n kruis wanneer Jesus se liggaam gebreek en sy bloed gestort word.   Jesus die blink môrester kondig God se verbypad aan en word die vervulling van God se beloftes deur die eeue.

Jesus vergestalt ook een van die wonderlikste beloftes waaraan gelowiges vashou:   Soos wat die môrester in die duisternis opgaan, sal alle gelowiges wat sterf, uit die dood opstaan.   Die dood sal voor die lewe wyk, soos die donkerte voor die môrester.

Die môrester was vir die ou seevaarders van onskatbare waarde.    As die lig van die poolster waarop hulle gevaar het, nie sigbaar was nie, was die lig van die môrester onontbeerlik om reg koers te hou.  Hoe waar is dit nie vir hemelvaarders op pad na die Nuwe Jerusalem nie!   Niemand kom daar uit indien hy Jesus nie in oog hou nie.  “...die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof…” (Heb.12:2).

Vir seevaarders was sandbanke, rotse en riwwe die grootste gevaar.  In die lig van die sterre, veral die môrester, kon dit snags makliker raakgesien word.   Hoe waar is dit nie ook van ons geestelike lewe nie.    As ons die oog op Jesus hou, verlig Hy ook ons pad.  Geloof is egter geen ongeluksvrywaring-polis nie.   Die lewe sal maar skommel en skud.  Desondanks bereik jy jou eindbestemming veilig: “...want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.  Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie” (Ps.91:11-12).

Nie alle mense verwelkom die môrester nie.  Kwaaddoeners bedryf hul booshede meesal in die donker en kruip weg voordat dit lig is. “Wee hulle wat planne diep verberg vir die Here, wie se werk in duisternis plaasvind; en hulle sê: Wie sien ons en wie ken ons” (Jes.29:15).

Die môrester is in ’n vaste wentelbaan en kom nie soos ander buiteruimtelike materie byvoorbeeld meteoriete en asteroïede uit sy baan nie.   So vas soos die môrester, so vas staan Jesus by almal wat Hom as verlosser ken; ewige Priester, Koning en Profeet.   “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mt.28:20).    “…Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.   Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê die Here is vir my ’n Helper en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?” (Heb.13:5-6).

Kyk hoe wonderlik tree Jesus Christus vir sy kerk in tye van donkerte in!   Hy sit aan die regterhand van God van waar Hy sy kerk bewaar.   Was dit nie daarvoor nie, was ons nie vandag vasstaande nie, maar deel van die kerklike misleiding wat Suid-Afrika tot in sy fondamente ruk!   Christus het vir ons lig in duisternis gegee.  So onomstootlik soos die môrester, so onomstootlik is God se raadsplan.  Jesus sê vir die gemeente in Filadelfia: “….Kyk, Ek het voor jou ’n geopende deur gegee en niemand kan dit sluit nie…” (Openb.3:8).

Die môrester skyn net voor die dag breek op die helderste.  So gee die Woord van God ons ook die heerlike versekering dat die sonde-duisternis, met Jesus se wederkoms, vir altyd gaan opklaar: “Staan op, word verlig; want jou lig kom en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op, want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jou sal die Here opgaan en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.  En nasies sal trek na jou lig en konings na jou stralende opgang” (Jes.60:1-3).

Jesus is die lig van die wêreld.  Wie die koers van sy lewensboot op die ewige Môrester rig, kom te midde van alle moontlike storms veilig in die hawe van die Nuwe Jerusalem aan.    Ja, Jesus is die Padwyser na ons ewige hawe.   In sy Lig sien ons al die gevaartekens betyds raak; die gevaarlike sandbanke en riwwe van sonde en ongeregtigheid.

Hy gee innerlike lig aan sy kinders: “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My wil volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh.8:12).

Laat ons skyn vir Jesus en in sy Lig wandel.  Ons land het baie donker geword.  Daar is bykans geen terrein wat nie aangetas is nie.   Die kerklike terrein is die hartseerste!    Dis asof die hel se magte oor ons eens sonnige land ontketen is.  Wat ’n behoefte het ons volk nie aan die lig van Jesus as die blink môrester nie!

Volg Hom; skyn vir Hom!  “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet.1:19).