STAAN JY BY DIE WAARHEID?

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg 

“...en baie sal hulle verderflikhede navolg en om hulle ontwil sal die weg van die saligheid gelaster word”  - 2 Pet. 2:2 .

Wat bedreig die kerk van Christus die meeste?   In die tyd van die apostels het  gelowiges geglo dat dit geloofsvervolging is.   Petrus skryf juis aan Christene wat t.w.v. hul geloof in Christus moes vlug.    Vervolging is erg, maar nie die grootste bedreiging van die Christendom nie.  Bo-aan die lys staan dwaalleer omdat Satan en sy agente dit gebruik om die waarheid te ondergrawe.

Die Christelike kerk is op die fondament van die waarheid gebou en dwaalleer soos ’n reuse koevoet wat hierdie fondament stukkend probeer slaan sodat dit val en die ware kerk inmekaar tuimel.  En om dit reg te kry, kom Satan nie met weermagstewels op die kerk afmarsjeer nie, maar op die punte van sy tone, ja, baie subtiel soos in die tuin van Eden gebeur het!

Satan gebruik mense om sy bose werk vir hom te doen, veral dwaalleraars; mense wat die Bybel nie radikaal verloën het nie, maar verdraai om mense ter wille te wees: “...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie; maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede” (2 Tim.4:3).

  Dis teen hierdie agtergrond dat Petrus sy Sendbriewe geskryf het.

As hy in vers 1 sê dat die valse profete Christus verloën, het hy seker aan sy eie verloëning gedink toe hy in ’n oomblik in swakheid Jesus verloën het.  Die verloëning waarvan hy skryf het betrekking op die valse profete wat Jesus se woorde weerspreek en Jesus se gesag verwerp het.   Die skade wat dit die vroeë kerk aangerig het, het Petrus genoop om hom baie sterk daarteen uit te spreek.

Petrus het ’n probleem met hierdie mense gehad - die apostels was besig om uit te sterf en hy het besef dat sy eie klok enige oomblik kon lui.   Die apostels was almal ooggetuies van Jesus se doen en late sodat daar ’n besondere skakel tussen hulle en Hom was.    Die vraag was: Wat sou gebeur as almal van hulle te sterwe gekom het?    Dan was daar niemand wat vir ’n onkundige kon sê: “Vriend, nou jy het die kat aan die stert beet, ek was self daar” nie!

Ons is vandag in dieselfde situasie as die na-apostoliese Christendom.   Hoe weet ons dat dit wat ons leer die volle waarheid is?   Het ons enigsins absolute sekerheid?   Ja, ons het - slegs in die Woord van God!    Soos wat die profete deur die Heilige Gees begeester is om die Bybel te skryf, lei die Gees kinders van die Here om in lig van die waarheid te wandel.    Daarom klou ons aan die Woord van God vas soos ’n drenkeling in die see van kerklike verwarring.  God se Woord is ’n reddingsboei en gevolglik ’n saak van lewe of dood!

In vers 14 gebruik Petrus sterk taal as hy die dwaalleraars kinders van die vervloeking noem omdat hulle die kerk oneindige skade aangedoen het wat nie verswyg kon word nie.    Hoe anders is dit nie vandag waar sulke mense selfs broers genoem word en kansels aangebied word om mense te mislei!

Die apostels sou geen valse leraar as ’n gespreksgenoot in die kerk geduld het nie!  Johannes stel dit baie duidelik:   “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie, want die een wat hom groet, het gemeenskap met sy bose werke” (2 Joh.10,11).   Vandag word dwaalleraars as mense wat anders glo verdra!

In 2 Pet. 2 is die apostel duidelik daaroor dat dwaalleraars en hul aanhangers hel toe gaan!   Hoe durf ontspoorde kerke hulle as gelowiges met ’n anderse siening van die waarheid aanvaar.  Alles wat van die waarheid afwyk, is leuens.

Petrus waarsku die vroeë kerk en al die gelowiges daarna om reg te kies en te sorg dat dit wat hulle hoor en glo op God se Woord gegrond is.  Hierdie keuse bepaal waar jy die ewigheid gaan deurbring – hemel of hel.  Wie sy ore aan dwaalleraars uitleen, dra die droewige gevolge van hul ongehoorsaamheid!

Die dwaalleraars het die kerk nie van buite aangeval nie, maar in haar midde opgeduik en dwaalleer stilweg ingesmokkel.   Hulle het nie T-hemde gedra met die woorde “Valse Profeet” voor- of agterop geskrywe nie, maar slu te werk gegaan net soos Satan met Eva.  Die woord heimlik sê dat hulle nie met die deur in die huis geval het nie, maar so te werk gegaan het dat baie mense dit nie agtergekom het nie.

’n Mens hoor gereeld van mense wat geld vervals en deur die gereg vasgetrek is.   As iets soortgelyks maar op kerklike gebied kon gebeur en die vervalsers van die waarheid aan die pen kon ry, sou dit baie beter met ons land gegaan het!

Vir elke kernwaarheid van die Bybel is daar ’n vervalsing in omloop.  Wolwe in skaapsklere met hul warm persoonlikhede, boeiende preke en redenasievermoë maak sakke vol geld uit liggelowiges.   En mense vertrou hulle, want dominees lieg mos nie!

Liggelowiges luister ongelukkig nie mooi na wat die dwaalleraars sê nie.   In plaas van die Woord word mense sentraal geplaas en word verdigte woorde gepreek.   Dit gaan vir hulle oor geld en aansien:  “...en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek” (:3).

Die Sendbriefskrywer Judas sê: “Hulle is murmureerders wat oor hulle lot kla en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel” (vers 16).   Dwaalleraars beskou mense as handelsware, net soos wat Satan hulle sien!

Dwaalleraars het altyd iets anders oor Jesus te sê as wat die Bybel leer hetsy die maagdelike geboorte, ware menswees, sondeloosheid, ware Godheid, die verlossing deur sy Bloed, opstanding of wederkoms – dis altyd iets anders!    Moet nooit ’n leraar aan sprankelende prediking of ’n warm persoonlikheid beoordeel nie, maar wat hy van Jesus bely.   As hy iets anders as die Bybel oor Jesus leer, moet gelowiges hom die rug toekeer.

Maar waarom laat Jesus, wat tog aan die regterhand van God is en sy kerk bewaar, toe dat dwaalleraars mense mislei?    Is Hy dan nie meer in beheer van sy kerk nie?   Ja, Hy is!  Petrus gee die antwoord as hy in verse 4-9 in die verlede terugkyk en sê dat wat God in die verlede vir gelowiges gedoen het, Hy telkens weer doen.

Petrus wys op twee gevalle waar God eerstens getoon het wat Hy met opstandelinge teen sy gesag doen en tweedens hoe Hy gelowiges bewaar - die sondvloed en vernietiging van Sodom en Gomorra.    Daarom moet gelowige minderhede nooit moedeloos word nie; God red en vernietig op sy tyd.

Dwaalleraars is uitkenbaar.   In verse 10-16 noem Petrus sekere eienskappe met vers 10 as die kern - dwaalleraars is wellustig en verag God se gesag.   Hulle hou nie van Skrifwaarhede nie en verag God se gesag.  Petrus vergelyk hulle met ’n droë fontein wat geen dorstige se dors les nie.

In vers 14 skryf Petrus dat valse leraars hulle spesifiek op mense wat jonk in die geloof is, toespits.   Hulle teiken dié mense en beloof hulle geestelike hoogtes terwyl hulle in werklikheid in die afgrond van dwaling aftuimel; van erg na erger!

In vers 22 skryf Petrus dat iemand wat ’n dwaalleer aanhang soos ’n hond is wat sy eie uitbraaksel vreet of soos ’n skoon vark is wat weer in die modder gaan rol.   Die gewasde vark is slegs uiterlik skoon, maar innerlik is en bly hy pure vark wat na die modder verlang.   So ’n mens se einde is slegter as sy begin.

Maar wat van jou?   Staan en val jy by die waarheid wat in die Bybel, die Gereformeerde belydenisskrif te en in die Afrikaanse Protestantse Kerk geleer word of sien jy dinge anders as voorheen?

2 Pet.2 is van die begin tot die einde een groot waarskuwing – wie van die goddelike gesag en die leer van die Skrif afdwaal, sal die ewige gevolge daarvan dra!

“...moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie…” (Gal.6:7)

“Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want daardeur sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor” (1 Tim.4:16).

Amen!