VRAAG IS: KEN DIE HERE JÓU?

Ds AE van den Berg

“Gaan in deur die nou poort ...  
Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei en daar is min wat dit vind” -
Mt.7:13,14. 
                          

Miljoene mense wat sê dat hulle Christene is, gaan op die oordeelsdag in die hel beland.  Waarom?   Omdat hulle nooit waarlik tot bekering gekom het nie.   En hoe weet ’n mens dit?  Hulle lewenstyl toon geen verandering nie – hulle leef presies dieselfde as ongelowiges; daar is niks anders aan hul nie.  As jou Christenskap jou nie anders laat leef nie, het jy Jesus nie in jou lewe toegelaat nie en is jy verlore!

Bekering is om van die wêreld af weg te draai na Jesus toe.   “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed…” (Rom.12:2).   Hierdie vernuwing van die gemoed is ’n nuwe lewenswandel;  jy doen dinge anders.

Jesus sê vir die kerklui van sy tyd dat hulle dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie.   Dis ook van enkelinge waar.  As jy seker wil wees dat jy aan Jesus behoort, moet jy jou lewe aan die Skrif toets; veral die toets van Mt.7.

As ek vanoggend aan ’n 100 deure in enige omgewing sou gaan klop, sal meer as 80% van die mense vir my sê dat hulle Christene is.   Die meeste van hulle gaan egter nie kerktoe nie en baie van diegene wat wel kerk toe gaan, stel nie in heiligheid belang of is diensbaar nie.

By geleentheid word ’n man as ouderling gekies en laat daarna per brief weet: “Ek stel nie belang nie”.  Baie mense wat hulself Christene noem, het geen behoefte om anders as die wêreld te wees nie.  Desondanks wil hulle hemeltoe gaan!

Hoe kom ons in die hemel?  Net deur een hek: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense – die mens Jesus Christus” (1 Tim.2:5).   Alle paaie lei nie hemeltoe soos wat dwaalleraars en die verdraagsaamheids-teologie (New Age) verkondig nie:  “…Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).

Ons word nie gered net omdat Jesus aan ’n kruis gely het nie, maar omdat Hy ons sondeskuld vir ons gedra en ons oortrokke rekening gedelg het!  “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes.53:5).

Wat verwag Jesus van ons?  Om deur die nou poort te gaan.   Gebed is nie ’n towerformule wat jou hemeltoe vat nie.   Jy word nie gered omdat jy bid nie, maar omdat jy bewustelik van sonde weggedraai het en lewenslank aanhou wegdraai.   Ons moet onophoudelik bly glo en gedurig tot “bekering” kom.   Dis wat heiligmaking is - een saligmakende bekering en daarna daaglikse bekering.   Bekering in die sin van die aflê van sonde.   Jesus help ons hiermee:  “omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Fil.1:6).

Wie herhaaldelik sondig is nie ’n kind van God nie.  Paulus praat hard met die Korintiërs omdat hulle ’n klein groepie mense was wat soos ’n eiland in die see van heidendom gelê het.   Hulle moes anders wees en die heidene vreemd opval om vir die koninkryk van God van waarde te wees.

As ons nie van die ongelowiges verskil nie, het ons niks om vir hulle om te sê nie.  Sonder ’n getuienis is ons vir die koninkryk van God net so min werd as ’n stelskopper met net een been!    Gelowiges is nuwe mense: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).   Nuwe mense maak ’n verskil

Baie kerkgangers ervaar dit glad nie; hulle gaan kerk toe, maar word nie deur die Woord en Gees verander nie; die prediking rol soos water van ’n eend se rug.   Hulle volhard met sonde asof daar nooit ’n dag van afrekening kom nie.  Waarom gebeur dit so dikwels?   Omdat mense aan ’n sondige lewenswyse geheg is en nie deur die nou poort wil gaan en die smal pad nie wil bewandel nie.   Dis ’n wilsbesluit waardeur hulle vir hulself die hemelpoorte toesluit!

Die smal pad is ’n lewensweg wat nie suksesvol nageboots word nie.   Jy is of óp hierdie pad of ván die pad af!   Die smal pad is egter ’n geestelike avontuur omdat God saam met jou stap; ’n pad van geestelike dissipline.  As jy van koers raak, bring Hy jou terug.

Om voor te gee dat jy die smal pad bewandel, maar met booshede volhard, maak God kwaad.    Jesus waarsku:  “Maar pas op vir die valse profete….Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.  ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distel nie!” (Mt.7:15,16).    Diegene wat nie aan Jesus behoort nie, word aan die vrug van hul lewenswandel herken.    Let op jou eie lewe hoe jy optree, praat, hartstogte najaag.    Is Jesus iewers daarin te vinde of is Hy bykomstig in jou lewe.   Wat vind mense in jou lewe?   Vrugte of dorings?

Hoe weet ons dat ons gered is?  Wanneer ons, ons lewe op die Woord van God rig en in die waarheid wandel.    Kinders van God dink, praat en doen anders as ongelowiges omdat God hul lewe nuut gemaak het.    Bekerings wat nie hou nie, was nooit bekerings nie, maar emosie en soos die saad van die saaier wat opgekom en gou verwelk het.    Ware bekerings hou stand!

As ’n boom nie aan die verwagting voldoen nie, word dit uitgekap en in die vuur gegooi.   Wie nie aan Jesus behoort nie, gaan hel toe!   ’n Paar jaar gelede is ’n bekende sanger wat ’n ergerlike lewe gelei het aan ’n oordosis dwelms oorlede.  Ja, die hemelse Tuinier kap gereeld bome wat wrange vrugte dra, uit!

Jou getuienis van geloof in Jesus is niks werd as jy nie die vrugte dra wat by die bekering pas nie!   Baie mense roep die Here aan, maar laat Hom nooit as Koning van hul lewe toe nie omdat hulle die waarheid nie liefhet nie.   “Nie elkeen wat vir My sê Here, HERE! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (:21).   Die wil van God is om die leuen (dwaling) te versaak en die waarheid lief te hê.

Wie word gered?   Hy wat deur ’n bewustelike wegdraai van die wêreld na Jesus toe deur die nou poort gaan en die smal pad bewandel.   Wie se lewe nie daarvan getuig nie, het nooit werklik tot bekering gekom nie!  Wie met die mond bely dat Jesus die Here is maar nie met die hart nie, is niks beter af as Satan nie.   “Jy glo dat God een is.  Jy doen goed; die duiwels glo dit ook en hulle sidder” (Jak.2:19).

Dis belangrik om Jesus te leer ken, maar nog belangriker dat Hy jou ken!  As ek by Buckingham-paleis sou instap en die wagte vertel dat ek koningin Elizabeth ken, sal hulle my nie inlaat nie.   Maar as sy sou uitkom en sê: “Ja, ek ken vir Andre van den Berg” sal ek die paleis kan ingaan.

Ken jy Jesus?  Ken Hy jou?   Moenie jou misgis nie, maar maak baie seker.  Moenie jouself bedrieg nie!   Dit gaan jou die ewige lewe kos!

Amen