STAAN JY NAAK VOOR GOD?

Ds AE van den Berg

Gen.2:25: “En hulle was al twee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie”. 3:11: “En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is?...”

As jy iewers op aarde kon bly en geld is nie ’n kwessie nie, waar sou jy graag wou woon?   Op ’n tropiese eiland, naby die Alpe of iewers ver van ’n stad in die ongerepte natuur?    ’n Mens kan aan wonderlike plekke dink om te woon.  Niks sou egter met die tuin van Eden vergelyk het nie.

Eden was anders - dit het die varsheid van die skepping gehad.   Hoe wonderlik om in ’n omgewing wat geen letsel van die tyd getoon het voor die grote God te kon staan!    Alhoewel die res van God se skepping volmaak was, was Eden tog anders – ’n tuin deur God self geplant en in stand gehou.   God is mos nie net Skepper nie, maar ook die Onderhouer van sy skepping.

Eden beteken plek van heerlikheid en die woonplek van die eerste mense.   Hulle het reg van die begin af die verskil tussen Eden en die buitewêreld geken.  God het hulle ’n woonplek mooier as enige ander plek op aarde gegee.

   Salomo se tempel en troon van goud en ivoor was niks in vergelyking met Eden nie.  Daar was elke soort plantegroei, van vrugte tot blomme; alles wat nodig was om die mens se behoefte aan kos te versadig.   Hier in Eden het God al die diere na Adam laat kom om vir hulle name te gee, elkeen met sy natuurlike maat - mannetjies en wyfies; waarna God ook uit hom ’n vrou vir hom gemaak het.

Die eerste twee hoofstukke vertel van die unieke status en verantwoordelikheid wat God die eerste mensepaar gegee het, ook om te kon kies.  Hulle kon besluit wat vir hulle die beste is.   Diere neem nie deurdagte besluit nie, maar handel instinkmatig.  Denke en nadenke is eie aan die mens.

Daarom is daar in elke mens ’n sedelike bewussyn aanwesig.  Dis nie iets wat later bygekom het nie.   Die boom van die kennis van goed en kwaad is reg aan die begin bekend gestel om daarvolgens te handel.

Mense soek al vir baie eeue lank na maniere om langer te leef.  Verhale van lewegewende fonteine, nuwe medisynes, wonderlike behandelings, veranderde eetgewoontes ens, is volop.  Niks vergelyk egter met Eden nie.  In die middel van hierdie tuin was daar nie ’n tower-fontein, medisynes of ’n diëet-boek nie, maar ’n boom waardeur God aan die mens die vryheid gegee het om tussen lewe en dood te kies!

Een van die opvallendste dinge in Eden was dat die eerste mensepaar naak  maar nie skaam was nie.  Waarom nie?   Omdat daar niks was om oor skaam te wees nie!  Eden was ’n wêreld sonder skaamte.  Adam en Eva se liggame het aan mekaar behoort en saam aan God.  Die Heidelbergse Kategismus sê in die antwoord op vraag een dat ons met liggaam en siel nie aan onsself behoort nie, maar aan God.  Adam en Eva kon nie meer hiervan bewus gewees het nie!

Die eerste mensepaar het geen skuldgevoelens gehad nie omdat hulle niks vir God weggesteek het nie.   ’n Skaam mens is egter ’n bang mens.   Eden was ’n wêreld sonder vrees omdat daar niks was waaroor die mense hul moes skaam nie.

Hierdie skaamteloosheid het nie van onverskilligheid getuig nie, maar van ’n wonderlike openheid voor God en met mekaar.   Ek kan my nie indink hoe dit moet wees om kaal in ’n tuin te staan en met God te praat nie!  Min vrouens waag dit om selfs voor ’n kamera te verskyn as daar nie eers gegrimeer is nie...

Hoe wonderlik was dit nie in Eden nie; geen misdaad, onsedelikheid, dwelms, geslagsiektes, homoseksualisme of korrupsie nie, slegs skoonheid en reinheid.   Dit was ’n reguit pad; die pad wat God vir die mensdom bestem het.  Op ’n dag het daar ’n vurk in die pad gekom en Adam en Eva moes ’n keuse doen – links of regs.  God het in hulle die sterkste menslike krag op aarde geplaas - die krag van keuse.   God het die mens ’n vrye wil gegee.  Sy lewe sou voortaan die produk van sy keuses wees.  Soos hy besluit het, sou sy lewe wees.  As hy reg besluit, verloop sy lewe reg.   As hy verkeerd besluit, dra hy die gevolge!

Ek verstom my aan die passiewe, gedwee rol wat Adam gespeel het.  Hy was heelwaarskynlik by Eva toe sy mislei is om die verbode vrug te eet.  Hy het niks daaraan gedoen nie!    Eva het minstens probeer om Satan te antwoord, maar ons hoor niks van Adam nie, net dat hy van die vrug geëet het.   Hy het dus ook die keuse tussen sonde en lewe gehad.

Telkens as ons sondig, kies ons die dood bo die lewe.  Daarna is ons so lief om die sonde te ontsmet sodat dit darem nie so sleg klink nie.   Telkens as ons sondig, staan ons in die gees waar Adam gestaan het.   Die gevolge van die sonde is onbeskryflik ellendig.  Ons sien dit in die lewe van Adam en Eva se twee seuns.  Wat het nie alles deur hul gemoed gegaan toe hulle by die graf van Abel gestaan het nie?

Nadat hulle gesondig het, stel God drie vrae aan hulle.   Eerstens vra Hy: "Waar is julle?" ’n Sondaar kruip weg omdat hy skaam is.   Dit help niks nie.  “…..die Here is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders” (Ps.11:4). “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Heb.4:13).

Tweedens vra God: “Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is?” Sonder Christus staan ons in skaamte naak voor God.    By geleentheid stuur God vir Jesaja om vir Israel te sê hoe hulle lyk: “Laat jou skaamte ontbloot word, ja, jou skande gesien word! Ek sal wraak neem en geen mens verskoon nie” (Jes.47:3).

In die tyd van die Bybel is krygsgevangenes dikwels van hul klere gestroop en gedwing om die triomftog te volg.   Dit is wat sonde doen – dit laat ons agter Satan inval en ons van ons waardigheid stroop. “Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die Here van die leërskare en Ek sal jou slippe optel oor jou aangesig en nasies jou naaktheid laat sien en koninkryke jou skande” (Nah.3:5).

Die derde vraag is: “Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?” Telkens as ons sondig, kies ons soos Adam en Eva die verbode vrug en staan ons waar hulle gestaan het ….met dieselfde gevolge: Ons sterf!

Ten spyte daarvan dat sonde ’n verbreking van die liefdesverhouding met God is, sien ons in Gen.3 iets van God se onvoorwaardelike liefde vir die mens raak:  “En die Here God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.   Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken…” (Gen.3:21,22).

Hoe lyk jy vandag vir God?    Gekleed of weens sonde betreklik naak?   As jy naak is, wil God jou vandag toemaak met die bloed van Christus ons Verlosser.   Ja, in die gees trek ons vir Jesus aan: “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom.13:14).   Ons het dieselfde keuse as Adam en Eva.  Waarom sal ons die dood bo die lewe verkies?