GOD SE LIEFDESBRIEF AAN SY KINDERS

HOU JOU BYBEL JOU WEG VAN SONDE, OF HOU SONDE JOU WEG VAN JOU BYBEL...

Ds AE van den Berg

“...terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif in saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” 2 Pet.1:20,21.

Die Bybel laat sommige mense sidder; by ander loop dit soos water van ’n eend se rug.    By die een mens val dit in diep grond en ontkiem; by ’n ander een beland dit op die rotse.   Een enkele Bybelvers het Augustinus tot bekering laat kom en die grootste kerkvader van sy tyd laat word  -  Rom.13:13.    Een enkele Bybelvers het Martin Luther daartoe gebring dat hy met die Roomse Kerk gebreek en Protestantisme op die been gekry het – Rom.1:17.    God het die waarheid van sy Woord soos spykers in hulle siele ingeslaan!

Die Bybel is enig in sy soort.  Dit vervul mense met vrees en dankbaarheid; vrees omdat dit sonde ontbloot en God se straf daaroor uitspel en dankbaarheid, omdat dit van God se genade deur vergifnis praat.

Waarom trek die Bybel mense van oor die hele wêreld na Christus en laat hulle tot bekering kom?   Wat is daar so spesiaal aan die Bybel?    Die antwoord is in die teksverse. “...terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif in saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek”.

Hierdie verse sê iets baie belangrik:  Die Bybel is nie bloot woorde wat mense geskryf het nie, maar wat deur die Heilige Gees in hulle harte gelê is om te skryf.   Dis oor ’n tydperk van 1,500 jaar deur verskillende mense in hul eie taal en styl geskryf.

Petrus noem egter twee belangrike waarhede – dit waaroor hulle geskryf het, was nie aan hul eie denke te danke nie, maar aan God.   Hulle was nie die oorsprong daarvan nie, maar die kanaal waardeur dit na mense moes vloei.    Die waarheid van die Bybel is God se waarheid en die bedoeling daarvan is God se bedoeling.   Dis die eerste waarheid – nie die mens nie, maar God skryf dit.

Die tweede waarheid is dat die Heilige Gees ook in beheer was oor hoe hulle dit wat hulle geskryf het, moes spreek.  “...maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek”. God het nie net die waarheid aan die skrywers onthul en hulle toe gelos en gehoop dat hulle dit reg sou oordra nie.   Petrus sê dat ook dit deur die Heilige Gees gedrywe is om die waarheid te verkondig.    Die skrywe, samestelling en prediking van die Bybel is nie aan menslike kommunikasievernuf oorgelaat nie.    Die Heilige Gees het vir die voortgaan, voltooiing en reikwydte daarvan gesorg.

Paulus sê iets soortgelyks as Petrus:  “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).   Paulus verwys hier uiteraard na die OT.  Wat vir die OT geld, geld ook vir NT. Jesus sê: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie, maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei…” (Joh.16:12,13).

Paulus skryf: : “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer…” (1 Kor.2:13).  Die Bybel is nie bloot mensewoorde nie, maar woorde van God aan die mens wat gevolglik elke deel van ons lewe raak.

Hoe gebeur dit dat ’n mens die Bybel as God se Woord aanvaar en nie maar as ’n wonderlike boek wat deur goeie mense geskryf is nie?   Dit is die Heilige Gees wat in jou werk en jou oortuig dat jy hier nie met ’n gewone boek te doene het nie. Die Bybel leer jou dat jy sonde het en voor God skuldig staan.   Dit sluit egter nie die verstand uit nie.   Die aanvaarding van die Bybel as God se Woord, is ook ’n verstandelike aanname – ons lees van Jesus en sy vergifnis van sonde.  Hy wen ons vertroue en ons laat Hom wat aan die deur van ons hart klop, binne.   Dis ’n deurdagte besluit.     Dis mos hoe ons met al ons besluite omgaan, veral wie ons in die lewe vertrou.  Jy ontmoet ’n persoon en besluit daarna of jy hom vertrou of nie.  Ek het al baie mense in my lewe ontmoet wat ek glad nie vertrou nie!

So werk dit ook met Jesus; mense vertrou Hom of nie.   As sy karakter en krag van vergifnis wel ons vertroue wen, word Hy die Gids van al ons verdere besluite.    Jesus laat ons met ander oë na die Bybel kyk.  Ons aanvaar dat dit wat Hy in die Bybel vir ons sê die woorde van God is wat op elke lewensterrein antwoorde vir vrae het.     Ons vertroue in die Bybel groei namate ons sien hoe Jesus die OT profesieë vervul.   Alles word in Hom waar en jy besef: Mense kon dit nie uit hul eie geskryf het nie, maar slegs met die leiding van die Heilige Gees.   Die Heilige Gees is die eintlike Skrywer van die Bybel! “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!   Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand…” (Ps.139:17,18).

Die Heilige Gees is die Skrywer van die Bybel.  As jy dus na die stem van die Heilige Gees wil luister, lees die Bybel!  As jy met die Gees vervul wil wees, lees die Bybel!  As jy die krag van die Heilige Gees verlang, moet jy sterk in die Bybel wees.  As jy in die heiligheid van die Gees wil deel,  rig jou lewe volgens die Bybel in.  As jy verlang dat die Gees jou lei, volg sy Woord in die Bybel.  As jy soos Jesus wil dink, deurdrenk jou gedagtes met die Bybel.  As jy ander mense wil liefhê, gee vir hulle die Bybel en vertel hulle wat die Bybel aan jou lewe gedoen het.   Dit wat Jesus vir jou gedoen het, wil Hy ook vir ander doen.

Die Bybel het die afgelope eeu ontsaglike uitbreiding beleef.  In 1900 was dit al in 537 tale beskikbaar.  In 1980 in 1,811 tale.  Weet u hoeveel tale is oor waar daar geen Bybelvertaling bestaan nie? 5,200!   Daar is tans 986 vertalings in wording.     Gevolglik is daar meer as 4,000 tale wat vertaling benodig!

Het jy ’n Bybel?   Ons vier vanjaar die 80ste bestaansjaar van die Bybel in Afrikaans.  Watter nut het dit vir jou?  Vir ‘n sinvolle studie van die Bybel is ‘n liefdevolle verhouding met die Skrywer daarvan onontbeerlik.  Die Bybel is God se liefdesbrief aan sy kinders.  As jy niks daarvan verstaan nie, is dit dalk omdat jy iemand anders se pos lees!

Lees en bestudeer jy dit gereeld?  Hou jou Bybel jou weg van sonde of hou sonde jou weg van die Bybel?    Mense vra allerlei vrae oor die Bybel.  Die enigste een van belang, is of ons daarvolgens leef?   ʼn Bybel wat uitmekaar val, getuig van ‘n lewe wat nie uitmekaarval nie.

Kom ons buig vanoggend voor die almagtige God van die Bybel en bid dat kerke en teologiese skole wat in die hongersnood van verwarde teologiese denke vasgevang is, hul dwaasheid voor God bely en hul na die brood van die lewe sal haas!

“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose  en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here en hy oordink sy wet dag en nag.  En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.  So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.  Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars op die vergadering van die regverdiges nie, want die Here ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan”.