Ds AE vd Berg
“Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” - Mt.16:24
Wat is ’n Christen? Mense het verskeie antwoorde op dié vraag. Sommige glo dat om lidmaat van ’n kerk te wees, van jou ’n Christen maak. Ander weer dat die doop en aanneming van jou ’n Christen maak. Die meeste mense glo egter om godsdienstig te wees en sedelik rein te leef, van jou ’n Christen maak.
Ongelukkig is nie een van hierdie antwoorde reg nie! Jesus waarsku dat nie almal wat sê hulle Christene is, dit is nie: ”Nie elkeen wat vir My sê Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie…” (Mt.7:21). Wat beteken dit om ’n Christen te wees? Let op die woord Christen. Dit beteken letterlik mense wat soos Christus is; ’n benaming wat vir die eerste keer in Antiochië aan die volgelinge van Jesus gegee is: “….en die dissipels is in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem” (Hand.11:26).
Om ’n Christen te wees, moet jy soos Jesus leef. Hoe is dit moontlik? Jesus sê:“As iemand agter My aan wil kom….” En dis die hart van Christenskap; om Jesus te volg. Hy stap as ’n herder voor en sy skape volg. Christenskap is volgelingwees. Om dit reg te kry, moet jy verander. Hoe lyk ons normale lewenswandel? Weg van Jesus af. “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop…” (Jes.53:6).
Waarom kom jy kerktoe? Omdat jy dit as jou plig ag? Omdat dit ’n goeie gewoonte is? Ons lees dat Jesus die gewoonte gehad het om op die Sabbat na die sinagoge te gaan. Kom jy dalk om vriende by die kerk te sien en self gesien te word soos die Fariseërs? Of gaan jy kerktoe omdat jy lief is vir jou kerkgenootskap? Hoeveel gaan Sondae kerktoe omdat hulle Jesus liefhet en ’n behoefte het om Hom te aanbid? Dis die enigste geldige rede vir kerkgang want daardeur sê jy: “Ek wil soos Jesus wees”.
Die kerk bestaan om drie redes
- Om God groot te maak: “Laat ons dan gedurigdeur Hom aan God ’n lofoffer bring…” (Heb.13:15).
- (ii) Om die gelowiges geestelik op te bou: “Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op…” (1 Thess.5:11).
- (iii) Om sondaars tot bekering te bring: “…en julle sal my getuies wees…tot aan die uiterste van die aarde” (Hand.1:8).
Wanneer Jesus egter sê: “Kom agter My aan” is baie mense nie daarvoor te vinde nie omdat hulle harte nie reg nie. Om Jesus te volg, moet jou hart reg wees en daarvoor het jy ’n nuwe hart nodig: “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee….en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee” (Eseg.36:26). Dit beteken dat God so ’n hart herinstel soos ’n motor waarvan die masjien deurmekaar loop en deur ’n kundige heringestel word. Ons harte loop van nature verkeerd totdat Jesus dit op Hom instel.
Ons volg Jesus slegs indien ons Hom waarlik liefhet. En dis ’n daaglikse honger na Hom:” Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! My siel dors na God, na die lewende God…” (Ps.42:2,3).
Jesus se dissipels het alles gelos en Hom gevolg. Niks is belangriker as die saak van die Here nie. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:33). Dis egter nie in die aard van die mens om dit te doen nie; hy wil sy eie hart volg en doen wat hy graag wil doen en volg wie hy ook al wil volg. Daarom loop sy geestelike masjinerie van meet af deurmekaar!
Jesus se oproep in die teksvers is om ons harte op Hom te rig en te gaan waar Hy ons lei. Kortweg: Om nie agter ons eie hart aan te loop nie, maar agter die hart wat Jesus ons gee. “My hart is gerus, o God! Ek wil sing en Psalmsing…” (Ps.108:2). “Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel” (Ps.27:4). Hoe lyk jou hart? Net Jesus bring ons by die punt waar niks vir ons belangriker as Hy is nie en ons waarlik volgelinge van Hom word.
Christenwees beteken egter nie net volg nie; ons moet ook iets neersit en iets optel. Wat sit ons neer? “…. As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” Ons sit onsself neer. Die teks praat van verloën, ’n sterk woord in Grieks wat letterlik beteken om jou van iemand los te maak. Dieselfde woord word ook gebruik by Petrus se ontkenning van Jesus in Mt.26. Ware Christene maak hulle los van wêreldse dinge en sit hul daardeur vir Jesus neer. “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here” (Rom.6:11). Dis soos om ’n kledingstuk uit te trek: “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom.13:14). “Ek is met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my…” (Gal.2:20).
Volgelinge van Jesus sit hulself neer maar tel ook iets op - ’n kruis. “….As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” Eers neersit, dan optel.
Toe Jesus dit sê, het sy gehoor presies geweet waarvan Hy gepraat het. Dit word bereken dat in Jesus se leeftyd soveel as 30,000 Jode gekruisig is! As Jesus sê dat gelowiges die kruis moet opneem, sê Hy dat ons soos dooie mense moet leef. Ons begin ons eie dodemars, ’n proses waaraan ons nie kan onttrek of terugdraai nie. Om jou kruis op te neem, is om die dood tegemoet te stap. Dis uiteraard wat Jesus op aarde kom doen het: “Want die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mark.10:45).
Hoe lyk hierdie kruis wat ons opneem? Hieroor is daar baie misverstand. Kom ons kyk eers wat die NIE is nie. Dis nie moeilikhede of slegte situasies soos ’n moeilike wederhelf, onmoontlike kinders, slegte werksomstandighede of watter ander probleemsituasie ook al nie. Dis om ter wille van jou geloof gesmaad en selfs gedood te word.
Diegene wat gekruisig is, is bespot. Dink maar hoe die soldate en Jode vir Jesus op pad na Golgotha bespot het. Om jou kruis op te neem, is om jou met Jesus te vereenselwig ongeag die koste. Al moet jy ook vriende, aansien of selfs geld verloor. Jesus is die belangrikste. Jy gee nie jou Bybelse beginsels prys nie! Christenskap is opoffering, veragting, ongewildheid, lyding en selfs die dood.
Ons moet iets neerlê (onsself), en ons moet iets optel (’n kruis). Laastens moet ons iets uitleef: “…en volg My”. Ons draai nie om nie. Satan sê: Tel jouself op en lê die kruis neer. Jesus sê: Lê jou self neer en tel die kruis op. Wie dit doen, is ’n Christen. “As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer” (Joh.12:26).
Jesus is as ’n uitgeworpene buitekant Jerusalem gekruisig, ’n beeld van veragting vir die beginsels van God se koninkryk. Kom ons ly ook buitekant die aansien van die wêreld vir Jesus. “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra” (Heb.13:13). “Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele” (Mark.8:38). Sit jouself neer, tel die kruis op en volg Jesus!
.