HERVORMINGS- DAG: 31 OKTOBER

Ds AE van den Berg

Hierdie dag word in die Protestantse Kerke as die begin van die Kerkhervorming beskou, en jaarliks word dit op die Sondag die naaste daaraan herdenk. Die datum is dié dag waarop Martin Luther 95 stellinge aan die deur van die slotkerk in Wittenberg aangebring het.

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” ;

“Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe”  - Joh.3:3 en Rom.1:17.                

Die Roomse Kerk (RK) glo dat sy die oorspronklike kerk is en dat almal wat nie aan haar behoort nie, hel toe gaan.   Vandaar die geykte uitspraak:  Daar is geen saligheid buite Rome nie. Dis ’n leuen!   Daar is geen saligheid binne die RK nie!   Die leer van die RK verskil drasties van die kerk van die Nuwe Testament (NT) dat sy haar oorsprong nie in die leerstellings van Christus of sy apostels kan hê nie!   Nêrens in die NT word van ’n pousdom, Maria-aanbidding, die aanroep van heiliges, die bieg of vagevuur geleer nie.   As dit nie Bybels is nie, waar kom die RK aan haar dwaalleer?  Dis ’n interessante verhaal wat ek met u wil deel.

Die Romeinse Ryk het die Christelike kerk vir 280 jaar verban en Christene erg vervolg.   Verhale van Christene wat voor roofdiere gegooi en lewendig verbrand is, het wêreldwyd bekend geword.  In 313nC het keiser Konstantyn die Christendom met die Edik van Milan ontban en voorgegee dat hy tot bekering gekom het.   Dit was ’n leuen!   Sy ryk was op daardie stadium besig uitmekaar te val en het hy godsdiens probeer gebruik om dit te verenig.

Die Christene was aanvanklik in hul noppies.  Maar hierdie ontbanning het baie gou ’n donker sy gewys.   Konstantyn het geweier om die Christendom ten volle te aanvaar en hom te laat doop omdat hy baie van sy heidense oortuigings en rituele nie wou prysgee nie en ’n mengsel van die ware Christendom en die Romeinse heidendom voorgestaan.

Die Romeinse ryk was uitgestrek en Konstantyn het geweet dat sy onderdane die heidendom nie gelate vir die Christendom sou verlaat nie.  Gevolglik het hy ’n verchristeliking van heidense geloofsoortuiging aangemoedig en heidense oortuigings van ’n Christelike baadjie voorsien.

Enkele voorbeelde hiervan is die Babiloniese moeder-godin-verering wat in Egipte die Isis-kultus genoem is.  Konstantyn het dit met die Maria-verering vervang waarna Maria ’n verhewe rol in die valse kerk begin speel het, geheel vreemd aan haar Bybelse rol.   Dit het die heidene gerus gestel; Semiramis, Isis, Maria, wat maak ’n naam saak, solank ’n vroue-god aanbid is!   Al die tempels vir Isis en Diana, soos wat Semiramis aan die ou Grieke bekend was, is in kerke omskep en aan Maria gewy.   Die eerste aanbidding van Maria word in die geskrifte van Origenes gevind.  Hy het in Alexandrië gewoon wat die brandpunt van Isis-verering was.

Die Romeinse godsdiens het as Mithraïsme bekend gestaan en is Persies van oorsprong.   Een van die rituele was ’n offermaaltyd waartydens ’n bul geoffer is, en om van sy vleis te eet en die bloed te drink.   Die heidene het geglo dat die god Mithras fisies in die vlees en bloed van die bul aanwesig was en daarna vir mense die poorte van die ewige geluksaligheid geopen het.  Konstantyn het dus geen moeite gehad om hierdie offermaaltyd met die Nagmaal te vervang nie. Die RK glo dat die brood en wyn waarlik in vlees en bloed van Christus verander en dat die nagmaal ’n offermaaltyd is.   Die bul word geoffer; Christus word geoffer.  Die Bybel leer ons dat nagmaal ’n gedagtenis-maaltyd is.  Wie ’n offer daarvan maak, dryf die spot met ons Verlosser wat 2000 jaar gelede eens en vir altyd geoffer is!   Mithraïsme het ook soos die RK sewe sakramente.

Die Romeine was grotendeels Henoteïste, mense wat in die bestaan van baie gode geglo het, maar ’n spesifieke een as oppergod gehuldig het.   Gevolglik het hulle ’n pantheon (veelgodendom) vereer.   Romeinse seelui het bv. Neptunis, god van die see, aanbid.  Ander het weer gode van liefde, vrede, oorlog, krag, wysheid, vrugbaarheid ens. aanbid.    Elke Romeinse stad het selfs ’n beskermende godheid  gehad.   Dis waar die RK aan haar beskermheiliges (saints) kom.   Vir elke ding is daar ’n Roomse beskermheilige.  Dis onverbloemd heidens!

Die biskop van Rome is aanvanklik met keiserlike steun tot sy amp verkies.  Rome was die sentrum van die Romeinse ryk waar die keiser gewoon het.   Konstantyn en sy opvolgers het die biskop van Rome as die oppergesag van die kerk erken, iets wat die eenheid van die Romeinse ryk bevorder het – die kerklike en politieke setels was bymekaar!  Toe die Romeinse Ryk later ineenstort het die pous die titel van die keiser ontvang – Pontificus Maximus.

Wat leer ons as Protestante uit hierdie stuk geskiedenis?  Dat die RK nie ’n Christelike kerk in die ware sin van die woord is nie, maar ’n karikatuur waarmee Satan miljoene mense eeue lank mislei.   Die RK ontken uiteraard dat sy heidens is en vermom haar heidense geloofsoortuigings onder ’n laag ingewikkelde teologie wat hulle kerklike tradisie noem.  Dit beteken kortom dat die RK die Bybel nie as afgeslote beskou nie.  Daar kan steeds nuwe openbaringe toegevoeg word.   As die pous op sy amp-stoel sit, dra sy uitsprake glo dieselfde gewig as die Bybel want hy is kamtig onfeilbaar.  So het ’n pous in 1950 verklaar dat Maria lewendig ten hemel gevaar het.   Sedertdien glo Katolieke dit asof dit in die Bybel self staan!

Gevolglik is die RK ’n bose kompromie tussen Christendom en heidendom.   In plaas daarvan om die heidendom teen te staan en die Evangelie van verlossing te preek, het die kerk die Christendom verheidens.  Gevolglik was die mees opsigtelike vorm van die Christendom vir eeue lank ontrou aan die Evangelie van Jesus Christus en het miljoene siele die ewige verdoemenis tegemoet gegaan totdat God bykans 500 jaar gelede sy Woord vir ’n Duitse priester, Martin Luther, geopen en ’n magtige kerklike rewolusie gevolg het wat Protestantisme genoem is – protes teen die misleiding van die RK!

Watter teks het Luther daartoe beweeg?   “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe”(Rom.1:17).   Daarna het God talle kerklui se hart aangeraak en ’n geseënde omwenteling gebring waarin ons vandag nog deel.

Geen Roomse Katoliek kan die hemel beêrwe nie.   Dis nie wat ek sê nie, maar die logiese gevolg van hul verlossingsleer.   Kyk na Joh.3:3: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”. Wie nie ’n persoonlike verhouding met Jesus het nie, gaan nie hemel toe nie.  Jy moet dus tot bekering kom en deur die Gees wedergebore word.   Dis jou enigste toegangskaartjie na die hemel.  Sonder Jesus, sonder die hemel!   

Die RK erken dat geen mens sonder sonde is nie, maar verklaar dat daar geen manier is waarop ’n mens sonde kan beveg nie.   Daarom het God vir mense ’n ander manier voorsien om in die hemel te kom – glo deur die RK.   Die RK beweer hy dra almal wat deur die RK gedoop en aangeneem is, die hemel in.   Gevolglik is daar geen saligheid buite Rome nie!

Wie sê dit?   Niemand anders as hy wat vir Eva vra: “Is dit ook so dat God gesê het….” en as sy antwoord, verseker hy haar:  “Julle sal gewis nie sterwe nie”. Jesus sê: “….as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” Satan sê:  “Dis nie nodig nie.  Die kerk sal jou die hemel indra”. Wat ’n misleiding!

Die Woord van God sê dat die mens slegs deur die ware geloof in Jesus geregverdig word en hemel toe gaan.   Dis die kern van die Protestantisme – ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus.  Geen kerk dra jou die hemel in nie! Dank God vir Protestantisme!