Ds AE van den Berg
“Verder het hy nog ’n duisend gemeet – ’n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys – waters om in te swem, ’n stroom waar ’n mens nie deur kan loop nie” Eseg.47:5.
Water kan gevaarlik wees, veral as dit ’n sterk stroom is. Jare gelede het ’n jong meisie (Le Roux) by die Augrabiese waterval gegly en is deur die stroom meegesleur. Haar lyk is nooit gevind nie. Ja, daar is water wat ons liefs vermy! Een stuk water wat ons egter nie moet vermy nie is God se heilige water waarin ons onsself moet werp om soos drenkelinge meegesleur te word!
God se heilige water vloei deur die wêreld en bring nuwe lewe vir almal wat daarin swem. God wil hê dat ons induik en die wal van ’n saai geloofslewe verlaat en in die diep waters van geestelike verdieping vir Jesus lewe. Om dit te illustreer het God aan Esegiël ’n gesig van ’n heilige stroom water gegee:
Aan die oorsprong, rigting en krag gemeet, simboliseer hierdie heilige stroom die Heilige Gees. Esegiël sien dat die stroom by die troon van God ontspring. Ja, die Heilige Gees kom ook direk van die Vader se troon omdat Hy van die Vader uitgegaan het. Die rigting waarin die stroom vloei, dui ook daarop dat hierdie stroom die Heilige Gees is, want dit vloei van die altaar af. Dis die plek in die tempel waar diere as offers geslag is. So vloei die water van die lewe van die kruis van Christus as ’n volkome versoening vir al ons sondes.
Let op die krag van hierdie heilige stroom water; dit het geen voedende strome om dit krag of volume te gee nie. As dit die troon verlaat, beskik dit oor al die krag om dit sterk te laat vloei. So anders as die groot riviere van die wêreld wat voedende stroompies het, het God se heilige rivier geen. God het nie die wêreld of enigeen daarop nodig om sy werk op aarde te volbring nie. Hy sal sy werk uitvoer want sy rivier het nie voedende stroompies nodig nie.
Die profeet sien dat die heilige water selfs die seewater bruikbaar maak sodra dit daarin vloei. Daarbenewens het dit genesingskrag. Ja, die Heilige Gees genees gebroke harte! Daar is baie mense met gebroke lewens wat net deur die Heilige Gees genees kan word. Hy is ’n Spesialis in die herstel van gebroke lewens. “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis” (Jes.61:1).
Die Heilige Gees maak enigiets wat geestelik gebreek is reg: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28). Luister wat sê Jesus van Homself: “Die Gees van die Here is op My… Hy het my gestuur om dié wat verbryseld van hart is, te genees” (Luk.4:18). Jesus neem ’n lewe wat weens sonde gebroke is en maak dit heel.
Esegiël sien dat alles wat deur daardie heilige stroom aangeraak word, verander. Vers 9 sê twee maal dat alles wat die rivier aanraak, lewe. As die Heilige Gees in ’n lewe inkom, vind daar vernuwing plaas. God sorg vir verandering. Dit wat dood was, word weer lewendig. As God intrek, trek die sonde (dood) uit. Die teenoorgestelde is egter ook waar – as sonde toegelaat word, trek God uit. Rigt.16 vertel van Simson wat die sonde ingelaat waarna God hom verlaat het: “….Want hy het nie geweet dat die Here van hom gewyk het nie” (:20).
Die heilige stroom in Esegiël se gesig genees nie net nie, maar bring ook vrugte op die oewer voort. So is dit ook met die Heilige Gees; as Hy beweeg, sien mense die verandering en vrugte in gelowiges se lewe. “Hy wat in My glo….strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh.7:38).
Baie mense sien net wat die Heilige Gees aan ander mense se lewens doen en is bly daaroor, maar hulle duik nie self in die stroom nie omdat hulle bang is hulle word nat. Kerktoe-gaan is genoeg. Bekering is te veel gevra!
Om voordeel uit hierdie heilige stroom te put, moet jy soos ’n Esegiël van ouds doelgerig instap en sommer diep ook! Die man wat in hierdie gesig die diepte van die water meet, vat Esegiël saam wat hom om dit te toets. Die profeet stap aanvanklik enkeldiepte in. Dit verteenwoordig die geloofstap wat ons siele red. Dis gerusstellend om te weet dat jou siel gered is, maar dis nie die einde van die geloofspad nie; dis maar die begin! Jesus bring ons tot in die water sodat ons self dieper moet inloop. Die meeste mense stop by die enkeldiepte en spandeer hul hele hele lewe aan die vlak kant van die stroom, te bang om dieper te gaan. Sulke mense mis die seëninge van ’n dieper geestelike lewe.
Vervolgens stap Esegiël tot by die knieë in die water. As ek aan knieë dink, dink ek aan gebed. Niemand staan sterker op sy voete as hy wat op sy knieë staan nie! Gelowiges wat op hierdie vlak kom, leer al iets van die krag van hierdie stroom. Hulle voel iets maar word nie werklik daardeur geraak nie. Hulle staan uiteraard nog op hul twee voete en is nog in beheer van hul lewe.
Daarna stap Esegiël tot by sy heupe in die water. Wie so ver instap, voel die krag van die water. Ander kan selfs die effek van die water op hulle sien. Dis egter nie die diepste wat ’n gelowige kan gaan nie. Die profeet was nog so na aan die kant dat hy kon staan en uitloop as hy wou. Hy was steeds in beheer.
Dan bereik Esegiël ’n punt waar die stroom sy voete onder hom uitneem en hy geen beheer het nie, maar aan die genade van die stroom oorgelaat is. Dis die hoogste geestelike sport menslik moontlik. Te veel gelowiges verkies die veiligheid van die vlakker water en bereik nooit geestelike volwassenheid voor hulle dood nie.
In die diep water was die profeet nie meer in beheer nie, maar die water. Dis waar God ons wil hê - waar ons geen beheer het nie maar Hy alles. Dis dan dat iets wonderlik gebeur – ons kom in die Here tot rus want Hy dra ons verder. Ons spook en spartel nie langer nie, maar rus in die krag van die Heilige Gees. Ons vergeet onsself; ons doelwitte, versugtinge en drome. Dis volle oorgawe!
Wie so diep in die water is, word deur die Here verder gevoer. Daar waar die stroom jou heen voer, is jy tevrede en gelukkig. Esegiël was sopnat omdat hy in iets vêr bo sy kop betrokke geraak het. Desondanks was hy dankbaar.
Wil jy geestelik sterker staan? Dan moet jy in die diepste deel van die stroom beland. Jy gaan dit nie in enkel of selfs heup diepte water vind nie, net in die diepte. Wanneer jy knie- of heupdiepte is, is dit ’n kort afstand na die oewer soos Demas ook uitgevind het, maar nie wanneer jy in die stroom is nie. Dan is dit baie moeiliker om uit te spring.
Kom ons maak vandag nog ’n geestelike voorraadopname en kyk so ’n bietjie terug op ’n jaar wat feitlik verby is. Jy was vanjaar baie in die kerk en het die Woord van God duidelik gehoor. Hoe diep staan jy in die heilige water? Verkeer jy in die diep water of staan jy maar betreklik vlak? Is jy gelukkig daarmee?