Ds AE van den Berg
“Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige vader, Vredevors" - Jes.9:5
In die Bybelse tyd het voorname betekenis gehad; vandag nie meer nie. Byname vertel ’n mens in werklikheid meer van ’n persoon. So het ek aan die Weskus ’n omie geken wat net hier en daar ’n tand in die mond gehad het. Almal het hom as vendusie-klavier geken!
In die Bybel lees ons ook van mense wat benewens hul eie name ook byname gehad het. Volgens die Bybel het ons Here Jesus 256 byname gehad! Die rede daarvoor is dat een naam te kort geskied het om Hom te beskryf. Van al die name wat Hy gehad het, wil ek by een stilstaan – Wonderbaar; voorwaar ’n gepaste naam wat 800 jaar voor sy geboorte deur ’n profesie aan Hom gegee is.
Wonderbaar beteken voortreflik , d.w.s. anders as die normale; so gepas by Jesus. Alles van Hom was wonderbaar. Let maar net op sy geboorte. Dit was wonderbaar omdat daar nog nooit so ’n geboorte op aarde was nie. Jesus het so anders as gewone mense net een mense-ouer naamlik Maria gehad. Het u al gewonder waarom? Sodat Hy ’n menslike en goddelike natuur kon hê.
Al is daar nie na sy geboorte uitgesien soos wat daar na koninklike aankomelinge uitgesien word nie, het Jesus die Prins van prinse en Koning van alle konings geword. Sy geboorte is wel met vreugde uit die hemel aangekondig, wel nie aan die elite van Israel nie, maar aan herders, die vodde van die gemeenskap. Jesus het alle wêreldse glorie prysgegee toe Hy in ’n stal uit ’n arm vrou gebore is. Daar was selfs nie eens vir Hom plek in ’n herberg nie. Wonderbaar, ja, baie anders as die normale gang van sake.
Die rede waarom Hy aarde toe gekom het, is ook wonderbaar. Hy het kom seën en nie om die Romeinse onderdrukkers te vervloek nie; wel om mense op te help en nie te vertrap nie. “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk.19:10). Hy het siekes genees en vermoeides rus gegee. Nogtans was daar in die meeste mense se hart geen plek vir Jesus nie.
Jesus se geboorte was ook vir sekere heidene wonderbaar. Sterrekykers het uit die Ooste gekom omdat geen ster nog ooit die geboorte van iemand aangedui het nie. En toe Jesus se geboorte rugbaar word, het Herodes met die slagting van seuntjies Hom probeer dood. Babatjies was die eerste Christenmartelare!
Jesus se karakter was wonderbaar. Niemand het in vergelyking daarmee ooit naby aan Jesus se karakter gekom nie. Hy was die grootste karakter wat ooit op aarde was. Al het Hy uit ’n onaantreklike agtergrond gekom, het Hy die grootste mens in die geskiedenis geword.
Sy lewe was wonderbaar omdat Hy sondeloos, onselfsugtig en diensbaar was; altyd besig om mense te help sonder om sy eie belange te bevorder. By geleentheid moes Jesus wegkom toe teenstanders Hom wou doodmaak. Toe Hy ’n man wat blind van geboorte was sien, het Hy eers gaan stilstaan om hom sig te gee.
Dit wat Jesus geleer het, was wonderbaar omdat dit eenvoudig, duidelik en prakties was. Jesus het nooit die kollig gesoek nie. Al het Hy telkens vir skares gepreek, het Hy nooit die enkelinge vergeet nie. Dink aan die vrou wat aan bloedvloeiing gely en genees is deur net die soom van Jesus se kleed aan te raak.
Mense het verstaan wat Hy geleer het en graag na Hom geluister. Hulle het nie ’n woordeboek nodig gehad om dit wat Hy gespreek het te verstaan nie. Hy het graag van beeldspraak gebruik gemaak ongeag wat die kerklui daaroor te sê gehad het want Hy wou hê dat mense moes verstaan wat Hy sê. ’n Prediker wat nie verstaan word nie, moenie ’n kansel bedien nie. Jesus het die vermoë gehad om die waarheid op ’n baie interessante manier aan mense voor te hou sodat mense dit kon insien.
Sy onderwysing was nie net wonderbaar weens die manier waarop Hy dit oorgedra het nie; dit wat Hy oorgedra het (die inhoud) was wonderbaar. Toe Jesus by geleentheid vir die kerklui van sy tyd sê dat Hy groter as Moses is, was hulle baie verontwaardig omdat hulle Moses byna as goddelik beskou het. Daarna het Hy vir hulle gesê dat Hy en God dieselfde was. “Wie my haat, haat ook my Vader” (Joh.15:23).
Jesus het veral in Kapernaum baie teenstand van die plaaslike sinagoge gekry omdat Hy die rabbi’s in die skadu gestel het deur soos ’n gesaghebbende te leer. Die Bergpredikasie sluit met die volgende woorde af: “...want Hy het hulle geleer soos een wat gesag gehad het en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mt.7:29).
Dit wat Jesus van Homself voorspel het, was ook wonderbaar. Hy het voorspel dat Hy verloën sou word, ’n bittere lyding sou smaak en grusaam sterf. Ja, Hy het selfs die tyd van sy dood voorspel – Paastyd, toe duisende mense in Jerusalem vir die Paasfees was. Die Paasfees wat eeu lank gevier is, was ’n heenwysing na Jesus, die ware Paaslam!
Jesus se opstanding was ook wonderbaar. Telkens as Hy met sy dissipels oor sy dood gepraat het, het Hy dit ook voorspel. Hy sou nie net sterf ten einde van die storie nie, maar uit die dood opstaan – wonderbaar! Sy opstanding was inderdaad goddelik wonderbaar! Geen mens sou hom ooit so ’n toneel kon indink nie – ’n engel wat die klip wegrol en die vroue wat later die dag die graf besoek en dinge nie in 'n warboel vind nie, maar ordelik, selfs die grafklere netjies opgevou. Kort daarna het Jesus aan elkeen van sy vriende maar nie aan een vyandige verskyn nie.
Die gevolg van Jesus se leer is ook wonderbaar. Hy het die Evangelie aan ’n paar eenvoudige vissermanne toevertrou en dit het wêreldwyd bekend geword. Jesus het nooit ’n boek geskryf nie, nogtans gryp sy leerstellings ná 2000 jaar sondaars nog steeds aan! Dit het talle volke uit die duisternis opgehef en wet en orde in staatkundige chaos gebring.
Toe Jesus sy bediening begin het, was die Romeine die wêreldheersers. Israel was aan Rome onderhorig en vol Romeinse soldate. Desondanks het die eenvoudige leer van ’n Galileër wat deur Romeine tereggestel is, bly staan en lewe dit vandag nog wêreldwyd op terwyl die Romeinse ryk al eeu lank dood is.
Toe Jesus by twee geleenthede ’n skare met min kos gevoed en siekes genees het, was daar geen kerk, hospitaal of weeshuis in die wêreld nie. Vandag is daar etlike duisende weens Jesus se leer. Is Hy nie wonderbaar nie?
Jesus is veral wonderbaar omdat Hy ’n wonderlike Verlosser is. Sondaars moet maar net hul oë ophef en na die Gekruisigde op Golgotha kyk. Jesus het selfs mense wat met die dinge van Satan besig was se lewens omgekeer; dink maar aan Paulus. Jesus is by magte om tot die uiterste toe te red!
Baie mense glo dat die Christendom besig is om dood te loop. Ek verskil radikaal van hulle! Daar was nog nooit ’n tyd wat die liefde van Christus mense so aangegryp het soos vandag nie! Mense kom daagliks tot bekering. Niemand is te sleg om gered te word nie. “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Jesus is ’n wonderbare Redder. Daarvoor het Hy aarde toe gekom. Maar dit sal niks beteken as Hy nie ook jou Redder is nie! Ken jy Hom so? Jesus red deur die eeue. Dis wonderbaar om te weet. Maar weet u wat nie wonderbaar is nie? Om geestelik onverskillig teenoor so ’n Redder te staan! Waarom wil mense in die hel beland as verlossing gratis is!