MY GENADE IS VIR JOU GENOEG

Moenie 2018 negatief begin nie.  Jy aanbid ’n genadige God wat oneindig lief is vir jou.

“Barmhartig en genadig is die Here….” Ps.103:8                                  

Om God lief te hê, moet ons die wonder van sy genade verstaan.   Daarsonder is dit onmoontlik om Hom lief te hê.  Wie kennis van sy genade het, sal altyd dankbaar wees en met verwagting lewe.

’n Persoon wat God se genade verstaan het, was koning Dawid en in Ps.103 stel hy sy lesers met die inhoud en rykdom van God se genade bekend.   Hy onderskei sewe elemente van God se genade in verse 8-18
(i) God se vergifnis van sonde;
(ii) Sy billikheid met sondaars;
(iii) die omvang van sy liefde;
(iv) die volledigheid van vergifnis;
(v) die simpatie wat God met sondaars het;
(vi) God se vertroudheid met sondaars se swakhede; en
(vii) die duursaamheid van sy liefde.

Ons sal later by elkeen van hulle stilstaan.

Wanneer Dawid oor die sewe elemente peins, open hy sy hart opnuut vir God; iets wat ons ook aan die begin van hierdie nuwe jaar moet doen.  Om dit te doen, is gesonde oefening want ons ervaar nie altyd God se genade soos wat gelowiges dit behoort te ervaar nie.

   Ons begin hierdie oefening deur ons seëninge te tel en ’n waarde daaraan toe te skryf.  Dis waar Ps.103:8-18 vir ons waardevol is – dit help ons om God se seëninge te tel en opreg te waardeer.

Die teksvers lui: “Barmhartig en genadig is die Here” Dis die hoofbron van seën waaruit al die ander seëninge soos stroompies na buite vloei.   Barmhartig en genadig sê iets van God.  Daarmee gee Dawid ’n soortgelyke beskrywing van God as wat Moses 500 jaar tevore aan Israel gegee het.   Nadat Moses God se Wet op Horeb ontvang en die Israeliete ter selfde tyd ’n afgod (goue kalf) vereer het, het God vir Moses gesê dat Hy die Israeliete gaan uitwis.  Dit was vir Moses ’n geweldige skok!   Hy het soveel moeite gehad om hulle uit Egipte te laat optrek en daarna in die woestyn te lei. En nou gaan God hulle ombring!     Soos ’n Abraham van ouds vir Sodom en Gomorra ingetree het, het Moses vir sy volk by God ingetree en vir genade gepleit waarna God hulle vergeef het.   Israel was soos terdoodveroordeeldes wat vrygespreek is.

Dis nie al nie; God het verder gegaan en in genade sy verbondsbeloftes aan hulle herhaal.  In Ex 34 word ’n hele verbondsvernuwing seremonie beskryf!   En een van die dinge wat Moses spesifiek aan die volk moes sê, is dat God  “Barmhartig en genadig is”. Toe Dawid in Ps.103 van God se genade skryf, het hy waarskynlik aan hierdie gebeure in Sinai gedink.  Dawid sê nie bloot dat God genadig is nie, maar beklemtoon dit met duidelike beelde.  Die Bybel onderstreep graag groot waarhede met voorbeelde sodat mense daaruit kan leer.  Daarom het Jesus graag van gelykenisse gebruik gemaak.

Een van die grootste Bybelwaarhede is dat God genadig is.  Mohammed, die stigter van Islam, pleeg plagiaat as hy hierdie selfde gedagte van die OT in die Koran gebruik.   Elke hoofstuk van die Koran begin met die woorde: “Allah, die barmhartige en genadige”. Ironies genoeg kom Allah, die afgod wat Mohammed geskep het, glad nie barmhartig of genadig voor nie!   In die Koran gaan dit vir Allah om verdienste en nie genade nie.   In die Koran beveel Allah sy volgelinge om hulle seuns te stuur om vir hom te sterf – die jihads (heilige oorloë).   Daarom hoor en lees ons van selfmoord-bomme.  Mense moet vir Allah sterf!   In die Bybel lees ons dat God sy Seun vir sondaars laat sterf het; in die Koran is dit die teenoorgestelde.   Hoe verskil die Christendom darem nie van Islam nie!

Die afgod-aanbidders kan Allah barmhartig en genadig noem totdat die wêreld omkeer, feite bly staan dat die Koran ’n geheel ander beeld van hierdie afgod skets as wat vir leke voorgehou word.   Daar is geen bevredigende konsep van Allah se genade in Islam te vind nie.  God is eerder ’n genadige God want Hy betoon sy guns ten spyte van die feit dat ons dit nie verdien nie.  Ex.34 is ’n voorbeeld.

God se genade is egter ’n gawe; iets wat ons nooit sal verdien nie.   “Want uit genade is julle gered, deur die geloof en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Efes.2:8).    Alhoewel hierdie genade ons niks kos nie, het dit God baie gekos.  “en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Fil.2:8).  Ons redding is deur ’n genadige God beskik - ’n gawe en nie eie verdienste nie.  As dit nie vir God se genade was nie, sou ons almal in die hel beland het!

Ongelukkig het so min mense werklik begrip van God se genade.  Mense verstaan nog as hulle vir iets gewerk en dit verkry het, maar iets groots verniet te kry, is vir baie te dik vir ’n daler!  Om God se genade te begryp, moet die Heilige Gees die wedergeboorte in mense se lewe laat plaasvind.   Die mense-hart is van nature te hard om God se genade te begryp; dit moet eers met ’n geestelike hartoorplanting verander word.  “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee” (Eseg.36:26).

Wanneer ons geestelik koud is, is dit dikwels omdat ons die wonder van God se genade miskyk.   Dan is ’n nuwe besef van sy genade baie nodig; presies dit waarop koning Dawid ons aandag hier aan die begin van ’n nuwe jaar in Ps.103:8-18 wil vestig.

Kom ons let op die sewe elemente van God se genade:

Dawid sien God se genade eerstens in sy onwilligheid om te straf. “Barmhartig en genadig is die Here; lankmoedig en groot van goedertierenheid” (:8).     Lankmoedig beteken om die straf tot op die laaste toe uit te stel.  As dit nie daarvoor was nie, het God die mensdom al lankal vernietig.   Hy is nie ’n kwaadwillige God nie.   As dit van Hom afhang, sal Hy glad nie straf nie.  Sy geregtigheid laat dit egter nie toe nie!

Tweedens sê Dawid: “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie” (:10).  Dat God ons nie na die omvang van ons sondes vergeld nie, spreek van sy genade - ons kry nie wat ons verdien nie!  Dank God daarvoor anders sou niemand die hemel beêrwe nie!

Dawid gee in vers 11 ’n derde element van God se genade:  Sy onbegryplike liefde vir sondaars.  In Jesus se hoëpriesterlike gebed (Joh.17) bid Hy dat die wêreld van God se liefde vir sondaars kennis sal neem.

In vers 12 skets Dawid ’n vierde element - vergifnis: “So vêr as die ooste verwyder is van die weste, so vêr verwyder Hy ons oortredings van ons” Was jy al so seergemaak dat jy nie kon vergewe nie?   Het dit jou berou en jou sonde bely?   Ons het ’n wonderlike belofte: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe…” (1 Joh.1:9).   God plaas ons sondes agter Hom en dink nie verder daaraan asof dit nooit begaan is nie.

Die verhaal word vertel van ’n priester in Duitsland eeue gelede wat’n groot sonde begaan en God om vergifnis gepleit het.   Hy het gehoor het van ’n sewejarige dogtertjie wat graag met die Here gepraat het.  Hy vra toe die dogtertjie om die Here te vra of Hy sy sonde vergewe het.  Toe hy haar ’n rukkie daarna raakloop vra hy haar: “En het die Here toe my sonde vergewe?” waarop sy hom geantwoord het: “Die Here vra watter sonde?” God se vergifnis is volledig. Hy hou nie boek van die kwaad nie, waarom hou jy?  Wat is jy beter as God?

Baie mense glo dat God van alle sondes boekhou om op die oordeelsdag oop te vlek.  Dit is nie so nie.   Die bloed van Christus is soos ’n uitveër wat na skuldbelydenis al ons oortredinge uitvee.   Met die oordeelsdag staan ons almal voor die Groot Wit Troon van God.  Dan gebeur daar net een ding:  “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen.  En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.  En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:15,15).  In die boek van die lewe staan die name van almal wat tot bekering gekom het; nie hul oortredings nie, want die bloed van Christus het dit  uitgevee en kan nie meer gelees word nie.   Die wat oorbly word veroordeel.

Dawid vind vyfdens God se genade in die sagtheid waarmee Hy ons behandel. ”Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees” (:13).  ’n Mens gaan mos nie hard met kinders te werk nie.  God nog minder!   “Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei” (Jes.40:11).    Geen liefdevolle vader vergelyk met die liefdevolle Vader in die hemel nie!

In vers 14 lees ons dat God medelye met ons het omdat Hy weet waarvan ons gemaak is – ons is stof (aards).   Al voel dit soms asof niemand jou verstaan of vir jou omgee nie, gee God werklik om want Hy het jou gemaak.  Hy weet alles van jou; jou frustrasies, jou wense, jou ergste vrese – alles!   Jy moet met Hom daaroor praat.

Die laaste element van God se genade is die duursaamheid van sy liefde en getrouheid; dinge wat nie net vir ’n tydjie hou en dan verdwyn nie, maar vir altyd hou.  “Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees…” (:17).  God laat ons nie in die steek nie.

Ons is naby die begin van ’n nuwe jaar.  Laat 2018 anders as die vorige jare wees.  Kom ons bepeins God se genade.  Dit sal ons ’n ander uitsig op die lewe laat kry.  Miskien is dit die noodsaaklike gesindheidsverandering waarvoor die mense in  jou huis, familie of vriende al so lank bid.  Moenie 2018 negatief begin nie.  Jy aanbid ’n genadige God wat oneindig lief is vir jou.  Vertrou op sy genade vir 2018! “…My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring…” (2 Kor.12:9).