GEBREK AAN KENNIS ONS ONDERGANG

Ds AE van den Berg

In Suid-Afrika steek afvalligheid en sedeloosheid die een grens na die ander oor.  ’n Parlementslid het onlangs die spot-opmerking gemaak dat die parlement ’n wet moet maak wat die nie uit die Tien Gebooie na die geloofsbelydenis verskuif om in pas met die gees van die tyd te kom!   Dit sou op die volgende kon neerkom: “ Jy mag vir jou enige gesnede beeld maak…Jy mag steel…Jy mag valse getuienis spreek…”

“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…”

Hosea was ’n oujongkêrel toe hy tot profeet geroep is, waarna God vir hom ’n vrou gekies het; nie ’n vroom pastoriemoeder wat in almal se harte ingekruip het nie, maar ’n prostituut met die naam van Gomer.   Hierdie bizarre huwelik was die beeld van Juda se ontroue verhouding met God.

God se aanklag teen Juda was nie vaag nie, maar ’n formele hofaanklag: “Hoor die woord van die Here….die Here het ’n regsaak” (:1).   Die aanklag teen Juda was dat sy geen trou, liefde of kennis van God getoon het nie.  Met trou word bedoel dat Juda nie betroubaar en eerlik was nie.  Gevolglik kon niemand vertrou word nie; nie die regering of die kerk nie, want almal was korrup.

Met liefde word welwillendheid, toewyding en diensbaarheid bedoel.  Daarvan was niks in Juda te bespeur nie, slegs naywer en selfsug.   Paulus bestempel die mense van sy tyd as “sonder natuurlike liefde…” (2 Tim.3:3).   Dit was ook van Juda waar.   Met kennis van God word agting vir die Woord van God bedoel, iets wat onverklaarbaar in Juda ontbreek het.    Sonde het hulle so van God vervreem dat hulle soos mense sonder enige kennis van God se Woord was.  Juda was na aan die kerk, maar bitter ver van die Here af!

Hoe kon mense wie se voorgeslagte soveel guns en wonders van God beleef het, die spoor so byster raak?  Die Bybel sê dat God ’n samelewing wat hul volhardend teen Hom verset, aan verdorwenheid oorgee:  ”Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid…. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte…En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Rom.1:24,26,28).

Sonde het Juda so hard gemaak, dat mooipraat niks gehelp het nie.   Daarom het Hosea nie doekies omgedraai nie en padlangs met hulle gepraat:  “Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak” (:2).   Geweld en bloedvergieting was aan die orde van die dag.  In vers 3 is dit duidelik dat Juda selfs haar omgewing verniel het.  Verdorwe mense het geen agting vir hul omgewing nie, maar stroop alles.   Kyk maar net hoe lyk Afrika; ’n eindelose herhaling van die verkeerde manier van leef!

Die kern van Juda se probleem was egter nie die regering nie, maar by haar korrupte godsdienstige leierskap.   Sodra ’n volk se geestelike leiers die spoor byster raak, val die samelewing ook.  God gee vir onheilige mense onheilige kerklui - hulle ontvang die geestelike leiers wat hulle verdien! “Daarom sal dit met die priester gaan soos met die volk…” (:9).  Wat in Juda gebeur het was niks anders as ’n politieke aanslag onder die dekmantel van godsdiens nie.    Juda het die dood vir die lewe aangesien.  Nadat die dood in die kerklike murg beland het, het daar net ʼn leë dop oorgebly.

Hulle wat leiding moes neem, het met hul neus in die verdorwenheid ingeduik.     “As hulle drinkery verby is, dan hoereer hulle meer.  Hulle vorste is versot op skande” (:18).  Hulle het as’t ware met mekaar in die afwaartse spiraal gewedywer.   As hulle hul eie lewe nie kon beheer nie, hoe wou hulle ’n ander s’n beheer?  Uit verrotte hout word niks goed gekerf nie!

As jy jou politici en kerkleiers nie vertrou nie, gaan dit sleg met ’n land.   Juda het geen lewensvervulling of vergenoegdheid beleef nie, slegs selfsug en frustrasie.   Die handjievol opregtes het na ’n sinvolle bestaan gesmag, maar niks gevind nie; nie eens in die kerk nie!  Dit het hulle leeg en ontnugter gelaat.

Die dodelike kombinasie van korrupte politici en ontspoorde kerklui laat enige land ’n donker toekoms tegemoet gaan.  Juda het haar booswigte nie vervolg nie, maar vereer en so haar eie ondergang in paaiemente afbetaal; alles weens die gebrek aan Skrifkennis:  “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…” Kennis van die Woord van God leer ’n mens nie net wat om te doen nie, maar ook wat om te vermy!

Dit wat met Juda gebeur het, het ook tevore met Israel gebeur.  God het talle profete gestuur om Israel te waarsku, maar sy wou nie hoor.  Daarna het God die vyand as ’n tugroede gebruik en die Assiriërs soos ’n stormwind laat opkom en Israel (die noordelike koninkryk) in ballingskap weggevoer.

Israel was reeds oor hulle Rubicon en haar omdraaikans verby.  In die suide was daar vir Juda nog omdraaikans.  As hulle hul bekeer het, kon ’n katastrofe afgeweer word!   Vandaar die waarskuwing in vers 15: “As jy hoereer, o Israel, laat Juda hom tog nie skuldig maak nie!  Kom dan nie na Gilgal nie en gaan nie op na Bet-Awen nie….”

Gilgal en Bet-Awen was heiligdomme wat koning Jerobeam vir Israel laat bou het om die noordelike koninkryk te weerhou om in Jerusalem te aanbid.   Hosea en Amos maak dit duidelik dat ’n selfgemaakte godsdiens by hierdie twee plekke bedryf is; waarskynlik met afgodery besmet.  Gilgal en Bet-Awen het geen gemene sake met Juda gehad nie:  “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die onge-regtigheid en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?” (2 Kor.6:14).  

God gee aan Juda die opdrag om hulle van hierdie eiesinnige, selfgemaakte godsdiens af te skei omdat sulke godsdiens weens gebrekkige kennis van die Woord van God ontstaan: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” Jesus berispe die Skrifgeleerde en sê: “….Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29).  Wie die Skrif nie ken nie, dwaal onafwendbaar!

Die ooreenkoms tussen Juda en Suid-Afrika kan nie misgekyk word nie.   Die parallelle is absoluut verstommend.  Dis asof ’n mens dieselfde geskiedenis lees!   Kyk maar net na die kommerwekkende afwaartse spiraal die afgelope 20 jaar omdat kerke, net soos in Juda gebeur het, gehelp het om van die Christen grondwet aan die suidpunt van Afrika ontslae te raak.   Mense verrig geen boosheid so gelate as wanneer dit uit godsdienstige oortuiging gedoen word nie!

Is Suid-Afrika alreeds oor sy Rubicon of is daar nog omdraaikans?  As dit van ons afhang, is daar hoegenaamd geen hoop nie.   Laat ons egter die genade van God in Christus nooit onderskat nie!   Hy het al dikwels herlewings ten spyte van samelewingsverrotting gestuur.

Predikante en teoloë het dikwels ’n groot aandeel aan samelewingsverrotting.  Dit gebeur as die Evangelie nie suiwer gepreek en die erediens nie as ’n heilige byeenkoms ingeklee word nie.   Want dan vervlak die formele godsdiens tot op die vlak van die mens; dit wat hy wil hoor en in die kerk wil hê!

In Suid-Afrika steek afvalligheid en sedeloosheid die een grens na die ander oor.  ’n Parlementslid het onlangs die spot-opmerking gemaak dat die parlement ’n wet moet maak wat die nie uit die Tien Gebooie na die geloofsbelydenis verskuif om in pas met die gees van die tyd te kom!   Dit sou op die volgende kon neerkom: “ Jy mag vir jou enige gesnede beeld maak…Jy mag steel…Jy mag valse getuienis spreek…” Die 12 Artikels (wat die nie ontvang), sou dan kon lees: “Ek glo nie in God die Vader….en nie in Christus Jesus….nie in die gemeenskap van die heiliges….” ens. 

Die tyd het aangebreek dat ons baie deeglike Bybelkennis moet verkry.   Kennis van God se Woord leer gelowiges om reg op te tree.  Kyk hoe verkeerd tree baie van ons volksgenote nie op nie!    My volk verdrink in inligting, maar sterf aan ’n gebrek aan kennis van God se Woord!

Ons word, net soos ’n Juda van ouds, onophoudelik deur leuens gekonfronteer, polities sowel as godsdienstig.   Kan jy baie duidelik tussen die twee onderskei?   Slegs ’n deeglike kennis van die Bybel laat jou die waarheid raaksien.   Sulke kennis moet in belang van ons volk aangewend word anders is ons soos ’n boer wat sy landerye omploeg, maar niks daarop saai nie!

Kennis van God se Woord maak jou dapper in die stryd teen die heidendom.   Wonde wat jy in sulke dapper optredes opdoen, maak jou nooit lelik nie.  ʼn Sterk boom is mos nie bang vir ’n storm nie.   Moet nooit moedeloos word nie.  Die pad van hoop vir ons volk loop deur die vallei van ’n deeglike kennis van God se Woord.   Die kerk is waar die Woord van God suiwer verkondig word.

Ons is nie alleen in hierdie stryd nie, maar het ’n Hoëpriester in die hemel en vrye toegang tot ’n troon van genade.   Mag God die behoefte aan ’n deeglike kennis van sy Woord soos spykers in ons siele inslaan.   ʼn Mens kan wel van brood alleen leef ….indien dit die Brood van die Lewe is!