Ds AE van den Berg
“.... as die woord van die profeet uitkom, sal die profeet bekend word wat die Here waarlik gestuur het” - Jer.28:9
Jare gelede was die kerk en die plaaslike teater op ʼn klein plattelandse dorpie teenoor mekaar in dieselfde straatjie. Toe die tyd vir die gebruiklike Pinksterbidure aanbreek, het die leraar ʼn reeks opwekkingspreke voorberei ten einde sy gemeente meer betrokke te kry. Die dienste is oral geadverteer; plakkate, strooibiljette, afkondigings ens. Die eerste aand was daar baie mense in die kerk, die volgende aand minder en daarna telkens minder totdat net drie mense vir die laaste aand se diens opgedaag het. Wat het skeefgeloop?
Daardie selfde week het ʼn vermaaklikheidkunstenaar ʼn paar opvoerings in die teater gehad, net een plakkaat opgesit om sy vertoning te adverteer en elke aand meer mense getrek totdat die teater met die laaste vertoning stampvol was. Toe dominee hom buite raakloop, vra hy die man hoe hy dit met slegs een plakkaat reggekry het. Hy sê aan die man: “Jý verkondig net fiksie en kyk hoe stroom die mense na jou! Ek verkondig die waarheid, en kyk na die swak opkomste!” . Die akteur se antwoord het hom uitgeboul: “Ek verkondig fiksie asof dit die waarheid is, maar jy verkondig die waarheid asof dit fiksie is”.
Dis baie mense se probleem met predikers vandag - is dit wat hy preek werklik God se Woord soos Jeremia gepreek het of is dit eerder ʼn Hananja-stem? Wie praat die waarheid en wie lieg? Wat is waar en wat is fiksie? Hierdie soort vrae was in die tyd van Jeremia te sprake. Hoofstuk 28 skets ʼn spanningsveld tussen twee predikers – Jeremia en Hananja. Jeremia het ernstige probleme met die sg. heilsprofete van sy tyd gehad: “Julle moet dan nie luister na julle profete en na julle waarsêers en na julle dromers en na julle goëlaars en na julle towenaars nie, wat met julle spreek en sê: Julle sal die koning van Babel nie dien nie. Want hulle profeteer leuens vir julle .... Want Ek het hulle nie gestuur nie” (Jer.27:9,10,15).
In ons gelese gedeelte ontmoet Jeremia een van die mooiweersprofete teen wie hy die volk gewaarsku het. Al sy voorganger-profete het voorspel dat die Israeliete weens hul afvalligheid in ballingskap sou gaan. Die heilsprofete het gesê dat dit onsin-prediking was. Israel was God se uitverkore volk en Hy sou hulle teen enige vyandelike mag beskerm. Sulke prediking het mense verwar. Wie op die kansel kon geglo word? Jeremia profeteer God se straf en Hananja en die ander profete God se redding!
In teenstelling met Jeremia wat 70 jaar van ballingskap as straf verkondig het, was Hananja se preek vol hoop en troos. Die Bondsvolk moes net vir twee jaar vasbyt waarna God die juk van Babel van hulle nek sou verwyder. Dis die boodskap wat die volk wou hoor! So ʼn bek moes jam kry! Dinge sal weer soos in die goeie ou dae wees. Het profete soos Jesaja dan nie dieselfde ding verkondig nie? Hananja preek in lyn met die profete want hy bevestig God se genadige handelinge met sy volk. Wie is reg? Iemand lieg. Die ergste leuens is daardie waarvan die handvatsel eg is, maar die lem vals!
Terwyl die skare in vervoering oor die preek is, staan Jeremia nader. Dit het hom nie gepla as mense niks van sy boodskappe gehou het nie. Hy het ʼn taak gehad – God het hom geroep om die volk uit hul droomwêreld wakker te skud. Hananja het sy eie wense en begeertes op God oorprojekteer en as Godswoord verkondig en gepreek wat die volk wou hoor, maar nie wat God gesê het nie.
Jeremia wou allermins sy volk ten gronde sien gaan met ʼn houding van: “Ek het julle mos gesê! ". In vers 6 wens hy selfs dat hy ter wille van sy volk verkeerd en Hananja reg kon wees. Dit sou nie gebeur nie! Die geskiedenis sou bewys wie reg is. Die leuen word nooit ʼn waarheid omdat baie mense dit glo nie. Nog minder word die waarheid ʼn leuen omdat baie mense dit verag.
Om sy woorde te bekragtig, breek Hananja die hout-juk wat Jeremia as teken van sy volk se swaarkry gedra het voor die oë van die aanwesiges. Dit was so indrukwekkend dat Jeremia niks verder kon sê nie en soos die plattelandse dominee maar pad gegee het. Jeremia se wind was egter nie vir lank uit sy seile nie toe God hom laat omdraai om erger straf aan te kondig. In plaas van hout-jukke sal Hananja en die volk yster-jukke dra – God se oordeel het nie afgeneem soos voorspel is nie, maar eerder skerp toegeneem. Om die waarheid te bevestig sou Hananja voor die einde van daardie jaar sterf.
Ek glo dat jy ʼn speld in daardie tempelhof kon hoor val. Wie moes hulle glo? Hananja of Jeremia, want elkeen sê: So spreek die Here! Wat is waarheid en wat is leuen? Wie spreek eg en wie vals? In vers 17 lees ons dat Hananja in die sewende maand van daardie jaar oorlede en die voorspelling bewaarheid is. Jeremia was die ware en Hananja die valse profeet. Ja, wie die leuen glo, word deur die waarheid veroordeel.
Wat moes die ontnugterde mense wat goedgelowig aan Hananja se boodskap van hoop en verlossing vasgeklou het nou dink? Hulle het mos nie geweet dat Hananja vals was nie. Ja, oral waar die tempel van die waarheid verrys, rig die Satan sy kapel van misleiding op! Omdat die Satan graag agter ʼn kruis skuil, volg mense leuens wat vanaf kansels verkondig word so geesdriftig!
Dit bring ons by ʼn baie aktuele vraag: Hoe weet ʼn mens of ʼn prediker die waarheid preek? Deur dit aan die Bybelse waarheid te meet. By geleentheid vra die kerkleiers vir Jesus:”... Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U die gesag gegee om dit te doen?” (Mark.11:28). Israel het op daardie stadium ʼn groot probleem met ware en valse profete gehad. Mense het nie geweet wie om te glo nie – Jesus of die Fariseërs? Soos ʼn Jeremia van ouds het Jesus ook dinge gesê wat lynreg met die opvattings van die kerkleiers gebots het. Dit het, soos met Jeremia, gelyk asof die ware Profeet die valse een was.
In Jesus se geval het sy opstanding uit die dood hierdie vraag beantwoord. Daarom is die opstanding so ʼn kardinale leerstuk van die Christendom - daardeur het Jesus bewys dat Hy die ware profeet was. Dit wat ʼn profeet profeteer, moet bewaarheid word. “.... as die woord van die profeet uitkom, sal die profeet bekend word wat die Here waarlik gestuur het”. Jesus het sy eie dood en opstanding aangekondig wat dan ook so gebeur het. Een ding moet ons almal moet weet: dat alles wat Jesus verkondig het, die waarheid is en dat al sy beloftes wat nog nie verwerklik is nie, eendag bewaarheid sal word.
Daarom moet elke prediker, soos Paulus, op hierdie beloftes voortbou: “...want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor.2:2). As leraars dit doen, sal hul prediking nie na fiksie klink en lidmate nie na lekker kerke wegloop om die waarheid daar te gaan soek net om hulle in ʼn spul leuens vas te loop nie. Niks is vir die saak van die Here so skadelik soos die flou stem van ʼn sieklike Christendom nie.
Daarom moet ons versigtig wees wat ons hoor. Mense is al te geneig om net te hoor wat hulle wil hoor. Ons moet na die volle waarheid van die Skrif luister, veral die waarskuwings. Die vraag moenie wees of ’n leerstelling mooi klink nie, maar of dit die waarheid is? Daar is niks so misleidend soos ʼn welsprekende leuenaar nie. Mense verwar dikwels die vurige betoog van ʼn ekstrovert met die krag van die Heilige Gees.
Israel het hul in die tyd van Jeremia blind en doof vir die waarheid gehou; iets wat nog steeds gebeur. Mense hou hul doof vir die verlossingsboodskap dat jy alleenlik in die hemel sal kom indien jy deur die bekering in ʼn persoonlike verhouding met Jesus verkeer. Daarbenewens gaan daar al hoe meer stemme vir godsdienstige verdraagsaamheid op. Baie mense glo dat die pad na die hemel nie net oor Christus alleen loop nie, maar dat daar ook ander paaie is. En dis ʼn leuen! "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6). Dwase glo aan ʼn alternatiewe roete “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor.1:18).
In Mt.24 waarsku Jesus dat soos wat sy wederkoms nader kom, misleiding oorhand gaan toeneem. In hierdie tyd sal die valse kerk, soos in die tyd van Jeremia, groter en onsuiwerder en die ware kerk kleiner maar suiwerder word. Leer uit die geskiedenis: Al lyk dit asof die Christendom sterf, herleef dit telkens. Christene glo immers aan ʼn Verlosser wat die pad uit die graf ken!
In hierdie tyd van kerklike afvalligheid sal dit wat die ware kerk verkondig deur moderne Hananja’s as leuens afgemaak word. Mense wat nie vir hulself dink nie sal hierdie profete blindelings volg omdat hulle gemakliker met die leuen as met die waarheid is.
Gelowiges se liefde vir Christus en die waarheid sal hulle egter soos ʼn Jeremia van ouds sterk laat optree en hulle vir baie mense ʼn steen des aanstoots laat word. Ja, niks prikkel die vel van godsdienstige ydelheid soos ʼn harde waarheid nie. Maar ʼn waarheid wat seermaak, is dikwels ʼn waarheid wat genees. Gelowiges maak eerder iemand met die waarheid seer as om hom met ʼn leuen gelukkig te maak. En as hulle in die proses vyande word, getuig dit dat hulle vir die waarheid opgestaan het. Hy wat weens beginsels verloor, wen meer as hy wat deur leuens wen!
Ons verkeer in die eindtyd. Jesus is op pad. Daarom moet ons liefde vir die waarheid en geregtigheid in hierdie dae baie sterk van God se beeld in ons getuig. Om jou in Jesus te verbly, is om jou in die waarheid te verbly. Moenie dat iemand ooit wonder waar jy staan nie. Hou aan die waarheid vas soos ʼn drenkeling aan ʼn plank. Laat ons liefde vir die waarheid met onsigbare klinknaels aan ons siele vassit.
Mag die prys vir die stryd om die waarheid vir die AP Kerk nooit te hoog word nie. Kom ons beskou die soeke na en wandel in die waarheid as ʼn lewenslange verpligting want Jesus is die weg en die waarheid. Laat ons geen pad neem wat nie na Hom toe lei nie.
Amen!