VREEMDE KERSE, VREEMDE KOERSE

Ds Andrè van den Berg

Protestante het vir baie eeue lank geen gemene sake met die Roomse Kerk (RK) gehad nie.   Nie vandag meer nie!   Berigte van Protestantse kerke wat toenemend van Roomse tradisies en simbole gebruik maak om kwansuis nuwe inhoud aan hul geloofslewe te gee, is verontrustend!

Die Hervorming (16de eeu) het die RK in haar fondamente geskud waarna sy gesweer het dat alle afvalliges (Protestante) eendag na haar toe sal terugkruip.   Dis besig om voor ons oë te gebeur!  Roomse simbole en rituele steek oral in Protestantse kerke kop uit.

Kerke wat aanvanklik teen die Roomse gevaar gewaarsku het, swyg vandag in alle tale.   Sommige maak selfs van Roomse seremonies en rituele gebruik om hul eredienste mee op te kikker en noem dit liturgiese vernuwing – kwansuis ‘n verruiming van die Gereformeerde liturgie om die geloof te verdiep.

Die viering van Roomse heilige dae, liturgiese danse, kruissimbole en die aansteek van kerse by spesiale geleenthede soos ’n huwelik, voorstelling van nuwe lidmate en die doop vind al hoe meer byval in Protestantse kerke, om nie eens van die kindernagmaal in die NG Kerk te praat wat onverbloemd Rooms is nie. Die RK glo dat godsdienstige simbole mense ‘n dieper ervaring van God bied.  Brandende kerse beeld glo Christus as die Lig van die wêreld uit en word as ‘n simbool van die voortsetting van gebede beskou.  Solank die kerse brand, het gebede besondere krag.   Die RK heg selfs aan die kerswas van heilige kerse geseënde waarde.  Dis glo ’n simbool van ‘n liefdesoorgawe aan God.

Die kreatiewe ontginning van Roomse rituele en simbole in Protestantse kerke moet gelowiges baie verontrus.   Dis grotendeels heidens van oorsprong.   Die Babiloniërs het bv. kerse vir Semiramis, hul moedergodin, laat brand!

Protestantse kerke se kruiperige onderdanigheid aan die RK het by die ekumene begin; ‘n Rooms-georkestreerde interkerklike beweging wat Protestante van hul kerklike erfenis vervreem.   Hierdie gesprekvoerings wil Protestantse kerke laat glo dat hulle verlede verder as die Hervorming strek.   Hulle word aangemoedig om hul klassieke verlede te ontdek en die liturgie dienooreenkomstig aan te pas.

Die dae van bloot luister in die kerk word as uitgedien beskou.  Lidmate moet dialogies aan die erediens deelneem.   Roomse beurtsang waar die priester voorgaan en die gemeente kort-kort antwoord, kom in al hoe meer Protestantse kerke voor.

Deelnemende erediens is Rooms van oorsprong. “Geseënd is hy wat in die Naam van die Here kom” sê sommige NG leraars tydens Nagmaal waarop die gemeente met “Hosanna!” antwoord.   As hy sê: “Verhef julle harte” antwoord die gemeente: “Ons verhef hulle tot die Here”.   Dis 'n Rooms gewoonte.   Daarbenewens word die Roomse liturgiese gebruike soos die Agnus Dei en Kyrie Eleison al hoe meer in NG Kerke gehoor.

Talle NG gemeentes gebruik ook ‘n rooster en handleiding vir Skriflesing wat feitlik met die Revised Common Lectionary van die RK ooreenstem.  Die retraites waar Roomse priesters as’t ware hul geestelike batterye gaan herlaai, vind ook in die NG Kerk neerslag.  Sinodes beveel dit nie net by hulle leraars aan nie, maar bied dit selfs aan!

Desondanks se die NG Kerk dat sy nie haar kerklike erfenis verraai nie en haal selfs Calvyn aan: “ecclesia reformata, semper reformanda” - die kerk het hervorm en moet altyd hervormend bly.  Nodeloos om te sê, word Calvyn uit verband aangehaal.  Hy het daarmee allermins ‘n terugbeweeg na die RK bedoel!

Sodra ’n kerk sy identiteit prysgee, ontgroei hy sy wortels.   Geen ritueel durf ooit die Woordbediening aanvul of selfs verhelder nie, al word ‘n duisend kerse aangesteek.   Dit verhelder nie die geloof nie, maar verdof dit eerder.   Dit verryk nie die geloofsbelewenis nie, maar verarm dit in teendeel.   Dit verruim geen siel nie, maar verkneg dit eerder in die dwangbuis van verbloemde heidendom.