ABRAHAM
Ds Andrè van den Berg
“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek... en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom” - Heb.11:8
Die verhaal van Abraham is een van die aangrypendste verhale van die Skrif. Wat dit so merkwaardig maak, is Abraham se byna ongelooflike geloof in God toe hy aangesê is om sy enigste seun te gaan offer. Die Bybel onthul nie sy gevoelens tot en met Gen.22:8 nie: “En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir ʼn brandoffer voorsien, my seun” .
Ons kan maar net raai wat in Abraham se gemoed aangegaan het. Ons weet dat Isak lewend daarvan sou afkom, maar Abraham het dit op daardie stadium nie geweet nie. Hy het hom vir die ergste reggemaak. Toe hulle drie dae later by die berg Moria aankom en Isak hom na die offerdier vra, het Abraham net geantwoord dat God sou voorsien. Dit spreek van geloof – die vaste vertroue dat God sou voorsien. En Hy het! “... Moenie jou hand na die seun uitsteek nie... want nou weet Ek dat jy God vrees, en jou seun, jou enigste van My nie teruggehou het nie” (Gen.22:12). Abraham het die gewigtige toets van die geloof geslaag. Geloof is om jou nette in die onbekende te laat sak sonder om te weet wat die vangs gaan oplewer.
Abraham se uitsonderlike geloof het Paulus en die skrywer van die Hebreër-brief so aangegryp dat hulle daarvan melding maak. Paulus skryf aan die gelowiges in Rome: “... maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham... Daarom is dit uit die geloof... nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal” (Rom.4:12, 16).
Wat was die geheim van Abraham se merkwaardige geloof? Sy onwankelbare vertroue dat God sou voorsien. Geloof was die eerste ding wat Abraham in sy tas van hoop gepak het. Dit het so ʼn hegte band met God laat ontstaan, dat God na hom as sy vriend verwys het: “Maar jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend” (Jes.41:8). Hierdie heilige vriendskapsverhouding het wonderlike gevolge gehad – hy word sedertdien die vader van alle gelowiges genoem.
Waarom het God hom so ʼn ere-kompliment gegee? Die antwoord word gevind deur Abraham se verhouding met God met ons verhouding met Jesus Christus te vergelyk. Jesus noem ook gelowiges sy vriende: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van die Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Joh.15:15).
Daar is egter ʼn voorwaarde aan hierdie vriend-noem verbonde: “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel” (Joh.15:14). Dit was die rede waarom God Abraham se vriend genoem het – hy was aan God gehoorsaam. En wat vir Abraham gegeld het, geld ook vir ons - gehoorsaamheid aan God is ʼn voorvereiste om God se vriend genoem te word.
Die skrywer van Hebreërs wy hieroor uit: “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek... en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ʼn vreemde land en in tente gewoon... Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer... want hy het gereken dat God mag gehad het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang” (Heb.11:8,9,16-19).
Abraham se geloof bevat drie elemente (i) hy het sonder teenstribbeling God se roepstem gehoorsaam (ii) hy het sonder teenstribbeling in die vreemde land vertoef en (iii) was sonder teenstribbeling gewillig om te doen wat God van hom gevra het. Abraham het egter ook baie meer gedoen as om na die onbekende te verhuis en die bereidheid om sy seun te offer – hy het in God se weë gewandel: “... omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het” (Gen.26:5).
Hoe het Abraham by God uitgekom? Het hy so ʼn besondere geloof vertoon dat God as’t ware nie anders kon as hom raak te sien nie? Nee, Abraham se geloof was loutere genade. Geloof is nie iets wat ʼn mens kan opwek nie, maar ʼn gawe van God. En Abraham het dit ontvang: “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek... en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom (Heb.11:8). Daar was niks aan Abraham nie, hy is geroep omdat God hom uitverkies het. “... En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ʼn vriend van God genoem” (Jak.2:23).
Abraham het getrek sonder om te weet waarheen. Toe die pad vir hom toe lyk, het hy in die geloof en nie op sig gestap nie. Abraham het besluit om geen treë sonder God te gee nie, maar met Hom tot aan die uithoeke van die aarde te loop as dit nodig was! En dit verg geloof! Ons wil tog so graag onafhanklik wees terwyl geloof kinderlike afhanklikheid van die Vader is. God wil hê dat ons van Hom afhanklik sal wees. Deur die geloof het Abraham na God vir leiding, rigting en beskerming opgesien. Sonder geloof sou hy dit nooit kon doen nie.
Die feit dat Abraham in ʼn vreemde land vertoef het, was alreeds ʼn beproewing. “Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ʼn vreemde land en in tente gewoon...” (Heb.11:9). Hy sou sekerlik ʼn permanente struktuur en lewensstyl verkies het. Hy sou vir die res van sy lewe ʼn vreemdeling en pelgrim in ʼn vreemde land wees. Dit het hom egter nie gehinder nie want sy oog was op iets wonderliker gevestig: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Heb.11:10). Ja, geloof glo in die onsigbare. Abraham het geweet wat hy nie op daardie stadium gesien het nie, hy wel eendag sou aanskou. Wie die Onsigbare ken, kan die onmoontlike verwag.
Abraham het geweet dat wat ook al in die toekoms vir hom voorgelê het, God daar was. Ja, geloof bou ʼn brug van hierdie wêreld na die volgende. God berei vir sy kinders ʼn stad voor. As Abraham 4000 jaar gelede al daarna gehunker het, hoeveel te meer ons wat baie nader aan die verwerkliking daarvan is!
Heb.11 is ʼn geestelike uitstalvenster van geloofshelde en verryk ons geestelik. Die skrywer moedig gelowiges aan om Abraham se voorbeeld te volg. Hy het geloof en werke gehad. Jak.2 herinner ons daaraan dat geloof sonder werke dood is. Lewende geloof is aktiewe geloof.
Om God te behaag, moet ons glo dat Hy in die hemel en almagtig is. Abraham het dit geglo en geweet dat God hom vir sy geloof sou beloon. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ʼn beloner is van die wat Hom soek” (Heb.11:6). Jesus sê: “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele...” (Mt.5:12). Johannes skryf in sy Sendbrief: “En wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Joh.3:22).
Geloof is gehoorsaamheid. Ons moet God gehoorsaam al kry ons dit nie 100% reg nie. Ons is nie volmaak nie en God weet dit. Abraham het ook geswig toe hy voorgegee het dat sy vrou sy suster was. Ja, gelowiges struikel! Skepe wat voor anker lê, dryf dikwels ʼn entjie weg sonder om die ankerplek te verlaat. So dryf ons ook soms ʼn entjie van God af weg sonder om die geloof te verlaat. Daarvoor tree Christus vir ons by die Vader in.
Die wêreld het ʼn nood aan gelowiges wat aanhou om gelowig te leef. Abraham het geleer dat sonder geloof niks moontlik is nie, maar met geloof niks onmoontlik nie. Geloof was die dryfkrag van sy lewe. Hy het sy seile gespan en geweet dat God vir die wind sou sorg. Sy geloof is gespierd. Daarom het God hom sy vriend genoem. Christus noem ons op soortgelyke wyse sy vriende as ons soos ʼn Abraham vertrou dat God voorsien. Die Here is ons herder, ons kom niks kort nie!
Amen!