MAN EN VROU

 Ds Andrè van den Berg

“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld.... En God het die mens geskape.... man en vrou het Hy hulle geskape”  - Gen.1:26,27  (Efes.5:22-33)

Die krag van ’n volk hang van sy geloof in God asook die gehalte van sy gesinslewe af.  Die gesin is die kern van ʼn beskawing en die smidswinkel waar lewenswaardes op die aambeeld van die lewe gevorm word.  Daarom is ʼn gelukkige gesin een van God se meesterwerke - iets soos ʼn vervroegde hemel.

Dit gaan op talle lewensgebiede werklik sleg met ons volk.  Een van die opvallendste is die verbrokkeling van ons gesinslewe -  ʼn euwel wat ʼn rimpeleffek veroorsaak, wat eerstens die gesinslewe aantas waarna dit die kerk en gemeenskap binnedring.

Die verbrokkeling van gesinne neem ook toe omdat daar aan die rolverdeling van man en vrou verander word.  Die Bybel is baie duidelik oor die rol wat laasgenoemdes in die gesin moet speel.  Ongelukkig slaag Satan meesterlik daarin om hierdie rolle om te keer.

God was nie verward toe Hy man en vrou geskape het soos wat homoseksuele indirek voorgee nie.  In die teksverse lees ons dat God ʼn onsterflike gees in die mens geskep en hulle in twee duidelik onderskeie kategorieë verdeel het; man en vrou.  Daarna het Hy hulle geseën en beveel om te heers en te vermeerder.

Gen.2:15 is die verslag van die skepping van die mense se fisieke liggame en vertel ook van God se opdragte aan Adam.   God gee aan die man opdragte - hy word in die tuin van Eden aangestel om dit te versorg, maar word gewaarsku om van ʼn sekere boom nie te eet nie.   Adam ontvang hierdie opdragte vóór die skepping van Eva.  Vers 18 maak vir die eerste keer van haar skepping melding.  Sy word geskep as sy hulp en sodat Adam nie langer alleen moes wees nie.  Let daarop dat die vrou haar man voltooi deur hom aan te vul; nie om met hom vir sy rol te wedywer nie.   In ongesonde huisgesinne kraai die hen en is die haan vredesonthalwe maar stil.  Dis verkeerd in God se oog!

God het aan die man die verantwoordelikheid gegee om hoof van sy gesin te wees.  Eva se eet van die verbode vrug was die gevolg van Adam se mislukking om verantwoordelikheid in die huwelik te neem.  Wie sy verantwoordelikheid ontduik, soek altyd iemand om vir die dilemma wat daarna gevolg het te blameer:  “... Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee en ek het geëet” (Gen.3:12).  Adam het nie sy Godgegewe gesag gehandhaaf nie.  Toe hy ook van die verbode vrug eet, het hy as’t ware sy opdrag as Godgegewe leier van sy huis opgesê. “.... Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou.... vervloek is die aarde om jou ontwil...” (Gen.3:17).

God het man en vrou as gelykes geskape, maar met duidelik onderskeie rolle en verantwoordelikhede hetsy in die gesin, gemeenskap of  kerk.   Die NT herbevestig God se doel met die gesinslewe (Efes.5).  Christus is die geestelike voorbeeld van die man se rol in die gesin.  Soos wat die kerk aan Hom onderdanig is, moet getroude vrouens aan hul mans onderdanig wees.  Getroude mans moet op hulle beurt hul vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy selfs sy lewe daarvoor gegee het.  Die opdrag is ondubbelsinnig: Vroue moet aan hul eie mans onderdanig wees en mans hul vrouens op dieselfde manier liefhê as wat Christus sy kerk lief het.

Daar is vandag ʼn baie duidelike opstandigheid in hierdie verband te bespeur; vrouens sukkel om aan hul mans onderdanig te wees.  Is dit nie miskien daaraan te wyte dat mans hulle vroue nie liefhet soos die Bybel gebied nie?   Let daarop dat die Bybel mans beveel om hul vroue lief te hê, maar vroue word nie aangesê om hul mans lief te hê nie!  Waarom nie?  Omdat vrouens geskep is om lief te hê.  Dis vir hulle natuurlik om op die liefde van hul man te reageer.  Daarom het God nie ʼn opdrag aan vroue gegee vir dit wat vir hulle natuurlik is nie.  Na die mate wat die man liefde aan sy vrou betoon, betoon sy eerbied aan hom.  Let gerus daarop dat oral waar liefde in ʼn huwelik ontbreek, eerbied in presies dieselfde verhouding ontbreek!

In Efes.6:4 word vaders beveel om hulle kinders in die weë van God op te voed. Daarom berus die verantwoordelikheid vir die geestelike, emosionele en fisiese welsyn van die gesin by die man.  God het aan hom drie duidelik onderskeie rolle toegeken – profeet, priester en koning.

As profeet moet hy die Woord van God in sy gesin spreek.  Hy is die godsdienshoof van sy gesin.   As priester moet hy vir sy gesin bid.  As koning moet hy in alle aspekte van sy gesinslewe regverdig optree.  Hy is nie ʼn diktator nie, maar deur die genade van God ʼn dienaar-leier.   Hy durf nooit eie behoeftes en begeertes bo dié van sy gesinslede stel nie.

Die man moet egter weet dat hy aan God ondergeskik is en dat Bybelse gesag en orde in sy huis moet heers; nie dominering ten koste van een of ander gesinslid nie.  Soos Christus die hoof van sy kerk onder gesag van die Vader is, is die man hoof van sy huis onder die gesag van Christus.   Dit is die goddelike bloudruk waarmee God huwelike en gesinne beskerm.   Waar hierdie beginsels nagelaat word, funksioneer die gesinslewe nie reg nie.

Die tragiek van ons samelewing is dat mans toenemend hul Godgegewe rolle neerlê.   Gevolglik moet vrouens hul belangrike rol in die huisgesin prysgee om hierdie verantwoordelikhede ook op hulle te neem.   Dis uiters nadelig vir gesinne.

Baie vrouens moet vandag teen wil en dank beide rolle van ma en pa speel.  Geen wonder dat gesinne verbrokkel nie!   Vaderlose huishoudings is ʼn bydraende faktor vir maatskaplike euwels.  Nee, elke kind behoort die lewe deur die goue hek van ouerliefde in te gaan.   Een van die wonderlikste ervarings van ʼn mens is om gelukkige kinderjare te hê want goeie ouers is padwysers na die hemel.   Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar - van slegte saad kom daar geen goeie oes nie.

Om die Bybelse idee van die man as hoof van die huis te probeer uitwis, verkondig feministe al hoe meer geslagsgelykheid.   Die unisex beweging is 'n skepping van Satan wat vrouens met die man laat wedywer.  Sogenaamde bevryde vroue leef al hoe onsedeliker, aborteer ongewenste bevrugtings - vermoor hul eie kinders; alles opstand teen God!

Ten spyte van enkelmoeders wat uitmuntende werk doen, vergoed dit nie vir afwesige vaders nie.   God se opdrag aan die man is baie duidelik en laat geen ruimte vir onderhandeling nie.   Elke gesinshoof moet kies - hy is òf aan God se skeppingsorde en beginsels vir die gesinslewe gehoorsaam, òf nie.  Wie ongehoorsaam is, dra die vernietigende gevolge daarvan.

Daar is net een resep vir gesinsvreugde:  terug na die Bybelse beginsels.   Daarom is die grootste diens wat ouers hierdie volk kan lewer, om hul kinders in die weë van die Here op te voed.  Wie kinders sonder Christus opvoed, maak slim duiwels groot!

Kinders is die lewende boodskappe wat ons die toekoms instuur vir ʼn tyd wat ons self nie gaan beleef nie.  Ons as ouers is soos ʼn Moses van ouds wat nooit die beloofde land binnegegaan het nie, maar sy mense vir ʼn lewe voorberei het wat hy self nie sou sien nie.

Hoe lyk jou gesinslewe?  Sien en hoor jou kinders Jesus in jou lewe?  Kinders sal God makliker as hul hemelse Vader aanvaar indien hulle iets van Hom in hul eie vader raaksien.   Kinders kyk na ons.   Laat ons met nuwe ywer aan God se bloudrukplan vir ons gesinslewe werk.

Amen