HOE LYK 'N CHRISTEN?

Ds Andrè van den Berg

“ .... en die dissipels is in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem” - Hand.11:28                                

Daar word gesê dat Suid-Afrika se bevolking uit nagenoeg 80% Christene bestaan.   Dit is ʼn leuen!  Christene sal nie ʼn Christelike grondwet met ʼn sekulêre een vervang soos wat in 1994 gebeur het nie.  Christene sal ook nie dinge soos aborsie, homoseksualisme en ander gruwels goedpraat nie.

Dit laat die vraag ontstaan: Wat is ʼn Christen?  Is dit iemand wat gedoop en aangeneem is?  Is dit ʼn persoon wat kerktoe gaan en die Nagmaal gebruik?   Wat sê die Bybel?   Hand.11, waar die gelowiges in Antiochië vir die eerste keer in die geskiedenis Christene genoem is, verdien ons aandag.

Hulle is destyds so genoem om vyf redes wat vandag nog geld.  Hulle was eerstens onherroeplik aan Christus verbind.   Hulle liefde vir Hom was met onsigbare klinknaels aan hulle siele vas toe die poppe in Jerusalem begin dans en hulle begin vervolg is.

Hand.7 vertel van die steniging van Stefanus waarna die Joodse bloedhonde na nog gelowiges gesoek het om te vervolg.  Dit het hulle na plekke soos Antiochië laat vlug; alles deel van God se heilsbeplanning.   Die Evangelie moes verder as Jerusalem gedra word: “ .... en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterstes van die aarde” (Hand.1:8).

Oral waar hierdie vlugtelinge gekom het, het hulle hul lig laat skyn.  Dit het so ʼn indruk op die mense van Antiochië gemaak, dat hulle vir hul ʼn eie benaming gegee het - mense van Christus (Christene).   Dit wat van hulle goeie Christene gemaak het, het ook van hulle goeie, wetsgehoorsame burgers gemaak.

Hulle verbondenheid aan Christus het hulle van die ongelowiges laat verskil:  “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed....” (Rom.12:2).  Hulle geloof was nie bloot woorde nie, maar ook in hul voorbeeldige lewens te bespeur.  Hulle was ʼn kolonie van God op aarde met vreemdelingstatus.  Hulle het ander kultuur- en lewenswaardes as hul gasheerland gehad en ʼn eiesoortige leefstyl wat hulle van die res van die burgers onderskei het.

Hulle is tweedens Christene genoem omdat hulle met mense oor die verlossing in Christus Jesus gepraat het.   Hulle het altyd eerste met die Jode gepraat omdat hulle die OT geken en die koms van die Messias verwag het.  Hulle het egter ook teenoor Grieke, Romeine en ander volke getuig.  Christenskap was nie ʼn ontvlugting van die wêreld nie, maar eerder ʼn intense betrokkenheid daarby.

Derdens is die gelowiges in Antiochië Christene genoem omdat hulle ʼn sigbare eenheid was.  Daarom is die meervoudvorm gebruik – Christene.   Hulle het bymekaar gestaan, opofferings gemaak en beproewings gedeel, dinge wat hulle in ʼn hegte eenheid saamgesnoer het.  Christene is saamgesnoerde gelowiges.  Daarom bely ons dat ons aan die gemeenskap van die gelowiges glo.

Vierdens is die gelowiges in Antiochië Christene genoem omdat hulle van God se genade geleef het.   Dit het selfs vir Barnabas tydens sy besoek aan Antiochië opgeval:  “Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly” (:23).  Vir hierdie gelowiges was Christendom nie ʼn idee wat in die lug gehang het nie. Hulle het met hul voete stewig op die grond gestaan en in die rigting van die hemel geloop vir almal om te sien.

God het vir hulle talle deure oopgemaak wat toe was.  Ons dink aan Christus se bemoedigende woorde aan Filadelfia: “Dit sê die Heilig .... wat die sleutels van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie "(Openb.3:7).  Christene is sprekende toonbeelde van genade.  “....My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring...” (2 Kor.12:9).

Laastens is gelowiges in Antiochië Christene genoem omdat hulle met die werk van Christus volhard het.  In Hand.13 ontmoet ons dieselfde gemeente, hierdie keer met vyf leraars van wie twee spesifiek vir sendingwerk afgesonder is nl. Paulus en Barnabas.   Hulle stuur die bestes die oesland van die Here in.

Kom ons vra weer die vraag: Wat is ʼn Christen?   Dieselfde eienskappe wat die gelowiges in Antiochië onderskei het, geld nog steeds.   Kom ons toets ons eie lewe en kyk hoeveel uit vyf ons reg het.

Eerstens moet ons kragtens die wedergeboorte en bekering aan Christus verbonde wees. “.... Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3).  Jy kan sonder gesondheid, rykdom, geleerdheid of vriende hemel toe gaan, maar nie sonder Christus nie.   Dis ʼn ononderhandelbare vereiste!

Tweedens moet ons in vrymoedig met mense oor die dinge van Christus kan praat.  “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ʼn krag van God tot redding vir elkeen wat glo .....“ (Rom.1:17).  Christene is die kragdraad en God die elektriese stroom.  Hulle is slegs van waarde indien die stroom deur hulle kan vloei.

Daarom bly ʼn Christen nie stil as die geleentheid hom voordoen om te getuig of te waarsku nie.  Jesus waarsku: “Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele” (Mark.8:38).   Onthou: Christene word heiliges genoem vir hul heiligheid, gelowiges vir hul geloof, broeders en susters vir hul onderlinge liefde en dissipels vir hul kennis van die Woord van God.

Derdens moet ons eensgesind wees sodat dit vir almal duidelik kan wees dat ons ʼn geestelike eenheid is. “...maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin” (Fil.2:2).  Christene is soos ʼn bondel stokke wat saamgebind is.  As een aan die brand gesteek word, raak dit ook die ander.  Daarom skryf Paulus aan die Galasiërs: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus”. Christene is vir gemeenskapslewe bestem.  In hierdie opsig sou miere baie goeie Christene uitgemaak het omdat hulle gemeenskapsbelange bo eie belang stel.

Vierdens moet ons soos bedelaars in die geloof leef en op God se voorsiening vertrou: “ Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.  Kwel julle dus nie oor more nie...” (Mt.6:33,34).   Geloof is kinderlike afhanklikheid van die Vader.

Die eerste Christene het geweet dat wat ook al in die toekoms vir hulle voorgelê het, God daar was om hulle te help.   Hoeveel te meer nie ons nie?  Geloof is ʼn vertroue in Christus en ʼn gebondenheid aan sy wil.

Vyfdens moet ons net die beste vir Jesus gee, want net ons beste is goed genoeg vir Hom.

Het jy jou getoets?  Ek wil nie weet hoeveel uit vyf jy gekry het nie.  Jy is aan God alleen ʼn antwoord verskuldig.

Amen!