...DAN SAL ONS ONS BEKEER
Ds Andrè van den Berg
“Bekeer ons tot U, Here, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd” - Klaagl.5:21
Daar is niks so hartseer as om in tye van swaarkry na die goeie ou dae terug te verlang nie, veral as jy weet dat die swaarkry nie jou eie skuld is nie. Dit het met Juda gebeur. Jeremia het die onaangename taak gehad om Juda 40 jaar lank te waarsku dat God hulle gaan straf. En toe hulle nie wou luister nie, was God se geduld met hulle op en het Hy hulle met die Babiloniërs as tugroede in sy hand ʼn loesing gegee. Jerusalem is in Augustus 586vC, hierdie maand presies 2,600 jaar gelede, platgeslaan en baie van die inwoners in ballingskap weggevoer. In Klaagliedere huil Jeremia oor die verwoesting van hierdie eens glorieryke stad.
Die val van Jerusalem het met ongekende barbaarsheid en geweld gepaard gegaan. Mense is doodgemaak en vroue en dogters verkrag: “Hulle het vroue in Sion onteer, jonkvroue in die stede van Juda” (Klaagl.5:11). Jeremia brei in hartverskeurende besonderhede op die dodelike gevolgedaarvan uit: “My oë is gedaan van huil.... my moed is gebreek.... kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad. Hulle soek by hulle moeders iets om te eet en te drink. In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hul moeders blaas hulle die asem uit. Wat kan ek vir jou sê.. .. Wie se lyding kan ek vir jou noem dat ek jou daardeur kan troos, Sion?” (Klaagl.2:11-13 NAV).
God het Juda geskok! Hulle het onwrikbaar daarin geglo dat Hy hulle as volk sou beskerm want hulle was immers sy volk. Juda het vas geglo dat God die tempel sou beskerm want dit was immers sy huis. Hulle het vas geglo dat God Jerusalem sou beskerm want dit was immers sy stad. Dis mos waaroor sy verbond met Abraham, Moses en Dawid gegaan het. Waar het dit hulle nou gelaat – geen volk, geen stad, geen vryheid, geen toekoms nie!
Die vroeë rabbi’s het Klaagliedere “ ʼn harde gehuil” genoem omdat Jeremia reg van die begin af tot aan die einde huil: ”Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ʼn weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword” (1:1). Die laaste hoofstuk begin met die woorde: “Dink, Here, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad” (5:1).
Jeremia som Juda se smaad as volg op: “Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders” (:2). “Ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in” (:4). “Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun word” (:5) “Knegte heers oor ons...” (:8) “Met lewensgevaar bring ons ons brood in...”(:9). “... en seuns struikel onder die drag hout (:13). “Die kroon van ons hoof het geval...” (:16). Klink dit nie vir u bekend nie? Die ooreenkomste tussen die Boerevolk en Juda is net te opvallend om geminag te word!
Jeremia het geweet dat Juda nie self na God sou terugkeer nie. Daarom spreek hy in die teksvers ʼn magtige versugting vir ʼn ingrypende volksommekeer teenoor God uit “Bekeer ons tot U, Here, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd” (:21). Hy bid God om die eerste skuif in Juda se bekering te maak. Juda sou uit haar eie uit nie terugkeer nie. Die profeet het nie moed opgegee nie. Hy het egter geweet en God daarvoor vertrou dat so ʼn volksommekeer net van Hom sou kom. Dis waar my vertroue ook lê; as God my volk nie tot Hom laat terugkeer nie, sal hulle dit nie uit hul eie doen nie.
Jeremia het geweet oor die aarde aan God behoort, Hy die land aan Juda kon teruggee indien sy haar bekeer. “...en (as) my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron.7:14). Die klem val op die woord bekeer, net soos die teksvers: “Bekeer ons tot U, Here, dan sal ons ons bekeer....”
Bekering beteken om te verander. Het jy nie al gewens dat jy jouself kon verander nie? Dit sou wonderlik wees om jouself soos ʼn sywurm in ʼn kokon te kon toespin totdat ʼn pragtige vlinder daaruit kom. Dis ongelukkig onmoontlik. Jeremia sê dat net so min as wat ʼn luiperd sy kolle kan verander, ʼn mens sy eie natuur kan verander (Jer.13:23). En dit skep ʼn probleem – indien ons nie verander (bekeer) nie, is ons in die moeilikheid, want die bekering is ʼn vereiste om God op aarde te behaag sowel as om die hemel te beêrwe.
Om vir ewig saam met God in die hemel te kan bly, moet jy verander terwyl jy lewe. Dis ʼn vereiste uit Jesus se eie mond: “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3).
Bekering is ʼn geestelike herontwerp wat met ʼn verandering van die menslike natuur begin. Die Heidelbergse Kategismus sê tereg dat die mens van nature geneig is om God en sy medemens te haat. Met so 'n natuur kan geen mens hemel toe gaan nie. Dit moet verander word. Die mens moet uit die kokon van sonde breek. Die wurm moet ʼn vlinder word; geestelike metamorfose.
Die Bybel sê dat die mensdom onder die mag van sonde is. Maar wat is sonde? Ons is geneig om te oppervlakkig aan sonde dink as dinge wat ons verkeerd doen en waarvoor ons gestraf sal word. Nee, die wortel van sonde is die mens se selfsugtige begeertes. En selfsug die beheptheid om net jou eie begeertes te wil bevredig. Dit was Juda se probleem. Daarom het sy haar nie aan God se waarskuwings gesteur nie. Selfsug veroorsaak stryd, verwydering en uiteindelik vervreemding. Indien hierdie drang in ons nie verander nie, gaan die Boerevolk niks verander nie.
Die mensdom het nie beheer oor sy eie natuur nie al is hy hoe beroemd of ryk. Kyk maar wat gebeur in Hollywood - ten spyte van al die plastiese chirurgie val rolprentsterre se verhoudings uit mekaar. Eintlik kan ons relatief min aan ons selfsug doen. Dis ingebore. Ons het geen plan of raad daarmee nie.
God het wel ʼn plan; iets wat net Hy kan doen. Hy het die mens nie aan sy eie lot oorgelaat nie, maar tree uit eie inisiatief op om die mens van sy selfsugtige begeertes te bevry. Daarom het Hy vir Abraham geroep en in hom die nasies van die aarde geseën. Die Bybel vertel hoe God hierdie verbond keer op keer vernuwe tot Hy op die laaste sy eniggebore Seun as liefdesoffer gee. Die allerhoogste God het sy allerkosbaarste besitting gegee toe Christus die allerlaagste dood aan ʼn kruis gesterf het! Met hierdie kruisiging het God ons menslike selfsug aan bande gelê en ons die kans op ʼn nuwe toekoms gegee.
Om nuut te word, moet ek my selfsug prysgee. Elke keer as ek God nader, moet ek my selfsug kruisig en in ʼn nuwe lewe opstaan. Ek moet bid: “Bekeer my Here sodat ek my kan bekeer”. Dit was dan ook die bede van Jeremia vir sy volk. Bekering het vernuwingskrag.
Ons volk is soos ‘n Juda van ouds in ‘n lelike doodloopstraat. Positief beskou, is ‘n doodloopstraat natuurlik die beste plek vir ‘n volk om òm te draai. Jeremia kon hom so maklik in Juda se ellende verlustig het: “Ja, ek het mos vir julle gesê, maar julle wou nie hoor nie. Nou kan julle maar voel!” Nee, hierdie man van God se gees was te edel om sy volk te verwyt en sy volksliefde te groot om hulle te verdoem. Hy is ʼn voorbeeld vir elkeen van ons.
Mag ons soos ʼn Jeremia van ouds altyd met ʼn liefde vir God en ons volk besiel wees. Kom ons bid baie ernstig tot God om ons volk tot Hom te bekeer sodat hierdie ballingskap van onreg, korrupsie en geweld wat ons al meer as 20 jaar lank teister ten einde kan kom en die stem van ʼn volk wat hom tot Jesus Christus bekeer het in die wêreld gehoor sal word!
Amen!