JAAG WEG DIE SLAAP...

...OF STAAN OP UIT DIE DODE

Ds Andrè van den Berg

“... Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” - Openb.3:1                                     

Jy is in ʼn woestyn verlore.  Dis ondraaglik warm en jy wil van dors omkom.  Dit kan jou laaste dag op aarde wees.  Die dood wink.   Dan is daar ʼn verweerde teken: Waterput twee kilometer.   Met jou laaste kragte bereik jy hierdie put en laat die emmer sak.  In plaas van die geluid van water onder in die put te hoor, is daar net ʼn dowwe geluid as die emmer droë grond onder in die put tref.

Dis hoe baie mense al by kerke aangekom het met die hoop om lewende water te vind en dan net stof te kry.  ʼn Put sonder water is ʼn put van die dood.   En dit was wat met die gemeente in Sardis besig was om te gebeur.  Hierdie gemeente het die karakter van die stad waarin sy haar bevind het aangeneem.   Sardis het ʼn trotse verlede gehad.  Maar dit was ongelukkig al waarop sy haar kon beroem.   Vir alle praktiese redes was hierdie stad geestelik dood.

Die gemeente was soos die stad – sy het soos ʼn hittemeter Sardis se temperatuur gemeet  i.p.v. soos ʼn termostaat (hitte gewer) die temperatuur te verander.  Sy het gemeet i.p.v. te verander!   Die inwoners van Sardis was lui, onsimpatiek en tevrede met hulself.  So ook die gemeente.   Daarom het Christus geen goeie woord vir hulle nie, slegs goeie raad.   Let saam met my op sy woorde/raad aan hierdie sterwende gemeente as Hy ʼn geestelike lykskouing op hulle doen en laat ons almal kennis neem en uit Sardis se foute leer.

Die sewe Geeste dui op die volle bediening van die Heilige Gees en herinner elke gemeente dat sy nie op grond van menslike vermoë, goeie leierskap of knap organisasie nie, maar met die krag van die Heilige Gees hoogtes bereik.  ʼn Gemeente wat aan Christus toegewy is, vind in Hom alles wat hul bediening suksesvol maak.  En dis ʼn boodskap wat moderne kerke vandag so nodig het.  Mense probeer elke metode onder die son om ʼn suksesvolle bediening daar te stel, terwyl al die krag wat hulle nodig het in die Heilige Gees en die Woord van God tot elke gemeente se beskikking is.   Ons benodig nie nuwe metodes nie, maar ʼn nuwe begeerte om die volheid van die Heilige Gees te vind en alles volgens die Bybel se leer te doen.

Jesus sê vir die gemeente in Sardis hulle dat Hy hulle werke ken (:1).  As God is Hy alwetend en weet wat ons doen en die ware redes waarom ons dit doen.  Christus het geen goeie woord vir Sardis se werke nie, maar veroordeel alles nie sonder meer nie.   Sardis het soos ʼn lewendige gemeente voorgekom – hulle was baie besig, hardwerkend en het ʼn goeie naam onder die inwoners gehad. Hulle het goeie dade onder die inwoners verrig en was besige mense. Ander wat na hierdie gemeente kyk sou sê dat hulle aan die brand was.

Dit was alles oëverblindery!   Toe die groot Geneesheer sy vinder op die pos van die gemeente gesit het, het Hy hulle dood verklaar!  Dit het nie saak gemaak wat ander gedink het nie, Jesus het die waarheid geken.   Soos wat ʼn dooie mens geen lewe meer in hom het nie, het die gemeente ook nie meer geestelik lewe gehad nie.  Dit het haar oneffektief gemaak.  Daar was lewe, maar dit was nie van geestelike aard nie.    Hulle was aan die gang, maar dit het niks van ewigheidswaarde opgelewer nie.   Die leraar het gepreek maar lewens het nie verander en sondaars nie tot bekering gekom nie.  Hulle optrede was vleeslik en nie geestelik energie nie!

Die inwoners van Sardis het na die gemeente gekyk en as ʼn lewende gemeente  geag.  Christus het na hulle gekyk en hulle dood verklaar!  Voorkoms kan misleidend wees!  Let op die diere in ʼn museum – hulle lyk lewendig maar is dood.  Die wêreld is gevul met namaaksels van omtrent alles wat leef!

ʼn Dooie gemeente roem graag op haar verlede en is tevrede met die status quo.  Sy hou haar eerder met rituele en formaliteite as met geestelike dinge besig.  Sy is ook meer oor sosiale veranderinge begaan as om mense deur die krag van God te sien verander.  Sy is meer oor stoflike as geestelike groei besorg en wil eerder mense as God tevrede stel.   Dit maak dat sulke gemeentes/kerke God se Woord versaak en gruwels goedpraat.

Die gemeente in Sardis het geen geestelike groei getoon nie.  En groei is tog so onontbeerlik.   Dink daaraan: Alles wat lewe word deur een ding gekenmerk – groei.  So lank as wat ons in ons liggame is, leef ons.  As hierdie lewe ophou, sterf ons.   So ook ʼn gemeente.   Ongelukkig is dit waar dat as mense aan groei in ʼn gemeente dink, hulle in terme van getalle dink.  Nee, die primêre groei is geestelike groei. ʼn Gemeente wat groei, ontwikkel geestelik.  As dit stop, gaan hierdie gemeente agteruit en sterf kort voor lank.

Paulus skryf aan die Korintiërs en sê dat ʼn gemeente soos ʼn liggaam werk.  Enige liggaam wat probleme opdoen, beteken dat daar iewers ʼn disharmonie is. Kanker is ʼn goeie voorbeeld hiervan.    Sekere liggaamselle verander en val ook ander selle aan.   As dit nie gekeer word nie, is die dood onafwendbaar.   So ook ʼn gemeente.  As dit gesond is, heers daar harmonie, indien dit ontbreek, is dit siek en selfs sterwend!

Nog ʼn teken van lewe is beweging.   Fisiese liggame is liggame in beweging.  ʼn Gebrek aan beweging is ʼn duidelike teken van dood.   So ook ʼn gemeente.  As daar beweging is, is daar lewe.   Hoe lyk ons vir God?  Vertoon ons tekens van lewe of van dood?

Die groot Geneesheer voorsien elke sterwende gemeente van ʼn voorskrif ten einde die dood te voorkom.  Alhoewel die gemeente in Sardis in ʼn tragiese staat van verval verkeer het, was alles darem nie verlore nie.   Daar was nog hoop.  Hulle moes enkele veranderings aanbring en soos die Verlore Seun na hul hemelse Vader terugkeer.  Christus sê vir Sardis: “Wees wakker...” (:2).  Die Griekse woord wat hier gebruik word, beteken om die slaap weg te jaag.   Die gemeente het ʼn mooi verlede gehad.  Ongelukkig het die suksesse van die verlede hulle in ʼn geestelike gemaksone laat verval.  Sardis het geestelike vaak geword en ingesluimer.  Christus roep hulle op om hierdie slaap weg te jaag.

Wat met die gemeente in Sardis gebeur het, gebeur so maklik met kerke in die algemeen.  ʼn Gemeente sal aan die begin met ʼn handjievol mense worstel om aan die gang te kom en kop bo water hou.   Met verloop van tyd sluit daar meer mense aan en is daar meer geld, geboue ens.  Dan gebeur dit dat die gemeente daardie visie wat hulle in vroeë jare so sterk gemaak het, verloor en is hulle tevrede om terug te sit en die vrugte van hul arbeid te geniet.   Dis ʼn voorskrif vir die dood!

ʼn Gemeente moet nooit in sy verlede vasval nie.  Dit moet altyd vorentoe kyk. Tevredenheid baar altyd ʼn verlies aan vurigheid.   Christus gaan verder en sê vir Sardis om te werk en gee hulle vier dinge om te doen.  Hierdie vier dinge sal  elke gemeente wat aan die slaap is, help om lewend te word.

Eerstens sê Christus: “...versterk die wat oorbly”  Dit sê dat nie almal in Sardis dooie lidmate is nie.   Daar is van hulle wat nog die vonk van lewe in hul het.  Hulle moet bygebring word voordat hulle ook sterf.   Hulle klop as’t ware aan die deur van die dood!  Bring hulle by! (Engels: revive).

Tweedens sê Christus dat Hy hulle werke nie volkome gevind het nie.  Dit reik nie tot in die hemel nie.  Hulle het wel goeie dinge gedoen soos om te sing, te bid, te preek en offergawes te gee, maar dit het nie die hemel bereik en niks van ewigheidswaarde tot stand laat kom nie.   Dooie mense verrig dooie werke.  Dis moontlik om met die werke van God besig te wees sonder om die God van die werke te eer.

Derdens sê Christus vir hulle om te onthou hoe hulle die Evangelie ontvang het.  Hulle moes aan die dae toe die gemeente gestig is en hulle Christus met ʼn blye hart gedien het in herinnering roep.   Sulke gedagtes sou hulle tot ʼn ontwaking bring.   Sardis moes aan die dinge wat steeds lewend was, vashou en vertroetel.

Vierdens moes hulle hul bekeer deur sonde in hul midde op te ruim.  Sardis moes by ʼn punt kom waar hulle sê: Genoeg is genoeg!   Bekering beteken rigtingverandering.  Indien Sardis hul nie wou bekeer nie, sal Christus op hul afkom soos ʼn dief.  Niemand weet watter uur ʼn dief toeslaan nie.  God sal dit wat nog lewend is, kom wegneem!

Christus kom ook met beloftes.   Daar was in Sardis ʼn aantal gelowiges wat Hom opreg gedien het.   Hulle word wit klere belowe sodat hulle saam met God sal wandel.   Dis hulle wat aan die waarheid vasgehou het.  Hulle name is in die boek van die lewe en Christus sal hulle voor God bely.

Die meerderheid lidmate in Sardis was nie bloot koud of uit voeling met Christus nie, maar verlore.  Dit was dooie sondaars met ʼn behoefte aan redding.   Jesus gee hulle die geleentheid om gered te word.   ʼn Gemeente in hierdie toestand het nie herlewing nodig nie maar eerder ʼn opstanding uit die dode!

Die groot Geneesheer lê ook sy vinger op die pols van hierdie gemeente.  En wie is die gemeente?  Ek en jy!   Voel jy sy vinger op jou pols?   Wat dink jy voel Hy; lewe of dood?