NOG NIE TE LAAT NIE...

MAAR DOEN DIT NOU!

Ds Andrè van den Berg

“.... Menere, wat moet ek doen om gered te word?  Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” - Hand.16:30 -31                           

Daar is geen wonderliker ervaring as redding nie.  Jy beland in ʼn situasie wat jou lewe gaan kos.  God gryp in en jy bly lewe.   Baie mense was al in so ʼn situasie.  Jare gelede was daar ʼn program op radio Death touched my shoulder; gedramatiseerde verhale van mense wat noue ontkomings met die dood gehad het - mense wat in skeepsongelukke, brandgevare en fratsongelukke was en  teen alle verwagting in oorleef het.  Ja, hoe soet is so ʼn ervaring nie!

Een redding staan egter kop en skouers bo die ander uit – die redding van die ewige dood.   Ons is almal bestem om ʼn fisiese dood te sterf; die loon van die sonde.   Gelowiges sterf egter net eenmaal; ongelowiges twee maal.  Almal wie se name nie in die boek van die lewe staan nie, beland in die hel (ewige dood).

Maar wat is geestelike redding in werklikheid?   Die verlossing van die liefde vir sonde.  Ons word gered van die gewoonte om te sondig.  Ons word  nuwe mense met geen behoefte om weer te sondig nie: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).   En as ons sondig, maak dit so seer dat ons dit dadelik berouvol bely: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe....” (1 Joh.1:9).

Geen mens word gered deur iets vir Christus te doen nie, maar om iets te ontvang.  Die tronkbewaarder van Filippi het gedink dat hy iets  moet doen/gee. “.... Menere, wat moet ek doen om gered te word?”  In die afgodsdienste word aanhangers gevra om iets te gee.  Islam vra van aanhangers om hul seuns vir Allah te laat sterf (heilige oorlog).   Hulle moet gee/opoffer.

Goddank dat God nie so iets van ons vra nie.  Daarvoor het Hy sy Seun vir ons laat sterf!  Ons hoef nie vir God iets te gee alvorens Hy vir ons iets gee nie.  Hy het eerste gegee – sy eie Seun.   Gevolglik is Jesus die A tot die Z van ons reddingsalfabet!

Geen mens kan homself red nie.  Die tronkbewaarder van Filippi besef dit as hy bewend voor Paulus en Silas neerval.   Ware redding kom slegs van Christus.   Dit kan ook nie anders nie; ewige redding moet van ʼn ewige God kom en nie van ʼn afgod nie!

Die Christelike verlossingsleer verskil ingrypend van ander godsdienste wat verlossing na prestasie verkondig.   Afgode volg as’t ware menslike prestasies met teenprestasies op.   Daarom vra die bewaarder, ʼn aanhanger van die Griekse veelgodedom, wat hy moet doen?   Vir Christus kan jy niks doen nie, omdat Hy alreeds die nodige vir jou gedoen het.   Al wat jy kan/moet doen, is om deur die bekering sy soenverdienste vir jouself toe te eien.  “Dankie, Here, dat U ook vir my sonde gesterf het”.

Jesus red ons nie in ons sonde nie maar van ons sonde.  As jy siek is en doktertoe gaan, sal jy hom mos nie vra om jou gesond te maak maar nogtans so ʼn bietjie van jou koors te laat behou nie.   Nee, jy wil van alles ontslae raak.  So werk dit ook met sonde - dit maak jou siel siek.  Redding is om van alle sonde by die hemelse Geneesheer ontslae te raak!

Baie mense het weinig begrip vir die heilsfeit dat Christus sy bloed vir sondaars gestort en plaasvervangend vir sondaars gesterf het.   Dis tog so eenvoudig om te verstaan, desnieteenstaande vind dit in baie mense se harte geen ingang nie omdat hulle toelaat dat Satan dit verhoed.

Ons leef nie elke dag op dieselfde geestelike hoogte nie.  Soms is ons geestelike brandstof maar baie laag en voel dit asof ons in die doderyk afdaal.  Dawid skryf in sy benoudheid:  “Bande van die dood het my omring, en strome van onheil het my oorval” (Ps.18:5).

Dit maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie; as kind van God moet jy weet dat jy nooit in die donker wêreld van veroordeeldes sal beland nie.   Die Bose mag jou vreugde of jou liggaam skaad, maar nooit jou siel nie!   Jy mag selfs vir jou geloof vervolg word en soos Paulus en Silas in die gevangenis beland.  Troos jou daaraan dat jy nooit in die gevangenis van die veroordeeldes sal beland nie.  Jy sal graf toe gaan, maar nooit hel toe nie!

Die redding van die siel is en bly die grootste van al die wonders; geharde sondaars soos Paulus wat tot bekering kom en ʼn kragtige werktuig in God se hand word.  Ná hom was daar duisende soortgelykes; mense wat ergerlike lewens gely en toe deur die werking van die Gees handomkeer verander het.

Alles aan redding is groot – Jesus is ʼn groot Verlosser wat die grootste sondaar van die grootste sonde kan verlos.  Sy verlossing het egter ʼn groot prys gekos, Sy lewe.  Daar gaan ook aan die einde van alle tye ʼn groot einde aan God se groot verlossingsplan kom.  Die Bybel is vol groot beloftes wat op een ding afstuur – die groot heerlikheid wat aan die einde aan God toegebring gaan word.

As jy eenmaal saligmakend tot bekering gekom het, is jy vir altyd gered.  As  Christus jou vind, kan jy nooit verlore raak nie.  Jy mag ongehoorsaam of  afvallig raak, maar nooit van God se genade verval nie.   Die Heilige Gees sal jou op ʼn stadium terugbring.   Is dit nie wonderlik nie – jy verloor nooit die saligmakende redding nie.  En dis die kruks van die leer van die uitverkiesing.

Laat ons maar baie versigtig in ons oordeel wees - moet nooit iemand afskryf as te sleg om gered te word nie.   Geen hart is so hard dat God dit nie kan sag maak nie.   Jy kan so ver van God wees dat jy soos die moordenaar aan die kruis feitlik in die poort van die hel staan en nogtans gered word.  Wie sou een sent op hierdie man se bekering verwed het?    Mense het hom 100% afgeskryf.  Desondanks het Jesus hom in een oomblik van die poorte van die hel weggeruk en in die paradys te lande laat kom.  Geen mens is ooit vir Jesus te ver om gered te word nie!

Mense sê so dikwels: “Ek is ʼn te groot sondaar en het net te veel sondes om gered te kan word” Dink hulle dat Jesus deur groot of baie sondes afgeskrik word?   Onthou, Hy is ʼn groot Verlosser en het genoegsaam bloed vir alle sondaars gestort.

Baie keer sê iemand dat hy nie verlos voel nie.  Beoordeel Jesus mense dan op grond van gevoelens en gemoedstemminge?  Allermins!  Al wat Hy vra, is: “Wend julle tot My en laat julle red...” (Jes.45:22).   Wie die minste reg vir redding voel, is die gereedste daarvoor!   Redding lê nie op die pad van eie vermoë soos die tronkbewaarder van Filippi gedink het nie, maar juis op die pad van die mens se onvermoë.

Baie mens voel dat die kwade al so ʼn houvas op hul verkry het dat daar niks  goeds meer in hulle is nie.   Dis nie waar nie.  In Jesus is elke goeie ding wat vir so ʼn mens se redding nodig is.   Ander sê weer dat hulle God se wet so vertrap het, dat  hulle vir ewig vuil voel.  Dis geen rede waarom hulle nie tot bekering kan kom nie.  Jesus se bloed reinig elke sondaar voldoende!  1 Joh.1:9 sê dat Hy ons van alle ongeregtigheid reinig!

Baie mense sê weer: “Ek leef te ergerlik.  Dis onmoontlik dat ek gered kan word”  Wel, gee Jesus die kans om die onmoontlike reg te kry.  Hy het nog altyd daarin geslaag!  Jesus word juis deur die redding van ergerlike mense verheerlik. “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk.19:10).

Jesus wys geen mens wat na Hom soek ooit weg nie.  Ons het een van die Bybel se wonderlikste beloftes uit Jesus se eie mond in hierdie verband: “Al wat die Vader My gee sal na my toe kom en Ek sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).

Dit maak nie saak wat jou verskoning om nie tot bekering te kan kom ook al is nie, geeneen daarvan is waterdig nie.   Jy hoef nie met allerhande goeie werke en mooi godsdienstige vertoon jouself vir Jesus aanvaarbaar te maak nie.  Kom soos jy is.  Dit was immers die raad van Paulus en Silas aan die tronkbewaarder.   Hierdie man moes net kom.  En hy het, waarná sy siel met die nuwe lewe in Christus opgebruis het toe hy en sy hele huisgesin daardie nag tot bekering gekom het. Almal van hulle is op hierdie oomblik saam met Jesus in die Paradys.

As jy nog nooit tot bekering gekom het nie, doen dit nou, voordat dit vir ewig en altyd te laat is.  Ons kan die lewe nie van vooraf begin nie.   Ons kan slegs deur die bekering ʼn ander eindbestemming bereik.  Ja, een enkele besluit maak die verskil tussen hemel en hel.

As jy net geestelik veragter het en opnuut van jou redding verseker wil wees, moet jy Hom wat dood was en lewendig geword het vra om jou ook geestelik te laat opstaan.    As jy egter in die verkeerde rigting beweeg, moet jy onthou dat God u-draaie toelaat.  Ware bekering is nooit te laat nie!

Amen!