Ds Andrè van den Berg
“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak” -Joh.8:32
Jesus het baie dinge tydens sy aardse bediening gesê en gedoen wat nie vir ons in die Bybel opgeteken is nie. Dit sou eenvoudig net te veel gewees het. Die laaste vers van die Johannes Evangelie lui: “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het. Maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie ...” (21:25). Baie van Jesus se woorde en dade is wel in die Bybel opgeteken waarvan Joh.8:32 seker een van die bekendste en belangrikste is: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak”.
Joh.8:32 is ongelukkig ook een van die Bybeltekste wat graag deur politici in hul stryd vir die bevryding van sogenaamde politieke onderdrukking en aanverwante sake aangehaal word. Nodeloos om te sê, word dit in al die gevalle uit verband aangehaal en misbruik om politieke sake soos bv. die vryheid van spraak en ʼn vrye pers as die wil van God op te hemel. Joh.8:32 het absoluut niks daarmee te doen nie!
Al het die Jode in Palestina destyds onder die Romeinse juk gebuk gegaan, was onderdrukking alles behalwe wat Jesus in die oog gehad het toe Hy hierdie uitspraak gemaak het. Dit het oor ʼn baie ernstiger saak as aardse dinge gegaan. Jesus het oor geestelike vryheid gepraat; die grootste gawe van God aan die mens waaraan ons tydens Advent dink. Wie hierdie waarheid insien en sy eie maak, beêrwe die hemel. En dis waaroor Jesus in Joh.8:31-36 met die Jode gepraat en hulle hom baie duidelik verkeerd verstaan het.
Die vryheid waarvan Jesus praat, is ʼn vryheid van sonde. Sonde plaas die mens as’t ware in ballingskap, ʼn begrip wat die Jode baie goed geken het. Hulle was immers twee maal in ballingskap weggevoer – Israel na Assirië en Juda na Babel. Daarbenewens was hul voorsate ook slawe in Egipte totdat Moses hulle uitgelei het.
Toe hulle Jesus in vers 33 antwoord dat hulle nog nooit slawediens (politieke onderdrukking) verrig het nie, was hul geheue maar baie kort. Onthou hulle dan nie Egipte en die ballingskappe nie? En hul huidige situasie? Was hulle nie aan Rome onderdanig nie!
In vers 34 maak Jesus dit duidelik wat Hy met slawediens bedoel: “Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ʼn dienskneg van die sonde is”. Die slawerny waarvan Hy praat, is gebondenheid aan sonde. Sonde is soos boeie. Niemand in boeie is vry nie.
Jesus het met sy dood en opstanding hierdie boeie ontsluit soos Jesaja lank voor Jesus se geboorte voorspel het: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ʼn blye boodskap te bring aan die ootmoediges. Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ʼn vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis” (61:1).
Alle mense is van nature deur sonde geboei: “...want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom.3:23). Johannes skryf: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie” (1 Joh.1:8). Hierdie sonde het ʼn geweldige mag oor mense soos wat slawerny het. “Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ʼn dienskneg van die sonde is”(:34).
In Rom.7 skryf Paulus: “Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie. Maar wat ek haat, dit doen ek ... Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon... Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood” (:15,17.24).
Geestelike slawerny is baie erger as politieke onderdrukking omdat politieke slawerny van buite, maar geestelike slawerny binne-in die mens setel. Daar is ʼn baie groot verskil tussen ʼn hou wat met ʼn sweep toegedien is en om kanker onderlede te hê. Die een kom van buite en die een van binne. Die mens kan vryheid van onderdrukking bied. Net Christus kan vryheid van geestelike slawerny bied.
Die Jode het geestelike bevryding nie nodig geag nie omdat hulle geglo het dat hulle outomaties op grond van hul afstamming gered word. Daarom sê hulle vir Jesus: “... ons is die geslag van Abraham...” Dis mos vanselfsprekend dat hulle hemeltoe sal gaan; altans, so het hulle gedink en geglo! Al bevryding waarna hulle gesmag het, was politieke vryheid - vry van die Romeinse juk. Die waarheid het anders geklink - sonder die redding in Christus gaan alle mense, ook Jode, verlore. Dis die waarheid wat die Jode moes insien, maar nie ingesien het nie. En dit het hulle die hemel laat mis – sonder die bekering, sonder hemel!
Jesus het aarde toe gekom om die gevangenes van die Satan (sonde) vry te laat deur sy bloed vir hulle te stort. En dis waaraan ons in Adventstyd moet dink; Jesus het sondaars kom loskoop. “Want dit is my bloed; die bloed van die nuwe testament wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sonde” (Mt.26:28). Ons is nie vry om te sondig nie, maar juis vrygemaak om nie daardeur gebind te word nie. Geen mens is vry as hy ʼn slaaf van die vlees is nie.
Paulus skryf aan die Efesiërs: ” In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade...” (Efes.1:7). Hy skryf ook aan die gelowiges in Rome: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood” (Rom.8:1,2).
Dit bly die grootste wonder en waarheid vir elke mens: God het mens kom word en met Christus vir ons sonde gesterf sodat ons van ons boeie ontslae kan raak en uit die gevangenis van Satan kan stap.
Dis die hart van die Kersverhaal. Wat maak ons in hierdie dae daarmee? Geniet dit oor die Kerstyd en vergeet dit na Nuwejaar? Nee, ons het ʼn baie duidelike opdrag in die Bybel wat om met hierdie boodskap/waarheid te doen: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mt.28:19).
Die geestelike vrymaking is ’n pakket wat ook verantwoordelikhede en gevolge insluit. Vryheid en verantwoordelikheid gaan hand aan hand. Wie geen verantwoordelikheid aanvaar nie, is nooit vry nie. Ja, vryheid sonder verantwoordelikheid is soos ʼn boom sonder wortels – dit val om.
Die mens is slegs in Christus waarlik vry. Hy is die bron van ware vryheid. Die hele wêreld moet hierdie waarheid hoor en weer hoor en weer hoor. Die groot waarheid mag nie uit die hart wyk nie. Die uitvoering van hierdie opdrag behoort vir elke ware gelowige louter vreugde te wees. Maar dan moet ons baie seker wees dat onsself deur Jesus vrygemaak is. Slegs diegene wat deur Hom vrygemaak is, kan Kersfees na reg vier en die salige betekenis daarvan waardeer. Ware vryheid is die gevolg van die regte keuse.
Amen