Ds Andrè van den Berg
“En Ek sal vir hom wees, spreek die Here, ʼn vurige muur rondom en tot heerlikheid daarbinne” - Sag.2:5
Dis vandag Geloftedag. Vir baie ontspoorde volksgenote wat hulle buite die dampkring van hul eie volk bevind, is dit Versoeningsdag. Hulle ag hul nie aan 'n gelofte wat 176 jaar gelede gemaak is gebonde nie. Geloftedag skyn vir hulle rassisties te wees, pas nie by die gees van versoening nie en is derhalwe polities inkorrek. Ja, volk- en landsgenote verskil soms groot van mekaar!
Ons gaan kyk vanoggend wat werklik op daardie Sondag 16 Desember 1838 in Natal gebeur het en wat spesifiek aanleiding tot hierdie geskiedkundige gebeure in ons volkslewe gegee het dat ons dit nog steeds jaarliks herdenk.
Die Zoeloevolk was eeue lank in Natal, maar het eers met die opkoms van die grootste van die Zoeloekonings, Shaka, op die kaart verskyn. Hy is destyds die Swart Napoleon genoem omdat hy met sy nuwe wapen oor al die stamme van Suider Afrika geloop en derduisende lyke agtergelaat het. Shaka was die eerste om die steek-assegaai as aanvalswapen te gebruik. Hy het sy krygers gedwing om kaalvoet te veg sodat hulle voete hard kon word. Hy het hulle selfs op skerp dorings laat dans en as een van hulle pyn vertoon het, hom onmiddellik laat doodmaak. In sy strewe na oppermag is groot dele van die land verwoes en onbewoon agtergelaat nadat sy impi’s daar deurgetrek het.
Op 22 September 1828 is Shaka deur sy twee broers, Dingaan en Mhlangana, vermoor. Kort daarna het Dingaan ook Mlangana vermoor asook enige ander moontlike mededinger sodat hy alleen kon heers. Daarna het hy hom in uMgungundlovo met 300 vroue in ʼn luilekker lewe gevestig. Tien jaar later, op 6 Februarie 1838, het hy Piet Retief en sy manskappe wat met hom 'n grondkontrak wou sluit, koelbloedig vermoor. Kort daarna het die Bloukransmoord plaasgevind waar talle vrouens en kinders wreedaardig uitgemoor is.
Met hierdie wreedhede as agtergrond het Andries Pretorius sy Wenkommando saamgestel om teen Dingaan op te tree. Op Sondag 9 Desember van daardie jaar het oudl. Sarel Cilliers, die geestelike leier van die groep, die erediens vanaf ʼn kanonwa gelei en 'n plegtige gelofte voorgestel:
" My broers en landgenote, op hierdie oomblik staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om 'n belofte te maak. Indien Hy met ons is en ons beskerm en nie aan die vyand oorlewer nie sodat ons oor hulle kan triomfeer; dan sal ons jaarliks hierdie dag en datum eer en herdenk as Dankdag en Sondag tot sy eer. Ons sal ons kinders en kindskinders hieroor inlig dat hulle deel van hierdie gelofte is ter herinnering aan ons nageslag. Indien enigeen 'n probleem hiermee het, laat hom dan nou van hierdie plek wegdraai. Die eer van sy Naam sal hierdeur met vreugde verhoog word en aan Hom kom toe die eer en heerlikheid vir die oorwinning.".
Daar was, interessant genoeg, ook talle Engelse vrywilligers saam met hulle wat die gelofte afgelê het. Daarna is dit elke aand tydens die gebruiklike aandgodsdiens herhaal.
Op 15 Desember het twee Boereverspieders alarm gemaak toe hulle 'n reuse Zoeloe impi oppad gewaar het - tussen 15,000 en 20,000 krygers. Tot op daardie stadium was hierdie Zoeloemag nog nooit verslaan nie.
Die 464 Voortrekkermans het hulle 64 waens in 'n semi-sirkel getrek en op 'n strategiese plek tussen die Buffels- en Ncome-riviere aanmekaar vasgebind. Daardie aand het hulle lanterns aan sweepstokke rondom die laer laat skyn om nie onverhoeds betrap te word nie. Dit was 'n pikdonker, maanlose nag met 'n miskombers wat laag oor die laer gehang het. Sarel Cilliers het vir oulaas die aandgodsdiens gelei, die Gelofte laat herhaal en 'n paar Psalms gesing.
Intussen het die Zoeloemag nader gesluip en ongeveer 40 meter van die laer af in die pikdonker op die dagbreek gesit en wag. In die mistigheid het die spookagtige gloed van die swaaiende lanterns en vreemde sang hulle bang gemaak. Toe die miskombers op Sondagoggend 16 Desember lig, het hulle aangeval en het die geveg losgebreek. Na 'n bloedige geveg wat die hele dag geduur het, het die magtige Zoeloeleër vir die eerste keer in hul geskiedenis op die vlug geslaan!
Dis die bekende sy van die geskiedenis. Daar is egter ook 'n ander sy wat ons maar net in verwondering na die Almagtige God kan laat opkyk, want dit kan nie anders as ʼn hemelse ingryping verklaar word nie! Dit word vertel dat dit die week voor 16 Desember baie gereën het. Indien dit op daardie Sondag steeds gereën het, sou dit vir die Voortrekkers 'n groot probleem gewees het omdat hulle met voorlaaiers geskiet het en die reën die kruit sou laat nat word en die gewere nie vuur nie. Sondag 16 Desember was 'n helder sonskyndag. Was dit toevallig? Vir seker nie! God het dit so beskik!
Jare gelede is daar 'n baie insiggewende studie gemaak van die dinge wat agter die skerms van die slag by Bloedrivier gebeur het. Daar is onderhoude gevoer met Zoeloes wie se voorouers die slag oorleef het. Volgens hulle wou die ou manne nie die aanval loots nie omdat hulle aangevoel het dat dit ʼn baie groot fout sou wees. Die jong Zoeloes het egter daarop aangedring en daar is voortgegaan. Van die ou ringkoppe het onttrek en op 'n koppie daar naby gaan sit. Toe die geveg uitbreek, het 'n koeël tussen hierdie ou manne in die as geval. Hulle het dit as 'n teken van Bo beskou en die teken dat hulle reg was om nie aan die geveg deel te neem nie. Hulle het ook erken dat die gloed wat die nag om die laer gehang het saam met die spookagtige sang van die Voortrekkers, die Zoeloemag ontsenu het.
Die ergste was egter dit wat 'n ou Zoeloe in 1947 tydens 'n radio onderhoud vertel het. Sy oupa het hom vertel dat die Boere leuenaars was. Daar was nie net 464 manskappe in die veglaer nie, maar sommer baie meer. Hulle het met hulle eie oë gesien hoe daar ʼn horde van reuse soldate in wit klere rondom die laer was wat die Zoeloes verhoed het om die laer binne te kom! Hulle wou weet wie hierdie mense was!
Luister na God se belofte in Ps.91:“Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ʼn skild en ʼn pantser. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag... vir die pes wat in die donker wandel ... Geen onheil sal jou tref... want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë...” (3-6,10,11)
16 Desember het egter 'n baie dieper betekenis as net 'n veldslag wat met God se hulp gewen is. Voor hierdie slag was daar ten spyte van Britse en Amerikaanse sendelinge wat sedert 1820 onder die Zoeloes begin werk het, geen rekord van enige Zoeloe-bekeerlinge tot die Christendom nie. As gevolg van die Zoeloes se ontsettende vrees vir voorvadergeeste, toordokters en konings was die arbeid van die buitelandse sendelinge vrugteloos.
Gevolglik was 16 Desember ook die begin van die geestelike bevryding van die Zoeloes. Baie van hulle wat uit vrees vir die koning weggekruip het, het na vore gekom waarna vrugbare geestelike werk onder hulle begin het. Daar is later ook 'n sendingstasie en kerk binne sig van die plek waar Retief en sy manne vermoor is, gebou. Later is daar ook 'n skool vir blindes en 'n opleidingskollege vir evangeliste opgerig waarna die Evangelie soos 'n veldbrand onder die Zoeloes versprei het. Gevolglik was 16 Desember nie net vir die Voortrekkers 'n keerpunt in hul geskiedenis nie, maar ook vir die Zoeloes. Vir baie wat die ewige verderf sou beêrwe, was 16 Desember 1838 die begin van ʼn nuwe lewe met Christus. Is dit nie al klaar genoeg rede om Geloftedag te vier nie?
Die boodskap van Geloftedag is helder en duidelik - God skaar Hom by sy kinders. In die OT lees ons telkens hoedat God in die lewe van Israel ingegryp en hulle van vyande gered het. Sagaria leer ons iets hiervan. Hierdie profeet van God tree in ʼn baie moeilike tyd van Israel se geskiedenis op. Ná die bevryding uit die Babiloniese ballingskap was daar ʼn onverkwiklike tweespalt. Die teruggekeerdes wou die verwoeste mure van Jerusalem herbou terwyl die plaaslike Samaritane (verbasterde Jode) en hul simpatiseerders dit probeer verhoed het. Op ʼn stadium het die teenstanders dit wat die Jode in die dag opgebou het, in die nag afbreek. Dit het Nehemia genoodsaak om die rasegte Jode te bewapen.
Dit het op ʼn stadium so sleg gegaan, dat die bouery gestaak is. En dit het die Jode se moed gebreek. Was alles dan verniet? Waarom het hulle vrygeraak? Dan stuur God die profeet Sagaria met ʼn boodskap – Hy sal hulle bewaar! Hoe? Soos met ʼn bewaringsvuur. Hy gooi ʼn muur van vuur rondom hulle; presies wat Hy baie eeue later in Natal vir die Voortrekkers sou doen. As God ingryp, staan geen vyand ʼn kat se kans nie!
Sag.2:5 is metaforiese spraakgebruik. “En Ek sal vir hom wees, spreek die Here, ʼn vurige muur rondom en tot heerlikheid daarbinne”. Hierdie muur van vuur is eerstens ʼn verdediging teen kwaaddoeners. Hoe het die Voortrekkers hierdie waarheid nie beleef nie!
Daarbenewens bewaar ʼn muur van vuur mense in die oop veld teen wilde diere. So bewaar God sy kinders in ʼn godvyandige wêreld. Ons is elke dag van vyande en teenstanders omring. Dawid vergelyk sy teenstanders met wilde diere: “As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet.....” (Ps.27:2). Christus sê vir die gelowiges in Filadelfia: “Kyk, Ek het voor jou ʼn geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie” (Openb.3:8). Wat God oopmaak, kan niemand sluit en wat Hy sluit, kan niemand oopmaak nie! “.... Die bewaarder van Israel sluimer of slaap nie” (Ps.121).
Die muur van vuur is vervolgens ook ʼn verskrikking vir die vyand. Hoe verskriklik was God se muur van vuur nie rondom Israel tydens die laaste plaag toe die doodsengel die eersgeborenes in Egipte besoek het nie! God se vyand kom nie skotvry van hul booshede af nie. Daar kom ʼn dag dat God hulle klok lui! “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb.10:31).
Die muur van vuur gee laastens ook warmte. “.... en tot heerlikheid daarbinne”. God se kinders ervaar onderlinge warmte as dit koud word om hulle. Sarel Cilliers en sy manskappe het dit elke aand in die laer ervaar! God het die Jode destyds van die vyand verlos sodat nie net die stadsmuur maar ook die tempel in Jerusalem herbou is.
Ek glo met my hele hart dat God ons volk op sy tyd van die verderf van die heidendom sal verlos. Ons voel soms om soos Habakuk uit te roep: “Hoe lank nog, Here?” ʼn Boereprofeet het baie jare gelede gesien dat God ons van hierdie teistering gaan verlos. God straf, maar laat vaar nooit die werke van sy hande nie! Hy gaan weer, soos by Bloedrivier, kragtig in ons geskiedenis ingryp! Wat staan ons intussen te doen? Om geestelik laer te trek. Laat ons gees te edel wees om die volksvyand te bevoordeel en ons volksliefde te groot om ons volk te skaad.
Ek sluit af met die woorde van Garibaldi aan sy soldate: “Ek kan jou nie vergoed of van voedsel voorsien nie. Al wat ek jou kan aanbied, is honger, dors, stryd en die dood. Volg my dus net as jy jou land met jou hart en nie met jou lewe liefhet nie!”
Amen!