BESIT JY GOD SE GESKENK?

Ds Andrè van den Berg

Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die Here” - Jes.55:8

In Desember 1980 gly Danie Kritzinger op Hutchinson-stasie (Karoo) tussen ʼn trein en die platvorm in en sterf op slag.  Hy was die enigste seun van ʼn boer van Joubertina en ʼn jongman wat sy teologiese studie pas voltooi en ʼn beroep na Port Elizabeth Wes aanvaar het.  Danie sou die volgende maand trou.   Tragies, nie waar nie?  Baie van u sal ook vir Sarel Bezuidenhout, een van ons eie lidmate hier in Moot-Sentraal, onthou wat in Januarie 1998 aan die begin van sy finale jaar aan ons Teologiese Akademie in ʼn motorongeluk oorlede is – slegs 28 jaar oud.

Waarom gebeur sulke dinge?   Gelowiges moet aanvaar dat alles wat in die lewe met hul gebeur, God se wil is, al is dit ook hoe moeilik.  Ons sou eerder wou hê dat God gelowiges met lang lewens beloon en goddelose met ʼn vroeë dood.  Dit werk egter nie so nie.

In die gelese gedeelte het Juda ʼn probleem met God en is op daardie stadium in ballingskap.  Hoe kon God dit toegelaat het?   Was hulle nie dan sy volk nie?   Hulle het erken dat hulle gesondig het, maar die straf het nie by die oortreding gepas nie; altans, so het hulle geredeneer.   Dit was te swaar!   Daarom het hulle die afleiding gemaak dat God hulle verlaat het.  Jesaja stel dit reg: “Soek die Here terwyl Hy te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes.55:6).   God is nie weg nie, maar naby.  Dit was vir hulle bietjie te dik vir ʼn daler om te glo!

Die bannelinge het geglo dat God met die wegvoering na Babel in Jerusalem agter gebly het.  In hierdie opsig het hulle net soos die heidene gedink dat gode lokaal gebonde was;  dat gode nie in ander lande aktief is nie, slegs in die eie. Daarom was Esegiël verruk toe God homself in Babel, 800km verder, aan hom openbaar en hy die alomteenwoordigheid van God opnuut ontdek!

Juda het tot God om uitkoms gebid. Wat moes hulle doen om vryheid te verkry?  God het gehoor en die resep vir herstel deur Jesaja aan hul bekend gemaak.  “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldig” (:7).   Juda moes twee dinge doen: Los die verkeerde dinge, keer in berou na God terug en Hy sal hulle vry maak.

Juda het gehoor maar nie geluister nie.  Hulle wou dinge vir hulself probeer uitklaar en geglo dat as hulle hard probeer, hulle God se weë sou verstaan en weet hoe om self uit die gemors te kom.   Dit was alles tevergeefs want niemand kan God verstaan nie.  Paulus skryf tereg dat ons met die dinge van God soos ʼn spieël in ʼn raaisel sien.   Ons het egter die versekering dat ons met die wederkoms van Christus alles sal verstaan wanneer ons in die Nuwe Jerusalem tot die volle kennis van God kom; nie op die aarde nie. “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die Here”.

In Gen.33 worstel Jakob een nag met God.  Dis so sprekend van die mens wat deur die eeue met God worstel.  Waarom die gedurige geworstel?  Omdat die mens God wil begryp.  Is dit moontlik?   Nee, anders sou die mens self God wees!  En om dit te verhoed, het God iets met die mens gedoen sodat hy God nooit in der ewigheid sou begryp nie, iets wat ek met u wil deel.

Die mens probeer God begryp.  Die woord begryp beteken om met die verstand ʼn greep te verkry.  As ek met my verstand ʼn greep verkry, verstaan ek dit - ek weet hoe dit werk.   Die voorwerp is aan my verstand onderworpe.  Ek het dit baasgeraak.

Om te sê dat jy God begryp, is om Hom aan jou verstand ondergeskik te maak.  Is dit moontlik?  Nee, nooit nie!  Luister wat skryf Dawid: “Here, U deurgrond en ken my.  U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.  U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.  Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie” (Ps.139).

Ek sal met my menslike verstand nooit ʼn greep op God verkry en Hom begryp nie, al bestudeer ek die Bybel lewenslank.  Waarom nie?  Omdat God, om dit te verhoed, ons verstand ingebind het.  Hoe het Hy dit gedoen?  Hy het die mens se verstand aan twee faktore onderwerp – tyd en ruimte (vorm).   Ek kan geen gedagte vorm wat nie tyd-ruimtelik is nie.   Dink nou aan iets.  Sien jy dit in die dag of nag?  Hier is tyd ter sprake!    Die tweede inbinding is ruimte (vorm).  Jy kan aan niks dink wat nie vorm het nie.  Die mens dink tyd-ruimtelik.  God het ons verstande so gegiet.

In die dae van weermagopleiding het die weermag-owerheid ʼn apparaat in die weermagvragmotors ingebou sodat dit nie vinniger as 70km per uur kon ry en die jong soldate dit flenters ry nie.    Dis ʼn governor genoem.   So het die alwyse God ook in sy voorsienigheid menslike verstande ingebind dat hulle nie hul perke sou oorskry nie.

Dit wat in terme van tyd en ruimte waargeneem word, sê ons: DIT BESTAAN.  Alles wat op aarde bestaan, word aan tyd en ruimte gekenmerk; mense, diere, plante ens.  En alles wat bestaan het ʼn begin en ʼn einde.   Het God miskien ʼn begin en ʼn einde?    Nee; daarom bestaan God nie.   Hy is immers die Skepper van tyd en ruimte en sal Hom mos nie aan sy eie skepping onderwerp nie!  Hoe moet ons dan oor God praat?  Hy is tog nie afwesig nie?    Die Bybel leer ons:

Ex.3 vertel die verhaal van die roeping van Moses om die volk Israel uit Egipte te lei.  Hulle was vir 400 jaar slawe en baie het niks meer van God geweet nie.  En dit was vir Moses ʼn probleem. “Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle vra my: Hoe is sy naam?  - wat moet ek hulle antwoord?   En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS....” (:13,14).

God bestaan nie; Hy ís.  Die woord is is los van tyd en ruimte.  Mense bestaan; God is.  Gevolglik kan ons met ons tyd-ruimtelike verstand God nooit begryp nie.  Daarom sê koning Dawid in Ps.139: “Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie”.

Waar laat dit ons?  Is ons godsdiens dan tevergeefs omdat ons God nie met die verstand kan begryp nie?   Nee, God het vir ons ʼn voertuig gegee waarmee ons Hom moet nader – die geloof.    Sonder die geloof is geen verhouding met God moontlik nie en sonder ʼn persoonlike verhouding met Hom ook nie die ewige lewe nie.   Geloof is ʼn gawe van God en nie iets wat ek moet opwek nie.

Geloof is ʼn geskenk wat God gee as iemand Hom daarna vra: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Mt.7:11).    Maar, baie belangrik - Hy gee net as jy vra.  As jy nie vra nie, gee Hy nie. God gee aan sommige gelowiges meer as aan ander omdat hulle meer vra.

Hoe lyk hierdie voertuig wat ons met God verbind?  “Die geloof dan is ʼn vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ʼn bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb.11:1).  Geloof is ʼn kennis wat binne in die hart maar buite die bereik van bewyse lê. Geloof is vertroue.   God moenie begryp nie maar vertrou word.

Dis belangrik dat ʼn mens die regte voertuig het om  ʼn sekere bestemming te bereik.  As jy bv. na die eiland St. Helena wil reis, sal dit nie help om dit met ʼn 4X4 voertuig te probeer bereik nie.  Jy sal ʼn vaartuig nodig hê.   Die regte voertuig vir die regte bestemming!

Geloof is die enigste voertuig tussen God en ons.  Nie net bring dit gemoedsrus in hierdie lewe nie, maar verseker ons van iets veel groter en wonderliker as wat  ooit op aarde beleef kan word – as ek met my dood ophou bestaan, IS ek, vir ewig en altyd.  In daardie opsig is ek dan net soos God wat nie aan tyd of ruimte gebonde is nie.

Geloof  bou ʼn brug van hierdie wêreld na die volgende.  Daar is geen ander voertuig na die Nuwe Jerusalem as geloof nie.  Jy gaan met geen ander plaasvervanger jou ewige bestemming bereik nie.  Net geloof.  En hierdie geloof is nie blinde vertroue nie, maar 'n saligmakende geloof wat uit 'n persoonlike verhouding met Christus spruit.

Hierdie geloof is die grootste geskenk wat God aan ʼn mens gee.  Maar dan moet jy dit bewustelik wil hê.  En om die ontvangs daarvan moontlik te maak, het Hy sy Seun aarde toe gestuur om vir sondaars te sterf.   Dis Advent, ʼn tyd van geskenke gee.  Het jy God se geskenk?

Amen!