"LAAT STAAN EN WEET DAT EK GOD IS..."
Ds Andrè van den Berg
"Wat die nuwe jaar vir ons inhou, weet ons nie. Al sal ons God se weë in hierdie jaar nie verstaan nie, moet ons aanhou glo..."
Baie mense weet nie dat Moses ook ʼn Psalm geskryf het nie - Ps.90. In hierdie oudste van al die Psalms betreur Moses die kortstondigheid van die lewe. In vers 9 skryf hy: “ ... ons bring ons jare deur soos ʼn gedagte”. Hoe waar is dit nie! Die grootste probleem met die lewe is dat daar soveel mooi dinge is om te doen, maar so min tyd.
Elke jaar loop vinniger as die vorige, veral as jy ouer word. In hierdie opsig laat die lewe ʼn mens baie aan ʼn rolletjie papier dink – hoe nader aan die einde, hoe vinniger loop dit. God gee die lewe eenmalig aan ons. Ons glo nie soos die Hindoes aan reïnkarnasie nie. Nee, ons leef net een maal. Gevolglik is die lewe soos ʼn valskermsprong, jy moet dit die eerste keer regkry. Daar is nie ʼn tweede kans nie.
Vir sommige was 2014 ʼn goeie jaar; vir ander alles behalwe goed.
Sommige wou soos die profeet Elia onder ʼn besembos gaan lê en sterf. Tog het ons met God se genade deur hierdie jaar gekom omdat God sy kinders help. Luister wat sê Jesus vir Petrus: “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie” (Luk.22:31,32). Jesus tree vir gelowiges by God in.Ons sal nie anders as deur die geloof in Christus in krisisse staande bly nie. Sonder geloof kan niemand God behaag nie en hierdie geloof is ʼn gawe van God waarvoor ons Hom moet bid. Dit bepaal uiteraard waar ons die ewigheid gaan deurbring – hemel of hel. Anders gestel: Die lewe gee jou die kans om jou siel vir die ewigheid voor te berei.
Dit maak nie saak hoe lank ons op die aarde gaan leef nie, ons moet ons vir iets baie groter as ʼn aardse bestaan voorberei. Die lewe is slegs ʼn proeflopie. Hoe ons dit leef, bepaal ons ewige verblyfplek. Gevolglik is die aardse nie iets waaraan jy soos ʼn drenkeling aan ʼn reddingsboei moet vaskleef nie. Daar wag vir hom wat Christus as Verlosser leer ken het iets wonderliker!
God leer sy kinders om in hul krisisuur aan Hom vas te hou. As dit met hul aardse lewe goed gaan, dank hulle God daarvoor en as dit met hul sleg gaan, bid hulle Hom vir uitkoms of deursettingsvermoë.
God ken ons soos ons is. Luister wat skryf koning Dawid:
“Here, U deurgrond en ken. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagtes.... en U is met al my weë goed bekend” (Ps.139). God weet wat die beste vir sy kinders is. Ons toekoms lê oop en bloot voor Hom omdat Hy hoog sit en alles van bo af besigtig en bestuur. Ons kyk plat en grondlangs; net dit wat voor ons is. God sien baie beter omdat Hy verder sien. Paulus skryf:
“Want nou sien ons soos ʼn spieël in ʼn raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig....” ( 1 Kor.13:12).
As die lewe ons lewensbootjie skud, het ons slegs geloof as anker. En dis nie blinde vertroue nie, maar die saligmakende geloof in Jesus Christus. Hierdie geloofsanker sorg dat ons lewensbootjie nie in die storms van die lewe vergaan nie en gee ons terselfdertyd geloofspiere. Koning Dawid skryf:
“Want met U loop ek ʼn bende storm en met my God spring ek oor ʼn muur” (Ps.18:30).
Ons geloofspiere het gereelde oefening nodig. Soos wat ʼn gespierde liggaam bewondering afdwing, so ook geloofspiere. Ek het al dikwels gelowiges ontmoet wat in 'n groot krisis staande gebly vir geen ander rede dat hulle geloof gehou het nie.
Daar is strenggesproke geen geheim aan ’n goeie lewe nie. Mense moet net reg kies want as jy nie reg lewe nie, kan jy ook nie reg sterf nie. Per slot van sake gaan dit nie oor hoe jy doodgaan nie, maar hoe jy leef! En hierdie lewe is dikwels vol beproewings en struikelblokke.
Petrus skryf in sy eerste Sendbrief dat gelowiges bly moet wees as daar beproewings op hul lewenspad kom. Soos wat swaar gewigte nie maklik is om in ʼn oefensaal mee te werk nie, maar goed is vir die spierbou, so is beproewinge ook goed vir die siel. Dit maak ons geestelik sterker.
God het ʼn doel met beproewinge in gelowiges se lewe. Wanneer ʼn violis die snare van sy instrument styf draai, doen hy dit nie om dit te breek nie, maar om die beste klank daaruit voort te bring. Dis hoe God ook dikwels met sy kinders tewerkgaan om die beste geloofsnote uit ons te kry!
God is egter ʼn Vader wat vir sy kinders lief is en hulle ook dikwels met die goeie in die lewe pamperlang. Ps.46:12 sê dat God goed is vir sy kinders en hulle op die lewenspad bewaar. Soos ʼn goeie instrukteur maak Hy soms verstellings aan ons geloofspatroon deur ons met swaarder gewigte te laat oefen. Daarom is die beste lewenslesse dié wat op die harde manier geleer word.
God weet egter ook wie swaarder gewigte kan dra en wie nie. Hy gee sy kinders nooit ʼn kruis wat te swaar is om te dra nie.
“Hy sal sy kudde laat wei soos ʼn herder; Hy sal die lammers in sy arms vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei” (Jes.40:11).
Lewenskrisisse veredel ons geloof. As God ʼn spesifieke doel met iemand het, slyp Hy hom vir ʼn taak. Soms gaan so ʼn persoon, soos Job, deur diep water om sy geloof te slyp. Hy kom egter altyd sterker uit die branding.
“Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien” (Job.42:5).
Job het geweet dat hy in sy beproewing nooit alleen was nie. God se belofte aan die ballinge in Babel is ook ʼn belofte aan al sy kinders:
“As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nooit oorstroom nie” (Jes.43:2).
Lyding het ook Paulus se geestelike lewe veredel. Net na sy bekering sê Christus vir Ananias in ʼn gesig:
“... hy is vir My ʼn uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel, want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Hand.9:15). Volgens oorlewering is Paulus weens sy getuienis van Christus in Rome onthoof.
In hierdie veredeling van die geloof laat God soms die Satan toe om gelowiges te teister, maar net tot op ʼn punt. Satan wou Job baie graag doodmaak, maar God het dit nie toegelaat nie. Hy kon hom slegs teister.
Gelowiges besef dikwels nie hoe naby God aan hulle in tye van nood is nie. In Luk.24 loop twee diep ontroerde gelowiges terug na Emmaus. Hulle is baie bedruk omdat hulle die kruisiging en Jesus se dood aanskou het. Dan loop Hy skielik reg langs hulle, ja, so naby dat hulle aan Hom kan vat, maar hulle herken Hom nie. Dis so sprekend van die mens in nood– Jesus is by hulle, maar hulle bemerk dit nie.
Ons verstaan nie altyd God se weë met ons nie omdat sy weë nie ons weë is nie: Salomo gebruik twee voorbeelde om dit te verduidelik:
“Soos jy nie weet wat die weg van die wind is, of hoe die gebeente in die skoot van ʼn swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat alles doen nie” (Pred.11:5).
Wat die nuwe jaar vir ons inhou, weet ons nie. Al sal ons God se weë in hierdie jaar nie verstaan nie, moet ons aanhou glo want ons kyk plat - soos ʼn spieël in ʼn raaisel. Maar daar sal ʼn dag kom wanneer God ons sal optel om alles te sien en te verstaan – dis ʼn belofte. Wat staan ons intussen te doen? “Laat staan en weet dat Ek God is ...”
Amen