...MET JOU SKOONHEID
Ds Andrè van den Berg
“Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ʼn sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God” - 1 Pet.3:3,4 .
Paulus skryf aan die Efesiërs dat gelowiges elke dag stryd ervaar: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes.6:12). Ja, daar is ʼn oorlog aan die gang tussen Satan en sy magte aan die een kant en God en sy getroue getuies aan die ander kant. Hierdie oorlog is in werklikheid alreeds deur God gewen; ʼn oorwinning wat behaal is toe Jesus uit die graf opgestaan en die dood oorwin het. Satan het dit nie verwag nie! En omdat hy weet dat hy hierdie oorwinning nie meer kan keer nie, voer hy ʼn terroriste-oorlog met oneindig baie skade.
Baie jare gelede het ʼn sendeling in die Amasonegebied gewerk.
Toe hy eendag by sy hut kom, was daar ʼn reuse slang daarin. Hy het dit ʼn kopskoot gegee en na buite gehardloop. Na ʼn paar minute se geraas was alles stil. Binne-in die hut was dit chaos soos wat die slang in sy laaste stuiptrekkings tekere gegaan het. Dis ook hoe Satan werk – hy het alreeds die doodskoot gekry, maar veroorsaak nog groot skade met sy laaste stuiptrekkings.Satan val die mens se lewensterreine aan, veral die huwelik omdat dit die hoeksteen van ʼn samelewing is. Hy probeer om dit te vernietig of te skaad en gaan op verskeie maniere te werk. Homoseksualisme is een van sy gruwelikste aanvalswapens wat tans skrikwekkende afmetinge in ons land aanneem.
Ek wil egter by die rol van die vrou in die samelewing stilstaan omdat daar ʼn kommerwekkende agteruitgang in die openbare rol van die vrou is wat God en die samelewing nie tot eer strek nie.
Satan probeer die mens selde oortuig dat die Woord van God nie waar is nie. Nee, hy saai eerder twyfel sodat mense aan die waarheid van die Woord moet begin twyfel. Dis wat met Eva in die tuin van Eden gebeur het. Satan het ʼn bespotting van God se wil gemaak toe hy vir Eva gevra het of die mens werklik sou sterf indien hy van die verbode boom eet? Satan saai twyfel in God se Woord; presies wat hy met die rolle van man en vrou in die huwelik doen!
Wat trek mans vandag na vroue? Skoonheid, nie waar nie? Die getygolf van pornografie, onsedelikheid en bose kultuurgiere het ʼn ander omskrywing van skoonheid as die Woord van God. Vroulike skoonheid is nie meer wat dit was nie. In plaas van ʼn mooi glimlag, stralende oë en sagte liggaamstaal straal baie vrouens die teenoorgestelde beeld uit. Let op die mannekyne, sangeresse, danseresse, filmsterre - koue oë, strak gesigte, liederlike lyftaal, tatoeëring, metaalknoppies en slordig kleredrag. Hulle skok eerder. Desondanks dink van hulle dat hulle die bloudruk van vroulike skoonheid is!
Alles dui op ʼn onkunde oor die aard van ware vroulike skoonheid. God het die mens die gawe van sig gegee om die mooi dinge van die lewe raak te sien en te geniet. Ook ʼn mooi vrou. Haar karaktertrekke verskil egter baie van die van ʼn man omdat God dit so beskik het. Daarom druis homoseksualisme teen God se wil in en veroordeel die Bybel dit baie duidelik as ʼn gruwel in God se oog.
God praat telkens in sy Woord oor baie mooi vrouens. In Gen.12 lees ons van Sarai, die vrou van Abraham. Sy moes uitsonderlik mooi gewees het; beslis nie die vaal ou vroutjie wat haarself verwaarloos het nie. Tydens sy verblyf in Egipte het Abraham haar ter wille van lewensbehoud as sy suster voorgestel. Sy eie skoondogter, Rebekka, was net so ʼn mooi vrou: “En die dogter was baie mooi van aansien...” (Gen.24:16).
Die Bybel beskryf ook die uitsonderlike skoonheid van Ester: “... en die jongmeisie was skoon van gestalte en mooi van aansien... En Ester het guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het....” (Est.2:7,15). Daar word van koning Ahasveros gesê: “En die koning het Ester liefgekry meer as al die vroue, en sy het guns en welwillendheid voor hom gevind meer as al die jongmeisies; en hy het die koninklike kroon op haar hoof gesit en haar koningin gemaak....” (:17).
Ester was bekend vir haar buitengewone dog eenvoudige skoonheid. Al die vroue wat na koningin Vasti se afsetting meegeding het om koningin van Persië te word, het hulle opgesmuk om die koning se aandag te trek. Ester het min van hierdie dinge nodig gehad omdat haar natuurlike skoonheid die hart van die koning verower het.
Vroulike skoonheid het vandag spotgoedkoop geword soos dit maar in tye van geestelike verval gaan. Dit het met Israel gebeur: “Verder het die Here gesê: Omdat die dogters van Sion trots is en loop met uitgerekte nek en met die oë lok, wegstap met trippelgang en hulle voetringe laat rinkel” (Jes.3:16). Dit was niks anderste as wellus en verleidelikheid nie!
Om ʼn vrou na God se hart te wees, het niks met uiterlike skoonheid te doen nie. Skooneid is hoogstens ʼn bonus. Die teksverse kan sommige mense miskien laat voel dat die Bybel outyds is en dat dit vir daardie tyd gegeld het en vandag nie meer nie. Nee, dit geld steeds want dis in die Woord van God en die Woord van God geld vir alle mense van alle tye. “Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ʼn sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God”.
Petrus skryf hierdie brief in ʼn tyd toe die wêreld geen simpatie met die nuwe geloof in Christus gehad het nie. Die opdrag van Christus aan Christenvroue is: Maak julle mooi met ware versierings. Daaraan kon die vyandige wêreld sien dat Christenvrou anders as heidenvroue is. Hierdie opdrag geld steeds!
Uiterlike versiering is nie ware versiering nie. Dinge soos haarvlegtery, dra van goud en baie mooi klere is egter nie taboe vir Christenvroue nie. Goud is bv. iets baie mooi wat God gemaak het en die kundigheid om dit tot juweliersware te verwerk is ʼn gawe van God. Die bedoeling van ons teksverse is dat hierdie uiterlike dinge nie ʼn vrou se enigste versiering moet wees nie. Sodra hierdie dinge die nommer een in ʼn vrou se lewe word, werk sy met die verkeerde maatstawwe. Wie aandag probeer trek met eksotiese haarkapsels, duur juwele en gewaagde rokke probeer trek, het geen suiwere waardes nie.
ʼn Vrou se ware skoonheid lê in innerlike dinge soos ʼn sagmoedige, stil gees wat van nederigheid en beskeidenheid getuig. So ʼn vrou behandel haar medemens met sagtheid en is bereid om terug te staan. Hoe spreek so ʼn gees nie van rustigheid en bedaardheid nie! Dis nie onstuimig, opvlieënd en opstandig nie. So ʼn mens bring enige onrustigheid wat so maklik in menseverhoudinge inkruip tot bedaring.
Dis die teenoorgestelde met ʼn vrou wat baasspelerig is en alles wil oorneem. Dis ʼn ander leefstyl as wat die feminisme propageer en ʼn ander ingesteldheid as die selfregverdiging van ons tyd! Christenvroue moet hul met ʼn sagmoedige en stil gees mooi maak. Want dan kan jy soos Jesus selfs die verskriklikste onreg, stil verdra.
Innerlike versiering het groter waarde as die uiterlike omdat dit blywend van aard is. Uiterlike dinge kan verlore raak: die ouderdom kan haarversorging moeilik maak. Goud kan gesteel word. Mooi rokke kan uit die mode raak. Maar ʼn sagte en rustige innerlike nooit nie. Dis alles permanente versierings. God kyk nie na uiterlike versierings nie, maar na innerlikes. Hy kyk nie na hare, juwele en klere nie, maar na die gees – dit wat in die hart is.
Susters, is die balans in julle lewe reg? Hoeveel tyd, en geld spandeer jy aan uiterlike versiering en mooi klere en hoeveel aan die versiering van jou gees? Hoeveel tyd bring jy voor die spieël deur en hoeveel aan gebed vir ʼn mooi innerlike? Is jou balans reg? Versier jou met God se voorskrif. ʼn Vrou wat innerlik mooi is se skoonheid vergaan nooit nie. Ouderdom vat dit nie weg nie. En moenie sê dis ʼn oudtydse siening nie. Dis die taal van die toekoms. Verstom die wêreld met jou innerlike skoonheid en laat jou lig as Christenvrou so voor die mense skyn, dat hulle God daarvoor sal verheerlik!
Amen.