AS DIE DOOD WINK

En God sal al die trane van hul oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openb.21:4).

Jare gelede ry ʼn man en vrou êrens in Texas, en die kat wat saam met hulle in die motor was, spring ongesiens by ʼn venster uit.  Toe hulle dit heelwat later agterkom was dit reeds donker en ʼn soektog in die verlate landskap tevergeefs.  Hulle het toe maar aanvaar dat die kat weg of dood is.  Groot was hulle verbasing toe die kat ʼn week later gehawend en pootseer by hul huis opdaag!

“Hoe is dit moontlik dat die kat kon terugloop?” wou die eienaars by die veearts weet wat die kat ondersoek.
Ek weet regtig nie.  Al wat ek kan dink, is dat die kat net baie graag huistoe wou kom” was die antwoord. 
Watter gevare moes die arme kat nie trotseer om by sy huis uit te kom nie!  Maar hy het!  Daar het hy kos, vrede en baie liefde ontvang.

Al die gevare wat die kat op pad terug huistoe bedreig het, kon hom nie huistoe volg nie.   Hoe waar is dit nie ook van ons nie!   Die Bybel sê dat ons bywoners en vreemdelinge is (1 Pet.2:11).  Of ons oud of jonk is, ons is almal op ons laaste vaart en op pad terug huistoe.

Op pad terug huistoe is daar gevare langs die pad soos siekte, teleurstelling, wanhoop en ontnugtering om ʼn paar te noem.  Die rede hiervoor is dat Satan ons reis huiswaarts doelbewus bemoeilik om te verhoed dat ons by ons vaderhuis aankom.  Hy wil ons eerder saam met hom in die hel hê; nie vreugde nie, maar vlamme!

Openb.21:1-8 laat ons egter moed skep.  God gee aan gelowiges die wonderlike versekering dat al hierdie hindernisse ons nie huistoe sal volg en ons daar verder pla nie.    Soos met die verlore kat sal die reis verby wees waarna ons vir ewig in die vaderhuis met sy wonings, vrede en veiligheid in volmaaktheid sal verkeer.    Wat ʼn wonderlike versekering dat as ons son op die aarde ondergaan, dit in die ewigheid opgaan!  Daarom is gedagtes aan die hiernamaals die wonderlikste oefening vir die siel.

Die lewe is geen maneskyn en rose nie.  Ongunstige omstandighede kan ʼn mens soms so ontmoedig dat jy soos die profeet Elia onder ʼn besembos wil gaan lê en bid om eerder dood te gaan!   Gelukkig het gelowiges geen beproewing waarvan Jesus nie weet nie, maar moet ons soms eers deur diep water gaan voordat ons goeie dinge kan waardeer.  Gelukkig beloof die Bybel ons dat al die nare dinge wat ons op pad na die vaderhuis bedroef, eendag ten einde gaan kom.

Die lyding en beproewing op aarde vergelyk geensins met die vreugde wat vir gelowiges in die hemel wag nie.   Die pad van beproewing lei dikwels na ʼn paleis van heerlikheid.  Die lewe is soos fotografie – jy het die negatiewe nodig om te ontwikkel.

Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg  teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie”  (Rom.8:18). “Want ons ligte verdrukking wat vir ʼn oomblik is, bewerk vir ons ʼn alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor.4:17).   Daarom is die kosbaarste ding om in die lewe te verkry, die lewe sonder einde – die ewige lewe deur bekering.

Op pad na die vaderhuis sal ons baie sorge hê; alles eie aan ʼn sondige bestel.  “Die mens uit ʼn vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus” (Job.14:1).

Ronnie Belcher skryf: "Die lewe is soos ʼn een-ster hotel, kry nie altyd wat jy bestel”. Dis so waar!  Dinge verloop nie altyd soos wat jy beplan nie.  En dit baar sorge.   Geen mens reis ongedeerd deur die lewe nie.  Aan die einde van die reis kom baie gelowiges maar baie gehawend en pootseer by God aan!

Maar dan wag die hemel op hulle waar sorge en vyande ontbreek, veral die dood.  Ja, die dood is die mens se grootste vyand.   Die teksvers sê dat niemand in die hemel sterf nie.  Daar is geen pyn, lyding of grafte wat gegrawe word nie.   Niemand staan langs die liggaam van ʼn ontslape geliefde nie.  Alle hartseer is vir altyd verby!

En God sal al die trane van hul oë afvee....” (Openb.21:4).   Verby is die sorge van die lewe wat soveel trane laat vloei.   Daar is niks daarvan in die vaderhuis nie; ook geen pyn nie - geen hospitale, ouetehuise, gebroke huishoudings, gebroke harte of vervolging nie; slegs ʼn ewige heerlikheid.   Dit wat ons op aarde tot trane dryf, volg ons nie huistoe nie.

Openb.21:2 skets vir ons die stad van God (Nuwe Jerusalem).   Dit word deur almal wat tot bekering gekom het, bewoon: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh.5:24).

In die vaderhuis ontvang die inwoners verheerlikte liggame wat nie kan sondig nie.   Die vlees en al sy begeerlikhede ontbreek.   Ons kan ons nie indink hoe dit moet wees om in ʼn land en ʼn liggaam te leef wat vry van sonde is nie.  En dis nie wensdenkery.  Dis ons voorland!   Sal jy nie ook in so ʼn plek wil woon as jou lewe ten einde kom nie?   Om te sterf gaan vir gelowiges in werklikheid ʼn ongelooflike avontuur wees, maar vir ongelowiges ʼn ongekende droefheid, om nie eens van die verskrikking te praat nie!   Ja, daar is ʼn hartseer-nota aan hierdie salige boodskap – diegene wat nie tot bekering kom nie, sal toegang tot die stad geweier word.  Wat ʼn duur prys om vir onbekeerlikheid te betaal!

Samuel Morrison was ʼn Amerikaanse sendeling wat baie jare gelede na 25 jaar se sendingwerk in Afrika weens gesondheidsredes na die VSA moes terugkeer.  Hy was toevallig op dieselfde skip waarmee pres. Ted Roosevelt, wat vir drie weke in Afrika gaan jag het, teruggekeer het.    Duisende mense het Roosevelt in New York se hawe met vlae, baniere en musiek verwelkom.  Terwyl alle oë op die president was, het Morrison ongesiens tussen die skare verdwyn.  Hy was baie hartseer:
Ag, Here” het hy teleurgesteld gebid,  “...die president was vir drie weke in Afrika om diere dood te skiet en ek 25 jaar om siele te red.  En niemand weet eers dat ek hier is nie”. 
Toe sê die Gees vir hom: “Ja, maar jy is nog nie tuis nie!”

Daar gaan vir ons almal ’n nuwe jaar aanbreek waarvan ons die vorige jaar nie sal sien nie.   Moet jou egter nie oor aardse dinge bekommer nie.  Sorg dat jou siel gered is sodat jy tuis kan kom.   Die lewe gee jou die kans om jou siel vir die ewigheid voor te berei.   Beywer jou op aarde vir daardie dinge wat jou hemelwaarts wink.  Wie reg leef, sterf ook reg.

Ons het soos die Amerikaanse kat ook ʼn ingeboude hunkering huistoe.  Vir elkeen wat deur Jesus Christus vrede met sy hemelse Vader maak, is die hemel soos ʼn ouerhuis waarna hy verlang.   Daarom is daar in elke mens behoeftes wat nooit deur wêreldse dinge bevredig kan word nie want ons is vir ʼn ander lewe bestem.  Ons tuiste is in die hemel.  Ons toer slegs hier op aarde.

Smag jy werklik na jou hemelse huis?  Moet dan nooit die dood as ’n kwaad aan die einde van ’n goeie lewe sien nie.  Die dood is net ʼn ander lewe.  Doen derhalwe alles met die oog op iets meer as hierdie tydelike lewe.   Spandeer jou tyd aan iets wat langer as jou lewe gaan duur.