Ds Andrè van den Berg
“Want U is my rots en my bergvesting; en om u Naam ontwil sal U my lei en bestuur” - Ps.31:4
ʼn Mens kom soms by ʼn breekpunt in jou lewe waar jy vir jouself sê: “Dis nou genoeg. Ek kan nie meer nie!” Dink maar aan die profeet Elia onder die besembos. Dawid was op sy oudag ook by ʼn breekpunt toe sy eie seun Absalom ʼn burgerlike opstand teen sy vader se koningskap geloods het en Dawid vir sy lewe moes vlug. Voor hierdie gebeure was dit betreklik stil en rustig in Israel. God het menige vyand in hul hand gegee en Dawid se koningskap ryklik geseën sodat die volk se geestelike peil hoog was.
En toe verander alles eensklaps. Dawid moes in die onweer van burgeroorlog en verraad Jerusalem haastig verlaat. Ag, hoe het hy nie ʼn rustige oudag begeer nie! Toe hy jonk was, moes hy telkens vir koning Saul vlug. En nou vlug hy al weer.
Wanneer Dawid op moedverloor se vlakte kom, doen hy die regte ding – hy roep na God soos ʼn kind na sy vader. En God tel hom op.As God ʼn gelowige in die gees optel, kan niks hom keer nie. God verlos hom van die krisis en stap met hom die toekoms in. En dis hoe die geloofslewe werk; eers ontkoming dan beloning. “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Rom.8:28).
Jare gelede boer ʼn gelowige man op Makwassie met mielies. Hy delf ook vir diamante want dis diamantgebied. Een spesifieke jaar het hy so ʼn misoes dat bankrotskap hom in die gesig staar. Hy begin maar te delf; dag en nag, maar die grond lewer niks op nie. Sy koöperasieskuld hoop later so op dat die bank hom uitstel gee. Dan op ʼn dag ontvang hy ʼn laaste aanmaning - hy gaan sy plaas op ʼn sekere dag verloor. Daardie vorige dag delf hy tot sononder en haal, net voordat hy handdoek ingooi, ʼn nege karaat diamant uit. God het voorsien!
Baie mense voel op ʼn stadium van hul lewe of hulle iets kortkom, iets wat hul van ʼn sinvolle ontstaan ontneem en die lewe saai maak. Gelowiges wat dit beleef, kan met alles wat hul pla na God gaan want Hy kan, as dit in sy raadsplan is, iets daaraan doen. Hy luister na die stem van sy kinders.
Ps.40 is waarskynlik in dieselfde traumatiese tyd as Ps.31 geskryf. Vers 15 laat ʼn mens so dink: “Laat hulle wat my lewe soek, om dit weg te ruk, tesame beskaamd staan en rooi van skaamte word; laat hulle wat behae het in my onheil, agteruitwyk en in die skande kom”. En God het vir Dawid op sy tyd uitkoms gegee: “Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ʼn rots gestel...” (:2,3).
Terwyl Dawid vir sy lewe gevlug het, het hy soos een wat in ʼn modderpoel sonder vastrapplek wegsink gevoel. Soos wat hy al hoe dieper weggesink het, het hy geweet dat net God alleen hom kon optel. En op no.99 was God daar vir hom soos met daardie man wat die groot diamant by Makwassie gedelf het. Dawid sink nie meer nie want hy voel ʼn rots onder sy voete en wie op ʼn rots staan, kan nie sink nie veral nie as daardie rots Jesus Christus, die Rots van alle eeue, is nie. Jesus gee aan sy kinders vastrapplek in glibberige omstandighede.
Let op die teksvers: “Want U is my rots en my bergvesting; en om u Naam ontwil sal U my lei en bestuur”. Eers word God as ʼn rots geteken; die kleinste natuurlike skans waaragter gelowiges kan skuil. Daarna betoon God Hom nog groter - as ʼn bergvesting. Destyds is daar in bergagtige streke van rots ʼn muur om ʼn laer gebou. So ʼn rotsvaste verdedigingskwartier was baie moeilik deurdringbaar en is ʼn bergvesting genoem.
Die teksvers begin eers met iets klein, ʼn rots en daarna word dit groot; ʼn bergvesting. Dit gebeur ook aan die einde van die teks. “en om u Naam ontwil sal U my lei en bestuur” . Eers lei God sy kinders uit die moeilike situasie, dan word sy genadedaad groter wanneer Hy hulle op hul lewenspad lei. Eers rots dan bergvesting; eers lei, dan bestuur. Hoe stem dit nie met Ps.23:1 ooreen nie. Ons gaan niks kortkom nie omdat God ons Herder is!
ʼn Paar jaar gelede bel ʼn lidmaat my vir raad. Hy het ʼn familielid wat lotto speel en niks daarmee verkeerd sien nie. Hy wil hom graag reghelp. Het ek nie dalk vir hom ʼn teks nie? Op daardie oomblik gee die Gees van God my ʼn teks: “Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie” (Ps.23:1). Hoe stem dit nie met die teksvers saam nie – God lei en bestuur lewens. Wie vertroue in waagspel plaas, vertrou God uiteraard nie vir sy volle lewensonderhoud nie.
Wat sê Jesus oor ons lewe en die toekoms? “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor julle lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie, of oor julle liggaam – wat julle sal aantrek nie... Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie ... en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?" (Mt.6:25,26). Kommer oor die toekoms is ʼn mosie van wantroue in God!
Niks sal hierdie jaar vir ons so goed wees as om die wonder van God se vaderlike voorsiening in ons lewens raak te sien nie. Hy verlaat ons nie as dinge in ons lewe donker word nie; Hy is ʼn getroue herder wat sy skape nie in hul nood laat staan nie. Wie op God vir sy toekoms vertrou, ontdek dat God nie net saam met hom loop nie, maar ook vooruit. Ons moet net enduit volg al trek die onweerswolke hoe dreigend saam.
God praat gedurig met sy kinders oor dinge van die lewe – geloof, wysheid en volharding. Maar dan moet ons na sy stem luister. En waar vind ons dit anders as in sy Woord? As ons dit nie lees en/of bestudeer nie, sal ons nooit sy stem hoor nie. Die ander dilemma is dat sommige mense ophou Bybellees as dit donker in hul lewe word. Hoe kan jy dan God stem wat jy so nodig het, hoor? Goeie raad is: Hoe donkerder in jou lewe hoe getrouer lees jy die Bybel.
Gelowiges weet nie hoe werksaam God in hul lewens is nie. Die Bybel praat van meer as 50 handelinge van God onder mense. Kom ek noem net enkeles. God praat. “Verder het die Here met my gesprek en gesê...” (Jes.8:5). God roep ook na die mens. In 1 Sam.3:10 roep God na Samuel en hy antwoord: “Spreek want u kneg hoor...” God sien ook om na sy kinders: “Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar...” (2 Thess.3:3). God verlos en red ook sy kinders in moeilike tye: “En die Here sal my verlos van elke bose werk en my reg om in sy hemelse koninkryk in te gaan” (2 Tim.4:18). Voeg hierby ook God wat waak, seën, behoed, onderskraag, vergewe, heilig en nog vele meer, ja, meer as 50 handelinge.
Wat sê dit vir ons so vroeg in die nuwe jaar? Dat Hy met en voor ons is ongeag watter vrees en/of vertwyfeling jou beetpak. Van een ding kan ons seker wees – niks ontsnap God se allesoplettende oë nie. “Die Here is in sy heilige paleis; die troon van die Here is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders” (Ps.11:4).
God is in Christus Jesus handelend in ons lewe betrokke. Hy stap soos ʼn herder voor ons uit. Maar dan moet ons aanhou stap en geestelike uithouvermoë aan die dag lê. Onthou: Taai dinge hou nie vir altyd nie, maar wel taai mense!
Om geestelik uit te hou, is nie ’n lang reis nie, maar eerder ’n klomp korter tree na mekaar met die oog op Christus. “... die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof...” (Heb.12:2). Onthou: Hy is ʼn rots en ʼn bergvesting vir al sy kinders.
En as God dit bestem dat jy vanjaar deur die donker moet loop, moenie ophou loop voordat dit lig word nie. Mag God ons genade gee dat ons as kinders van die lig sal bly stap ongeag watter lig of skaduwee op ons lewenspad val.
Amen!