Ds Andrè van den Berg
" Net die bevryding in Christus sal Suid-Afrika omkeer en ons bitter siek land genees. Dit sal die einde van ʼn bose bedeling beteken waar vryheid en losbandigheid sinonieme geword het. Daar is nie ʼn pad na vryheid nie. Vryheid is die pad! Vryheid is nie ʼn stompsinnige politieke oorwinning wat jaarliks met ʼn openbare vakansiedag en opruiende toesprake gevier word nie. Dis ʼn konstante godvresende leefwyse. "
“...... en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” - 2 Kor.3:17
Afrika is mal oor vryheid; luister maar net na die dreunsang van sy gepeupel. Die ontworsteling aan koloniale gesag is juis met die slagspreuk Uhuru (vryheid) gevoer. Kenia se president het dit selfs as voornaam - Uhuru Kenyata. In 1955 het kommuniste ʼn Vryheidsmanifes (Freedom Charter) naby Johannesburg uitgereik wat later die grondslag van die NG Kerk se Kerk en Samelewing publikasie sou word. Ja, Afrika is versot op vryheid sonder om te weet wat dit is. Mense met vryheid op die lippe maar geen vrede in die hart nie, sal nooit ware vryheid leer ken nie.
Suid-Afrikaanse almanakke dui 27 April as Vryheidsdag aan. Niks kan verder van die waarheid af wees nie. Dis nie net ʼn uiters omstrede openbare vakansiedag nie, maar ʼn karikatuur van vryheid wat Christus buite rekening laat. Derhalwe strook dit nie met die teksvers nie: “... en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid”. Die teenoorgestelde is eerder waar – ʼn land sonder Jesus is ʼn land sonder vryheid.
Waar die Gees van God nie heers nie, kan daar nie vryheid wees nie, maar slegs ʼn gebondenheid aan Satan en ʼn onvermydelike dood. Hiervan getuig die hoë misdaadsyfers gereeld – ʼn styging van 717% in die eerste vyf jaar van sg. Demokrasie (vryheid)! Afrika leer ons dat wat deur geweld tot stand gekom het, slegs deur geweld in stand gehou word.
Valse vryheid is dikwels erger as oorlog. ʼn Vryheid wat eerder na oorlog lyk, sê net een ding – daar is verkeerde besluite geneem! Ek wonder of 5% van die land se burgers werklik weet wat vryheid is? Dis nie iets wat polities verwerf word nie, maar iets wat uit die hand van God kom en aan landsburgers die reg gee om wettige dinge na hartelus te doen.
In die tyd van Christus was Israel aan die Romeinse ryk onderhorig. Die Jode het so na politieke vryheid gestreef, dat dit op ʼn kritieke tyd selfs hul godsdiens gedikteer het en hulle die Messias nie herken het nie. Hulle het geglo dat Hy sou kom, maar nie as ʼn nederige dienskneg nie, maar as ʼn politieke bevryder wat die Romeinse bewind omver sou werp. Vir hulle het vryheid net een ding beteken – politieke vryheid.
Die Jode het geglo dat hulle ʼn reg op hierdie vryheid gehad het. Nee, geen mens het regte nie, maar slegs voorregte en dit kom uit die hand van God. Vryheid is een daarvan; ʼn kosbare geskenk uit die hand van die Allerhoogste.
God kan vryheid gee of wegneem soos wat die Bondsvolk tydens oorheersing en twee ballingskappe ervaar het. Die les wat ons hieruit leer, is dat vryheid en geloof stalperde is. Waar die Christendom afgetakel is, het vryheid altyd in die stof gebyt. Kyk maar net wat die afgelope 21 jaar in ons eie land gebeur het!
As ons in die geskiedenis terugkyk, sien ons hoedat God gelowiges gebruik het om die Boerevolk se vryheid te beskerm. Die Bybel was die Magna Carta van ons volk. Toe die Bybelse leer en waarhede eerbiedig is, het dit met ons goed gegaan. Maar toe die land aan booswigte oorhandig is, is die Christelike grondwet geskrap en met ʼn wêreldse grondwet vervang wat Christus op gelyke voet met afgode en voorvadergeeste geplaas het. En as straf het die regverdige God ons vryheid opgeskort en het ons die eerste paaiement van ons eie ondergang begin betaal. Na 21 jaar betaal ons nog steeds!
ʼn Land wat Christus nie as die enigste Verlosser eer, ken geen vryheid nie; slegs skadelike karikature daarvan. Die gevolg daarvan is vrees. Burgers leef in gedurige vrees vir eiendom- en lewensverlies omdat een ding ontbreek – die Gees van God. “... en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid”.
Waar die Gees van God ontbreek, versaak mense en kerke die waarheid. Hulle sê en glo dinge wat nie met die Bybel ooreenstem nie. Slegs mense wat deur die waarheid vrygemaak is, is waarlik vry: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh.8:36). Wie die vryheid in Jesus Christus ontvang, loop vreesloos deur die lewe en sal selfs soos Daniël se drie vriende deur die vuur vir sy geloof gaan of soos Daniël tussen die leeus beland!
ʼn Mens is of vry of gebonde. Die vryheid waarvan Paulus in die teksvers praat, is ʼn geestelike vryheid. Sonder geestelike vryheid hang staatkundige vryheid aan ʼn baie dun draadjie. En as geestelike vryheid nie ons volk se hoogste strewe is nie, trap ons in dieselfde strik as die Jode van ouds.
Net ʼn gelowige kan die wonder van geestelike vryheid ervaar omdat daar ʼn tyd in sy lewe was toe hy ʼn slaaf van Satan was en hy sy dade deur vrye wil verrig het. Hierdie vrye wil het hom ʼn slaaf van die Bose gehou. In Christus word sondaars van Satan as slawemeester bevry. Wie gered is, is vry al is hy ook in boeie. Wie verlore is, is ʼn slaaf van Satan al is hy ook koning!
Laat ons nooit vergeet waarvan Jesus ons bevry het nie - van die las van sonde. Dis die swaarste las denkbaar! Kyk gerus na mense wat onder ʼn sondelas gebuk gaan. Daar is geen glimlag op hul gesig of glinstering in hul oë nie, slegs sugte, trane, wanhoop en nagmerries.
Sondelas mergel ʼn mens uit soos koning Dawid van getuig: Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie, en in wie se gees geen bedrog is nie. Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my... “ (Ps.32:2-4). Daarom sê Jesus: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28). Wat vra Hy? Verruil die slawemeester vir die hemelse Meester.
Christus bevry ons van die straf op sonde - die ewige dood (hel). Daar is niks saliger as dit nie, want i.p.v. die dood ontvang ons die lewe. Ek verduidelik dit as volg: As ʼn koning ʼn moordenaar begenadig en vry laat uitstap, kan hy nie meer gestraf word nie. Die straf is opgeskort. Dit beteken nie dat hy nie skuldig is nie. Hy is nog net so skuldig aan die oortreding, maar die wet kan niks meer aan hom doen nie. So werk God ook met gelowiges; hulle is skuldig aan sonde maar deur die Koning van alle konings van die straf vrygespreek
Is dit regverdig? Moet oortredings dan nie gestraf word nie? Dit is regverdig en die oortreding is alreeds gestraf. God het in Jesus Christus vir sondaars ʼn plaasvervanger voorsien. Hy het in my plek gesterf. Die tronkdeur is oop en ek kan soos Barabbas vry uitgaan; skuldig maar begenadig. Vra maar vir ʼn gevangene wat vrygelaat word. Daardie dag is vir hom ʼn vryheidsdag.
Hoeveel te meer nie vir sondaars wat die dag van hul bekering uit die tronk van sonde stap nie! Want dan het jy vrede met God en vrede kan nie van vryheid geskei word nie omdat niemand vrede kan hê sonder om vry te wees nie. En wie vrede in sy hart het, sal ook met ander in vrede leef. Die resep is dus eenvoudig: Eers vrede met God dan met die mens. Ware vryheid is relatief goedkoop. Dis net sy namaaksels wat so peperduur is. Weet ons dit nie!
Net die bevryding in Christus sal Suid-Afrika omkeer en ons bitter siek land genees. Dit sal die einde van ʼn bose bedeling beteken waar vryheid en losbandigheid sinonieme geword het. Daar is nie ʼn pad na vryheid nie. Vryheid is die pad! Vryheid is nie ʼn stompsinnige politieke oorwinning wat jaarliks met ʼn openbare vakansiedag en opruiende toesprake gevier word nie. Dis ʼn konstante godvresende leefwyse.
Daarom beteken vryheid vir gelowiges iets anders as vir heidene. Wie glo dat dit sy reg is om te plunder, kan nooit vry wees nie. Vryheid is om te doen wat jy behoort te doen en dis net moontlik as jy die regte keuse vir Christus maak.
Moenie soos die heidene vryheid ten alle koste begeer nie. Begeer slegs daardie vryheid wat sondaars in hul gebondenheid aan Jesus Christus vind. Want waar geloof is, is daar liefde en waar liefde is, is daar vrede. En waar vrede is, is God en waar God is, ontbreek dit ʼn volk aan niks nie.
Amen!