Ds Andrè van den Berg
“By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie” - Job 1:22
Ons leef net een keer op aarde en nie weer nie. Maar as ons reg leef, is een keer genoeg. Van een ding kan ons hier op aarde baie seker wees - dat ons iewers op ons lewenspad met beproewing te doen gaan kry; en waarskynlik nie net eenmaal nie. Mense reageer nie eenders op beproewing nie. Sommige lê geloof aan die dag terwyl ander in ongeloof weens selfbejammering verval.
Beproewing raak ons hele menswees; nie net fisies nie, maar ook psigies. Dit tas ons gees aan. En hoe ons hierop reageer, lewer die beste bewys ons geesteskrag. Fisiese lyding verswak ons liggaam. Daaraan kan ons niks doen nie. Iets waaraan ons wel iets kan doen, is om te verhoed dat beproewings ons gees seermaak en selfs in ongeloof laat verval.
Beproewings bring dikwels verwyte mee. Sommige mense verwyt hulself terwyl ander die Here verwyt en sê: “As dit is hoe God my behandel, dien ek Hom nie meer nie!” Sulke mense beskou geloof as ʼn ongeluksvrywaringspolis. God moet as vergoeding vir hul kerkgang en toewyding alle beproewing van hulle afweer. Hulle raak almal teleurgestel. Beproewings maak hulle bitter in plaas van beter. Nee, God skuld ons niks, selfs nie eens die lewe nie. Alles is genade – onverdiende guns!
Een van die grootste beproewings is die dood van ʼn geliefde. Wie so ʼn dood nie verwerk nie, verkwalik in werklikheid die Here. Dikwels onttrek hulle hul van alles en almal, veral van die kerk en die gemeenskap van die gelowiges. Dis niks anders as opstand teen God en derhalwe sonde nie!
In tye van ernstige beproewing het ons God juis die nodigste. Ware gelowiges sal eerder meer pyn en lyding verduur as om hul rug op God te draai. Lees gerus die verhale van die martelare in die vroeë Christenkerk. Moet nooit toelaat dat omstandighede jou van jou geloof stroop nie. Dis presies wat Satan wil hê, vra maar vir Job!
God se wil moet altyd in ons lewens voorop staan - of die son in ons lewens skyn en of dit donker word. Sy wil is nie iets wat ons iewers moet gaan soek nie. Dis iets wat ons in volle gehoorsaamheid aan die Here moet doen. Wie hom daarop toelê om in ʼn tyd van beproewing sy wil te doen, bevraagteken nie die Here se optrede nie.
Ongelukkig is God vir baie mense soos ʼn spaarwiel - net goed in geval van nood. Godsdiens is vir hulle soos ʼn bus - maak net daarvan gebruik as dit in hulle rigting gaan. Nee, God moet die stuurwiel, nie die spaarwiel van ons lewens wees nie!
Beproewings laat dikwels vrae in die gemoed ontstaan. In die lied Why vra Roger Wittaker: “Will the last word ever be spoken be why?” Dis so sprekend van die mens! Ons vra altyd waarom? God beantwoord ons waaroms nie altyd met daaroms nie; slegs met die belofte dat ons eendag alles sal verstaan. Paulus skryf in 1 Kor.13:12 “ .. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken…”
Beproefdes probeer dikwels hul verbittering agter maskers wegsteek. Pyn dra nie vir lank ʼn masker nie. Op een of ander stadium kom dit af. Gevolglik is daar net een oplossing – maak vrede met jou beproewing. En hoe doen ʼn mens dit? Deur jou gedagtes op God se beloftes in te stel. Dis immers hoe ons Here Jesus die pyn van die kruis verduur het. Hy was geheel en al op sy hemelse Vader se beloftes ingestel. Hy is vir ons ʼn voorbeeld.
Jare gelede loop ʼn brawe tou-loper voor ʼn skare mense oor die Niagra waterval. “Waarom dra jy nie iemand op jou rug oor nie?” vra ʼn verslaggewer hom. “Kom klim op my rug” nooi die tou loper hom. Na mooipraat en allerlei beloftes van die skare het hy daartoe ingestem. Net voordat hulle begin loop, sê die tou-loper vir hom: “Sien jy daardie rooi rots aan die oorkant? Hou jou oë net daarop gerig. Moenie afkyk nie!” Vreesbevange het hy net die rooi rots in oog gehou, nie afgekyk nie en die oorkant veilig bereik.
Hierdie is ʼn belangrike les. As jy deur beproewing gaan, kyk vorentoe; nie agter jou, langs jou of waar ook al nie; net vorentoe na die Rots van alle eeue aan die oorkant – Jesus onse Heer. Petrus het een nag op die see van Galilea gewaag om sy oë van Jesus af te neem en byna verdrink. Moenie dieselfde fout maak nie!
Beproewing is nie per sè die gevolg van persoonlike sonde nie. Die wêreld is vol van dwaalleraars wat so sê. Dis ʼn leuen wat die Christendom baie skade aanrig. God praat in sy Woord anders. Lees gerus Joh.9.
God beproef ons dikwels om sy doel met ons te bereik. Pyn en lyding is dikwels sy megafoon waarmee Hy ʼn dowe wêreld wakker wil maak. Daar is gelowiges wat lank erge beproewing verduur, maar steeds na aan God leef. ʼn Mens bewonder hul geloof omdat hierdie dapper lasdraers God op ʼn besondere wyse verheerlik. Hy plaas hulle voete op ʼn stewige rots; daarom sink hulle nie!
In ons beproewing staan Christus nie iewers daar ver en kyk hoe ons swaarkry nie. In sulke tye is Hy juis baie nader aan ons as wat ons dink. Hy het baie medelye met ons. Daar is geen dieper lyding as dit wat Hy gesmaak het of ʼn donkerder diepte as wat Hy alreeds oorwin het nie.
By geleentheid bid ʼn gelowige as volg: “Here, laat my nooit vergeet dat my siekte en pyn nie U straf op my sonde is nie. Plaas my voete altyd op die stewige rots van u belofte dat U altyd by my sal wees, al gaan ek ook deur donker dieptes. Leer my dat ek elke donker uur as die besondere geleentheid sal sien om U liefde en genade nog beter te leer ken”.
God werk dikwels baie anders om as wat die mens verwag. Dink maar aan Job, die vroomste mens van daardie tyd op aarde. Baie gelowiges het al getuig dat hul dae van beproewing geestelik hul beste dae was. Ja, dat wanneer dit vir hulle gelyk het asof God onregverdig was, Hy in werklikheid goed vir hulle was. Wanneer gelowiges se gesondheid knak en geen medikasie meer help nie, het hulle een wonderlike troos: God se liefde vir sy kinders verdwyn nie saam met hul gesondheid nie!
Baie jare gelede was ʼn skilder op ʼn hoë steierwerk besig om die koepel van ʼn katedraal te versier. Nadat hy ʼn deel daarvan voltooi het, het hy teruggetree om die werk van ʼn afstand te besigtig en byna na sy dood geval. Gelukkig het ʼn vriend dit betyds sien kom, ʼn kwas gegryp en ʼn streep deur die kunswerk getrek. Die skilder het instinkmatig vorentoe gespring om die beskadiging te verhoed en hom van ʼn gewisse dood gered.
Ons het almal ʼn beeld van die soort lewe wat ons graag sou wou lei. En soos wat ons daaraan werk, loop ons soms onwetend al hoe verder van ons eie geestelike veiligheid en nader aan die gevaar. Dan moet God soms drasties ingryp en ons lewensprent kom bederf sodat ons tot ons sinne kan kom en ons siele van die verderf red.
CH Spurgeon het gesê dat van alles wat hy in die lewe ervaar het, hy God ook vir sy beproewings kan dank omdat dit geestelik 'n sterker mens van hom gemaak het. Hy bely dat hy in die brandoond van beproewing groter geestelike krag as uit enige van sy voorspoedige dae geput het. God was in sy donkerste dieptes so naby aan hom, dat hy amper aan Hom kon raak!
En dis wat Job ook in sy beproewing ervaar het – God het hom nooit alleen gelaat nie. Hy was altyd daar. Daarom word daar die baie mooi ding van Job gesê: “By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.” Mag dit ook van elkeen van ons wat deur beproewing gaan gesê word!
Amen!