...SATAN PROBEER HULLE STILMAAK
Ds Andrè van den Berg
“En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hul dienswerk tot opbouing van die liggaam van Christus”. - Efes.4:11,12
Waarom lees jy vanoggend hier? Dalk omdat jy 'n behoefte aan die Woord van God en heel moontlik ʼn erediens het? Dalk is jy nie vanoggend daar nie omdat jy werklik nie daar kan wees nie. Maar dalk weet jy nie meer wat 'n erediens is en of dit vir jou iets werd is nie. Kom ons kyk waarom jy graag daar sou wou wees.
ʼn Erediens is ʼn besondere ontmoeting met God en vir gelowiges belangrik omdat hulle in ʼn verhouding met God staan. Paulus vergelyk hierdie verhouding met ʼn huwelik: “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente” (Efes.5:23).
Soos ʼn vrou graag by haar man wil wees, wil ʼn gemeente graag by Christus wees. En waaruit bestaan ʼn gemeente anders as gelowiges?
Gelowiges ook word deur ʼn behoefte aan erediensbywoning gekenmerk. Daarom bely gelowiges in die 12 Artikels dat hulle aan die gemeenskap van die gelowiges glo. Wie geen behoefte aan die bywoning van eredienste het nie moet ernstig selfondersoek doen. Dis soos ʼn vrou wat ʼn huwelik aangaan maar nie by haar man wil wees nie - daar is fout!By ʼn erediens is God op ʼn besondere wyse by sy kinders teenwoordig. Daarom sing ons: “God is hier teenwoordig, laat ons biddend nader”. Hy verwag dat ons Hom gereeld in sy huis sal ontmoet en waarsku teen laksheid: “En laat ons die onderlinge byeenkomste nie versuim soos sommige die gewoonte het nie” (Heb.10:25). Sulke laksheid kom op geestelike egbreuk neer – jy het ander dinge liewer as vir Christus. Daarom is daar ampte in die kerk wat toesig hou en hul Opperherder gereeld ontmoet.
Soos wat ʼn kudde nie sonder ʼn herder kan wees nie, kan ʼn gemeente nie sonder ʼn leraar wees nie. Dis ʼn groot gemis in enige gemeente. Die taak van ʼn leraar is seker een van die heel moeilikste op aarde. Daarom kan dit nie sonder ʼn roeping slaag nie. Leraars is onophoudelik in die spervuur van Satan.
Satan haat geen beroep méér as dié van leraar nie omdat ware leraars die waarheid verkondig en d Satan die vader van die leuen is. Daarom staan Satan alle waarheidsverkondigers teen. Hy misbruik selfs kerklui. Kyk maar net hoe het die Joodse kerklui nie teen Christus saamgespan nie. Christus noem hulle selfs addergeslag – kinders van Satan!
Satan wil net soos met Christus van alle waarheidsverkondigers ontslae raak. Deur die eeue span Satan mense in om die stem van die waarheidsverkondigers stil te maak. God wil hê dat leraars moet praat. Satan wil hê dat hulle moet stilbly. En as hulle nie stilbly nie, maak hy plan om van hulle ontslae te raak.
Ons lees in die kerkgeskiedenis van leraars wat t.w.v. hul getuienis gedood is. Christus krediteer die gelowiges in Pergamus: “... En jy hou vas aan my naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon” (Openb.2:13).
Christus voorsien gemeentes van leraars. Hulle is gestuurdes en moet as sulks behandel en waardeer word. Desondanks is hulle net mense en nie die bloudruk van geestelike voortreflikheid nie. Daarom bly leraars in skuldbelydenis laag aan Jesus se voete.
God gee aan leraars verskillende gawes om sy Woord mee te bedien soos eenvoud, welsprekendheid, stemgehalte ens. Dit verskil van leraar tot leraar. Tog is daar een objektiewe maatstaf waaraan alle leraars moet voldoen – hy moet die waarheid praat! Preek hy die waarheid? Alle ander dinge is daaraan ondergeskik. Al het hy ʼn mooi stem, goeie voorkoms en baie ywer; indien hy nie die waarheid preek nie, misluk hy in die bediening!
Prediking is leraars se allerbelangrikste taak omdat dit nie net die uitstalvenster van ʼn gemeente is nie, maar omdat sy boodskap vir iemand die verskil tussen hemel en hel kan maak. Daarom moet ʼn leraar baie groot verantwoordelikheid met die prediking neem en nooit onvoorbereid op die kansel klim nie. Enigiets kan afgeskeep word indien nodig, maar nie die voorbereiding van prediking nie!
Dis immers die leraar se taak om met die voorhamer van God se Woord alle versperrings tussen God en sy gemeente stukkend te slaan. Prediking moet verlorenes gedurig in beroering maar nooit tot berusting bring nie. Daarom het ʼn leraar geen reg om op ʼn kansel te staan indien hy nie reg voorberei is nie.
Is dit net die leraar wat vir ʼn erediens deeglik voorberei moet wees? Wat van die gemeente? Net soos wat ʼn leraar nooit sonder deeglike voorbereiding op die kansel moet klim nie, moet gemeentelede nooit sonder voorbereiding kom luister nie. Die Gelykenis van die Saaier leer ons nie verniet dat die grond die meeste voorbereidingswerk nodig gehad het nie! Hoeveel gemeentelede bid deur die week vir hul leraar dat God die regte woorde in sy mond sal lê? Wie dit nalaat, is net so ontrou soos ʼn leraar wat onvoorbereid op ʼn kansel klim!
Leraars is nie vermaaklikheidkunstenaars nie. Mense moenie vir mekaar vra wat hulle van die leraar dink nie, maar eerder wat hulle van die Christus wat hy verkondig dink. Wat mense van ʼn leraar dink, is minder belangrik as wat hulle van die verkondigde Christus dink. Leraars wat hul tyd en energie spandeer om mense tevrede te stel, mis hul doel!
Een van die gevaarlikste dinge vir ʼn leraar is om mense na die mond te praat: “...want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in die gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hul eie begeerlikhede” (2 Tim.4:3). Leraars wat preek wat mense wil hoor, word al hoe meer terwyl diegene wat die waarheid preek, ongeag of mense daarvan hou, al hoe minder word. ʼn Mens dink hier ook aan gruwels soos homoseksualisme wat vanaf kansels goedgepraat word!
Daarom is die mees effektiewe prediking dikwels daardie preke wat mense ongemaklik laat voel en die teenstanders van die Evangelie op die tande laat kners. Dit was immers die ongelowiges se reaksie op Stefanus se prediking wat hom dan ook sy lewe gekos het: “En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners” (Hand.7:54).
Prediking wat saakmaak, is soos artesiese water wat deur swaartekrag nie anders kan nie, uit die diepte van ʼn leraar se siel opstoot. As Christus nie self daardie put gemaak het nie, kan daar vir so ʼn gemeente niks voortvloei nie. ʼn Preek wat nie uit sy eie hart kom nie, sal nooit die harte van ander raak nie. Indien dit wat uit ʼn saaier se sak kom nie vrugbaar is nie, sal dit wat hy saai geen vrug dra nie.
Goed voorbereide prediking wat duidelik verstaan word, bring die geloof in werking en laat die onderlinge liefde in ʼn gemeente gedy. Dit roep gelowiges op om hulle seëninge te tel en in dankbaarheid teenoor die Here te lewe. En dit raak die hele samelewing. Ons geesteswelstand raak elke faset van die lewe. As jou siel nie reg is nie kan jou lewe nie reg wees nie! Maar as jou siel reg is, kan jy enigiets in die lewe trotseer wat op jou pad mag kom.
Daarom het God mense spesifiek tot die bediening geroep: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hul dienswerk tot opbouing van die liggaam van Christus”. Hulle is gawes uit die hand van God en moet derhalwe waardeer word.
Petrus waarsku gelowiges dat Satan soos ʼn brullende leeu rondloop en alles en almal wat aan God behoort aanval. Ek ween in my hart oor die talle APK-gemeentes wat reeds Satan ten prooi geval en uit ons kerk se anale verdwyn het! “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes.6:11,12).
Bid vir ons kerk, bid vir ons gemeente, bid ook vir my!
Amen!