DIE ANDER WANG DRAAI?

Ds Andrè van den Berg

“...maar as iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” - Mt.5:39                                   

Ons land het baie slegte mense vanaf die agterlikste gemeenskappe heel onder tot bo in die Parlement.  Daar gaan feitlik nie ʼn dag verby dat die media nie oor hooggeplaaste persone se korrupsie, nepotisme, diefstal of skandes berig nie.  In sommige gevalle selfs al vier hiervan gelykertyd!  By geleentheid het ʼn Engelsman spottend gesê dat hy eers na sy land gekyk en vir die regering gebid het, maar nou kyk hy na die regering en bid vir sy land!

Net soos wat daar uit verrotte hout niks goed gekerf kan word nie, kan ʼn swak regering kan nooit goed regeer nie.   En dit plaas gelowiges in ʼn moeilike situasie.   Hoe moet hulle onder sulke omstandighede optree?   Wat wil God hê?

In die tyd van Christus het die wet van ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand gegeld.   Dit het uit die wet van Moses gekom en geïnterpreteer as doen aan die ander wat hy aan jou gedoen het.  Daarom was daar destyds ook bloedwrekers.  Die wet van ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand is deur baie mense verkeerd verstaan.  Hierdie voorskrif was nie vir enkelinge bedoel nie maar vir owerhede wat wet en orde moes toepas ten einde ʼn vreedsame samelewing te verseker.   Indien mense hierdie wet in eie hande kon neem, sou boendoe-geregtigheid ʼn onverkwiklike samelewingsontwrigting veroorsaak het.

Daarom het God owerhede daargestel om wet en orde te laat handhaaf en oortredings te straf waar nodig.  Strawwe wat opgelê is, moes altyd billik wees en met die oortreding ooreenstem.

Desondanks kan geen regering of regstelsel verhoed dat onreg, uitbuiting of watter ander vergryp ook al, plaasvind nie.  Jy kan dit slegs beperk maar nie uitroei nie.  Daarbenewens kan jy ook nie met elke onreg na die gereg hardloop nie.  Jy moet die meeste ergernisse maar self hanteer.

Met die oog hierop hou Christus vier voorbeelde met algemene maar nie  absolute reëls nie voor.   As Hy vra dat gelowiges slegte mense nie moet weerstaan nie, bedoel Hy nie daarmee dat ons oor booshede moet swyg nie.  Gelowiges moet egter nie te vinnig oordeel en boosdoeners sondermeer hel toe stuur nie.   Dis nie onmoontlik dat so ʼn persoon uitverkies is en nog tot bekering gaan kom soos wel op Golgota gebeur het nie!

Let vervolgens op die vier voorbeelde wat Christus noem.

1.  Draai ook die ander wang.  Dit beteken nie dat jy jou nie mag verdedig indien jy gewelddadig aangeval word nie.  Hier word van ʼn oorveeg gepraat.   Om iemand op die regterwang te klap, word met die rugkant van die hand gedoen, nie om iemand se lewe te bedreig nie, maar om reaksie uit te lok of hom te verneder.  Wat maak ʼn gelowige in so ʼn geval?     Jy voel verleë, verslae, verneder en gekrenk.  Christus sê: Behou jou waardigheid.   Moenie impulsief optree en tot daardie persoon se vlak afdaal nie.  Dink daaraan – dit vat een mens om onmin te veroorsaak maar twee om te baklei. ʼn Mens staan verstom oor die onbenullighede waaroor mense al in die moeilikheid beland het!

Om jou waardigheid onder die moeilikste omstandighede te behou, getuig van selfbeheersing -  selfbeheersing is een van die vrugte van die Gees waarvan Paulus aan die Galasiërs skryf.  Wat is selfbeheersing anders as emosies met remme?   Motorvoertuie het vandag ABS remstelsels vir stilhou.  Gelowiges het ASB vir hul emosies – altyd selfbeheersd.   Motors met swak remme veroorsaak maklik ongelukke.  So ook mense wat hul emosies nie kan beheer nie.

Koning Salomo skryf: “ ʼn Sagte antwoord keer grimmigheid af, maar ʼn krenkende woord laat die toorn opkom...” Die beste raad is om jou waardigheid te behou.  Kyk maar na  Christus se optrede voor die Joodse Raad?

Wat doen jy met iemand wat jou te na kom?   Wees jammer vir hom soos Jesus  vir sy vervolgers gebid het: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Bid vir so ʼn persoon al voel dit eerder asof jy hom wil verwurg!  Veg eerder teen jou sondige natuur want daardie persoon het ʼn lewensstyl wat ʼn probleem veroorsaak en ...  dis presies wat jy wil vermy!

2.  Wie na die gereg gaan om jou onderkleed te kry.  Beteken dit dat ʼn gelowige nie in ʼn regsgeding betrokke mag raak nie?  Nee, dis nie wat Christus hier sê!  Dit gaan hier oor beuselagtighede.  Daar is mos mense as iemand net vir hulle skeef kyk, na die gereg hardloop;  selfbehepte, puntenerige mense wat dit geniet om moeilikheid te veroorsaak.  Christus plaas hulle in die kategorie van slegte mense en vra van gelowiges om groter as so ʼn persoon te wees. Jou sielevrede is belangriker as ʼn broek of ʼn hemp!

In 1 Kor.6 praat Paulus baie ernstig oor gelowiges wat mekaar oor kleinighede hof toe sleep.   Dis ʼn skande as gelowiges mekaar in howe takel!  Het God se Woord nie eindeloos meer as wêreldse howe oor menseverhoudings sowel as reg en geregtigheid te sê nie?   Gelowiges moet t.w.v. hul geloof in Christus en ʼn goeie voorbeeld na buite, geskille in der minne bylê.  In 1 Kor.6:7 sê Paulus al moet gelowiges ook ʼn bietjie onreg in die proses verduur.

3.   Hy wat van jou een myl afdwing.  Gelowiges word soms getart.  Onregskepping maak die lewe vir hulle bitter onaangenaam.  Onbevoegde, arrogante mense beland voortdurend in gesagsposisies waarvoor hulle nie opgelei is nie en gooi dan hul gewig rond wat dit vir eerbare mense bitter moeilik maak om hul dagtaak te verrig.  Dis niks nuut nie.  Dit was al in die tyd van Christus ʼn probleem.   Daar was ook tollenaars, staatsamptenare en belastinggaarders wat vir ʼn vyandige regering gewerk het.  Daar was ook brutale, onsensitiewe Romeinse soldate wat nie-Romeine kon dwing om ʼn voorwerp van een punt na ʼn ander te dra mits dit nie verder as ʼn myl was nie.  So is Simon van Sirene bv. gedwing om Jesus se kruis te dra.

Wat maak ʼn gelowige in so ʼn geval?  Soos Simon het hy het geen ander keuse gehad as om die bevel te gehoorsaam nie!   Wat moet hy doen?  Daar is een ding wat hy nie moet doen nie en dis om kwaad te word, want dis juis wat slegte mense soek – om jou uit te lok om in hulle strik te trap.  Gelowiges moet hul eerder op die verkeerde voet betrap deur beheerste, gewillig optrede en selfs ʼn twee myl loop.

4.   Gee aan hom wat iets van jou vra.  Hierdie reël is normatief; nie algemeen nie.  Daarom is goeie oordeel hier baie belangrik.  Dit beteken nie dat jy vir luiaards voor die voet moet gee nie.  As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Thess.3:10).   Gelowiges moet wel diegene in nood bystaan. “Wie hom oor ʼn arm mens ontferm, gee ʼn lening aan die Here en Hy sal hom ten volle vergoed” (Spr.19:17 NAV).

Oneerbare mense bedel en teer op ander.  Hulle is soos bobbejane wat in ʼn wildpark verleer het om vir hulself te sorg omdat mense eetgoed gee.  So sterk jy iemand in sy kwaad deur hom altyd iets in die hand te stop.  Daar is egter vir gelowiges niks so lekker as om vir mense in nood te kan gee nie.   Daardeur vertoon ons die beeld van die Vader in die hemel wat gee sonder om iets terug te verwag.

“Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.  Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges” (Gal.6:9.10).

Wat verwag Christus van gelowiges aan die suidpunt van Afrika wat daagliks met ʼn heidendom se onregskepping en bose wetgewing te doen kry?  Om anders as die wêreld te wees.  Onthou, die wêreld beoordeel jou optrede en nie jou bedoelings nie.  Dink daarom vinnig, maar tree stadig op want ʼn mens se waarde word aan sy optrede gemeet.   As jy in ʼn Koning se diens staan, moet jy jou soos ʼn prins gedra!

Amen!