EEN BESLUIT TUSSEN HEMEL EN HEL...

Ds Andrè van den Berg

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” - Joh.3:3                                 

Dit gebeur dikwels dat skelms aan mense diamante verkoop wat by nadere ondersoek nie diamante is nie.  Op die oog lyk dit soos die ware Jakob, maar dit is nie.  Dieselfde ding gebeur ook op kerklike vlak; mense wat hul as diamante in God se koninkryk voordoen, maar in werklikheid vals is.

Christus het ook met sulke valse mense te doen gekry.  Baie van die Joodse kerklui het voorgegee om opreg te wees.   Dit was egter oëverblindery:  “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne  vol doodsbeendere en allerhande onreinheid is”(Mt.23:27).

Dieselfde verskynsel het ook in die vroeë Christenkerk voorgekom.  Paulus praat van: “...mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het...” (2 Tim.3:5).   Die gevolg is oëverblindery; jy aanvaar dat iemand ʼn kind van God is, net om later tot jou spyt te besef dat dit glad nie die geval is nie.  Hy is soos ʼn heuningby - heuning in die bek, maar ʼn angel aan die stert!

Net soos in die tyd van Christus, kom sulke oëverblindery/valsheid op een of ander stadium aan die lig: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.  ʼn Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie.  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ʼn slegte boom dra slegte vrugte” (Mt.7:15-17). Die vrugte wat daardie persoon dra, gee hom weg.  Dis sleg!

Hoe lyk goeie vrugte dan?   Dit wat uit die wedergeboorte spruit.  Mense kan baie godsdienstig voorkom, ywerig vir die kerk werk en agting afdwing, MAAR nogtans verlore wees omdat hulle nie wedergebore is nie.  Hulle het slegs ʼn gedaante van godsaligheid. Deur aan ʼn erdepot te tik, kan ʼn mens hoor of dit heel of gekraak is.  So word mense ook aan die geestelike geluid wat hulle maak, geken.  En wie ken die mens beter as Christus wat vir die lidmate van Laodicea sê: “Ek ken jou werke....” (Openb.3:18).

ʼn Kind van God is anders as die wêreld.   Hy word nie so gebore nie, maar so wedergebore.  Uit sy vraag aan Jesus snap Nikodemus glad nie toe Jesus vir hom sê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”. Hierdie term wedergeboorte het vir hom geen sin gemaak nie.  So ook vir almal wat nie die saligmakende geloof in Christus het nie.

Is dit dan nie genoeg dat ons kerktoe gaan, Bybel lees, bid, goeie werke doen en by ons gemeente betrokke is nie?   Dit moet mos punte tel!  Nee, al doen jy dit ʼn duisend maal beter; as jy nie tot bekering kom en in die Here nuut word nie, sal jy nooit in die hemel kom nie.   Hierdie nuutword in Christus plaas jou in ʼn persoonlike verhouding met Christus.  Sonder hierdie verhouding gaan selfs die beste mens op die aarde hel toe!

Nikodemus was ʼn baie goeie mens.  Hy was ʼn gesiene en geleerde man met hoë aansien in die Joodse kerk en samelewing.  Ten spyte van sy vroomheid en opregtheid het hy besef dat daar iets in sy lewe ontbreek.  Nie sy getroue Bybellees, kerktoewyding, gereelde gebede, groot dankoffers of goeie werke het vir hom die verlangde sielerus gebring nie.   Daar het iets geskort wat sy siel onrustig gemaak het – hy gaan die hemel mis!

Nikodemus het na geloofsekerheid verlang en doelbewus daarna begin soek.  Waarom?  Omdat hy uitverkies was!   Hy sou God nie gesoek het as God hom toe nie alreeds gevind het nie.   Nikodemus se pad van saligheid begin soos elke gelowige s’n – by die Heilige Gees wat hom roep deur sy siel onrustig te maak.  God versteur dikwels sondaars se wêreld alvorens hulle hul tot Hom wend.

Nikodemus se geloofsekerheid en sielerus het alles van daardie een nagbesoek aan Jesus afgehang.   Hy het van Jesus gehoor en gedryf deur die Heilige Gees een nag aan Jesus se deur gaan klop.  In Openb.3:20 lees ons dat Jesus aan ʼn deur klop.  Hier klop ʼn sondaar aan Jesus se deur.  Dieselfde resultaat – die deur word oopgemaak.  Ja, geen sondaar klop tevergeefs nie.   Net vir die vyf dwase maagde is ʼn deur nie oopgemaak nie omdat hulle te laat was.

Nikodemus het van Jesus gehoor en, baie gesteld van sy openbare aansien, een nag na Jesus gegaan om ʼn antwoord op ʼn kwelvraag te vind: “Hoe kom ek in die hemel?” Dis die belangrikste vraag wat ʼn mens ooit kan vra want ons is slegs tydelik hier op aarde.  Koning Salomo skryf: “Want die mens gaan na sy ewige huis” (Pred.12:5).

Nie een van ons gaan vir altyd op die aarde wees nie.   Ons parkeer maar net hier.   Daar gaan vir elkeen van ons ʼn dag aanbreek dat die parkeermeter van ons lewe gaan lees TYD VERSTREKE.   Waarheen gaan ons dan?  Die Bybel sê vir ons - hemel of hel.  Dis ons keuse.   Dis egter nie nodig om bewustelik vir die hel te kies nie.  Dis in elk geval die plek waar almal gaan nie wedergebore is nie, al is hulle ook baie godsdienstig soos die Fariseërs.

Vir die hemel moet  ʼn bewustelike keuse gemaak word wat tot ʼn nuutword in Christus oorgaan - die wedergeboorte.   God neem as Pottebakker die klei wat deur die sonde misluk het weer ter hand en maak van die uitskotproduk ʼn meesterstuk.  Dit verander onverskillige mense in kinders van God en maak van godsdienstiges godvrugtige volgelinge van Christus: “En hy sal wees soos ʼn boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps.1:3).

Jesus wys niemand af nie, al het hy ook die ergste sonde gepleeg: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom, en Ek sal Hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).  Wat verlore was, word deur Hom gevind om nooit weer verlore te gaan nie.

Die absolute noodsaaklikheid van die wedergeboorte kan nooit sterk genoeg beklemtoon word nie.   Dit maak nie net mense salig nie, maar verdeel ook ʼn gemeente in twee.  In elke gemeente is daar twee groepe – wedergeborenes en godsdienstiges.  Anders gestel, diegene met ʼn persoonlike verhouding met Christus en mense sonder so ʼn verhouding.  Laasgenoemdes praat soms soos engele, maar hulle leef soos duiwels.  En dit knou ʼn gemeente!

Daar is vir sondaars niks belangriker op die aarde as om die wedergeboorte te smaak nie.  Ongelukkig besef baie mense dit nie totdat dit te laat is en die deur  soos vir die vyf dwase maagde, nie oopgemaak word nie maar gesluit bly.

Die noodsaaklikheid van die wedergeboorte kom vir sommige mense selfs sinloos voor: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.   Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.  Want wie het die sin van die Here geken, dat hy hom sou onderrig? Maar ons het die sin van Christus” (1 Kor.2:14-16).

Al lyk die wedergeboorte vir ongelowiges onsinnig en vir sekere godsdienstiges oorbodig, vind dit nog daagliks plaas.  Selfs geharde sondaars soos Paulus het die wedergeboorte ervaar.  Ja, toe hierdie klipharde Fariseër met die vuur van die Heilige Gees in aanraking gekom het, het hy soos ʼn springmieliepit in iets totaal anderste ontpop – ʼn nuwe mens: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel.; die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).  Paulus se siel het met die nuwe lewe in Christus opgebruis om ʼn kragtige instrument in die hand van God te word.

Is daar dan ʼn verskil tussen wedergeboorte en bekering of is dit net sinonieme?   Nee, daar is ʼn verskil.  Die gelykenis van die Verlore Seun maak dit vir my redelik duidelik.  Toe daardie seun deur sy eie toedoen tussen die varke beland en tot sy sinne kom, het hy ʼn besluit geneem en opgestaan en na sy vader teruggegaan.  Die Heilige Gees oortuig ons van sonde waarna ons ons tot God keer.  Die Gees wederbaar die sondaar waarna hy hom bekeer.   Bekering is sy reaksie op die werking van die Heilige Gees.

Baie mense het slegte verledes.  Daaraan kan die mens niks doen nie.  Ons kan nie die horlosie terugdraai en ons lewe van vooraf begin nie.   Ons kan slegs deur die wedergeboorte en bekering ʼn ander eindbestemming bereik.   En dis al wat saak maak.  God se uitnodiging aan oud-Israel is ʼn universele uitnodiging wat vandag nog vir sondaars staan:  “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here, al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos sneeu” (Jes.1:18).

ʼn Laat bekering is selde waar, maar ʼn ware bekering is nooit te laat nie.  Wie in Christus gevind is, kan nooit verlore raak nie.   Een enkele besluit maak die verskil tussen hemel en hel.  Het jy al gekies?

Amen!